Nuwe uitdagings vir die Christelike kerk in Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse regering poog om selfs verder te gaan as die Obama Administrasie in Amerika!

Ons land se regering wil die liggaam van Christus in Suid-Afrika beheer deur middel van wetgewing!

Dit is baie belangrik dat Christene, herders van gemeentes en die leierskap van Christelike denominasies in ons land hierdie skrywe lees. Die doel hiervan is om duidelike riglyne beskikbaar te stel vir Christene in ons land in terme van die hantering van die aanslag op godsdiens vryheid in Suid-Afrika. Kerkleiers word attent gemaak op die slaggate waarin hulle kan trap as hierdie aanslag nie korrek hanteer word nie.

Dit wil voorkom asof ‘n nuwe dag met nuwe uitdagings vir Suid-Afrikaners aangebreek het. Nie net op die politieke front nie maar ook op die geestelike. Die beherende party in ons regering is in die proses om (stadig maar seker) deur die opposisie party vanuit sy magsposisie gedwing te word. Ons weet nog nie watse komplikasies dit vir die burgers van ons land inhou nie. ‘n Magsverskuiwing gaan beslis ‘n groot toets vir die demokrasie in ons land wees.

Dan is daar ook die nuwe aanslag op geestelike gebied wat die burgers van Suid-Afrika nou bedreig. Hierdie bedreiging word deur bose magte van regoor die wêreld aangeblaas. Dit is nog ‘n groter bedreiging as moontlike politieke verskuiwings omdat dit daarop gemik is om godsdiens vryheid in ons land aan bande te lê.

Ons het gehoor van die “Hate Crimes Bill” en ons het ook gehoor van ander voorgestelde wetgewing wat die regering in ‘n posisie gaan plaas om die kerk voor te skryf en in ‘n mate die kerk te beheer. Dit is vanselfsprekend maar net die eerste stap en niemand weet wat moontlik daarna kan volg nie. Die voorgestelde wetgewing sal definitief die kerk in Suid-Afrika ‘n staatsbeheerde instelling maak as ons dit nie teëstaan nie. Die voorgestelde “Hate Crimes Bill” het eintlik niks met die kerk te doen nie maar veiligheidshalwe moet die kerk in hierdie wetgewing kwytgeskeld word om die moontlikheid van misbruik uit te skakel.

Presies wat staan ons as Christene te doen om hierdie aanslag suksesvol die hoof te bied?

In hierdie skrywe word die kerk deeglik op hoogte gebring met die metodes wat ons moet volg om hierdie aanslag suksesvol te hanteer. Ek wil eers net noem dat die huidige voorgestelde wetgewing aangepas moet word deur middel van kwytskelding ten opsigte van die prediking van die evangelie van Jesus Christus. Hierdie kwytskelding moet noodwendig alle Christene insluit omdat alle Christene ‘n opdrag ontvang het om die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Hierdie opdrag aan die kerk moet natuurlik uitgevoer word soos Jesus dit bedoel het. Om hierdie rede moet die volle waarheid ten alle tye verkondig word en moet die kerk getrou bly aan die woord van God.

Natuurlik kan geen wetgewing ooit aanvaar word wat teenstrydig met die opdragte van God of teenstrydig met sy woord is nie. Die kerk se funksie as verteenwoordiger van God en die konstitusionele regte van alle burgers van Suid-Afrika, ten opsigte van godsdiensvryheid, kan en mag nooit deur die regering ingekort word nie. Natuurlik kan die kerk nooit enige wetgewing aanvaar wat die regering in staat stel om die kerk voor te skryf en te beheer nie. Inteendeel, dit is eintlik een van die funksies van die kerk om die regering voor te skryf. Daar behoort nooit ‘n verwydering tussen kerk en staat te wees nie. Die kerk behoort altyd die fondasie te wees vanwaar die regering die land bestuur. ‘n Regering wat nie regeer volgens die beginsels van die woord van God en die waardes van die Christendom nie, is nie ‘n redelike of moreel toelaatbare regering nie.

Ooreenkomste met die uitdagings wat die Nuwe testamentiese kerk moes trotseer

Dit is baie belangrik dat ons gaan kyk hoe die vroeë kerk met verskillende uitdagings gedeel het. Hierdie uitdagings was eintlik baie moeiliker was as wat ons vandag ervaar. Dit sal ons definitief die nodige riglyne gee wat ons nodig het om die aanslag op godsdiensvryheid in Suid-Afrika suksesvol af te weer. Die vroeë Christene het regtig ernstige teenkanting in die gesig gestaar. Hierdie teenkanting het hoofsaaklik gekom vanaf die verskillende regerings van die verskillende provinsies in die Romeinse Ryk asook vanaf die regering van die magtige Romeinse Ryk self.

Na Jesus Christus se hemelvaart het Hy die kerk toegerus met die Heilige Gees. Die Heilige Gees het die kinders van God kragtig ondersteun om waardige verteenwoordigers van God te wees. Deur die bloed van die Lam en deur die krag van hulle getuienis het hulle die evangelie kragtig verkondig sonder om hulle eie lewens lief te hê Hulle was baie suksesvol ondanks al die teenkanting. Christene was meedoënloos vervolg, van hulle besittings beroof en wreed vermoor. Die kerk was in daardie dae ‘n groot bedreiging vir die regerings van die tyd wat deurtrek was met paganisme en daarom die meedoënlose vervolging.

Wie het die Christendom die meeste teëgestaan?

Eerstens was daar die lokale regering van die Jode. Judea was ‘n provinsie in en van die Romeinse Ryk. Die Hoë priester, Fariseërs en Sadduseërs, hoewel hulle ondersgeskik aan die Romeinse regering gefunksioneer het, was polities aan die stuur van sake in Judea.

Tweedens was daar die leierskap van die offisiële paganistiese godsdiens van die Romeinse Ryk wat die Christendom baie vyandig gesind was. Derdens was die regering van die Romeinse Ryk self ‘n groot struikelblok vir die kerk. Laastens, met die val van paganisme, het die Rooms Katolieke Kerk, wat eintlik paganisme vervang het, ‘n baie groot probleem vir die ware kerk van God geword.

Die Jode het Christene belet om in die Naam van Jesus Christus te preek. Natuurlik was die Christene meer gehoorsaam aan God as aan mense. Hulle is uiteindelik, met die toestemming van die Romeinse regering deur die Jode vervolg, beroof en dood gemaak. As gevolg van hierdie vervolging het Christene uitgewyk na ander dele van die Romeinse Ryk. Later het die regering van die Romeinse Ryk self aktief betrokke geraak en sporadies die Christene vervolg. Duisende Christene is in die eerste paar eeue gemartel, van hulle besittings beroof en wreed vermoor.

Verhoog die status en mag van die kerk in ruil vir…

Na die val van paganisme het Konstantyn die status van die Christendom amptelik verhoog deur dit die amptelike godsdiens van die hele Romeinse Ryk te maak. Dit was ‘n groot en wonderlike oorwinning vir die kerk. Paganisme moes die knie buig voor die Christendom.

Konstantyn en opvolgende Keisers wou egter nie toelaat dat die kerk hulle agenda omvergooi of hulle verhinder om die Romeinse Ryk te regeer soos wat hulle wou nie. Om hierdie rede het hulle stelselmatig ‘n nuwe strategie begin volg. Die kerk se status is mettertyd verhoog deur die Pousdom se mag, status en posisie te verhoog tot die van ‘n volwaardige monargie. Die Pous het sodoende, net soos hulle politieke eweknie (die Romeinse regering), die mag ontvang om wette te maak en te bekragtig.

Hoewel ondergeskik aan die regering het hulle parallel met die regering oor die kerk en burgers van die land geregeer. Net soos die staat kon hulle die kerk beheer deur wetgewing, kon hulle die burgers van die land geregtelik vervolg en geregtelike strawwe op hulle uitoefen. Mense is ernstige strawwe opgelê en selfs tot die dood veroordeel. Sulke mense is aan die Romeinse regering oorhandig om die strawwe te voltrek. Dink net ‘n bietjie hoe sou dit gewees het as die kerk vandag mense kon aankla en tot die dood veroordeel as hulle nie gehoorsaam is aan die wette en die konstitusie van die kerk nie!

Die regering van die Romeinse Ryk het ook wette gemaak en in die kerk geïmplimenteer asof hulle outoriteit oor die kerk gehad het. Daarom is dit natuurlik baie maklik om te verstaan hoekom Jesus Christus as die Hoof van die kerk vervang is deur die Pousdom en die Keisers van die Romeinse Ryk. Die leiding van die Heilige Gees en die ware woord van God is vervang met menslike wette, reëls en regulasies. In die proses het die Rooms Katolieke Kerk alle geestelike outoriteit verloor.

Op hierdie manier het die Die Keiser, die Pous en die leierskap van die Rooms Katolieke kerk die lidmate van die kerk totaal beheer. Die oomblik as die kerk toelaat dat ‘n regering beheer neem oor die aktiwiteite, leefwyse en konstitusie van die kerk verloor hulle onmiddellik hulle geestelike outoriteit.

Die ware kerk van God sou egter nooit afstand doen van hulle geloof in Jesus Christus nie. Ondanks vervolging van die Romeinse Ryk en die Rooms Katolieke kerk het hulle getrou gebly aan God en het hulle getrou gebly aan die ware evangelie van Christus. Hulle het oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis. Hulle het geweier om mense meer gehoorsaam te wees as God. Hulle het hulle eie lewens nie lief gehad nie en was bereid om alles te verloor terwille van hulle geloof in Jesus Christus. Die meeste van hulle het uiteindelik alles verloor maar hulle siele gewen.

In die Romeinse Ryk het Christene baie vinnig nie meer volgens die woord en die wil van God gelewe nie. Hulle het volgens die wil en wette van die Pous en die Keisers gelewe. Selfs vandag, in lande waar die kerk deur die staat beheer word heers daar ‘n toestand van ernstige geestelike afvalligheid.

Die kerk sal seker nooit weer verhoog word tot die status wat die Rooms Katolieke Kerk gehad het nie. Dit is egter ongelukkig so dat kerke wat deur die regering van die betrokke staat beheer word, voorgesê word wat hulle mag glo, hoe hulle mag lewe, wat hulle mag doen en wat hulle mag preek. Daar is beslis nie godsdiens vryheid in sulke lande nie. Vandaar die groot afvalligheid.

In sulke lande word die Heilige Gees heeltemal verhinder en word die waarheid verdraai. Wanneer die kerk nie funksioneer soos wat dit moet nie gaan dit dood. Ons sien dit vandag gebeur regoor die wêreld. Die waarheid word vervang met vals duiwelse leerstellings. Afgryslike gruweldade word in die kerk toegelaat. Dinge wat eintlik reg is en God se wil is, word as sonde beskou. Duisende mense word hierdeur mislei en hulle siele gaan verewig verlore as gevolg van hierdie verleiding.

In Suid-Afrika staan ons voor die deur van ‘n aanslag om ons godsdiens vryheid aan bande te lê. Ons weet nie wat die bose magte agter hierdie aanslag beplan nie. Ons weet nie hoever hulle dit wil neem nie maar ons weet reeds dat die aanslag reg voor die deur is.

Die ware kerk moet altyd suiwer bly in die geloof

As ons die teëkanting in ag neem wat die vroeë kerk moes verduur, is dit absoluut ‘n wonderwerk dat hulle bly staan het. Hulle het nie net daarin geslaag om die pasgebore kerk in sulke ongunstige omstandighede te vestig nie, hulle het ook mettertyd oor al hierdie vyande geseëvier en hulle een na die ander oorwin.

Jesus Christus en die apostels het die kerk gewaarsku dat hulle dit moeilik sou hê. Hulle het die kerk moed ingepraat en hulle vermaan om standvastig te wees in hulle geloof. Hulle het die kerk gewaarsku dat as hulle nie suiwer bly in hulle geloof in Christus nie, hulle hierdie genade gawe sou verloor. Hulle is vermaan om onder geen omstandighede hulle geloof prys te gee nie. Hulle is bemoedig met die wete dat hulle vyande uiteindelik geoordeel sou word. Al lyk dit nie so nie, die oordeel van God sou hulle wel inhaal. Baie Christene het met hulle lewens betaal voor hulle dit kon sien gebeur. Baie het egter die wonderlike voorreg gehad om te sien hoe hulle vyande een vir een gesneuwel het.

Die ware kerk, wat as gevolg van die afvalligheid wat in die Rooms Katolieke kerk geheers het, gedwing was om dit te verlaat en ondergronds te funksioneer, het deur die eeue heen vasgeklou aan hulle geloof. Hulle het gebly by die waarheid en hulle het gehoorsaam gebly aan die woord en die wil van God. Hulle het die Seun Van God nie verloën nie. Hulle was gehoorsaam tot die dood en hulle het hulle eie lewens nie lief gehad nie. Hulle het hulle vyande oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis.

Eers moes paganisme die knie buig voor die Christendom. Dit moes daardie tyd vir die mense seker gevoel het soos die Konserwatiewes ‘n paar weke gelede gevoel het toe Donald Trump as die nuwe President van die VSA ingesweer is. Die wêreld het oornag verander net soos wat ons nou in Amerika sien gebeur.

‘n Paar jaar later het die groot en magtige Romeinse Ryk (Rome) voor die tien Noordelike stamme geval. Weereens was dit vir die kerk ‘n heuglike ondervinding toe hulle hierdie dag voor hulle oë sien gebeur het. niemand het ooit gedink dat Rome ooit sou val nie. ‘n Klompie jare later het die kerk weereens gesien hoe ‘n magtige instansie sneuwel. Hierdie keer was dit die Rooms Katolieke kerk wat deur die Gereformeerdes aan die kaak gestel is en deur die konings van die aarde in die steek gelaat is. Die ware kerk het voor hulle oë gesien hoe die heersers van die aarde hulle steun aan die Katolieke kerk onttrek. Hulle het gesien hoe hulle die Rooms Katolieke kerk beroof het van sy status, mag en aansien. Hulle het gesien hoe die Pous van sy magsposisie verwyder is. Nog later het die kerk gesien hoe die Oostelike Romeinse Ryk voor die Mohammedane val.

Terwyl hulle vyande om hulle een vir een gesneuwel het, het die kerk as oorwinnaar bly staan. Hulle het die wêreld ‘n beter plek vir hulle kinders gemaak om in te lewe. Deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis het hulle bly staan.

Hoe adresseer ons vandag die uitdagings waarvoor ons staan in Suid-Afrika?

Onthou die kerk seëvier altyd! Dit mag dalk lyk asof dit in sekere land nooit gaan gebeur nie maar onthou, die einde het nog nie aangebreek nie. Ons mag dalk hier en daar ‘n geveg verloor maar die oorwinning is altyd gewaarborg, indien ons vasstaan in die geloof en in gehoorsaamheid. Ons mag onder geen omstandighede ons godsdiens vryheid prysgee nie. Onthou wetgewing kan dit nie wegneem nie. Wetgewing maak dit net baie moeiliker vir ons.

Ons kan nooit toelaat dat selfs die geringste wetgewing ons stil maak of ons leefwyse as kinders van God beïnvloed nie. Ons moet ten alle koste die waarheid verkondig soos wat Jesus Christus ons beveel het. Ons kan nie afwyk daarvan nie. Ons kan nie toelaat dat die regering beheermaatreëls op die kerk toepas nie. Ons het geen ander keuse as om dit te weier nie. Al gooi hulle ons in die tronk en al vat hulle ons geld deur middel van boetes of op enige ander manier. Ons moet God meer gehoorsaam wees as mense.

Ons moet egter almal weet dat die kerk haarself nooit op ‘n geweldadige wyse mag verset nie. Jesus het vir Simon Petrus belet om dit te doen toe hy die Romeinse soldaat se oor afgekap het. Jesus se woorde was “He who lives by the sword will die by the sword”.

Dit het werklik ook so gebeur tydens die vestiging van die Christelike kerk in die Romeinse Ryk. Van tyd tot tyd het sekere Christen groepe die swaard opgeneem teen die regering van die Romeinse Ryk. Die gevolge van hierdie tipe aksies was altyd katastrofies. Romeinse soldate het sulke optrede altyd meedoënloos in die kiem gesmoor deur hierdie Christene af te maai. Baie keer is hele gemeenskappe totaal uitgewis.

Ons moet nooit vergeet nie dat die kerk ‘n geestelike koninkryk is wat volgens geestelike beginsels funksioneer. Jesus Christus is die Hoof van die kerk en Hy beheer en Hy beskerm die kerk volgens hierdie beginsels. Hy het self gesê dat sy koninkryk nie van die wêreld is nie.

Natuurlik moet ons kapsie maak teen die voorgestelde wetgewing. Natuurlik moet ons ons stemme laat hoor. Natuurlik moet ons die voorgestelde wetgewing in die howe beveg. Ons moet die petisies teken en ons moet die regering duidelik laat verstaan dat ons nie ons godsdiens vryheid gaan prysgee nie. Dit is ons konstitusionele reg om daarop aanspraak te maak en daarvoor te baklei. Ons moet optogte organiseer en ons moet gebedsaksies reël. Ons kan egter nooit geweld gebruik wanneer ons kapsie maak teen hierdie wetgewing nie. Ons optogte en ons aksies moet altyd in vrede en met die regte gesindheid gedoen word. Ons moet bid vir ons land en ons leiers. Ons moet bid dat die howe die regte besluite sal neem.

Uiteindelik moet elke kind van God weier om enige wetgewing te gehoorsaam wat teenstrydig met die wil en die woord van God is. Ons kan en mag nooit ons aksies en ons leefwyses aanpas om die land se regering te gehoorsaam, en in die proses ons God en sy woord ongehoorsaam te wees nie. Elke kind van God en die leierskap van elke Christelike denominasie in ons land moet hierdie kwessies deeglik met God uitmaak. Elkeen moet seker wees wat God van hom of haar verwag en elkeen moet die besluit vir homself maak. Ons kan nie dat politikusse en selfs kerkleierskap die besluit namens ons neem nie. Elkeen het ‘n verantwoordelikheid teenoor sy of haar Saligmaker, wat met Sy bloed vir elkeen van ons betaal het.

Ons moet bly by die volle waarheid en die volle evangelie van Christus. Ons moet Suid-Afrika ‘n veilige land en ‘n geestelike vry land hou terwille van ons kinders.

‘n Waarskuwing aan kerkleiers van Christelike denominasies

Die grootste fout wat kerkleiers kan maak is om te glo dat die voorgestelde wetgewing op een of ander manier voordelig vir die kerk kan wees. Wanneer kerkleiers oorreed word om saam met die regering te werk in ruil vir sekere voorregte of voordele, dan het die kerk die pad begin stap wat die Rooms Katolieke kerk gestap het. Dit kan nooit voordelig vir die kerk wees om deur wetgewing beheer te word nie. Net soos met die Rooms Katolieke Kerk sal dit ook lei tot die verdraaiing van die waarheid, vals leerstellings en uiteindelik geestelike afvalligheid.

Selfs die kleinste vergunning wat die kerk hier maak kan veroorsaak dat die regering ‘n voet in die deur kry. Ons kan dit nie toelaat nie. Enige inmenging van die staat of van die regering in geestelike kwessies kan nooit goeie gevolge hê nie. Hierdie is heilige grond. Net Jesus Christus alleen is die Hoof van die kerk. Kerkleiers en Christene kan net deur die Heilige Gees gelei word.

Deel asseblief hierdie skrywe met almal wat jy ken en nie ken nie

Ons moet regtig die informasie in hierdie skrywe met soveel Christene en kerkleiers deel as wat ons kan. Almal in Suid-Afrika moet ‘n besluit neem oor hierdie kwessies en almal behoort op hoogte te wees met die komplikasies.

Deel dit met jou vriende en familie. Bespreek dit met jou pastoor of dominee. Hoor by hom of haar wat hulle plan van aksie is met betrekking tot die voorgestelde wetgewing.

Onthou die werklike doel agter die voorgestelde wetgewing is om die kerk stil te maak en die woord van God te verdraai. Dit gebeur tans wêreldwyd. Moenie die slim redenasies en verduidelikings glo nie. Die wêreld wil die waarheid nie meer hoor nie en hulle wil nie meer net die Christendom deel nie. Die wêreld wil eintlik ontslae raak van die Christendom en onheilige regerings is die metode wat hulle gebruik. Hulle weet dat hulle nie die Christendom kan dood maak nie. Die beste alternatief is om die Christendom te beheer deur middel van wetgewing.

Die wêreld wil vir Christene voorskryf op alle gebiede van die samelewing. Wat hulle nie weet nie as dat die kerk nooit stil gemaak kan word nie. behalwe vir die afvalliges, wat seker altyd daar sal wees, is daar altyd ‘n ware kerk wat vasstaan tot hulle oorwin.

Ons kan nooit die aanslae van die vyand ignoreer nie. Ook hierdie aanslag op die godsdiensvryheid van die kerk in Suid-Afrika kan nie geïgnoreer word nie. Alle Christene in Suid-Afrika en alle Christelike denominasies moet saamstaan en hierdie aanslag suksesvol afweer. Die riglyne wat ek in hierdie skrywe neergelê het behoort die basis van ons strategie te wees.

Bid asseblief vir ons land en vir sy mense. Bid vir ons leiers. Reël vredevolle optogte en gebedsaksies as jy kan.

Lees asseblief ook die volgende inskrywings: Hate Crimes Bill en Wees Gereed Suid-Afrika!

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment