Is God werklik in beheer?

God is ‘n soewereine God

God is ‘n soewereine God en daarom het Hy mag en krag oor alles. Wanneer iemand of ‘n koninkryk soewerein is dan beteken dit die volgende: “Hoogste mag sonder enige beperking” asook “selfregerende en heeltemal onafhanklik”.

So ‘n persoon of heerser is heeltemal in beheer van sy koninkryk. Sy woord is wet en hy dwing sy wette, reëls en regulasies af op almal in sy koninkryk.

Hierdie stellings beskryf die stand van sake in die hemel waar God geheel en al soewerein regeer.

Gee God iets prys wanneer Hy sy mag delegeer?

Jesus het een keer gesê; Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde (Mattheus 28:18). Op ‘n ander plek het Hy gesê: Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle (Johannes 20:21). Op ‘n ander plek het Hy gesê dat Hy aan ons die sleutels van die koninkryk van die hemele gee. Wat ons ook op die aarde mag bind sal in die hemele gebonde wees. Wat ons ook op die aarde ontbind sal in die hemele ontbonde wees (Mattheus 16:19). Met hierdie stelling het Jesus die mag en outoriteit wat Hy by God ontvang het vir ons gegee.

What was He thinking?! Ek meen, Het Hy geweet of enigsins besef tot wat die mens in staat is?

Kom ons kyk ‘n bietjie wat Jesus teen mekaar moes opweeg wat Hom hierdie besluit laat neem het:

  1. Die mens is na die beeld van God geskape.

  2. Die mens is uit die Gees van God gebore.

  3. Christus was ‘n lewendmakende Gees.

  4. Hy en sy broeders (ons) is uit water en Gees gebore.

  5. Die hemelse mense (ons) is soos die mens wat uit die hemel kom (Christus). Kinders van God is dus net soos Jesus Christus.

  6. Kinders van God dra die beeld van die hemelse Mens, God die Seun.

  7. Die mens is gees. Daarom is hy in die koninkryk van God opgeneem.

  8. Ons regeer saam met Jesus Christus en sit saam met Hom op sy troon.

  9. Ons is nie God nie maar ons beslis van dieselfde “klas” as God. Ons is dan die bruid en die vrou van die Lam. Klas trou met klas. God het bepaal dat, al is ons nie “God” soos Hy nie, ons tog van dieselfde klas as Hy mag wees. Daarom noem Hy ons sy kinders en ons noem Hom “ABBA VADER”. Dit alles omdat ons uit Hom gebore is.

Soos jy kan sien is die mens heeltemal in staat om die aarde te regeer. Ons het selfs die Heilige Gees in ons om ons te help. God is altyd met ons en Persoonlik IN ons om ons te help. Ja, nie almal is gered nie maar God maak staat op sy kinders om alles op hierdie aarde te onderwerp en om beheer oor te neem. Om te “beheer” beteken om te “regeer”.

Toe Jesus sy mag en outoriteit aan die mens gedelegeer het, het God daarmee sy mag en outoriteit hier op aarde prys gegee? Natuurlik het Hy! Waar God sy mag gedelegeer het, daar is Hy nie heeltemal in beheer nie. Die een aan wie die mag en outoriteit gedelegeer is, hy is nou in beheer. Ons het nie soewereine mag of outoriteit soos God nie. Nee, ons moet eendag aan Hom verantwoording doen. Tog het ons nou vrye teuels om oor die aarde te regeer soos ons goeddink. Hy wil hê dat ons moet regeer volgens sy wil. Dit is die enigste beheer wat Hy hier op aarde het: Hy het sy wil bekend gemaak. Hy het reëls en regulasies gegee. Maar tog het Hy besluit om dit nie op ons af te dwing nie. God het Homself hier op aarde beperk en is daarom nie in beheer van die aarde nie. Hierdie is die heerskappy van die mens. Hier het God die beheer aan die mens oorgegee.

Heerskappy op aarde is werklik aan die mens gedelegeer

Ek weet dit klink nie reg nie. Dit klink selfs Godslasterlik: God is nie in beheer van die aarde nie!

Tog is dit die waarheid. Waar God in beheer is, daar is vrede. Die aarde is tans egter in ‘n chaotiese toestand. Hier is definitief nie vrede nie. Mense word bedrieg, besteel en verwoes. Moord, verkragting, roof, sonde en ellende is aan die orde van die dag. Heidense gelowe is besig om amok te saai. Mense, insluitende kinders, word voor die voet onthoof omdat hulle aan die Christelike geloof behoort. Bedrog en korrupsie is aan die orde van die dag.

Kinders van God lewe soos hulle wil. Daar is baiekeer nie ‘n verskil in die leefwyses van Christene, moslems en ateïste nie. Die wil van God word nie gedoen nie. God word gevloek, belaster, geïgnoreer en Hy word uit die samelewing “verwyder”. Hy word uit skole gehaal en uit regerings gehaal. Is God in beheer? Natuurlik nie!

God het, as die soewereine God oor alles wat bestaan, besluit om die bestuur van hierdie klein plekkie, die aarde, aan die mens te delegeer. Hierdie klein plekkie het Hy vir ons gegee. Hier is ons in beheer. Sy opdrag was van die begin af, volgens Genesis 1:28 die volgende:

Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde,onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.

Die mens is in beheer gesit van die skepping van God. Let wel; nie in beheer van ander mense nie maar in beheer van ons omstandighede en oor die koninkryk van God hier op aarde.

Die aarde behoort nog aan God maar Hy het ons aangestel om oor sy besittings te heers. Hy het ons aangestel as “opsigters” oor sy eiendom.

Het God werklik die beheer prys gegee!

Mense sukkel steeds om hierdie stelling te verstaan of te aanvaar. Hoe is dit moontlik dat God alle kontrole heeltemal laat vaar het toe Hy die heerskappy aan die mens oorgegee het? Is dit moontlik dat God aan die mens die voorreg gegee het om sekere keuses te maak ongeag wat die gevolge daarvan gaan of mag wees? Is dit moontlik dat God die geleentheid en die voorreg aan die mens gegee het om sy vrye wil te kan gebruik ongeag wat die gevolge daarvan mag of kan wees? Mense sê: Dit kan nie waar wees nie!

Baie mense weier om dit te glo. Vir hulle is God steeds in beheer en het Hy die laaste sê in alles. Vir hulle laat Hy net die mens toe om die aarde op ‘n beperkte manier te regeer. Hulle glo dat God heeltyd in allerhande situasies ingryp en heeltyd omstandighede manipuleer om sodoende te verseker dat sy wil gedoen word. God doen dit net wanneer Hy deur die mense (kinders van God) toegelaat word om dit te doen. Hy kan dit nie uit sy eie doen nie. Hy het sy eie hande gebind toe HY die mag en outoriteit aan ons oorgegee het. Ons moet Hom, deur middel van die mag en outoriteit wat Hy ons gegee het, Hom in staat stel om hier op aarde “werksaam” te wees voor Hy dit kan doen. Ons “regeer” Hom teenwoordig in ons situasies en in ons lewens. Waar Hy nie toegelaat word nie daar is Hy nie teenwoordig nie en daar het Hy geen beheer nie. In sulke mense se lewens heers daar ongewenste omstandighede en selfs chaos. Hulle het besluit om God nie ‘n plek in hulle lewens te gee nie en God eer hulle besluit. Hy kan hulle nie help nie en Hy kan hulle nie uitred wanneer ongewenste omstandighede hulle oorval nie. Ek gaan hierdie stelling hier onder bewys.

Hoekom is die aarde in so ‘n groot verknorsing vandag?

Ons sien dat mense hulle vrye wil gebruik om vir Jesus Christus te verwerp. So ‘n persoon gaan verewig verlore. So ‘n persoon word verantwoordelik gehou vir sy besluite en betaal in die hel vir die sondes wat hy gedoen het. ‘n Ander persoon slaan sy naaste met ‘n klip dood en gaan sit in die tronk vir jare. Die een na die ander misdaad word gepleeg. Mense verval in absolute duiwelse sonde en in hulle wellus ontsien hulle niemand nie. Hulle keel is soos ‘n oop graf. Hulle dink nuwe sondes uit en ontsien nie vrouens en kinders en onskuldige mense nie. Bloed word ongenaakbaar vergiet waar hulle ook al gaan en dit lyk asof hulle aan niemand verantwoording hoef te doen nie.

Van hulle word gearresteer en in die wêreld se howe skuldig bevind en tereggestel. Hulle verloor hulle lewens as gevolg van verkeerde besluite wat hulle geneem het. Die skade wat hulle aangerig het, die bloed wat hulle vergiet het en die onreg wat hulle gepleeg het word egter nie ongedaan gemaak nie. Ander kom vir jare lank weg daarmee. Dit lyk asof daar partykeer geen geregtigheid is nie. God keer dit nie. Hy het nie gekeer dat ‘n onskuldige mens vermoor word nie en Hy het nie gekeer dat die besluit van ‘n goddelose mens, naamlik om te moor en om ongeregtigheid te pleeg, nie geneem word nie. Hy het nie gekeer dat ‘n moeder en kinders nie hulle eggenote en hulle vader verloor nie. Hy het nie gekeer dat die gesin in armoede en ellende verval as gevolg van die voorval nie. Hoekom nie? Is God dan ongenaakbaar? Nee, ons moes hierdie goed gekeer het! God het alles wat ons nodig het tot ons beskikking gestel. As ons nie beweeg nie dan is sy hande gebind. As ons nie as konings en priesters opstaan en in ons eie omstandighede heers nie gaan ons skade ly. Dit is soos dit is.

Hoe is dit moontlik dat God vir Adolf Hitler toegelaat het om soveel mense vir so lank so wreed te mishandel en te vermoor? Hoe is dit moontlik dat God soveel mense in die steek gelaat het? Hulle het vir soveel jare in hulle benoudheid geroep vir hulp en vir redding. Hulle het geroep totdat hulle moedeloos geword het. Wanhoop en depressie het hulle bekruip en oorval totdat hulle met koppe wat hang met gekruisde bene in absolute wanhoop gewag het vir die dood. Die dood het dan ook gekom vir hierdie Jode. Daar was geen redding en geen verlossing vir hulle nie. So in sy toestand van absolute wanhoop is hy na die gaskamer geneem en die ewigheid ingestuur. Het God ons dan net so in ons wanhoop en ellende oorgelaat? Hoe kon Hy dit doen?

Net so ook in baie ander lande in Afrika en Europa word mense voor die voet geslag en wreed afgemaai. Dit vind vandag nog steeds plaas. Ondanks al die wrede voorvalle in die verlede het God die tipe ding nog nooit gestop nie. Hoekom nie?

Want God het die heerskappy van die aarde aan die mens oorgelaat. Hy het sy mag en sy outoriteit aan ons gedelegeer. Wat ons ook al besluit sal in die hemel gebonde wees. Het ons enige opsies? Wat staan ons te doen? Kan ons dinge verander? Kan ons beheer neem oor ons omstandighede? Natuurlik! Ons kan baie doen om te verseker dat dit goed gaan met ons. Inteendeel, God se koninkryk beginsels waarborg Goddelike beskerming, Goddelike genesing en Goddelike instandhouding ten alle tye, mits ons op sy woord reageer en dit doen.

God het ons nie sommer net aan ons lot oorgelaat nie!

Baie mense voel dat God nie so ‘n onregverdige besluit sou neem nie. Hy sou ons nie hier op aarde aan ons lot oorlaat nie. Hy sou nooit sy mag en outoriteit aan ons delegeer nie. Hoe moet ons oor hierdie vreeslike goddelose plek heers? Hoe kan ons hierdie Godverlate plek onderwerp? Dit is mos onmoontlik man! Hoe kan Hy soiets toelaat? Hoe kan Hy soiets van ons verwag? Dit is onmenslik! Dit kan nie waar wees nie!

My antwoord op hierdie stelling is die volgende:

Dit is waar dat ons ‘n vrye wil gegee het. Dit is waar dat ons ons eie keuses in alles kan maak. Dit is waar dat Hy sy mag en outoriteit aan ons gedelegeer het. Dit is waar dat Hy nie inmeng nie tensy ons Hom toelaat om in te meng: Word onskuldige mense deur gewetenlose mense vermoor en kinders verkrag asof hulle aan niemand verantwoording hoef te doen nie? Neem hierdie mense gewetenlose besluite en voer hulle dit uit? Lyk dit asof ongeregtigheid en ellende die aarde in ‘n yster klem het? Natuurlik! Hoe kan ons dan sê dat God in beheer is? As Hy in beheer was sou daar vrede hier op aarde gewees het.

Dit is egter nie waar dat Hy ons sommer net aan ons eie lot oorgelaat het nie. Hy sal elke ongeregtigheid eventueel straf. Hy het vir ons wonderlike en bonatuurlike voorsiening gemaak om nou, in hierdie wêreld, ‘n volkome Goddelike lewe te kan ly: God is nie ‘n onregverdige God nie. Hierdie gewetenlose mense sal nie wegkom nie en hulle sal nie ongestraf bly nie. Hulle sal eventueel aan die einde van tyd, of wanneer hulle tot sterwe kom, vir hulle goddelose dade gestraf word. Elkeen wat Jesus Christus verwerp het sal in die helse vuur verantwoording doen en die prys betaal vir hulle dade. Nie ‘n enkele geweldenaar of ‘n enkele ongeregtigheid sal ongestraf bly nie.

God het ons nie wees gelaat of sommer net blootgestel aan hierdie tipe optrede en gedrag nie. Hy het alles gedoen wat nodig was om ons te beskerm. Deur al die eeue heen was daar vir die mens nog altyd Goddelike koninkryk beginsels in plek wat ons teen hierdie tipe gedrag en gevare beskerm het.

Dit was Vader God se raadsplan van die begin af om die mens sy eie vrye wil te gee. Dit was ook sy raadsplan om die mens ‘n oorwinnaar op elke vlak en elke gebied van sy menswees te maak. Dit is juis die mens se vrye wil wat hom soos God maak. Ons is na sy Beeld geskape, ons het ‘n vrye wil en aan ons is outoriteit gegee om op die aarde en oor die aarde te heers. Daarom kan ons God nooit beskuldig vir enigiets wat in die wêreld gebeur nie. Dit is alles die mens se eie toedoen en die blaam moet ten volle voor ons voete geplaas word. So was dit byvoorbeeld die mens wat besluit het om slawe arbeid te bedryf. God kon slawe arbeid en die verdrukking en onmenslikheid wat daarmee gepaard gegaan het nie voorkom nie. Selfs ongeredde mense en selfs nasies het die mag en die outoriteit om te doen wat hulle wil. God het ons ‘n vrye wil gegee. Ons kan egter met verkeerde besluite en verkeerde optrede negatiewe gevolge oor onsself bring. Al word hierdie nasies en hierdie mense nie nou vir hulle sondes gestraf nie, ly hulle egter onder die negatiewe gevolge van hulle dade. God keer nie die verkeerde besluite en die verkeerde dade nie. Hy keer ook nie die negatiewe gevolge wat op ons dade volg nie. Ons is in beheer! Ons neem die besluite! Ons dra die gevolge!

Daarom kry ons gevalle waar nasies wat God verwerp in armoede en ellende verkeer. Ek verwys weer na die Jode wat in Hitler se tyd aan die verskriklikste mense mishandeling blootgestel was. God het nie ingetree nie en die Joodse nasie nie gehelp nie. Hy het Adolf Hitler nie gekeer nie. Hy het die Jode nie uitgered nie. Meer as ses miljoen Jode is dag vir dag afgemaai in gaskamers in die Nazi konsentrasiekampe. God het die Joodse nasie aan sy lot oorgelaat maar nie omdat dit sy wil was nie. Wou Hy hulle uitred? Natuurlik! Ons dien ‘n God van liefde en kompassie. Kon Hy hulle uitred? Nee. Hy kan nie teen sy eie woord gaan nie. Israel het nie vir God hul beskutting gemaak nie. Inteendeel, Israel het vir Jesus Christus verwerp. Wie dra die blaam van hierdie verskriklike gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom? Adolf Hitler en die Duitse volk en almal wat deel daarvan was. Hierdie duiwelse boosheid word voor hulle voete neergelê. Hulle word nou nog in die hel gestraf daarvoor. Indirek word dit egter voor die Joodse volk se voete ook gelê. Hulle het Jesus Christus as die Seun van God verwerp en Hom op die koop toe vermoor. Hulle maai wat hulle gesaai het. Dit wat hulle oor Christus besluit het is in die hemel bekragtig. Christus het die sleutels van die koninkryk van God in hulle hande gegee maar hulle het besluit om dit te verwerp. Hulle het nie eens in sy koninkryk ingegaan nie. Hulle het God verwerp. Daarom was en is hulle steeds ‘n nasie sonder God. Net soos die Moslems en net soos die Hindoes en net soos nasies wat ander gode aanbid. Daarom is hulle verdoem tot ellende en die hel as hulle hulle nie tot God bekeer nie.

Ons lees van volke waar klein kindertjies kaal langs treinspore en op ashope lewe. Ons lees dat hulle kakiebos eet om te probeer oorlewe. Ons lees dat hulle so sonder hoop of uitkoms lewe tot hulle van die honger uitteer en doodgaan. Daar was vir hulle geen redding nie. Daar was geen uitkoms nie. Hoekom nie? Omdat hierdie nasies en hierdie mense besluit het om Jesus Christus te verwerp en eerder afgode te aanbid. Omdat hulle geen kompassie in hulle harte kon vind om vir hierdie kindertjies kos te gee nie. Iemand gaan vir die dood van hierdie kindertjies verantwoordelik gehou word en hulle gaan in die hel gestraf word daarvoor. Kon God voorkom het dat hierdie mense en kindertjies hierdie verskriklike dood gesterf het? Nee, want Hy kan nie teen sy woord gaan nie. Hy het die heerskappy van die aarde aan die mens gedelegeer en óns gaan verantwoording doen vir alles wat ons aangevang het.

Wanneer ons sien hoe ‘n spesifieke land deur siklone of ander rampe getref word, is dit God wat hulle om die een of ander rede straf? Beslis nie! Hulle pluk maar net die wrang vrugte van dit wat hulle gesaai het. Het hulle as nasie hulle tot God bekeer? Lewe hulle as nasie volgens die koninkryk beginsels van God? Lewe hulle as nasie deur die geloof? Het hulle as nasie die Almagtige God hulle beskutting gemaak? Lewe hulle as konings en priesters in outoriteit oor hulle land? Neem hulle outoriteit oor die natuur of oor omstandighede wanneer dit hulle pad kom? God het hulle nie verlaat nie. Hulle moet egter as nasie heers in die koninkryk van God. Wanneer ons nie heers nie dan heers die duiwel. Wanneer ons nie heers nie dan kom daar negatiewe goed tot stand in ons lewens. Dit is hoe dit is. Dit werk ook so vir jou as mens! As jy God nie dien nie en Hom nie aanbid nie, as jy sy woord nie elke dag oordink en daarvolgens lewe nie, as jy nie uit die geloof en deur die geloof lewe nie, as jy nie lewe van elke woord wat ooit deur die mond van God uitgegaan het nie, as jy Hom nie jou beskutting maak nie, as jy nie skuil onder sy vleuels nie, as jy nie jou naaste goed behandel nie, as jy nie jou vyande lief het nie, as jy nie die wil en die woord van God in jou lewe toepas nie, dan gaan ellende jou oorval.

Hoewel ‘n nasie se stand in God baie negatief kan inwerk op kinders van God se lewens hoef ons egter nie heeltemal daaraan blootgestel te wees nie. As kind van God kan jy as individu steeds bo jou omstandighede uitstyg en selfs in ‘n ongoddelike land as koning oor jou eie omstandighede regeer. Prys God daarvoor!

Wie se skuld is dit wanneer ‘n onskuldige kind verkrag word. Die goddelose verkragter natuurlik maar ook die ouers. Het hulle die waarhede van God se beloftes deel van hulle geloofslewe gemaak? Het hulle God hulle beskutting gemaak? Glo hulle dat God hulle teen alle gevaar kan beskerm? Glo hulle dat God elke siekte en elke ellende van hulle af kan weg hou?

Mense, elke besluit wat ons neem en elke aksie wat ons uitvoer het ‘n gevolg. God gaan daardie besluit nie keer nie en Hy gaan daardie gevolg nie keer nie. Ons maai wat ons saai!

Psalm 23:1-3 (NASB – Life Application Bible)

When we allow God our Shepherd to guide us, we have contentment. When we choose to sin, however, we go our own way and cannot blame God for the environment we create for ourselves. Our Shepherd knows the ‘green pastures’ and ‘quiet waters’ that will restore us. We will reach these places only by following Him obediently. Rebelling against the Shepherd’s leading is actually rebelling against our own best interests. We must remember this the next time we are tempted to go our own way rather than the Shepherd’s way.

Kom ons lees Josia 1:8 in die KJV om net ‘n bietjie meer perspektief te bring met betrekking tot hierdie onderwerp:

This book of the law shall not depart out of thy mouth; but thou shalt meditate therein day and night, that thou mayest observe to do according to all that is written therein: for then thou shalt make thy way prosperous, and then thou shalt have good success.

Hier lees ons dat die Israeliete, elke man en elke vrou, wat God se woord gemediteer het en dit gehou het, hulle eie weë voorspoedig gemaak het en hulle eie weë suksesvol gemaak het. Kan jy die kondisies in hierdie Skrifgedeelte raaksien? As jy die wet of die woord van God jou eie maak, dit leer en dit dag en nag mediteer, dit doen en gehoorsaam is daaraan, dan…….sal jý jou weë voorspoedig maak en jou weë suksesvol maak. Let baie mooi op wat hierdie Skrifgedeelte sê; nie God nie, nee, jý sal jou wee voorspoedig maak. Hierdie is ‘n koninkryk beginsel van God en dit staan vandag nog vas. Dit het nog nooit verander nie. Die negatiewe kant van hierdie Skrifgedeelte is ook waar. As jy nie ag gee op die wet of die woord van God nie en nie daarvolgens lewe of wandel nie……dan sal jou weë definitief nie voorspoedig wees nie en sal jy nie suksesvol wees nie. Dit is vanselfsprekend. Wie bepaal dus ons lot? Natuurlik onsself. Niemand anders nie. God het vir ons die pad gelyk gemaak in Christus. Ons moet egter daardie pad self loop!

Lees weer Josia 1:8 en let op dat iets gedoen moet word. Wie moet dit doen? Wat moet hy doen? Wie maak sy weë voorspoedig? Hoe maak hy sy weë voorspoedig? Ek en jy. Ons maak dit voorspoedig deur geloof in Gods woord en deur op daardie woord te reageer.

Moet ons hierdie goed waarvan Josia 1:8 vir die Here los om te doen of moet ons dit self doen. Die Bybel sê ook mos dat geloof sonder die werke dood is. Watse werk moet ons doen? Ons moet die opdragte van God volgens sy woord uitvoer. Hierdie opdrag is dus ook Nuwe-Testamenties!

Dit is vir my baie duidelik dat ons ‘n baie groot invloed op ons omstandighede en op ons toekoms het. Dit wat ek vandag doen bepaal my toekoms en bepaal my omstandighede. As ek dan beheer neem oor omstandighede in my lewe, wie is dan in beheer van my lewe? God het ons ‘n vrye wil gegee en Hy sal nooit hierdie vrye wil van ons wegneem nie. Selfs nie eens in die “hiernamaals” nie. Ons sal altyd ‘n eie wil hê. Dit is juis ook hierdie eienskap wat die mens volgens die Beeld van God maak. God het ons geskep volgens sy beeld. As kinders van God is ons uit Hom gebore. Hoewel ons nie God is nie is ons van dieselfde klas as God. God het ‘n eie wil en daarom die mens ook. God sal en kan nooit van ons “wil” besit neem nie. Hy sal altyd wag dat ons in alle omstandighede onsself vrywilliglik aan sy wil onderwerp. Ons doen dit elke dag en ons gaan dit in die “hiernamaals” steeds doen. As ons volgens die wil van God regeer en lewe, dan demonstreer ons daarmee dat ons Hom eer as ons God en dat Hy ons bron van lewe is.

Is God in beheer hier op aarde? Nie werklik nie. Hy is net soveel in beheer as wat ons Hom toelaat. Hy het ons in beheer geplaas maar Hy het vir ons alles gegee en dit vir ons moontlik gemaak om in vrede hier op aarde te regeer volgens sy woord en volgens sy wil. Ons kan niemand blameer vir nederlae, ongeregtigheid en ellende in ons lewens nie. Die Here het vir ons alles gegee wat ons nodig het om in veiligheid, in vrede en in voorspoed te kan leef op hierdie aarde sonder om enigiets kort te kom. Dit verg geloof, vertroue en gehoorsaamheid aan en in ‘n “awesome” God om dit teweeg te bring. Moenie dat die bose jou langer bedrieg nie. Ons is nie sommer net blootgestel aan omstandighede en gebeurtenisse buite ons beheer nie. Ons is nie sommer net slagoffers van omstandighede en gewetenlose mense of selfs die bose nie. Ons is eintlik heeltemal in beheer van ons omstandighede, gebeurtenisse en ons lewens. Ons is in beheer wanneer ons God se wil doen en Hom in ons omstandighede betrokke maak.

Do not be ignorant no more! The ball is in our court!

Kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke”, op die “Hulpmiddels” bladsy om meer inligting rondom hierdie belangrike onderwerpe te bekom.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

2 thoughts on “Is God werklik in beheer?”

  1. Ai tog, en hier dog ek dit is n christelike blad van n christelike kerk, maar God word klein gemaak, sy hande deur nietige sondaarmense gebind. My vriend, jou God is nie almagtig nie, so moet asb nie die Bybel aanhaal nie, jy is verward. God is in beheer, daarom kan ons vashou dat Hy met ons is. As Hy nie in beheer is nie, is ons in die hel.

    Reply
    • God het jou aangestel as hoof van jou huis. Hy het die mens aangestel om die aarde te onderwerp. Voordat Hy die knegte met die talente aangetsel het om oor stede beheer te neem (te bestuur), moes hulle eers wys dat waar Hy hulle aangestel het, hule suksesvolle rentmeesters was. Hy het ook aan elkeen van ons die opdrag gegee om sy eie heil uit te werk.

      Hierdie artiklel gaan oor mense wat versuim om hulle verantwoordelikhede na te kom, en as dit sleg gaan as gevolg daarvan, vir God die skuld gee want Hy is mos in beheer.

      Jy het seker net na die opskrif gekyk en nie die artikel gelees nie. Hierdie artikel word al vir 10 jaar op my webblad gelees. Jy is die eerste een wat dit misverstaan het. Natuurluik is God in beheer van die heelal en alles daarin, maar daar is sekere areas waaroor Hy mense aangestel het en daar is jy in beheer. As jy as hoof van die huis nie jou Goddelike pligte nakom nie gaan dit sleg gaan en dit is omdat jy in beheer geplaas is deur God maar nie jou pligte nagekom het nie. Die opskrif van hierdie artikel is om aandag te trek deur daarop te wys dat jy eintlik in beheer is van die areas waaroor God jou aangestel het.

Leave a Comment