Die DNA van God bepaal ons karakter

ONS IS NUWE SKEPSELS IN CHRISTUS

Geredde kinders van God en ongeredde mense het niks in gemeen nie. Hulle is in werklikheid twee verskillende kreature. Ek wil graag aan u verduidelik hoekom daar op geestelike terrein geen konneksie meer tussen kinders van God en hulle voorouers is nie. Iets wonderliks het met ons gebeur die oomblik toe ons Jesus Christus as ons Verlosser begin volg het waarvan min mense bewus is. Hierdie wonderlike gebeurtenis maak bloedlyn vloeke letterlik onmoontlik. Om dit te verduidelik moet ek egter eers ‘n grondslag lê van dit wat Jesus Christus vir ons kom doen het. Om dit te verstaan moet u die volgende gedeelte aandagtig deur lees:

NET DIE MENS JESUS CHRISTUS KON DIE WET ONDERHOU

Dit was regtig onmoontlik vir mense in die Ou Testament om die wet suksesvol te onderhou. Selfs Ou-Testamentiese regverdiges soos Dawid en Samuel het nie onder die wet geleef nie. Hulle het uit die geloof gelewe. Deur middel van skuld kwytskelding as gevolg van die offers van lammers het hulle in geregtigheid voor God gestaan. Hulle het nie staatgemaak op wetsonderhouding nie. Presies soos ek en jy vandag. In Hebr 11 sal jy lees dat al die groot Godsmanne van die Ou Testament deur die geloof geleef het.

Daar was wel mense in die Ou-Testamentiese tyd wat wel probeer het om die wet te onderhou. Hulle was niks anders as die Nuwe-Testamentiese fariseërs wat hulle eie godsdiens van self geregtigheid aangehang het nie. Dit is hulle wat die Ou-Testamentiese profete van God vermoor het.

Jesus was die eerste mens wat die wet kon onderhou. Ek sê “mens” want ons weet dat Jesus sy Goddelike kwaliteite en eienskappe in die Hemel agtergelaat het toe Hy as mens gebore is.

Fil. 2:6-8

Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word. En in gedaante gevind as ‘n mens het Hy Homself verneder…

Hier sien ons baie duidelik dat Hy dit wat van Hom God maak, in die hemel agtergelaat het (Homself ontledig) en gelyk aan ‘n mens geword het. Hoe het Jesus gelyk aan ’n mens geword? Hy het sy Goddelike eienskappe in die hemel agtergelaat. Hy het dit neergelê. Dit staaf die stelling dat Jesus net ‘n mens was toe Hy die aarde bewandel het. Die Woord het vlees geword – 100% mens.

Jesus het uit liefde vir ons dit nie roof geag om sy Goddelikheid terwille van ons prys te gee nie. Hy het nie naarstiglik aan sy Godheid vasgeklou nie. Nee, Hy het dit terwille van ons uit vrye wil neergelê in gehoorsaamheid aan God die Vader. Hy het Homself ontledig. Daardie eienskappe wat Hom God maak, dié het Hy daar in die Hemel agter gelos en is as ’n gewone mens sonder enige Goddelike kwaliteite gebore. Hy moes die wet as mens vervul anders kon Hy nie versoening doen vir ons sondes nie. Hy het egter sonder enige oortreding die wet tot op die letter nagekom. Daarom kon Hy vlekkeloos sonder enige gebrek as die perfekte Lam van God kwalifiseer. Sodoende het Hy die eerste en enigste mens geword wat die wet suksesvol onderhou het. Hy is vandag nog steeds die enigste persoon wat die wet nog ooit kon onderhou.

Dit het Hom in ‘n ander klas geplaas. Daarmee het Hy die deur oopgemaak om iets wonderliks tot stand te bring wat nog nooit was nie. Hy kon die vlees mens van die Ou Testament tot ‘n nuwe geboorte uit die Gees van God in die Nuwe Testament moontlik maak. Hy was die eerste broeder of die eerste wese wat op hierdie manier gebore is. Hy het die eerste broeder onder baie broeders geword. Wat beteken dit? Hoekom die eerste broeder? Aan ons is die belofte gegee dat alles nuut sal word en dat ons nuwe skepsels sal word. Jesus Christus is die eerste broeder onder baie broeders. Ons is dieselfde “klas” as Hy. Daarom trou ons met Hom. Die bruid word sy vrou volgens Openbaring 21:9 (…Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam).

Heb 1:5

Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ’n Vader wees, en Hy sal vir My ’n Seun wees?

Die woord “genereer” in die Grieks beteken om “voort te bring” of “geboorte te gee aan”. Jesus is dus uit God gebore en deur Hom aan te neem as jou Verlosser word jy ook uit God gebore net soos Jesus. Dit maak van ons ‘n nuwe kreatuur. Hy kon ons nou in Hom opneem as nog broeders. Ons het dus nóg broeders geword van hierdie nuwe spesie wat uit die Gees van God gebore is. Onthou die Ou-Testamentiese mense was nie wedergebore nie al was hulle regverdiges. Nikodémus kon dit byvoorbeeld nie verstaan nie. “Hoe kan ‘n mens weergebore word?”, het hy vir Jesus in Johannes 3:4 gevra. Dit was ‘n heel nuwe konsep. Daar het nog nooit soiets bestaan nie.

Joh. 3:3-8

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

‘n Nuwe spesie. Ons is nie van hierdie wêreld nie. Hierdie Skrifgedeelte sê dat die wêreld weet nie van waar ons is nie en waarheen ons gaan nie; want ons is uit Gees gebore.

2 Kor. 5:17

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verby gegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

1 Joh 3:2

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Ek weet dat ons nie God is nie. Dit is verseker. Daar is net een God: Die Drieënige God; Vader, Seun en Heilige Gees. Tog is ons van dieselfde “klas” as God. Ons is dan geskape na die Beeld van God, ons is net soos Christus uit die Gees van God gebore en ons is die vrou van die Lam. God trou net met sy klas. Soos die hemelse mens (Christus) is, so ook die hemelse mense (ons).

1 Kor. 15:44-50

n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

In die bogenoemde versie sien ons dat die hemelse mense soos die hemelse mens is. Dit beteken ons is soos Jesus.

1 Joh 4:17

soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld

1 Joh 3:2 beaam dit ook:

Geliefdes, nou is ons kinders (seuns) van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Ja, ons is nie van hierdie wêreld nie; ons is gestuurdes of ambassadeurs van die hemel. Ons heers saam met Christus:

Ef 1:17-20

dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan julle die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee,

verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is;

en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte

wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele,

In hierdie Skrifgedeelte kan ons sien dat God Christus opgewek het tot baie groot hoogtes. Hy het Hom laat sit op sy troon aan sy regterhand vanwaar af Christus regeer.

Hoor wat sê Jesaja 53:12 van Jesus:

Daarom sal Ek Hom ’n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.

Óns, die kerk, is die “grotes” en die “magtiges” saam met wie Christus die buit verdeel. Net die kerk deel sy erfdeel saam met Hom want ons is mede erfgename met Christus.

Ef 2:4-6

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het,

ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus — uit genade is julle gered —

en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus

Ons sit op Christus se troon saam met Hom vanwaar ons nou saam met Hom regeer. Ons is konings in die koninkryk van God.

Hierdie is ‘n nuwe konsep. Die Ou-Testamentiese regverdiges was nie konings nie, hulle was nie uit die Gees van God gebore nie, hulle was nie seuns van God nie, hulle was nie die kerk nie en hulle was nie ‘n nuwe spesie nie. Hulle was bloot die volk van God en hulle was knegte van die Here.

Wat probeer ek sê? Ons is ver verhewe bo demoniese magte, bloedlyn vloeke en dergelike goed. Ons is die seuns van God wat die bose oorwin het:

1 Joh 4:4

Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is.

1 Joh 5:4

Want alles wat uit God gebore isoorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.

Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?

JOU AARDSE VADER NIE MEER JOU VADER

Soos jy reeds gesien het is ons uit God gebore, ‘n nuwe spesie wat nog nooit bestaan het nie. Ek wil net die Skrifgedeelte wat ons netnou gelees het weer herhaal:1 Kor. 15:44-50

n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

In hierdie versie sien ons ‘n paar baie interessante feite:

  1. Die eerste mens, Adam was ‘n lewende siel.

  2. Die tweede Adam (Christus) was ‘n lewendmakende Gees.

  3. Die eerste mens was uit die aarde aards. Hy en sy nakomelinge is uit stof gebore.

  4. Die tweede mens is uit die hemel. Hy en sy broeders is uit water en Gees gebore.

  5. Die aardse mense is soos die aardse mens. Adam se nakomelinge is soos hy.

  6. Die hemelse mense is soos die mens wat uit die hemel kom. Kinders van God is soos Christus.

  7. Aardse mense dra die beeld van die aardse mens.

  8. Kinders van God dra die beeld van die hemelse Mens, God die Seun.

  9. Aardse mense is vlees en bloed. Daarom kan hulle nie in die koninkryk van God kom nie.

  10. Kinders van God is gees. Daarom is hulle in die koninkryk van God opgeneem.

  11. Geredde mense en ongeredde mense verskil in wese van mekaar. Hulle is eintlik twee verskillende spesies. Daarom behoort ons nie met mekaar te trou nie. Paulus sê in 2 Kor 6:14

    Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?

    Op ‘n ander plek sê hy dat ‘n gelowige man met ‘n gelowige vrou moet trou.

  12. In werklikheid is jou geestelike broers en susters jou enigste familie. Hoekom? Want hulle is deelgenote van die familie van God. Julle is almal uit God gebore. Julle is almal uit water en uit Gees gebore. Jou aardse familie is in werklikheid nie meer jou familie nie. Hoekom nie? Want julle is twee verskillende spesies. Hulle is afstammelinge van Adam en hulle het Adam as vader. Ons het Vader God as Vader want ons is afstammelinge van God.

    Die aardse mense het verskriklike lang stambome. Elke mens kan sy geslagregister en sy stamboom terug deurtrek tot by Adam.

    Kinders van God het verskriklike kort stambome. Almal in die koninkryk van God het net een voorouer naamlik God die Vader.

    Paulus, seun van God,

    of Johan Spies, seun van God,

    of Marinda Martins, seun van God (In God is daar nie ‘n vroulike geslag nie).

    Dit maak nie saak wie jy is nie. Jy kan die name hier bo uitvee en joune inskryf as jy uit God gebore is. Almal wat aan Jesus Christus behoort is uit God gebore. Daarom praat die Bybel so dikwels in die Nuwe Testament van die “seuns van God”. Ons lees baie keer “kinders van God” maar dit is meestal verkeerd vertaal. Die woord in die Grieks is “seuns” en nie “kinders” nie. Seuns is volwassenes en kinders is kleintjies. In Joh 20:17 lees ons dat God nie net Jesus se Vader is nie maar ook ons Vader is:

    Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en My God en julle God.

    Ons lees ook in Matt 23:9 dat ons niemand anders ons Vader moet noem nie:

    En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.

  13. Omdat ons uit God gebore is het ons geen “verbinding” meer met ons natuurlike familie nie. Ons bly lief vir hulle en hou aan bid vir hulle. Ons behandel hulle nog steeds soos familie. God het gesê dat ons tot ons vyande moet lief hê en goed moet behandel, hoekom nie ook ons aardse familie nie?

    Die DNA vanuit aardse voorouers is daarom nie meer deurslaggewend in kinders van God se lewens nie.

    DNA is altyd in die voortplanting “saad” van enige lewende organisme teenwoordig. Dit is die bloudruk wat die genetiese instruksies bevat vir die ontwikkeling en funksionering van alle lewende organismes. Die hooffunksie van die DNA is om die lewende organisme te enkodeer. Dit bevat dus al die informasie wat die organisme nodig het om te ontwikkel. Dit bepaal die A-Z van daardie organisme. Toe ons volgens 1 Joh 3:9 uit God gebore is het ons die DNA van God ontvang. Daarom is ons “kinders” van God. Ons is uit Hom gebore en ons het sy DNA binne in ons. Daarom is ons soos Hy en daarom funksioneer ons soos Hy. Die Bybel sê in 2 Pet 1:4 dat ons die natuur van God deelagtig geword het:

    waardeur Hy ons die grootste en kosbaarste beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die Goddelike natuur

    Dit sê ook in 1 Pet 1:23 uit watse saad ons gebore is:

    want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

    Hoe het hierdie saad tot ons of in ons gekom? Deur die lewende woord van God. Daar het dus ‘n Goddelike saad inplanting plaasgevind. Daar is nou ‘n nuwe DNA in ons wat ons lewens bepaal. Dit enkodeer ons met nuwe informasie en dit bevat nuwe instruksies wat ons lewens bepaal en ons ontwikkeling beheer. Ja, ons het nog die DNA van ons aardse familie in ons liggame maar dit bepaal nie meer ons funksionering of ons lewens nie. My pa was baie aggressief en ek was baie aggressief. Nou het ek egter die gene van God in my. Hy is sag, liefdevol en baie verdraagsaam en daarom word ek al hoe meer soos Hy. Daarom kan ons ‘n leefwyse van drank, dwelms en manipulasie vaarwel roep. Ek hoef nie soos my aardse voorouers te wees nie. Ek is soos my Vader in die hemel.

    Die mens IS gees, hy het ‘n siel en hy woon in ‘n liggaam. Ons IS gees en ons gees is deur middel van die Heilige Gees in beheer van ons lewens. Die gene van God in ons gees bepaal alles en die siel en liggaam is aan die gees onderworpe.

    Ons het nog steeds ‘n vleeslike liggaam. Ons vleeslike liggaam word eers verheerlik wanneer Jesus Christus weer kom. Tog is hierdie vleeslike liggaam nou onderworpe aan ‘n nuwe geestelike spesie wat uit God gebore is. Die gees deur middel van die Heilige Gees heers oor die vlees. Die liggaam en die siel is vrywilliglik onderworpe aan die gees en die gees aan God. Daarom is die vlees en siel ook aan die gees en ook aan God gekoppel. Die lyn van aanspreeklikheid en van heerskappy loop nou direk na God (ons Vader) toe omdat ons uit Hom gebore is. Onthou, ons is nie liggaam nie, ons is gees. Ons gees kom van God die Vader af. Dit is uit God die Vader gebore.

    Ons het nou alles wat ons nodig het om die vleeslike liggaam te herstel. Ons kan dit deur geloof in God se voorsiening, beskerming en instandhouding weer herstel. Ons hoef glad nie siek te wees nie omdat Jesus Christus ons sondes en ons siektes gedra het. Ons hoef niks meer te dra nie. Ons het geen verbintenis meer met ons vleeslike voorouers nie. Daar loop nie meer ‘n lyn na my aardse pa, oupa en oupa grootjie toe nie.

HOEKOM WORD MENSE SOOS HULLE VOOROUERS?

Daar is ‘n hele klompie redes hoekom mense deur middel van persoonlike waarnemings geglo het dat daar wel bloedlyn vloeke is:

  1. Eerstens het ek reeds genoem dat mense sekere familie gene met defekte oorerf. Dit het niks met sonde te doen nie en is bloot ‘n mediese toestand in die familie gene. Daarom kan dit gebeur dat kinders aan dieselfde kwale en siektes as hulle voorouers ly. Soms word kindertjies blind gebore as gevolg van so ‘n defek. Hierdie toestand is egter aan ons as konings en priesters in die koninkryk van God onderworpe. Ons hoef nie daarmee saam te leef nie. Jy as ouer het die verantwoordelikheid om hierdie toestand aan te spreek en dit nie net in jou eie liggaam nie maar ook in die liggame van jou kinders te herstel. Hoe? In die geloof. Ons het geen verskoning daarvoor nie. Ons leef deur die geloof en genesing is deel van ons erfporsie. Ons moet dit opeis en deel van ons lewens maak. As ons versuim om dit te doen kan ons nie ons voorouers die skuld gee daarvoor nie. Elke mens het die geleentheid, die mag en die krag tot sy beskikking om sy lewe te verander en in lyn met God se wil en God se woord te bring. Dit is ‘n geskenk van God aan sy kinders.

  2. Tweedens word kinders groot saam met hulle ouers in een huis. Hulle is heeldag blootgestel aan sekere leefwyses en sekere persoonlike karaktertrekke. Daar bestaan altyd die moontlikheid dat kinders soos hulle ouers sal word. Baie keer gebeur dit nie en styg die kind uit na hoër hoogtes. Die pa was byvoorbeeld ‘n alkoholis of ‘n motor dief. Die kinders word in daardie omstandighede groot en leer eintlik by pa hoe en wat om te doen as jy wil oorlewe. Hierdie goed gaan byvoorbeeld gepaard met armoede en ander ellende. Die kind eindig eventueel op in dieselfde bootjie. Dit het egter niks met bloedlyn vloeke te doen nie. Dit is net die negatiewe of positiewe blootstelling aan jou omgewing. Die omgewing waarin ons opgroei het altyd ‘n blywende effek op ons. Dit het alles met blootstelling te doen. Ons was in hierdie omstandighede gebore en ons is gewoond daaraan. Dit is baie maklik om net so in daardie groef voort te ploeter. Ons hoef dit egter nie te doen as ons nie wil nie. Baie kinders styg bokant hierdie omstandighede uit. Met die genade van God, deur die geloof en deur die woord van God kan ons weer herstel word.

    Kan kinders werklik iets aan hierdie ongunstige omstandighede doen? Natuurlik! As so ‘n kind ‘n ongeredde mens is kan hy nog steeds beter keuses as sy pa maak. Hy kan ‘n meer gesonder leefstyl volg en handhaaf. Hy kan beter mense verhoudings aanleer. Hy kan beter keuses met betrekking tot sy loopbaan en nog baie ander goed maak. Hy kan homself stelselmatig op ‘n meer suksesvoller pad plaas. Onthou, alles wat jy vandag besluit, doen en sê bepaal wat jy môre gaan wees. Sodoende het baie kinders vanaf nêrens ‘n baie suksesvolle lewe gelei.

    As jy ‘n kind van God is, is dit nog makliker. Deur net al die beloftes in die woord van God te leer, jouself te vernuwe volgens die woord en die wil van God en jou erfporsie op te eis in die Naam van Jesus Christus, verander jy jou hele lewe. Dit sal ‘n tydjie neem maar mettertyd sal daar geen verskil wees tussen jou en ‘n persoon wat grootgeword het in absolute gunstige omstandighede nie. Hoe is dit moontlik? Want God en sy woord maak jou nuut, maak jou vry en maak jou heel. Dit is gewaarborg. Dit maak nie saak hoe sleg jou omstandighede was of is nie. Dit is nooit te laat nie, nooit te sleg nie en nooit onmoontlik nie. As enigiemand vir jou hierdie leuen vertel dan ken hy of sy nie God Almagtig nie. Hulle ken ‘n klein godjie wat in hulle harte en in hulle gedagtes nie baie sterk of baie groot is nie. Hoekom nie? Want hulle persepsie van God is heeltemal verwronge.

  3. Die wonderlike werklikheid is dat hierdie familie van jou geen invloed op jou het nie. Jy is nie gedoem tot nederlae en ellende as gevolg van die swak of negatiewe kenmerke of karaktertrekke van jou familie nie. Jy kan uitstyg bo die standaarde en norme van jou familie omdat geen mens aan ander mense soos familie verbind is ten opsigte van vloeke of straf of verantwoordelikheid of aanspreeklikheid nie. Elke mens staan in ‘n unieke hoedanigheid voor God. Elkeen staan alleen voor Hom. Geeneen verteenwoordig enigiemand anders nie. Elkeen praat vir homself.

Soos u kan sien is vergelykings tussen ons en ons familie nie daar as gevolg van bloedlyn vloeke nie maar as gevolg van natuurlike faktore.

Ons maak persoonlike observasies en skryf dit dan aan bloedlyn vloeke toe. Dit is voor die hand liggend. Selfs kinders kan dit verstaan.

Die volgende belangrike aspekte rondom bloedlyn vloeke word deeglik in die boek, “Die waarheid omtrent bloedlyn vloeke” bespreek en verduidelik hoe die koninkryk beginsels van God rondom hierdie onderwerpe funksioneer:

Wanneer mense na hulle voorouers kyk maak hulle persoonlike observasies wat hulle op ‘n dwaalspoor neem.

Mense weet nie hoekom hulle siek is nie en hulle verstaan nie die werklike oorsake van siekte, ellende en swaarkry nie.

Mense ken nie die Bybelse beginsels rondom die straf van God nie.

Mense ignoreer die Skrifgedeeltes waarin God dit duidelik uitspel dat geen mens ‘n ander mens se sondes kan of mag dra nie.

Mense verstaan nie die verlossingsdaad van Christus aan die kruis nie.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment