Ons moet heers as konings in die koninkryk van God

IS GOD WERKLIK IN BEHEER VAN JOU LEWE?

Hoeveel keer het ons al die volgende stellings gehoor?

“Moenie bekommerd wees nie, God is in beheer van jou lewe, Hy sal uitkoms bring”.

“Hy sal ‘n verandering bewerkstellig”.

“Hou moed, wees net rustig, vertrou net op Hom, Hy is besig om agter die skerms te werk”

“Gee alles oor aan Hom, Hy veg vir jou”

“Laat alles in die hande van Jesus, Hy sal dit vir jou uitsorteer”

Hierdie stellings klink baie goed en mooi. Ons wil tog ons mede gelowiges moed inpraat en hulle geloof versterk. Tog is hierdie stellings nie altyd korrek nie en nie altyd waar nie. Is God werklik in beheer van jou lewe? Is Hy werklik in beheer van die persoon se lewe vir wie jy dit sê? Is Hy werklik besig om agter die skerms te werk met betrekking tot die situasie waarin jy of hy julle bevind?

Ek dink die antwoorde op hierdie vrae sal vir ons ‘n baie groot verassing wees. God is net in beheer van mense se lewens waar Hy in beheer geplaas word deur die betrokke mense. Hy is ook net in beheer na die maat waarin Hy in beheer geplaas word. Wie is koning in jou lewe? Is elke faset van jou lewe totaal en al onder beheer van God? Watter areas val nog onder jou eie beheer of onder beheer van ander mense? In die meeste gevalle is God nie werklik besig om agter die skerms te werk nie. God het klaar gewerk die dag toe Jesus Christus aan die kruis vir ons gesterf het. In die meeste gevalle wag God vir jou om sy woord te gehoorsaam en om jou posisie van heerskappy in sy koninkryk in te neem en vol te staan.

Stellings deur predikers en mede gelowiges wat daarop gemik is om jou te bemoedig het sy plek maar dit kan ook destruktief wees. Dit kan negatiewe gevolge teweegbring omdat dit ‘n vals vrede of ‘n vals gemoedsrus skep. Dit sus jou aan die slaap. Dit bring jou onder die wanindruk dat jy maar net kan rus en wag op God. God veg vir jou. Wees jy maar net rustig. Ek weet dat daar sulke Skrifgedeeltes in die Bybel is maar ek is oortuig daarvan dat dit meesal verkeerd toegepas word. Daar is wel situasies of omstandighede waar hierdie stellings waar is maar in die meeste gevalle kan ons dit nie in ons persoonlike situasies toepas nie. Ons veralgemeen baie maklik en ons pas dinge baie maklik toe in situasies wat nie werklik van pas is nie. Party van hierdie toepassings klop nie met die woord van God of met sy koninkryk beginsels ten opsigte van sekere situasies nie.

Rom 8:28-29

En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgebore kan wees onder baie broeders.

Hierdie Skrifgedeelte kan baie maklik waninterpreteer word as “God is heeltyd besig om dinge vir jou uit te sorteer”. Dit is egter nie wat hier staan nie. Hier staan dat ons gelykvormig moet word aan die beeld van sy Seun. Ons moet ons geestelike verantwoordelikheid aanvaar en uitoefen soos Christus dit gedoen het. Christus is die eersgeborene onder baie broeders. In hierdie opgroei in Christus het God alles in plek gesit sodat ons onverhinderd geestelik kan opgroei. Niks kan ons keer nie en niks staan in ons pad nie. Selfs ongewenste situasies en gebeure kan omgedraai word in iets positiefs. Ons kan alles oorkom of oorwin en dus werk alles ten goede mee vir ons. Hierdie Skrifgedeelte beteken definitief nie dat God al ons probleme vir ons uitsorteer nie. Dit beteken definitief nie dat ons maar net passief kan wees nie.

Baie situasies vereis eintlik daadwerklike optrede. Baie keer moet jy nie passief wees nie maar eintlik oor gaan tot aksie. God wag eintlik vir jou. Baie situasies moet eintlik deur jou as priester en koning in die koninkryk van God aangespreek en hanteer word. Ons verwag van God om al ons probleme uit te sorteer terwyl Hy reeds sý deel gedoen het. Daar is werklik dinge wat ons self moet doen.

Wat beteken dit om as ‘n koning te regeer? Dit beteken dat jy as koning jou mag en jou outoriteit gebruik om oor situasies en oor omstandighede in jou lewe te heers. Wat beteken die woord heers? Dit beteken jy besluit oor dinge en jy beheer dinge. Watse dinge? Waaroor heers ons as seuns van God? Ons heers nooit oor mense nie. Niemand het ooit ‘n opdrag ontvang om oor God se mense te heers nie. Ons opdrag is om oor die skeppingswerk van God te heers. As ons oor God se skepping heers en dit aan sy woord en aan sy wil onderwerp, dan raak dit ons omstandighede. Ons heers dus elkeen oor ons eie omstandighede.

Ons moet egter heers volgens die koninkryk beginsels van God. Ons heers volgens die woord en die wil van God. Dit help glad nie ons heers deur wêreldse sisteme en deur wêreldse beginsels uit te voer nie. Dan is dit niks anders as om jou eie planne te beraam en op jou eie insig te vertrou nie. Ons heers deur geloof en ons lewe van elke woord wat ooit deur die mond van God uitgegaan het. Hierdie beginsels en hierdie metodes maak nie sin nie. Dit voldoen nie aan wêreldse standaarde nie. Die wêreld keur die koninkryk beginsels van God nie goed nie. Vir die wêreld is dit nie aanvaarbaar nie omdat dit nie logies verdedig kan word nie.

In werklikheid heers alle mense oor hulle omstandighede. Party doen net ‘n beter werk daarvan as ander. Die mens is geskep om te heers. Almal moet heers of hulle dit wil hoor of nie. “Almal” sluit alle mense in. Ongeredde mense sowel as geredde mense. Ongeredde heers egter deur middel van hulle eie insig en volgens hulle eie vermoë en standaarde. Hulle heers oor hulle omstandighede volgens wêreldse beginsels. Hierdie beginsels is nie baie effektief nie want dit ontbreek aan Goddelike kwaliteite en standaarde. Dit is erg bevlek met die korrupte natuur van die mens wat erg beïnvloed is deur demoniese magte.

Alle mense móét heers in hierdie wêreld en die manier hoe hulle regeer bepaal hulle lewens wandel en hulle omstandighede. Die manier hoe hulle regeer word gedefinieer deur wat, wie en waar hulle is. As hulle uit God gebore is behoort hulle te regeer volgens die koninkryk beginsels van God in die koninkryk van God. As hulle ongeredde mense is regeer hulle volgens wêreldse beginsels in die koninkryk van die duisternis.

Elke mens bepaal self hoedanig hy heers in hierdie wêreld. Almal is nie ewe suksesvol nie. Dit is nie God wat bepaal hoe goed of hoe suksesvol ons heers nie. Dit is onsself. Dit is nie die duiwel wat bepaal hoe goed ongeredde mense heers nie. Dit is hulleself. Die bal is altyd in ons speelveld. Ons speel dit.

Psalm 23:1-3 (NASB – Life Application Bible)

When we allow God our Shepherd to guide us, we have contentment. When we choose to sin, however, we go our own way and cannot blame God for the environment we create for ourselves. Our Shepherd knows the ‘green pastures’ and ‘quiet waters’ that will restore us. We will reach these places only by following Him obediently. Rebelling against the Shepherd’s leading is actually rebelling against our own best interests. We must remember this the next time we are tempted to go our own way rather than the Shepherd’s way.

Kom ons lees Jos 1:8 in die KJV om net ‘n bietjie meer perspektief te bring met betrekking tot hierdie onderwerp:

This book of the law shall not depart out of thy mouth; but thou shalt meditate therein day and night, that thou mayest observe to do according to all that is written therein: for then thou shalt make thy way prosperous, and then thou shalt have good success.

Hier lees ons dat die Israeliete, elke man en elke vrou, wat God se woord gemediteer het en dit gehou het, hulle eie weë voorspoedig gemaak het en hulle eie weë suksesvol gemaak het. Kan jy die kondisies in hierdie Skrifgedeelte raaksien? As jy die wet of die woord van God jou eie maak, dit leer en dit dag en nag mediteer, dit doen en gehoorsaam is daaraan, dan…….sal jý jou weë voorspoedig maak en jou weë suksesvol maak. Let baie mooi op wat hierdie Skrifgedeelte sê; nie God nie, nee, jý sal jou wee voorspoedig maak. Hierdie is ‘n koninkryk beginsel van God en dit staan vandag nog vas. Dit het nog nooit verander nie. Die negatiewe kant van hierdie Skrifgedeelte is ook waar. As jy nie ag gee op die wet of die woord van God nie en nie daarvolgens lewe of wandel nie……dan sal jou weë definitief nie voorspoedig wees nie en sal jy nie suksesvol wees nie. Dit is vanselfsprekend. Wie bepaal dus ons lot? Natuurlik onsself. Niemand anders nie. God het vir ons die pad gelyk gemaak in Christus. Ons moet egter daardie pad loop!

Lees weer Jos 1:8 en let op dat iets gedoen moet word. Wie moet dit doen? Wat moet hy doen? Wie maak sy weë voorspoedig? Hoe maak hy sy weë voorspoedig? Ek en jy. Ons maak dit voorspoedig deur geloof in Gods woord en deur op daardie woord te reageer.

Moet ons hierdie goed waarvan Jos 1:8 vir die Here los om te doen of moet ons dit self doen. Die Bybel sê ook mos dat geloof sonder die werke dood is. Watse werk moet ons doen? Ons moet die opdragte van God volgens sy woord uitvoer. Hierdie opdrag is dus ook Nuwe-Testamenties!

Dit is vir my baie duidelik dat ons ‘n baie groot invloed op ons omstandighede en op ons toekoms het. Dit wat ek vandag doen bepaal my toekoms en bepaal my omstandighede. As ek dan beheer neem oor omstandighede in my lewe, wie is dan in beheer van my lewe? God het ons ‘n vrye wil gegee en Hy sal nooit hierdie vrye wil van ons wegneem nie. Selfs nie eens in die “hiernamaals” nie. Ons sal altyd ‘n eie wil hê. Dit is juis ook hierdie eienskap wat die mens volgens die Beeld van God maak. God het ons geskep volgens sy beeld. As kinders van God is ons uit Hom gebore. Hoewel ons nie God is nie is ons van dieselfde klas as God. God het ‘n eie wil en daarom die mens ook. God sal en kan nooit van ons “wil” besit neem nie. Hy sal altyd wag dat ons in alle omstandighede onsself vrywilliglik aan sy wil onderwerp. Ons doen dit elke dag en ons gaan dit in die “hiernamaals” steeds doen. As ons volgens die wil van God regeer en lewe, dan demonstreer ons daarmee dat ons Hom eer as ons God en dat Hy ons bron van lewe is.

Wanneer ons as druiwe lote vanuit die druiwe stok binne in ons, Jesus Christus, beheer neem oor omstandighede in ons lewens, dan heers ons vanuit Hom. Ons wortels is in Hom geplant. Die konings heers vanuit die Koning binne in ons. Christus neem nie besit van ons soos die demoniese magte met mense maak nie. Ons is dood met betrekking tot ons eie begeertes, ons eie werke en die vlees. Sy liefde vir ons het ons harte gesteel. Ons buig in diepe eerbied en in liefdevolle aanbidding neer voor ons hemelse Bruidegom. Ons het alles op die altaar gesit en die eie ek het gesterf. Nou leef ek nie meer nie maar Christus leef in my. Hierdie stelling spreek van ‘n absolute oorgawe aan Christus Jesus, die Persoon in ons. Godsdiens is glad nie hier ter sprake nie. Hierdie stelling spreek van ‘n liefdevolle en ‘n intieme liefdesverhouding. Baie belangrik is die feit dat Christus ons nie “oorneem” nie maar in ons en deur ons lewe deur middel van ons samewerkende optrede. Met samewerkend bedoel ek inskiklik, onderworpe of gehoorsame optrede. Hoewel Jesus Christus gesê het dat dit nie Hy is wat die werke doen nie maar die Vader in Hom, het Hy tog ook gesê dat dit wat Hy die Vader sien doen het, dit doen Hy ook net so.

Joh. 14:10

Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke.

Joh. 5:19

Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

Hier sien ons dat Jesus steun op die Vader in Hom (wat in My bly). Hy probeer niks uit Homself doen nie. Dit wil voorkom asof hierdie twee stellings mekaar weerspreek. Jesus sê dat Hy niks uit Homself kan doen nie maar dat die Vader wat IN Hom is die werk doen. Tog sê Hy ook dat Hy dit wat Hy die Vader sien doen het ook net so doen. Jesus het dus geleer wat vir die Vader belangrik en reg is en Hy doen presies net soos wat Hy die Vader sien doen het. Die waarheid in hierdie verband is dat Jesus Christus, die Seun van God ‘n vrye wil het. Omdat Hy ‘n vrye wil het leef Hy self sy eie lewe. Hy onderwerp Homself egter aan die wil van God en sodoende leef Hy sy lewe vanuit die Vader IN Hom. Sy wortels is in die Vader en Hy regeer vandag steeds vanuit die Vader.

Joh. 5:30

Ek kan uit Myself niks doen nie, soos Ek hoor, oordeel Ek; en My oordeel is regverdig, omdat Ek nie My wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

Die Vader leef IN Christus en DEUR Christus.

Die Vader leef ín Christus in sy eie kapasiteit. Dit is Hy wat leef, nie Christus nie. Hy kan daar leef want Christus laat Hom toe om daar te leef. Christus is onaktief in hierdie sin. Hy laat Vader bloot toe om in Hom te leef. Vader is aktief in hierdie sin. Dit is Hy wat leef en nie Christus nie. Hierdie is die teken dat Christus die Vader eer en aanbid as sy God en sy Vader. (My Vader en julle Vader; My God en julle God)

Wanneer die Vader egter déúr Christus leef is dit ‘n ander storie. Hier is die Vader weer passief. Dit is Jesus wat optree. Dit is Hy wat doen wat Hy die Vader sien doen het. Hy doen dit net so. Die Vader sien hoe sy Seun doen wat welbehaaglik is vir Hom. Hy doen die wil van die Vader net soos die Vader dit gedoen wil hê. Die Vader in Christus word verheerlik deur die optrede van Christus. Wie word vereer? Die Vader. Wie word verheerlik? Die Vader. Hoekom? Want Jesus Christus wandel en tree op vanuit die Vader in Hom. Sy wortels is in Vader gegrond. Vader is sy bron en daarom vereer Hy sy Vader deur sy optrede en deur sy lewe.

Joh 12:48-50

Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag. Want Ek het nie uit Myself gespreek nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ’n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet spreek. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan spreek — net soos die Vader vir My gesê het, so spreek Ek.

Wat het Jesus Christus gespreek? Hy het gespreek wat die Vader Hom beveel het om te spreek. Het die Vader dit gespreek of het Jesus dit gespreek? Jesus het dit gespreek presies soos die Vader Hom gevra het om dit te spreek. Hierdie beginsel is presies dieselfde vir ons. Joh 5:30 beklemtoon dat Jesus die wil soek van die Vader wat Hom gestuur het. Jesus het ons gestuur en daarom soek ons die wil van Christus wat ons gestuur het.

Joh 20:21-22

Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.

Ons lewe dus vanuit Hom net soos wat Hy uit die Vader geleef het. Daardie lewe maak ons medewerkers van Christus. Hy lewe sy lewe in en deur ons en daarom is Hy in beheer van ons lewens. Tog is dit ons wat tot aksie oorgaan. Dit is ons wat spreek. Dit is ons wat doen. Dit is ons wat vir ‘n kreupel persoon sê: …maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, staan op en loop! Ons doen dit egter nie uit onsself nie. Ons doen dit vanuit Christus in ons. Die fondasie van hierdie toestand van outoriteit en oorwinning is ‘n suiwer liefdesverhouding met Christus Jesus. Sonder hierdie liefdesverhouding is oorwinning nie moontlik nie. Net Christus in ons, wanneer ons in ‘n liefdesverhouding met Hom wandel, kan die vrees uitdryf en die liefde, geloof en hoop in ons laat opspring tot volmaaktheid. Hierdie liefdesverhouding is ons fondasie tot geestelike oorwinning. Dit bevestig ons koningskap. Hierdie liefdesverhouding stel ons in staat om te heers. Dit is nie die waarheid dat alle kinders van God wat in Christus “gewortel” is wonderwerke in hulle lewens ervaar nie. Nee, dit is wanneer ‘n mens gewortel is in ‘n “liefdesverhouding” met Christus wat dit moontlik maak. Wanneer jy die diepte, die breedte, die lengte en die hoogte van sy liefde “ken”, dan spring geloof in jou op wat wonderwerke tot gevolg het. Liefde verdryf die vrees en laat ons in ons geloof groei.  

Ef. 3:17 – 19

Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.

Christus woon in ons harte. Ons is in Hom gegrond. Ons wortels is in Hom. Ons begryp sy liefde want ons ken Hom. Dit oortref verstand kennis. Omdat ons Hóm ken word ons vervul tot al die volheid van God. Ons móét Hom ken. Sonder kennis van Jesus is daar nie vir ons oorwinning en ’n volheid lewe nie. Kennis van Christus bring lewe. Kennis van Christus bring groei. Dit is egter nie Skrif kennis nie. Dit is nie verstand kennis nie. Dit is Persoons kennis. ‘n Liefdesverhouding met hierdie Persoon is deurslaggewend. Sodoende word ons in Hom onderrig en sodoende groei ons geestelik op tot volwassenes.

Wanneer is Christus werklik in beheer van ons lewens? Wanneer ons ‘n intieme liefdesverhouding met Hom deel. Wanneer ons Hom met ons hele hart, ons hele siel, ons hele krag en ons hele verstand bemin, dan is Hy in beheer van ons lewens want dan doen en sê ons presies dit wat Hy ons beveel het om te doen en te sê. Wanneer ons in sy liefde gewortel is kan Hy ons vertrou omdat alle vrees dan na buite toe uitgedryf is en geloof in ons harte opgespring het.

NET WEER ‘N KORT OPSOMMING OOR DIE BLOEDLYN VLOEKE LEERSTELLING

Die Skrif is baie duidelik oor die ontstaan van die bloedlyn vloeke leerstelling. Hoewel dit in die Ou Testament ontstaan het was hierdie leerstelling reeds vroeg in die Ou Testament ontmasker. Die Israeliete het dit heeltemal verkeerd verstaan en daarom moes God ingryp om hulle tot die regte perspektief te bring. God het dit vir ‘n kort tydjie op onregverdige mense toegepas om die barbaarse Ou-Testamentiese nasies in lyn te bring met aanvaarbare morele standaarde. Die Vader moes dit doen om die mens teen die ongenaakbare bloeddorstigheid en euwels van barbarisme te beskerm.

Die oordeel oor die volk Israel en sy leiers wat Jesus oor hulle uitgespreek het was ‘n spesiale oordeel van God. Hierdie oordeel is oor ‘n tydperk van ongeveer 60 jaar (70 NC – 130 NC) oor die volk Israel uitgeoefen. Die volk was deur die jare male sonder tal gewaarsku om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë maar hulle het net hardnekkig voortgegaan om God te terg. Hy het daarmee die hele volk se sondes op die Israeliete wat in hierdie tydperk geleef het laat kom. Dit was indirek ‘n straf ook vir die voorvaders want daar waar hulle in die doderyk (hel) krepeer van ellende het hulle die tyding gekry dat die Joodse geloof en die volk Israel as die uitverkore volk van God nie meer bestaan nie. Die tempel is vernietig, alle Joodse godsdienstige rituele is gestaak, die stad Jerusalem se naam is verander, die staat Judea se naam is verander, die Jode is uit die stad en uit die land verdryf en ander nasies het die stad en die land bevolk. Vir amper 2000 jaar lank, tot in 1948, is hierdie status quo ten opsigte van Israel gehandhaaf. Israel is vandag weer ‘n volk maar nie meer ‘n spesiale volk nie. In Christus is almal gelyk. Die goeie nuus vir Israel is dat hulle volgens Romeine 11, voor Jesus weer kom, hulle as ‘n nasie tog tot Hom gaan bekeer. Dan sal hulle net soos alle ander nasies ook deel uitmaak van die geestelike Israel van God. Die einde van Israel gaan dus tóg hier op aarde darem op ‘n hoë noot afsluit. Prys God daarvoor. Dit was darem nie alles verniet vir hierdie nasie nie. Hulle sal egter geen voorkeur bo ander Christene geniet nie. Die kerk is reeds deel van die geestelike Israel en die geestelike Jerusalem.

Die regverdige Jode van die Ou Testament was nooit aan hierdie praktyk (bloedlyn vloeke) onderworpe nie as gevolg van die feit dat hulle sondes bedek was deur die bloed van lammers. Dit het hulle regverdiges gemaak. In sy genade het die Vader hierdie sondes gedurende die Ou-Testamentiese periode ongestraf laat bly omdat Christus Jesus op die kruis van Gólgota die straf sou dra daarvoor.

Toe Jesus uiteindelik as mens die prys vir ons sondes kom betaal het, het die Vader die straf vir alle sondes wat ooit gepleeg of nog gepleeg gaan word op Hom laat neerkom. Jesus was die volmaakte Lam van God en hy het daarmee die sondes van die wêreld weggeneem deur dit op Homself te neem. Die Vader was tevrede dat die prys betaal is en dat Jesus Christus versoening tussen Hom en die mens bewerkstellig het. Hy het daarmee die roede uit Vader se hand gehaal en Vader was bly om daarvan ontslae te kon wees.

Die mensdom hoef as gevolg van hierdie verlossingsdaad nie meer gestraf te word nie. Daarmee is die mens gered of verlos van die vloek van die wet. Negatiewe gevolge van bloedlyn vloeke is natuurlik die toediening van straf. Die vloek kom in werking omdat die wet oortree is. Ons as kinders van God val nie onder die wet nie en daarom ook nie onder die vloek van die wet nie.

Kinders van God hoef nooit hulle eie sondes te dra nie en hulle hoef nooit gestraf te word nie. Jesus Christus het ons sondes én die straf vir hierdie sondes op Hom geneem. Daarom het Hy aan die kruis vir ons ‘n vloek geword. Om ‘n vloek te word beteken dat Hy die straf moes dra. Omdat ons nie eens ons eie sondes en ook nie die straf vir ons eie sondes hoef te dra nie kan niemand ons vir ons voorouers se sondes verantwoordelik hou nie. Ons hoef nie hulle sondes te help dra nie. Hierdie vals leerstelling het geen wettige fondasie nie. Die enigste straf wat daar nog is vir mense is die straf (vloek) wat jou tref wanneer jy sonder Jesus sterf. Dit tref jou onmiddelik die oomblik dat jy jou laaste asem hier op aarde uitblaas. Dit tref jou omdat jy die verlossingswerk en die bloed van Jesus Christus verwerp het.

Vir hulle wat Hom aangeneem het is daar nooit enige vloek of straf nie. Nie nou nie en nie met afsterwe nie. Nooit nie! Daar is dan nou geen veroordeling vir hulle wat in Christus Jesus is nie, vir hulle wat nie na die vlees wandel nie maar na die Gees (Rom 8:1).

Sommige Christene word ‘n rat voor die oë gedraai met hierdie vals leerstelling omdat hulle nie die woord van God ken nie. Hulle ken ook nie die praktiese komplikasies en gevolge van die verlossingswerk van Christus Jesus nie.

Die Skrif is baie duidelik met betrekking tot geestelike verantwoordelikheid of geestelike aanspreeklikheid. Elke mens is verantwoordelik vir sy eie dade. Geen mens hoef die sondes van enige ander mens te help dra nie. Elkeen dra sy eie sonde en elkeen is verantwoordelik vir sy eie sonde. Esegiël 18 is baie duidelik hieroor. Daar is nie ‘n enkele Skrifgedeelte in die hele Bybel waar mense instruksies ontvang het om bloedlyn vloeke te breek of om die sondes van hulle voorouers te bely nie.

Die Bybel is ook baie duidelik oor die feit dat kinders van God eintlik die seën van God op hulle lewe het en nie vloeke nie. Volgens Gal 3:14 het Jesus ‘n vloek geword sodat die seën van Abraham na ons toe kon kom.

Negatiewe gebeurtenisse in mense se lewens het waarskynlik geloofwaardigheid aan die bloedlyn vloeke leerstelling gegee. Mense word siek en mense lewe in ellendige omstandighede. Mense maak ook persoonlike observasies en vergelykings met betrekking tot familie siektes en ander omstandighede. Al hierdie negatiewe omstandighede en fisiese observasies het ‘n baie goeie teelaarde geword vir hierdie vals leerstelling. Persoonlike observasies is egter ‘n baie misleidende instrument of maatstaf wanneer leerstellings geformuleer word. In plaas van die woord van God te raadpleeg word eerder afleidings gemaak om bose leerstellings te verduidelik, te regverdig en te promoveer.

Kinders van God en ook ongeredde mense bring eintlik al hierdie negatiewe goed oor hulleself omdat hulle heeltemal onkundig aangaande die koninkryk beginsels van God is. Hulle denke is nie vernuwe nie en hulle ken die woord van God nie. Hulle het nie die ingeplante woord in hulle harte nie en hulle maak nie die woord deel van hulle lewens nie. Hulle onderwerp nie hulle siel aan die Heilige Gees nie en word nie deur die Gees van God gelei nie. Hulle is lou Christene en het nie oorwinning oor hulle omstandighede nie. Hulle heers nie as konings en priesters in die koninkryk van God nie en is blootgestel aan baie negatiewe aanslae op hulle lewens. Dit is in werklikheid hierdie goed wat ons lewens standaard bepaal.

Die grootste gevaar is die roekelose gebruik van die tong. Mense spreek dood oor hulleself en hulle maai eintlik presies dit wat hulle gesaai het. Die mens weet nie wat hulle posisie in Christus is nie en daarom gaan hulle te gronde. ‘n Gebrek aan kennis is steeds net so ‘n groot probleem soos wat dit nog altyd was.

Mense het nie ‘n openbaring van die grootheid, die goedheid, die almag en die krag van God nie. Ons móét weet wie ons God is. Ons móét geloof in hierdie God hê en ook glo wat Hy sê. Sy woord is die waarheid en sy woord sal vasstaan tot in ewigheid. Ons móét weet dat ons deur geloof moet lewe want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.

God het die sleutels van sy koninkryk aan die mens gegee. Daarmee het Hy sy outoriteit aan die mens gedelegeer. Dit wat die kinders van God in die kerk besluit sal in die hemel aanvaar of bevestig word. Inteendeel, dit wat enige mens besluit sal in die hemel aanvaar of bevestig word. Outoriteit kan ook misbruik word en dit kan ook negatief aangewend word. Die mens is daarom verantwoordelik vir alles wat op aarde gebeur en vir alles wat in sy eie omstandighede gebeur. Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir ons dade. Ons kan niemand die skuld gee vir negatiewe gebeurtenisse in ons lewens nie. Nie vir God nie, nie vir die duiwel nie en ook nie vir ander mense nie. Die blaam lê altyd by onsself. Ons bepaal self die gang van ons lewens. As konings en priesters het ons beheer oor ons lewens. God het die outoriteit aan ons teruggegee wat Adam en Eva aan die duiwel oorhandig het.

Daar is geen konneksie meer tussen kinders van God en ons ongeredde voorouers nie. Ons is nie meer lede van dieselfde spesie nie. Christene is in werklikheid uit God gebore en het net een Vader en dit is God self. Die vleeslike of fisiese afstammeling lyn van ons ou mens is vervang met ‘n nuwe afstammeling lyn wat direk na God die Vader loop. Ons is nou ‘n nuwe mens. Ons het die DNA en die Goddelike natuur van God ontvang en daarom aard ons na Hom en daarom is ons in wese presies net soos God. Jesus het net na sy opstanding vir Maria gesê: “Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en My God en julle God“. (Joh 20:17)

Ek besef dat die waarhede in hierdie boek vir sommige mense baie vreemd is maar ek is oortuig daarvan dat die Skrifgedeeltes wat ek aangehaal het U sal oortuig van die waarheid.

Ons het net een wapen tot ons beskikking om leuens te weerlê en dit is die woord van God. Ons kan nooit op menslike sienings, opinies, drome, visioene en openbarings staatmaak wanneer dit by die wil en die weë van God kom nie. Al hierdie goed moet ooreenstem met die woord van God anders is dit leuens.

My gebed is dat almal met ‘n nuwe ywer die woord van God sal bestudeer en met ‘n oop gemoed die Heilige Gees sal vra om hulle in alle waarheid te lei. Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vrymaak.

Die volgende belangrike aspekte rondom bloedlyn vloeke word deeglik in die boek, “Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke” bespreek en verduidelik hoe die koninkryk beginsels van God rondom hierdie onderwerpe funksioneer:

Wanneer mense na hulle voorouers kyk maak hulle persoonlike observasies wat hulle op ‘n dwaalspoor neem.

Mense weet nie hoekom hulle siek is nie en hulle verstaan nie die werklike oorsake van siekte, ellende en swaarkry nie.

Mense ken nie die Bybelse beginsels rondom die straf van God nie.

Mense ignoreer die Skrifgedeeltes waarin God dit duidelik uitspel dat geen mens ‘n ander mens se sondes kan of mag dra nie.

Mense verstaan nie die verlossingsdaad van Christus aan die kruis nie.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment