Geld! Wat ‘n Babelse verwarring!

Die kerk moet weer kyk wat die woord van God omtrent finansies leer. Ons moet ons standpunt hieroor definitief heroorweeg. Dit wat die meeste kinders van God omtrent finansies glo is nie wat die Bybel leer nie!

Die kerk het soveel verwoesting en verwarring in die area van finansies in die Christelike kerk veroorsaak dat niemand meer seker is presies wat die Bybel aangaande hierdie baie belangrike onderwerp sê nie.

Hierdie joernaal inskrywing werp meer lig op hierdie onderwerp:

Prosperity preaching

Aan die een uiterste van hierdie verwarring is die tipies Amerikaanse “prosperity” leerstellings wat baie groot skade in die kerk aanrig. Waar kom hierdie leerstelling vandaan? Hoe het dit in hierdie oppervlakkige, ydele leerstelling ontaard wat net so maklik en met net soveel ywer as die evangelie van Jesus Christus aan die wêreld verkondig word? Wat is die gevolge daarvan?

Onder andere lei dit tot geldgierigheid en ‘n oppervlakkige leefwyse onder Christene terwyl baie ander belangrike aspekte van Christenskap agterweë gelaat word. Dit lei ook tot groot agterdog en skeptisisme in die woord van God met betrekking tot Goddelike voorsiening.

Wat het die “prosperity” leerstellings so lelik gemaak? Hoekom het dit so oppervlakkig geword? Die antwoorde op hierdie vraag is die volgende:

Eerstens: Bekende kerkleiers met mega gemeentes het die aandag begin trek. In stede daarvan om die surplus finansies wat as gevolg van die groter gemeentes gegenereer word, vir maatskaplike dienste aan te wend, het baie van hierdie leiers hulleself verryk en baie hoër lewenstandaarde as die res van die gemeente lede begin handhaaf. Dit het ongelykheid, verwydering, afguns en jaloesie veroorsaak. Baie keer leef die kerkleiers in weelde en die gemeente lede krepeer van ellende. Daar het ook ‘n wedywering ontstaan tussen gemeentes. Die een wil mooier fasiliteite hê en beter programme aanbied as die ander. Dit is natuurlik nie moontlik in huiskerke nie omdat die vyfvoudige bedienaars in die huiskerk gemeenskap nie salarisse ontvang nie en ook geen beheer oor gemeente finansies het nie. Dit val buite hulle area van verantwoordelikheid en invloed.

Tweedens: Kerkleiers van mega gemeentes het natuurlik baie uitgawes en daarom is fondsinsameling ‘n baie belangrike aspek daarvan. As hulle nie baie ywerig aandag hieraan gee nie sal hulle nie al die programme en aktiwiteite van die kerk in stand kan hou nie. Hierdie aspek van die institusionele kerk het oor die jare aanleiding gegee tot baie vernuftige en vindingryke fondsinsamelings metodes en projekte. Dit het ‘n hele nuwe kultuur in die kerk tot stand gebring met betrekking tot finansies. Hierdie fondsinsamelings metodes en projekte word nie altyd heeltemal eerlik en aanvaarbaar bestuur nie. Allerhande klein jakkalsies het kop uitgesteek en die werklike motief agter projekte word somtyds versluier, veral wanneer hierdie motiewe nie heeltemal eerbaar is nie. Dit is hierdie klein jakkalsies wat baie groot skade in die kerk aangerig het.

Kerkleiers het deur die jare, as gevolg van vrees en/of geldgierigheid, dinge rondom kerk finansies gedoen en gesê wat baie mense geskok het. Die vrees dat die “bediening” as gevolg van ‘n tekort aan finansies ten gronde kan gaan, is vir baie institusionele kerkleiers ‘n ewige nagmerrie. Christene het deur hierdie metodes en projekte begin sien en hulle respek vir kerkleiers en ook vir die sisteem begin verloor. Mense het begin sien dat dit baie keer eintlik meer oor geld gaan as iets anders. Wanneer sodanige kerkleiers die Skrif aanhaal oor finansies kan hulle motiewe rondom hierdie aspek nie altyd vertrou word nie. Wat hulle ook al rondom finansies vanaf die preekstoel kwytraak word met agterdog bejeën of met ‘n knippie sout geneem. Van hierdie stellings was al werklik lagwekkend en absurd. Ongelukkig voel baie kerkleiers dat sodanige stappe vir ‘n baie goeie doel is en dat dit hulle optrede regverdig. Uiteindelik is die vertrouensposisie tussen kerkleiers en gemeente lede rondom finansies dus onherroeplik geskaad. Nie net dit nie maar ook “prosperity preaching” en “prosperity teaching” het vir baie mense onaanvaarbaar geword.

God word verheerlik wanneer ek swaarkry

Aan die ander uiterste van hierdie verwarring is die vals leerstelling dat kinders van die Here móét swaarkry. Hulle móét in armoede lewe as hulle enigsins die lesse van die lewe wil leer. Hulle geloofsoortuiging is dat armoede en ellende absoluut ‘n noodsaaklikheid is en eintlik verheerlik ons God daardeur. Sonder hierdie blootstelling kan ons nêrens kom op geestelike gebied nie. Daarsonder bly ons oppervlakkig en kan ons nooit geestelik volwasse word nie. Vir mense wat aan hierdie geloofsoortuiging glo is “prosperity preaching” in die hel gebore. Hulle kan hulle nóóit daarmee vereenselwig nie. Vir hulle is dit sinoniem met ‘n vloekwoord.

Inteendeel, dit is juis die verwronge boodskap van “prosperity preaching” wat ek hierbo bespreek het wat hulle finaal daarvan laat afsien het. Hierdie mense lê eerder alle rykdom en alle geldgierigheid af om eerder vrywilliglik vir God te “suffer”. Dit is vir hulle ‘n baie eerbare ding om te doen. Hulle voel dat hulle God daardeur behaag en dat hulle daardeur ‘n suiwer instrument in sy hande kan wees. Hulle het glad nie ‘n begeerte om welaf te wees of ryk te wees nie en het nie vals motiewe wanneer dit by finansies kom nie. Baie institusionele bedienaars hang hierdie siening aan en verkondig dit van die kansel af.

Van hierdie mense lewe in kinderlike afhanklikheid van God om in hulle basiese behoeftes te voorsien. Dit gaan eintlik nie baie goed met hierdie mense nie. Hulle leef van die hand na die mond. Dit is werklik nie lekker om so te lewe nie. Die swaarkry is duidelik op hulle gesigte te sien. Tog is baie van hulle baie gelukkig. ‘n Mens kan sien hoe God vir hulle sorg en hulle getuig gedurigdeur hoe God op wonderbaarlike wyse vir hulle voorsien het. Dit is juis hierdie bonatuurlike voorsiening wat hulle nog meer laat voel dat hulle in die volmaakte wil van God is. Ek het al baie van hulle getuienisse gehoor en dit is werklik wonderlik hoe God vir hierdie mense voorsien.

Hulle is met min tevrede en hulle ontvang uit die hart van God uit presies wat hulle glo. Baie van hulle is werklik gróót gelowiges en daar is ‘n kinderlike afhanklikheid aan God by hulle wat prysenswaardig is.

Dan is daar nog ‘n klomp variasies tussen hierdie twee uiterstes. Soos u kan sien heers hier werklik ‘n groot Babelse verwarring. Baie mense is regtig baie deurmekaar met betrekking tot hierdie onderwerp en weet nie wat om te glo nie. Skrifgedeeltes met betrekking tot voorspoed en voorsiening weerspreek mekaar dikwels regdeur die Bybel, of altans, so wil dit vir mense lyk. Vir baie wil dit lyk asof God tog wil hê dat dit goed moet gaan met sy kinders. Ander lees weer ander Skrifgedeeltes wat Paulus geskryf het en vir hulle lyk dit of God wil hê dat ons moet swaarkry.

Hoe voel jy daaroor?

Dit is eintlik ‘n verkeerde vraag om te vra. Die vraag wat ons eintlik moet vra is die volgende: Is jou geloofsoortuiging met betrekking tot hierdie onderwerp volgens die woord van God? Die werklikheid is dat dit nie saak maak hoe ek en jy daaroor voel nie. Dit maak ook nie saak wat ek en jy glo nie. Wat saak maak is wat die woord van God werklik daaroor sê. Die woord van God is die basis waarop enige en alle leerstellings gebou word. Geen ander boek of ander opinie as net die woord van God kan as werklike maatstaf of grondliggende verwysingsraamwerk gebruik word met betrekking tot sy wil. Die Bybel sê mos dat die hele Skrif deur God ingegee is en nuttig is tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing…

Om in ‘n neutedop meer sin te maak aan al hierdie informasie en opinies, met betrekking tot finansies, waarmee ons daagliks gebombardeer word sê ek altyd vir mense: “Moenie nou dat mense wat vals motiewe het jou laat afsien van die ware woord van God nie”. Met hierdie stelling word ek altyd beantwoord met ‘n “Wat bedoel jy?”

My antwoord: “Prosperity preaching” kom van God af. Die Bybel sê dit uitdruklik in soveel woorde. Inteendeel, die woord “prosperity” word net so in die Bybel aangehaal en dan sê die Bybel dat “prosperity” God se wil is vir sy kinders. Dit is egter ‘n ander “prosperity” as dit wat die institusionele kerk preek. Dit is nie daardie vuil, geldgierige, ryk word, skure vol “prosperity” nie. Nee, dit is ‘n Goddelike onselfsugtige oorvloed sonder dat daardie oorvloed vir jou te belangrik word of ‘n struikelblok word”.

Waar staan dit in die Bybel? Psalm 35:27 (KJV) en op nog ‘n menig ander plekke. Ons gaan ‘n paar daarvan opkyk.

Let them shout for joy, and be glad, that favor my righteous cause: yea, let them say continually, let the Lord be magnified, which have pleasure in the prosperity of his servant.

Die woord vir “prosperity” in die oorspronklike Hebreeus hier in Psalm 35 is, שׁלום, wat “shalowm” uitgespreek word. Die betekenis van hierdie woord is finansiële voorspoed, liggaamlike gesondheid en veiligheid.

God sê eintlik hier, nie net dat dit sy wil is nie, maar ook dat dit vir Hom ‘n plesier is dat dit met sy kinders moet goed gaan op alle gebiede of vlakke van hulle lewens.

Nou is die vraag: “Wat presies bedoel die Bybel hier met “goed gaan“?

Eerstens moet ons gaan kyk hoe voel ‘n goeie pa en ‘n goeie ma oor hulle kinders. Ek dink die volgende woorde sal baie beslis oor hulle lippe kom: “My hartsbegeerte is dat dit moet goed gaan met my kinders”. “Ek wil nie hê dat hulle ‘n tekort moet hê nie”. “My begeerte is dat my kinders moet hê wat hulle nodig het, wat dit ook al is”. Daarmee bedoel ons aardse ouers altyd dat dit hulle hartsbegeerte is dat ons gesond moet wees, dat ons veilig moet wees en dat ons nie ‘n tekort moet hê van dit wat ons nodig het om van te lewe nie.

Hierdie sluit nie net oorlewing in nie maar ook ‘n goeie sosiale lewe in. Ons aardse ouers sou dus graag wou hê dat ons genoeg kos, genoeg klere, ‘n goeie huis en een of twee goeie voertuie moet besit. Hulle sou wou gehad het dat ons al ons verpligtinge moet kan nakom met betrekking tot skoolfonds en ander skool en sport aktiwiteite. Hulle sou wou gehad het dat ons kinders op skool toere kon gaan. Hulle sou wou gehad het dat ons universiteit opleiding vir ons kinders kon betaal en dat ons een keer per jaar op vakansie kon gaan. Hulle sou wou gehad het dat ons nooit geld hoef te leen nie. Hulle sou wou gehad het dat ons darem so nou en dan ‘n bietjie gaan uiteet of ‘n naweek by ‘n vakansie oord kan gaan inboek. Ons werk so hard en het ook darem ‘n bietjie rus nodig.

Daar is menig Skrif in die Bybel wat bewys dat dit presies is wat ons Hemelse Vader ook vir ons wil hê. Dit gee Hom oneindig baie plesier as ons so lewe:

Psalm 112

  1. HALLELUJA!

  2. Welgeluksalig is die man wat die Here vrees,wat ’n groot welbehae in sy gebooie het.

  3. Sy nageslag sal geweldig wees op die aarde; die geslag van die opregtes sal geseën word.

  4. Oorvloed en rykdom is in sy huis; en sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid.

  5. Vir die opregtes gaan Hy op as ’n lig in die duisternis: genadig en barmhartig en regverdig.

  6. Gelukkig die man wat hom ontferm en uitleen, wat sy sake volgens reg besorg.

  7. Want hy sal nooit wankel nie; die regverdige sal in ewige gedagtenis wees.

  8. Hy vrees nie vir slegte tyding nie; sy hart is gerus, vol vertroue op die Here.

  9. Vas is sy hart, hy vrees nie, totdat hy op sy teëstanders neersien.

  10. Hy strooi uit, hy gee aan die behoeftiges; sy geregtigheid bestaan tot in ewigheid;  sy horing word verhoog in eer.

  11. Die goddelose sien dit en is vererg; hy kners met sy tande en smelt weg; die begeerte van die goddelose mense vergaan.

Psalm 23

  1. n PSALM van Dawid.

  2. Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

  3. Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

  4. Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

  5. Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my.

  6. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

Psalm 91

  1. HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.

  2. Ek sal tot die Here sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.

  3. Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes.

  4. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ’n skild en pantser.

  5. Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie,

  6. vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie!

  7. Al val daar duisend aan jou sy en tienduisend aan jou regterhand — na jou sal dit nie aankom nie.

  8. Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien.

  9. Want U, Here, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak.

  10. Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie;

  11. want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

  12. Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie.

  13. Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap.

  14. Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken.

  15. Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee.

  16. Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.

Mattheus 6:25-33

  1. Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe — wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam — wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie?

  2. Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

  3. Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?

  4. En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie;

  5. en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie.

  6. As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle,kleingelowiges?

  7. Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?

  8. Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.

  9. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.

  10. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.

Johannes 10:10

Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Die oorspronklike Griekse woord vir “oorvloed” hier word “perisos” uitgespreek. Dit beteken “meer as genoeg”. Die woordeboek gee die volgende uiteensetting hier: Superabundant, excessive, exceedingly more, beyond measure.

Filippense 4:19

En ons God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom en heerlikheid deur Christus Jesus.

Hier beaam die Skrif duidelik dat ons goeie hemelse Vader ook vir ons wil hê wat ons goeie ma en pa vir ons wil hê: Dat elke behoefte van ons vervul moet word. Hy wil ook hê dat ons niks moet kortkom nie.

Lukas 6:38 gaan aan op dieselfde trant:

Gee, en aan julle sal gegee word. ‘n Goeie maat wat ingedruk en geskud en oorlopend is, sal hulle in jul skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.

Hier beaam die Skrif dat God vir ons oorlopend toe baie wil gee. Ons kan dan ook sien dat die institusionele kerkleiers nie jok wanneer hulle sê dat as ons gee ons baie meer sal ontvang nie. Dit is die waarheid. Kerkleiers se motiewe is net nie altyd suiwer rondom hoeveel jy moet gee en vir wie jy moet gee nie. In die vroeë Nuwe-Testamentiese kerk en ook in huiskerke vandag gee elkeen uit vrye wil, aan wie hy gelei voel, soveel as wat hy gelei voel, gewoonlik aan armes en hulpbehoewendes. In huiskerke word glad nie geld gekollekteer nie. Die Ou-Testamentiese “tiende” belasting sisteem word nie gevolg nie. Dit is altyd ‘n vrywilliglik saak van geloof tussen gemeentelede en God. Wanneer daar regtig ‘n groot nood onder gemeentelede is word dit wel opgehaal maar daar word geen druk of manipulasie toegepas om geld uit mense te kry nie. Dit is altyd vrywillig. Dit volg altyd op Gees leiding. Vyfvoudige bedienaars is met betrekking tot hierdie aspek van gemeentelewe nooit betrokke nie. Die ouderlinge en die gemeentelede hanteer self die versorging van hulpbehoewendes in die gemeente.

Deuteronomium 28:12

Die Here sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie.

Dit is vandag nog steeds nie God se wil dat ons by enigiemand of enige instansie moet geld leen nie want Hy sorg vir ons. Ons moet net by Hom aanklop vir hulp. Die Skrif sê mos dat ons al ons bekommernis op Jesus Christus moet werp want Hý sorg vir ons.

Filippense 4: 6

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

Hier is dit nie meer net behoeftes nie maar selfs begeertes. Begeertes in alles. Die woord begeertes in die Grieks hier is ‘n petisie, ‘n vereiste, ‘n versoek. Dit beteken om vir God iets te vra wat vir jou saak maak, iets wat vir jou belangrik is. ‘n Begeerte van jou hart. Die Ou-Testamentiese eweknie vir hierdie Skrifgedeelte is Psalm 37:4

en verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Begeertes hier in die Hebreeus het presies dieselfde betekenis as begeertes in Filippense 4:6. God wil nie net in ons behoeftes voorsien nie maar selfs in spesiale begeertes wat ons mag hê.

Psalm 34:10-11

Vrees die Here, o sy heiliges, want die wat Hom vrees, het geen gebrek nie. Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat die Here soek, het geen gebrek aan enigiets nie.

Psalm 34 sê uitdruklik dat hulle wat God dien en Hom vrees geen gebrek hoef te lei nie. Die wat Hom soek het geen gebrek aan enigiets nie. Hierdie Skrifgedeelte is baie belangrik! Besef jy wat enigiets beteken? As dit met jou swaar gaan is daar ‘n ander rede daarvoor. Lees my boek, “Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke” wat gratis op die Suid-Afrikaanse Huiskerke webblad afgelaai kan word, as jy meer daaroor wil lees. Dit kom daarop neer dat ons kry wat ons glo en negatiewe dinge gebeur met ons omdat ons nie die woord van God in ons lewens toepas nie. Vandaar die ellende en vandaar die swaarkry. Dit is nie bloedlyn vloeke en die wil van God wat dit veroorsaak nie. Dit is ons wat nie God se beloftes deel van ons lewens maak nie. Dit is vir ons beskikbaar maar ons loop by dit verby.

2 Korinthiërs 9:6

Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.

En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.

Hier is die Skrif baie duidelik dat ons volop maai en in alle opsigte oorvloedig kan wees en kan hê omdat ons saai. Daar kan geen misverstande of twyfel van enige aard wees met betrekking tot God se wil vir ons nie.

Ons kan kies

In die Ou Testament het iemand (Jabes) vir die Here gevra om hom ryklik te seën en sy grondgebied te vermeerder. Dit het so gebeur want 1 Kronieke 4:10 sê dat God hom gegee het wat hy “begeer” het. Hy het hom die begeertes van sy hart gegee. Jabes was ‘n regverdige man.

In die Nuwe Testament was ‘n ongetroude man wat vir ‘n spesiale doel bereid was om redelik armoedig te lewe om hierdie doel te bereik. Hierdie man was Paulus. Paulus ontsê homself baie gerief en voorregte waarop hy geregtig is terwille van die evangelie. Hy was geroep in werklik unieke omstandighede. Hy moes die kerk, vir die eerste keer hier op aarde kom plant en kom vestig. Hy het homself alle gerief ontsê omdat hy absoluut op hierdie taak gefokus was.

Jou naam is egter nie Paulus nie. Jy is nie ongetroud nie en het ‘n familie om voor te sorg. Jy is nie geroep om die kerk te kom vestig hier op aarde nie. Paulus was definitief ‘n uitsondering. Dit is ‘n besluit wat hy geneem het en dit was waarskynlik die regte besluit in die lig van die tyd en plek van sy roeping in die geskiedenis.

Dit is egter nie God se wil vir die mens om so te lewe nie. Ek dink die Skrifgedeeltes wat ons behandel het bewys God se wil omtrent voorspoed vir sy kinders baie duidelik.

Hoekom het ek hierdie gedeelte geskryf

Kind van God, moenie langer dat mense wat op ‘n heksejag is jou van voorspoed, vrede en seëninge beroof nie. Daar is ‘n “prosperity preaching” wat nie van God af kom nie ja maar God wil hê dat dit met jou goed moet gaan. Hy wil hê dat jy niks kortkom nie maar volop moet hê van alles wat jy nodig het. Hy wil jou die begeertes van jou hart gee. Nie om op te gaar en selfsugtig te vertroetel nie. Nee, om ‘n vol en ‘n goeie lewe te geniet. Dit beteken nie dat daar nie beproewinge en tye van nood gaan wees nie. Nee, dit beteken dat jy in alle omstandighede vergenoeg kan wees. Soos Paulus sê, ek het geleer om in alle omstandighede vergenoeg te wees. Dit beteken nie ons aanvaar hierdie omstandighede net sommer nie. Tye van ‘n tekort moet weer plek maak vir oorvloed. Dit beteken ons vertrou God om ons uit ongewenste finansiële omstandighede uit te red en weer vir ons oorwinning op finansiële gebied te bring want dit is waar God ons wil hê. Dit is in voorspoed waar God eintlik verheerlik word. Nie in armoede nie.

Kyk net ‘n bietjie wat sê die Bybel oor armoede:

Spreuke 10:15

…die ondergang van die behoeftiges is hulle armoede

Spreuke 19:7

Al die broers van die arme haat hom; hoeveel te meer hou sy vriende hulle ver van hom af! Hy jaag agter hulle aan met woorde – weg is hulle!

Daar is geen heerlikheid in armoede nie. Armoede is in ‘n sin ‘n teken van mislukking. Dit is nie wat God vir ons wil hê nie. Ja, nie almal van ons het dieselfde geleenthede en agtergrond gehad nie. Dit is egter in ons almal se mag om deur geloof al die beloftes van God deel van ons lewens te maak. Ons hoef nooit armoedig te bly nie. Christus het mos gekom vir die armes. Hy het arm geword sodat ons geen tekort hoef te hê nie.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts