Wie en wat is ons werklik?

Dit is baie belangrik dat ons weet van waar ons kom. Wat het in die loop van die jare verander en wie het dit verander? Hoe vergelyk dit met dit wat Jesus en die apostels ingestel het en geleer het?

In die eerste 250 jaar van die kerk se bestaan was die Romeinse ryk deurtrek met heidense godsdiens. Toe die Rooms-Katolieke kerk in die vierde eeu ontplooi is, het dit dan ook baie heidense en Joodse (Judaïsme) praktyke in die Katolieke kerk opgeneem. Hulle het ‘n stelsel van professionele leierskap ingestel, heilige geboue is in gebruik geneem, die branding van wierook in dienste is ingestel, heilige maagde is in plek gesit, die Here se verbond maal is verander in ‘n misterieuse ritueel, ens.

Die volgende gedeelte is ‘n lys van praktyke wat in die loop van die jare in die kerk opgeneem is. (Let wel, die meeste van hierdie praktyke is heidense praktyke)

Die Kerk Gebou

Die eerste kerkgebou is onder Keiser Konstantyn in 327 NC gebou. Die eerste boustyle is ontleen aan die Romeinse basiliek styl wat grotendeels die styl van die Romeinse staatsgeboue was. Dit was weereens ontleen aan die Griekse heiden tempels. – Toe Jesus op die toneel verskyn het, het Hy drie elemente van die Joodse geloof beëindig: die tempel, die priester orde en diere offers. Hy het al drie in Homself vervul. Hy is die Tempel van God, Hy is ons Hoëpriester en Hy is die Lam van God wat eenmalig vir ons geoffer is. Die Christelike geloof het daarmee die enigste geloof geword wat nie hierdie drie elemente het nie. Jesus het twee stellings gemaak wat twee uiteenlopende reaksies tot gevolg gehad het: Die Jode het baie kwaad geword toe Hy gesê het dat as die tempel afgebreek word Hy dit binne drie dae weer sou bou (verwysend na sy liggaam op die kruis). Die Samaritaanse vrou het dit bloot net aanvaar toe Hy gesê het dat God nie meer in Jerusalem in die tempel of op die berg in Samaria aanbid sou word nie, maar dat hulle die Vader in gees en in waarheid sou aanbid waar hulle ook al bymekaarkom of waar hulle ook al gaan.

Heilige Geboue

Van hierdie kerkgeboue is op die grafte van Christelike martelare gebou en as gevolg daarvan is hierdie kerkgeboue as heilig beskou en verklaar. Hierdie praktyk is ‘n heidense gebruik. Verskillende heidense gelowe se tempels is op heidense godsdienstige leiers se grafte gebou en heilig beskou. Die Katolieke Christene het hierdie gebruik in die 3de en 4de eeu in gebruik begin neem – Net die liggaam van Christus is heilig. Daar bestaan nie heilige geboue nie, net heilige mense. Ons is saam met Jesus die tempel van God. Hy die hoof en ons die liggaam.

Die Herders Stoel

Die gebruik van die herder stoel is ontleen aan die biskopstroon. Dit was afkomstig van die regter se stoel in die Romeinse basiliek (Seremoniële Hof). ‘n Hedendaagse gebruik is om ‘n groter stoel vir die Pastoor beskikbaar te maak gewoonlik agter die kansel.

Belasting-kwytskelding vir Kerke en Kerkleiers

Konstantyn het in 313 NC aan kerkleiers belasting-kwytskelding gegee. ‘n Voorreg wat heidense priesters reeds geniet het. Hy het ook dieselfde status aan kerke gegee in 323 NC.

Gebrandskilderde kleur glas Vensters

Eerste in gebruik geneem deur Gregory van Tours en vervolmaak deur Suger (1081-1151), kloostervoog van St. Denis.

Gotiese Katedrale

Hierdie spookagtige boukuns volgens die heidense filosofie van Plato is in die 12de eeu in gebruik geneem.

Die Kerktoring

Gewortel in ou Babiloniese en Egiptiese argitektuur en filosofie was die kerktoring ‘n Middel eeuse uitvindsel wat populêr gemaak is en gemoderniseer is deur Sir Christopher Wren in London in 1666.

Die Kansel

Die kansel is reeds in 250 NC in gebruik geneem. Dit was afkomstig van die Griekse ambo wat ‘n kansel was wat deur die Grieke en die Jode gebruik is vir toesprake.

Kerkbanke

Het in Engeland in die 13de eeu ontstaan.

Die Sondagoggend Orde van Aanbidding

Die volgorde van aktiwiteite tydens die Sondagoggend diens is in die sestiende eeu ontleen aan St. Gregory se misdiens (altaardiens) en verder is hersiening aan die volgorde gemaak deur Luther, Kalvyn, die Puriteine, die Vrye kerk tradisie, die Metodiste, die Herlewings predikers en die Pinkster beweging.

Die Sentralisering van die Kansel in die Aanbiddings orde

Die sentralisering van die kansel is deur Martin Luther in 1523 ingestel. Daarmee het die preek gelewer deur ‘n enkele persoon (Pastoor) soos ons dit vandag ken, die mees belangrike liturgiese aktiwiteit in die gemeente samekoms geword.

Brandende Kerse op die “Verbond Maal Tafel” en die Branding van Wierook

Die nagmaal tafel is deur Ulrich Zwingli in die sestiende eeu in gebruik geneem. Brandende kerse is in die seremoniële hof van die Romeinse keisers in die vierde eeu gebruik. Dit is dan ook oorgebring na die verbond maal tafel.

Die Here se Verbond Maal kwartaalliks geneem

Ingestel deur Ulrich Zwingli in die sestiende eeu.

Die Gemeente wat Staan en Sing wanneer die Leiers inkom

Ontleen aan die seremoniële hof van die Romeinse keisers in die vierde eeu. Dit is ook deur Kalvyn in die Protestantse liturgie geïmplementeer.

Arriveer by die “Kerk” met ‘n Somber/Respekvolle Gesindheid

Gebaseer op die Middel eeuse oogpunt van vroomheid. In Protestantse dienste geïmplementeer deur John Kalvyn en Martin Brucer.

Veroordeling en Skuldgevoel oor die Mis van ‘n Diens

Deur die Nuwe Engelse Puriteine in gebruik geneem in die sewentiende eeu. Hulle het gemeente lede boetes opgelê en selfs gemartel as hulle dienste gemis het.

Die lang Herders gebed wat die preek voorafgaan

Ingestel deur die sewentiende-eeuse Puriteine.

Die Herders Gebed uitgespreek in “Elizabethan English”

Ingestel deur die agtiende-eeuse Metodiste.

Die algemene doelstelling om te preek vir die redding van individuele siele

In gebruik geneem deur agtiende-eeuse Herlewings predikers.

Die Altaar Roep (Altar Call)

Ingestel deur die sewentiende-eeuse Metodiste en populêr gemaak deur Charles Finney.

Die Kerk Bulletin (geskrewe liturgie)

Dit vind sy oorsprong in 1884 nadat Albert Blake Dick sy dupliseer masjien uitgevind het.

Die “Solo” Verlossing Lied, Deur-tot-deur Evangelisasie, Evangelistiese Reklame Veldtogte

Ingestel deur D. L. Moody.

Buig die Hoofde met oë toe en die Oplig van ‘n Hand in reaksie op ‘n Verlossings boodskap

Ingestel deur Billy Graham in die twintigste eeu.

Die Evangelisasie van die Wêreld in een Generasie Slagspreuk

Deur John Mott in 1888 begin.

Die “Solo” Sang of Speel van ‘n Liedjie terwyl die Kollekte opgeneem word

Ingestel deur die twintigste-eeuse Pinkster beweging.

Die Hedendaagse Preek

Ontleen aan die Griekse drogredenaars en filosowe wie meesters was van die redenaarskuns en welsprekendheid. Dit is in die kerk populêr gemaak deur John Chrysostom en Augustine (Die Greco-Roman sermon).

Die Een-Uur Preek, Preek “crib” notas, Die Vier-deel Preek Oorsig

Ingestel deur die sewentiende-eeuse Puriteine.

Die Enkel Biskop (Voorloper van die Hedendaagse herder of Pastoor)

Ingestel deur Ignatius van Antiochië in die tweede eeu. Sy een-biskop reël het egter nie bly staan tot in die derde eeu toe dit populêr begin word het.

Die “Covering” Leerstelling

Cyprian van Carthage, ‘n eens heidense redenaar, het hierdie vals leerstelling die eerste keer begin leer. Dit is later herlewe onder Juan Carlos Ortiz van Argentinië en ook deur die “Fort Lauderdale Five” van die Verenigde State van Amerika, toe hulle die sogenaamde “Shepherding-Discipleship Movement” in die 1970’s gestig het – Hierdie vals lering wat glad nie skriftuurlik is nie is uit vrees gebore. Herders wat vir die een of ander rede gemeentelede verloor en uit die aard van die saak ook inkomste, het omdat hulle die ergste vrees, ook vrees by gemeentelede ingeboesem dat hulle onder hulle “covering” uit beweeg en daarmee aan allerhande “ongenoemde dinge” blootgestel is. Daar is selfs geen skrif wat die term “corporate anointing” regverdig nie.

Hiërargiese Leierskap

In die kerk ingebring deur Konstantyn in die vierde eeu. Dit was ontleen aan die staats leierskap sisteme van die Babiloniërs, Perse, Grieke en Romeine. Dit het Ignatius se “enkel herder” leier verder gevoer tot ‘n totale piramiede (bevelsorde sisteem) soos in ‘n groot maatskappy met ‘n hoofkantoor, streke, seksies en afdelings.

Kerkleierskap gegroepeer teenoor Gewone Lidmate (Clergy and Laity)

Die woord “laity” is vir die eerste keer opgemerk in die skrywes van Clement van Rome. “Clergy” is die eerste keer opgemerk in Tertullian. Teen die derde eeu het kerkleiers reeds wêreldwyd as “Clergy” bekend gestaan. Daarmee is die Bybelse en deur God ingestelde broederskap verhouding van “almal op dieselfde vlak” iets van die verlede. Broers is mos gelyk in enige huis of familie.

Hedendaagse Ordinasie van Kerkleiers

Dit het sy ontstaan iewers tussen die tweede en vierde eeu. Dit was ontleen aan die Romeinse staats gewoonte om staats amptenare formeel aan te stel in staatsposte. Die idee van ‘n geordende bedienaar as ‘n “heilige man van God” kan nagespeur word na Augustine, Gregory van Nazianzus en Chrysostom – Daar is geen Skriftuurlike regverdiging vir hierdie gebruik nie.

Die Titel “Pastoor”

Katolieke “priesters” wat Protestantse bedienaars geword het tydens die Martin Luther hervormings, was nie “Pastore” genoem nie tot in die 18de eeu toe hierdie Katolieke titel vervang is met “Pastoor” onder Lutherse Vromes.

Christene geklee in hulle “Sondag Beste” vir Kerk

Hierdie praktyk het sy oorsprong in die laat agtiende eeu met die Industriële Rewolusie. Dit het in die negentiende eeu wêreldwyd versprei. Die opkomende middelklas kon ook nou duurder klere bekostig en het gou by hulle welaf aristokratiese medeburgers aangepas. Voor dit was byeenkomste deur christene bygewoon in normale, gemaklike drag en selfs werksdrag.

Kerkleiers Kleding

Hierdie praktyk het in 330 NC begin toe Christelike kerkleiers dieselfde kleding as Romeinse staats amptenare begin dra het. Eventueel teen die 12de eeu het hulle hierdie kleding selfs op straat gedra wat hulle duidelik onderskei het van die gewone mense. Kerkleiers was sinoniem met staats amptenare. Hulle het albei ‘n salaris van die staat ontvang en was maar albei in diens van die keiser. Daarom dieselfde kleredrag.

Die Hedendaagse Pastoors pak

Ontleen aan die swart mantel wat deur die Reformasie bedienaars gedra was, het die swart pak klere van die twintigste eeu wêreldwyd die tipiese kleding van die hedendaagse pastoor geword. Natuurlik het die kleding van pastore in sommige Pinkster en Charismatiese bewegings intussen meer informeel geword.

Die Kerkkoor

As gevolg van Konstantyn se begeerte om die professionele musiek wat in Romeinse Imperialistiese seremonies gebruik is na te doen, het die professionele kerkkoor tot stand gekom. Ook in die 4de eeu het Christene die kerkkoor idee ontleen aan kore gebruik in Griekse dramas en Griekse tempels.

Die Seuns Koor

Is in die 4de eeu ontleen aan die seuns kore deur heidense gelowe gebruik.

Begrafnis Optogte en Begrafnis Preek

Ontleen aan “Greco-Roman” heidense gelowe in die 3de eeu.

Die Aanbiddings Span

Hierdie praktyk is in 1965 in die “Calvary Chapel” in Amerika in gebruik geneem en is gebaseer op die sekulêre ruk-en-rol konserte.

Tiendes en Offer hande

Was nie ‘n wydverspreide Christelike instelling nie tot en met die 8ste eeu. Die 10% belasting op die verhuring van geboue stelsel wat gedurende die middel eeue in Europa in gebruik was, is gebruik om kerkleiers se salarisse te betaal en om ander onkoste te befonds. Later is dit vervang deur die Ou-Testamentiese “tiende” sisteem te regverdig. Dit was egter die Israelitiese staat belasting stelsel van die Ou Testament wat natuurlik ‘n God gegewe instelling was. (Onthou God was die leier van die staat Israel en die belasting was bedoel vir weduwees, arm mense, die Leviete asook vir die normale staats onkoste). Israel was uniek in die sin dat die Israelitiese geloof, die tempel, priesters en die Levitiese ampte in die tempel ‘n belangrike rol gespeel het in die regering van die land – Hierdie stelsel het egter niks met die kerk te doen nie. Die Christelike geloof het heeltemal ander beginsels oor saai en maai, versorging van hulpbehoewendes, arm mense, goeie rentmeesterskap en so meer wat baie duidelik in die Nuwe Testament uiteengesit word.

Lees 2 Korr. 9:6-8

Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief. En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.

Lees ook Lukas 6:38

Gee, en aan julle sal gegee word. ’n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Dit is baie duidelik dat ‘n mens steeds moet gee. Nie ‘n tiende nie maar soos wat jy in jou hart voorneem. In die huiskerke gee elkeen soos hy hom dit in sy hart voorneem aan die behoeftiges in die gemeente, weduwees en wees, arm mense wat op hul pad kom, evangelisasie uitreikings, kerk planting en aan elkeen soos wat die Gees hulle op die hart lê, ens. Die gee aan armes is nie net ‘n gehoorsaamheid aan God se opdragte nie maar ook ‘n geloofsdaad om aan God te wys dat jy Hom eer en erken as jou voorsiener. Jy gee en vertrou God weer vir jou inkomste.

Omdat daar nie die duur onkostes is vir byvoorbeeld die koop van geboue, instandhouding van geboue en ander bates sowel as salarisse nie, word finansies in die huiskerke vir die regte doel aangewend.

Kerkleiers Salarisse

Hierdie praktyk was deur Konstantyn in die 4de eeu ingestel. Die Kerkleiers is soos staats amptenare behandel en het ook salarisse van die staat ontvang. Later moes die kerk self hulle eie onkoste dra en is die Ou-Testamentiese tiende stelsel “aangepas” en regverdig om onkostes te befonds. – Voor salarisse deur Konstantyn ingestel is, het God se voltydse werkers (Vyfvoudige bediening) Hom vertrou vir voorsiening en ander het net deeltyds sy werk gedoen. Hulle was nie huurlinge nie maar het sy werk vir die regte redes gedoen. Dit is ook Skriftuurlik dat ‘n voltydse werker nie ‘n salaris ontvang daar waar hy bedien nie maar eerder finansieel ondersteun word deur gemeentes van ‘n ander streek wat hom gestuur het.

Die Kollektebord

Die offer hande bak het in die 14de eeu op die toneel verskyn en die aangee van die kollekte bord in 1662.

Die Deurwagter/Plekaanwyser (Ushers)

Het met Koningin Elizabeth I (1533-1603) van Engeland begin. ‘n Voorganger van die deurwagter, die kerk portier, het reeds in die 3de eeu sy opwagting gemaak.

Kinderdoop

Gewortel in die bygelowige oortuigings wat in die Greco-Roman kultuur hoogty gevier het is die kinderdoop in die Christelike geloof opgeneem in die laat 2de eeu. In die 5de eeu het dit volwasse doop geheel en al vervang.

Vervanging van onderdompeling met besprinkeling

Het in die laat Middeleeue in Westerse kerke begin.

Doop verwyderd van bekering

Het in die vroeë 2de eeu sy oorsprong as gevolg van die bygeloof dat die doop die enigste medium was vir die vergewing van sonde. Volgens hierdie wettiese bygeloof kon jy nie weer gered word as jy na jou doop weer gesondig het nie. Baie mense soos byvoorbeeld Konstantyn het die doop uitgestel tot op sy sterfbed om seker te maak hy word gered. Later is grootdoop heeltemal afgestel – In die Nuwe-Testamentiese tyd is die doop juis die “bekerings daad” gewees. Die mense het juis mét hierdie geloofstap Jesus aangeneem.

Die Sondaars Gebed

Het sy oorsprong met D. L. Moody maar is in die 1950’s populêr gemaak deur Billy Graham met sy “Peace with God” traktaatjie. Ook Campus Crusade for Christ het dit populêr gemaak met hulle “Four Spiritual Laws”

Die gebruik van die term “Persoonlike Verlosser”

Dit is die eerste keer deur die Herlewings predikers in die 1800’s gebruik maar is deur Charles Fuller (1887-1968) populêr gemaak.

Die Here se Verbond Maal afgeskaal van ‘n Volle Liefdes Maal tot bloot ‘n Seremoniële “Beker” en Brood”

Die praktyk is in die laat 2de eeu ingestel as ‘n resultaat van heidense seremoniële invloede.

Die Katolieke Kweekskool

As gevolg van die Raad van Trent (1545-1563) is die eerste kweekskool gestig. Die curriculum was gebaseer op die leerstellings van Thomas Aquinas, wat ‘n vermenging was van Aristoteles se filosofie, Neo platoniese filosofie en Christelike leerstellings.

Die Protestantse Kweekskool

Het begin in Andover, Massachusetts in 1808. Die curriculum was ook gegrond op Thomas Aquinas se leerstellings.

Die Bybel Kollege

Beïnvloed deur die opwekkingsbeweging van D. L. Moody, was die eerste twee Bybel Kolleges geopen in New York (Missionary Training Institute) in 1882 en in Chicago (Moody Bible Institute) in 1886.

Die Sondagskool

Robert Raikes van Brittanje het in 1780 ‘n Sondagskool geopen om arm kinders die basiese beginsels van opvoeding te leer. Dit het later aanleiding gegee tot die leer van Christelike of Bybelse beginsels op kinder vlak.

Die Jeug Pastoor

Ontwikkel in die stedelike gebiede van Amerika in die laat 1930’s was dit die resultaat van ‘n soeke na maniere om aan ‘n nuwe sosiale klas genoem “tieners” se behoeftes te voorsien.

Die samevoeging van Paulus se briewe in ‘n kanon en gerangskik volgens neer dalende lengte (Van die langste tot die kortste)

2de eeu deur die Rooms-Katolieke kerk.

Hoofstuk nommers ingevoeg in die Nuwe Testament

Professor Stephen Langton van die Universiteit van Parys in 1227. Dit is gedoen om gedeeltes in die Bybel makliker te kry as daarna verwys word. Nie ‘n slegte voorstel nie behalwe dat sekere hoofstukke afgesny word van ‘n volgende of ‘n vorige hoofstuk wat die lees van die Bybel ‘n bietjie meer gekompliseerd maak en kan beïnvloed.

Vers nommers ingevoeg in die Nuwe Testament

Die drukker Robert Stephanus in 1551. Dit is gedoen om gedeeltes in die Bybel makliker te kry as daarna verwys word. Nie ‘n slegte voorstel nie behalwe dat sekere verse afgesny word van ‘n volgende of ‘n vorige vers wat die lees van die Bybel ‘n bietjie meer gekompliseerd maak en kan beïnvloed.

Bogenoemde inligting is hoofsaaklik ‘n uittreksel uit: “Pagan Christianity? Exploring the roots of our church practices, Frank Viola and George Barna, Summary of origens, http://www.frankviola.net/:”

Behalwe vir hierdie instellings en veranderings was daar nog baie klein jakkalsies wat die Hoofskap van Jesus en die leiding van die Heilige Gees nadelig beïnvloed het.

Bogenoemde veranderinge het ‘n baie groot invloed op die kerk gehad. Die “godsdiens” van die Fariseërs en ander Joodse leiers was weer terug (Reëls, regulasies, wette, konstitusies; alles mensgemaakte verordeninge net soos die Jode gedoen het). Die feite is onomwonde, bogenoemde het gebeur. Dit is opgeskryf in die geskiedenis boeke van die kerk. Die skade deur die eeue heen is gedoen. Daaraan kan ons niks doen nie maar dit hoef nie so te bly nie. Ons kan kies om dit weer reg te stel.

Die grootste skade het gekom met die instelling van die leiers orde van die kerk. Die Pastoor as enkel leier in die gemeente het die fokuspunt geword. Dit het die prominente figuur van die Protestantse geloof en ook ander denominasies geword. Dit is egter verrassend dat daar geen Skriftuurlike gronde in die Bybel voorkom vir hierdie posisie in hierdie opset nie. Trouens, die vyfvoudige bediening in sy geheel was funksioneel van aard en nie posisioneel nie. Die klem het op die funksie geval. Dit wat hulle gedoen het was die kern van hulle bestaan.

Daar was geen posisionele aanstelling in die Nuwe Testament nie. Ons het as gevolg van tradisie die idee van die enkel herder en leierskap in die algemeen soos wat ons dit vandag ken teruggelees in die Bybel in. Ons het nie gaan kyk wat die Bybel oor leierskap sê nie maar dit wat ons ken in die Bybel gaan regverdig. Skriftuurlik en in praktyk was herders in die Nuwe Testament lokale ouderlinge en opsieners van die gemeentes. Hulle funksies het totaal verskil van wat ons vandag sien.

Daar was ook geen hiërargiese struktuur (piramiede struktuur) in die vroeë kerk nie. Almal was gelyk (Die vyfvoudige bediening en die gemeente lede was almal op dieselfde vlak). Elkeen het maar net sy unieke funksie uitgevoer en die gawes beoefen soos die Heilige Gees dit uitgedeel het. Niemand het outoriteit oor ander gehad nie en niemand het die gemeentes of gemeentelede beheer nie. Die apostels het nuwe gemeentes geplant maar nooit daardie gemeentes beheer of eienaarskap daarvan geneem nie.

Die enigste posisionele leier in die kerk is Jesus Christus Homself. Hy is die Hoof van die kerk (Deur die Vader aangestel) en die enigste Persoon wat outoriteit oor die kerk, gemeentes en kinders van God het. Net Hy kan instruksies gee en net Hy kan praat van Sý kerk, Sý gemeente of Sý bruid. Die kerk behoort nooit aan ons nie en ons mag nooit oor God se mense regeer soos die wêreld oor mense regeer nie. Dit is God se eiendom en dit is heilige grond.

Ignatius van Antiochië was die eerste persoon wat die betreurenswaardige pad van leierskap volgens die wêreld patroon gestap het. In die middel tweede eeu het hy in elke gemeente een van die ouderlinge verhef deur hom aan te stel oor die ander ouderlinge. Hierdie ouderling het gou bekend gestaan as “biskop” en hy het die funksies van die ander ouderlinge oorgeneem. Dit was Ignatius se teenvoeter vir dwalinge en kettery. Hy het die biskop se funksie stelselmatig vergroot om meer beheer te kry en die biskop posisie selfs gelyk met Christus gestel. Volgens hom het die biskop al die mag in die gemeente en moet hy absoluut gehoorsaam word. Hy moet vir alle praktiese doeleindes beskou word as die Here Homself omdat hy God hier op aarde verteenwoordig. Almal moet die biskop volg soos wat Jesus die Vader gevolg het. Dit was baie gou vir die ouderlinge of gemeentelede nie meer “wettig” om iemand te doop of die verbond maal te bedien nie. Wat die biskop ook al goedgekeur het, sal voor God ook welgevallig wees. Dit is goed om God en die biskop te erken. Hy wat die biskop eer, eer ook die Vader. Doen niks sonder die biskop nie. Beskou die biskop as ‘n “tipe” van die Vader.

Teen die derde eeu was dié praktyk reeds algemeen en in die vierde eeu het Konstantyn dit reg deur die bank amptelik ingestel. Alles het nou om die biskop gedraai. Alles het deur hom gegaan. Hy het alles gedoen. Hy was verantwoordelik vir alles wat in die gemeente gebeur en natuurlik is ook die negatiewe voor sy voete gelê. Die arme man is oorlaai met verantwoordelikhede wat nooit so bedoel was nie en die negatiewe gevolge daarvan is deur die eeue duidelik sigbaar as ons kyk na die wrakke van “stukkende” herders en kerkleiers in die kerkgeskiedenis. En natuurlik, daarmee is Jesus se instruksies oor leierskap in die kerk totaal geïgnoreer.

Lees Matt. 20:25-28

Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

Let op die volgende woorde:

“heers” “gesag uitoefen” “só moet dit onder julle nie wees nie” “dienaar wees” “dienskneg wees” “dien”

Lees ook Lukas 22:25-26

En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien.

Jesus veroordeel hier baie duidelik die wêreld se leierskap sisteem.

Mettertyd is al hoe meer wêreld metodes en strukture ingestel. Maak nie saak hoe jy na die volgende woorde kyk nie, dit kan nooit in een sin met die kerk genoem word nie: Beplanning, strategie, outokratiese bestuurstyl, demokratiese bestuurstyl, delegasie, bosberaad, steekproewe, statistiek, reklame, reklame veldtogte, fondsinsamelings projekte, evaluasie, sekuriteit, dissiplinêre aksie soos die wêreld dit doen kompleet met industriële dissiplinêre kode, afdanking, arbeid unies, hofgedinge oor aanstellings en afdankings, vergaderings volgens wêreldse patrone, universiteit opleiding, posisionele aanstellings, onderhoude, rade en assosiasies, hoofkantore, streek kantore, konstitusies, sosiale strukture, werk beskrywings, werk prosedures, ens.

Hier volg ‘n tipiese jaar beplanning van ‘n herder in die institusionele kerk:

  • Revalueer die gemeente se visie en missie

  • Stel die gemeente se reputasie in die lokale gemeenskap vas.

  • Meet die demografiese en geestelike behoefte van die gemeenskap.

  • Fokus op die veiligheid van die vaste bates.

  • Knap die gemeente se begroting en uitgawe proses op.

  • Opgradeer die fasiliteite en toerusting vir die kinder bediening, jeug bediening, tegnologie en media.

  • Begroot vir konsultante vir fondsinsamelings en reklame veldtogte.

Die groot rede hoekom Herders van gemeentes natuurlik bogenoemde, soos ‘n tipiese kleinhandel saak moet doen, is die volgende:

  • Herders sukkel met missie en visie probleme omdat hulle nie duidelike direksie en doelstellings het nie (Dit gebeur wanneer ‘n organisme met duidelike Skriftuurlike direksie vervang word met ‘n organisasie, want nou het daardie Skriftelike aanwysings en rigtingwysers irrelevant geword).

  • Kerkleiers besef dat die mees effektiewe institusionele kerke dié kerke is wat bewus is van die behoeftes van die gemeenskap en baie aktief in die gemeenskap is. Soos ‘n goeie kleinhandel besigheid moet die gemeente soos ‘n geoliede masjien funksioneer om sukses te behaal.

In die proses is die gedeelde gemeenskap lewe van die “liggaam van Christus” stelselmatig doodgedruk. Die gemeentelede het baie gou passief geword want die struktuur het deelnemende interaksie nie toegelaat nie (Een ou doen nou alles). Daarmee is die eenvoud van die tipiese Nuwe-Testamentiese huiskerke verloor.

As jy meer wil weet aangaande die veranderings wat in die institusionele kerk aangebring is, kry die boek, “Huiskerke: Hoe? Hoekom?”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts