“Bloedlynvloeke”, God tree toe tot die debat

WAT SÊ DIE WOORD VAN GOD OOR DIE SONDES VAN VOOROUERS?

Daar was reeds in die Ou Testament ‘n debat rondom die onderwerp van bloedlyn vloeke. God self het in Esegiël 18 tot hierdie debat toegetree en dit finaal as ‘n vals lering bevestig. In soveel woorde? Beslis. Kom ons lees Esegiël 18:1-32

  1. Verder het die woord van die Here tot my gekom en gesê:

  2. Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik aangaande die land van Israel, naamlik: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword?

  3. So waar as Ek leef, spreek die Here Here, dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie.

  4. Kyk, al die siele is myne; soos die siel van die vader, so die siel van die seun — hulle is myne; die siel wat sondig, dié moet sterwe.

  5. Maar as iemand regverdig is en reg en geregtigheid doen;

  6. nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel en die vrou van sy naaste nie verontreinig en nie naby ’n vrou kom as sy onrein is nie,

  7. en niemand verdruk nie; wat hy vir skuld as pand geneem het, teruggee; geen roof pleeg nie; aan die wat honger het, sy brood gee en die wat naak is, met ’n kleed toedek;

  8. nie leen op rente en geen woeker neem nie; sy hand terughou van onreg, eerlike regspraak oefen tussen man en man;

  9. in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou om eerlik te handel — hy is regverdig, hy sal sekerlik lewe, spreek die Here Here.

  10. En het hy ’n geweldenaar van ’n seun verwek wat bloed vergiet en net maar een van hierdie dinge doen —

  11. terwyl hy self dit alles nie gedoen het nie — as hy ook eet op die berge en die vrou van sy naaste verontreinig,

  12. die ellendige en behoeftige verdruk, roof pleeg, die pand nie teruggee nie en sy oë opslaan na die drekgode, gruwelike dinge doen,

  13. op rente leen en woeker neem — sal hy lewe? Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom.

  14. Maar kyk, as hy ’n seun verwek wat al die sondes van sy vader sien wat hy gedoen het — dit sien en sulke dinge nie doen nie:

  15. nie eet op die berge en sy oë nie opslaan na die drekgode van die huis van Israel nie, die vrou van sy naaste nie verontreinig

  16. en niemand verdruk nie, geen pand neem en geen roof pleeg nie, sy brood gee aan die wat honger het, en met ’n kleed toedek die wat naak is,

  17. sy hand van die ellendige afhou, geen rente of woeker neem nie, my verordeninge volbring en in my insettinge wandel — hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe.

  18. Sy vader sal, omdat hy aan verdrukking skuldig is, sy broer iets deur roof ontneem het en onder sy stamgenote gedoen het wat nie goed is nie — kyk, hy sal deur sy ongeregtigheid sterwe.

  19. Maar julle sê: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!

  20. Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.

  21. Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.

  22. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe.

  23. Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?

  24. Maar as die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen en handel volgens al die gruwels wat die goddelose doen — sal hy lewe? Aan al sy geregtighede wat hy gedoen het, sal nie gedink word nie; om sy troubreuk wat hy begaan het, en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe.

  25. Tog sê julle: Die weg van die Here is nie reg nie. Hoor tog, o huis van Israel! Is mý weg nie reg nie? Is júlle weë nie onreg nie?

  26. As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy.

  27. En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid wat hy gedoen het, en reg en geregtigheid doen — hý sal sy siel in die lewe behou;

  28. hy het dit ingesien en hom bekeer van al sy oortredinge wat hy begaan het; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.

  29. Tog sê die huis van Israel: Die weg van die Here is nie reg nie. Is mý weë nie reg nie, o huis van Israel? Is júlle weë nie onreg nie?

  30. Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here Here. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie.

  31. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel?

  32. Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here Here. Bekeer julle dan en lewe.

Hierdie hoofstuk in die Bybel skiet die hele “bloedlyn vloeke” leerstelling af as vals en uit die hel gebore. Dit klop nie met die woord van God nie. Ons gaan nog heelwat ander skrifgedeeltes behandel wat die waarheid omtrent hierdie vals leerstelling sal bevestig.

Om terug te kom na Esegiël 18 wil ek U net op die volgende punte wys:

  1. God vra vir hulle: Wat is dit met julle dat julle hierdie spreekwoord gebruik? Hy sê vir die Israeliete dat hulle ‘n fout maak met die gesegde wat in Israel die rondte doen wat sê: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword. Hoekom is dit ‘n fout? Want dit is nie die waarheid nie. En Hy gaan nou vir hulle verduidelik hoekom nie. Behalwe dat dit baie onregverdig sou wees om die kinders te straf vir die sondes van die vaders wil Hy dit net duidelik maak waaroor dit eintlik gaan wanneer dit kom by geestelike verantwoordelikheid.

  2. Hy sê dit dan ook baie duidelik dat hulle moet ophou met hierdie spreekwoord. Hulle moet ophou om ‘n leuen te glo. Hoekom sê die Here die volgende woorde aan hulle? “dit sal julle nie meer in die gedagte kom om hierdie spreekwoord in Israel te gebruik nie”. Hoekom sê Hy vir die volk Israel, wie se sondes nog nie eens weggeneem is nie maar net bedek is deur die bloed van lammers, julle sal nie meer sê dat die vaders gesondig het en nou moet die kinders die gevolge dra nie. Want Hy wou dit by hulle tuis bring dat hierdie gesegde nie die waarheid is nie. Daar is Skrifgedeeltes in die Ou Testament en in die Nuwe Testament wat dit beaam. Ons behandel dit ‘n bietjie later.

  3. In vers 4 sê Hy wat eintlik die waarheid is. Hy sê dat al die siele syne is en dat die siel wat sondig moet sterf. Lees weer vers 4: “Die siel wat sondig, dié moet sterf” . Hier maak God sy wil klinkklaar bekend. Die een wat sondig moet sterf.

  4. In vers 9 sê God baie uitdruklik oor die regverdige: “die regverdige, hy sal sekerlik lewe”.

  5. In vers 13 sê God baie duidelik oor die onregverdige: “Hy sal nie lewe nie; al hierdie gruwels het hy gedoen; hy moet sekerlik gedood word; sy bloedskuld is op hom”. Kyk baie mooi hier wat op hom is: “Al hierdie gruwels wat hy gedoen het is die bloedskuld wat op hom is”. Nie die gruwels van sy vader nie, nee, sý gruwels wat hý gedoen het.

  6. Dan wys God in vers 17 dat ‘n mens nie sterf weens die ongeregtigheid van sy vader nie: hy sal nie sterwe weens die ongeregtigheid van sy vader nie, hy sal sekerlik lewe”.

  7. God bly nou die scenario verwissel. Dan is dit ‘n regverdige vader met ‘n onregverdige seun. Wat gebeur dan? “Die regverdige vader lewe en die onregverdige seun sterwe” Hy sê dan uitdruklik: “Die regverdige vader sal nie die sondes van die onregverdige seun help dra nie”

    Dan is dit weer ‘n onregverdige vader en ‘n regverdige seun. Wat gebeur dan? “Die onregverdige vader sterwe en die regverdige seun lewe”. Hy sê dan uitdruklik: “Die regverdige seun sal nie die sondes van die onregverdige vader help dra nie”.

  8. In vers 18 maak die Here dit nou baie duidelik hoekom ‘n mens sterwe: “Hy sal weens sy ongeregtigheid sterwe” Wie sterf? Die onregverdige. Hoekom: Vanweë ongeregtigheid. Wie se ongeregtigheid? Sy eie.

  9. Maar nou in vers 19 is Israel nie tevrede daarmee nie. Hulle vra vir God: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? God antwoord hulle dan in vers 19: “Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe!” Eerstens word hier duidelik gesuggereer dat Israel half verontwaardig is oor die feit dat die seun nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie. Die regverdige God sê nou vir hulle. Maar dit sal onregverdig wees! Die seun het dan reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou. Hoe kan ek Hom verantwoordelik hou vir sy vader se sondes? Hy was dan regverdig teenoor My. Ek moet regverdig teenoor hom ook wees! Hy sal sekerlik lewe!

  10. En nou in vers 20 maak God sy wil met betrekking tot aanspreeklikheid absoluut baie duidelik: Hy sê baie duidelik: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” Daar is nou geen meer twyfel nie: Die goddeloosheid van die onregverdige is op hom en die sonde en ongeregtighede van die onregverdige is op hom. Niemand dra niks vir niemand nie. Elkeen dra sy eie las.

  11. In vers 21 tot 23 kom die waarheid nou baie mooi na vore. God sê hier dat as iemand hom bekeer van sy sonde dan sal hy lewe al was hy ‘n onregverdige: Maar as die goddelose hom bekeer van al sy sondes wat hy gedoen het, en al my insettinge onderhou en reg en geregtigheid doen, sal hy sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie. Al sy oortredinge wat hy begaan het, sal hom nie toegereken word nie; deur sy geregtigheid wat hy gedoen het, sal hy lewe. Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here Here. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie? Kyk wat sê God hier: Hy het geen behae daarin dat iemand moet sterf nie. Al was jy hoe sleg. Hy wil jou laat lewe, daarom kan jy jou bekeer. Bekeer van wat? Van jou sondes. Nie ander mense se sondes nie. Jou eie sondes. Dit wat jý gedoen het. Wat hy begaan het. Ek het dit hierbo onderstreep presies soos dit in die Bybel staan. Alles wat jy gedoen het sal jou nie toegereken word nie! Jy moet jou net bekeer van jou weë. Kyk weer na vers 23: jou weë. Nie ‘n ander mens se weë nie. Nie ‘n ander mens se sondes nie. Merk ook baie duidelik op. Jy hoef net jou eie sondes te bely en jou daarvan te bekeer om by God regverdig te wees. Jy hoef niks anders te doen nie. Jy hoef nie bloedlyn vloeke te breek nie. Jy hoef nie in sak en as te gaan sit en allerhande rituele uit te voer nie. Nee, jy bekeer jou net, bely jou sondes en vergeet van die verlede.

  12. Vers 24 wys dan ook nou dat al was ‘n persoon regverdig maar hy begin sondes doen, dan gaan hy sterwe as gevolg van daardie sondes wat hy gedoen het. Al was sy vader regverdig gaan dit hom niks help nie. Hy gaan nog steeds sterwe as gevolg van sy eie sondes. God sê: “…en om sy sonde wat hy gedoen het, om hulle ontwil sal hy sterwe”.

  13. Die Here som dit weer op in verse 26-28: As die regverdige afwyk van sy geregtigheid en onreg doen, dan sterf hy ten gevolge daarvan; deur sy onreg wat hy gedoen het, sterf hy. En as die goddelose hom bekeer van sy goddeloosheid wat hy gedoen het, en reg en geregtigheid doen — hý sal sy siel in die lewe behou; hy het dit ingesien en hom bekeer van al sy oortredinge wat hy begaan het; hy sal sekerlik lewe, hy sal nie sterwe nie.

  14. Die rede hoekom God telkemale die scenario omdraai (Dan is dit ‘n regverdige vader met ‘n onregverdige seun en dan weer ‘n onregverdige vader met ‘n regverdige seun) is net om aan die volk Israel te wys dat dit wat die vader was niks te doen het met dit wat met die seun gaan gebeur nie en andersom. Dit gaan eintlik oor wat elkeen met sy eie lewe aangevang het. Hy maak dit baie duidelik dat elkeen net vir sy eie dade verantwoordelik is.

  15. In vers 29-32 sê die Here dat hulle moet inval by sý wil en ophou om hierdie verkeerde lering te glo dat die kinders moet sterf vir die vaders. Dit werk nie so nie. Hy beaam dan dat Hy hulle sal oordeel volgens sý wil. Volgens sy wil kan hulle hulle bekeer en lewe. Doen dit dan sê die Here. Bekeer julle en lewe!

  16. In vers 30 sê God ook uitdruklik dat Hy elkeen oordeel volgens sy weë. Ons daaglikse handel en wandel is onder die loep. Dit wat ons elke dag dink, sê en doen is die goed waaroor ons eendag verantwoording moet doen. Die woord sê dat die mens verantwoording gaan doen vir elke woord wat hy gespreek het. Ons gaan nié verantwoording doen vir wat ons oupas en oumas gedoen het nie.

  17. Dit is juis vir hierdie rede dat die oproep aan elke mens nog steeds is om hom of haar te bekeer van sy of haar weë (in die Ou Testament en ook in die Nuwe Testament). Daar is nêrens ‘n instruksie dat jy jou moet bekeer van jou weë en die van jou voorouers nie. Hoekom nie? Want elke mens word net aanspreeklik gehou vir sy eie dade. Prys God daarvoor!

Die volgende belangrike aspekte rondom bloedlyn vloeke word deeglik in die boek bespreek en verduidelik hoe die koninkryk beginsels van God rondom hierdie onderwerpe funksioneer:

Wanneer mense na hulle voorouers kyk maak hulle persoonlike observasies wat hulle op ‘n dwaalspoor neem.

Mense weet nie hoekom hulle siek is nie en hulle verstaan nie die werklike oorsake van siekte, ellende en swaarkry nie.

Mense ken nie die Bybelse beginsels rondom die straf van God nie.

Mense ignoreer die Skrifgedeeltes waarin God dit duidelik uitspel dat geen mens ‘n ander mens se sondes kan of mag dra nie.

Mense verstaan nie die verlossingsdaad van Christus aan die kruis nie.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment