Daar is definitief twee Heilige Gees ervarings

Jesus het geweet dat die mens nie die “groot kommissie” sou kon uitvoer sonder die krag van die Gees van God nie. Die “groot kommissie” beteken eintlik “die verkondiging van die evangelie in woord en in krag” Die evangelie beteken: Jesus het jou skuld betaal, Hy het die sonde van die wêreld weggeneem, Hy het vir jou verlossing gebring, Hy het jou verlos van die bose en van sonde, Hy red jou siel, Hy bring ook vir jou genesing, Hy het jou ook verlos van die gevolge van sonde naamlik siekte, die vloek van die sonde, die hel, armoede, ens. Hy het die volle prys betaal om jou die volle verlossing te skenk!

Die evangelie kan dus nie verkondig word sonder die Heilige Gees doping nie, want dit vat krag om daardie verlossingswerk tot uitvoering te bring. Maak ‘n bietjie iemand gesond sonder die Gees van God. Dryf bietjie ‘n duiwel uit sonder die Gees van God. Nie eens Jesus kon dit doen sonder die Gees van God nie. Daar is nie ‘n manier hoe enigiemand hier verby kan kom nie. Maak nie saak hoe jy glo of wat jy glo nie. Die doping in die Gees van God is absoluut noodsaaklik. Almal wat glo en almal wat wil moet dit deelagtig word voordat hulle effektiewe instrumente in God se hand kan word:

Lees Handelinge 2:1-4

En toe die dag van die Pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar. En daar kom skielik uit die Hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.

Hierdie was die heel eerste volwaardige, amptelike kerk byeenkoms in die Bybel. Let op dat dit in ‘n huis was en let op dat dit gekenmerk was deur Heilige Gees werking. Hierdie was Jesus se belofte van krag om Goddelike wonderwerke en die funksionering van Gees gawes moontlik te maak. Dit was nie bloot net ‘n ontvang van die Heilige Gees nie. Inteendeel, die dissipels het toe alreeds met ‘n ander geleentheid die Heilige Gees ontvang. ‘n Hele paar weke voor hierdie Pinksterdag uitstorting, toe Jesus net na sy opstanding, die eerste keer aan sy dissipels verskyn het.

Kom ons kyk ‘n bietjie daarna in Joh. 20:19-22

En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle. En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien. Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.

Toe Jesus hier vir hulle sê “ontvang die Heilige Gees” en op hulle blaas het hulle die Heilige Gees deelagtig geword. Hoekom moes hulle dan weer die Heilige Gees deelagtig word op Pinksterdag? As iemand Jesus aanneem en wedergebore word ontvang hy die Heilige Gees. Hoekom moet hy dan weer die Vader vra vir die Heilige Gees? Die antwoord op albei vrae is om krag te ontvang om die evangelie te verkondig en om volwaardig God te aanbid in gees en in waarheid. Die een maak jou kind van God die ander een gee jou krag en maak jou ‘n volwaardige instrument in die hand van God om die verlossingswerk van die evangelie ten uitvoer te bring. Ons is sy hande en sy voete. Hy bedien die wêreld deur ons.

Baie duidelik sien ons hier dat daar in ‘n kind van die Here se lewe twee Heilige Gees “ontvang” geleenthede is: Die eerste keer wanneer jy jou bekeer en die tweede keer wanneer jy in die Heilige Gees gedoop word. Die eerste keer is dit die seël van jou redding of wedergeboorte. Die Vader en die Seun kom woon dan in jou en die Gees in jou getuig dat jy ‘n kind van God is. Jesus antwoord vir Nikodémus in Joh. 3:5 as volg:

Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.

Bogenoemde stelling (twee Heilige Gees ervarings) is waar vir alle mense. Dit het met Jesus begin, die eerste broeder van baie broeders, dit het met die 12 dissipels gebeur, dit het met ander minder bekende apostels gebeur en uiteindelik het dit met vreemdelinge en totaal onbekendes gebeur. Dit is so deur die profeet Joël geprofeteer in die Ou Testament.

Lees Joël 2:28-29

En daarna sal Ek My Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongmense gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae My Gees uitgiet.

Die Skrif maak dit hier baie duidelik dat daar geen onderskeid meer sal wees soos in die Ou Testament nie. Sy Gees sal op alle vlees uitgestort word. Die gawes van die Gees sal deur almal funksioneer. Nie meer net deur die Leviete nie maar alle mense (diensknegte). Nie meer net mans nie maar ook die vroulike geslag (diensmaagde)

Ons sien dit dan ook in die lewens vanaf Jesus, sy dissipels en al sy volgelinge.

Lees Hand 19:1-6

En terwyl Apollos in Korinte was, het Paulus die boonste landstreke deurgereis en in Efese gekom; en daar het hy sommige dissipels gevind en hulle gevra: Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het? En hulle antwoord hom: Ons het nie eens gehoor dat daar ’n Heilige Gees is nie. En hy vra hulle: Met watter doop is julle dan gedoop? En hulle antwoord: Met die doop van Johannes. Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus. En toe hulle dit hoor, is hulle gedoop in die Naam van die Here Jesus. En Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het op hulle gekom, en hulle het met tale gespreek en geprofeteer.

Let op die volgende: Hierdie dissipels was dissipels van Johannes. Hulle het Jesus aangeneem en outomaties die Heilige Gees deelagtig geword. Maar hulle het nie geweet dat daar ‘n Heilige Gees doop is nie. Hulle was nog baie onkundig met betrekking tot die Gees gawe. Hulle was nie saam met die dissipels van Jesus op Pinksterdag nie en het ook nog nie gehoor van wat daar gebeur het nie (verwysend na die uitstorting van die Heilige Gees). Paulus het hulle gedoop in water en toe die hande opgelê sodat hulle die doping in die Heilige Gees ook kon ontvang. Hulle het onmiddellik in tale begin praat en het geprofeteer. Jy kan nie in tale praat of profeteer as jy nie in die Heilige Gees gedoop is nie, ondanks die feit dat jy die Heilige Gees deelagtig geword het toe jy gered is. Die doping in die Heilige Gees kom gewoonlik met handoplegging. Dit is iets wat jy moet begeer en waarvoor jy moet vra. Jy vra nie vir die Gees van God met bekering nie. Almal ontvang Hom outomaties. Die doping in die Heilige Gees moet jy vir God vra om dit vir jou te gee. Hoekom? Hy gee dit (die doping in die Heilige Gees) nie vir enigiemand nie. Dit is vir almal wat dit begeer.

Dit is vir my baie duidelik dat God ‘n baie spesiale geskenk aan die mense gegee het. Wat is hierdie geskenk? Dit is die Heilige Gees ervaring wat Hy nou, met Pinksterdag, in Jerusalem in die huis waar die dissipels bymekaargekom het, vir alle vlees moontlik gemaak het. “Alle vlees” beteken elkeen wat Hom aanneem as Verlosser en Saligmaker. Die Heilige Gees is vir elkeen wat glo. Die doping daarenteen is nie net vir elkeen wat glo nie maar vir elkeen wat daarvoor vra. Vir elkeen wat dit begeer. Lees Lukas 11:10-13

Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom inplaas van ‘n vis ‘n slang gee; As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid.

Hier sien ons eerstens dat die Heilige Gees ‘n gawe is, ‘n goeie gawe, tweedens dat die Vader die Heilige Gees gawe gee aan elkeen wat daarvoor bid en daarvoor vra, derdens dat ons nie hoef te vrees wanneer ons vir die Heilige Gees gawe bid nie. Ons sal presies dit kry waarvoor ons vra. (nie ‘n klip of ‘n vis nie maar brood – nie ‘n bose gees nie maar die goeie Gees van God)

 

Die evangelie kan nie doeltreffend verkondig word sonder die Heilige Gees doping nie. Dit vat krag om die verlossingswerk van Jesus Christus tot uitvoering te bring en daarvoor het ons die Heilige Gees nodig

Ons as kinders van God en ook as ambassadeurs van God moet egter altyd in liefde en in opregtheid wandel wanneer dit by die gawes van die Gees kom.

1 Korintiërs 13:1-13 is die “liefde” hoofstuk van die Bybel. Dit skryf vir ons baie duidelik voor dat alles wat ons doen in liefde gedoen moet word. Sonder liefde is alles nutteloos al doen ons goed en al doen ons die regte ding. Iemand wat liefdeloos handel se werke of die gawes van die Gees wat deur hom manifesteer beteken niks. Al doen hy goed word sy motief altyd bevraagteken want ons ken sy gesindheid en sy geaardheid. Selfs as die gawes van die Gees deur hom manifesteer beoordeel ons dit met agterdog. Hy doen wel goed en die gawes manifesteer wel deur hom maar ons vertrou dit nie, want ons ken die vrugte wat hy dra. Vir ons klink dit soos ‘n klinkende simbaal of sommer net ‘n lawaai.

Dit word van ons verwag om die vrug van die Gees ten alle tye te openbaar.

Lees Ef. 5:9

Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.

Lees Gal 5:22

Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Sonder hierdie vrugte van die Gees sal die gawes van die Gees doelloos wees want so ‘n mens se bediening word nie deur ander kinders van God ontvang nie. Dit word verwerp al is dit goed.

Dit is baie interessant dat daar ook nege gawes van die Gees is: Woord van wysheid, woord van kennis, geloof, genadegawes van gesondmaking, werkinge van kragte, profesie, onderskeiding van die geeste, allerhande tale, uitleg van tale. (1 Korintiërs 12:8-11)

Nege vrugte van die Gees – Nege gawes van die Gees

Dit is definitief nie net toevallig nie. God wil vir ons hier baie duidelik wys dat daar ‘n balans moet wees wanneer dit by Gees werking kom in ons gemeentelewe. Die een werk deur die ander. Die gawes funksioneer in liefde. God sit ast’ware die bak van geestelike werkinge in ons midde neer en sê vir ons geniet dit. Dit is My geskenk aan julle. Niks in ons lewens kan ons ooit soveel vreugde in ons lewens verskaf as juis hierdie liefdes skottel of liefdes bak van Gees werkinge nie. Dink daaraan: Hoor wat sê God vir ons in sy woord oor hierdie 18 items in hierdie bak van Gees werking wat vir ons die volgende vreugde en seëninge verskaf:

Liefde – Ek omring jou met liefde. Ek beskerm jou teen hulle wat jou haat. Jy sal liefde ervaar. Jy sal liefhê en gelief wees.

Blydskap – Ek sal jou bederf met baie seëninge en beloftes en hulle is almal ja en amen in Christus Jesus. Niemand kan dit van jou af wegvat nie. Vra van My sodat jou blydskap volkome kan wees.

Vrede – Ek sal jou guns gee in die oë van mense en jy sal vrede hê met almal rondom jou. Die mense sal jou ‘n kind van God noem.

Lankmoedigheid – Ek skenk aan jou lankmoedigheid sodat jy sonder frustrasie kan lewe en ander mense met genade kan behandel en ook genade kan ontvang.

Vriendelikheid – Ek skenk aan jou vriendelikheid sodat jy ander mense vriendelik kan behandel en sodoende dieselfde behandel word.

Goedheid – My goedheid skenk Ek jou want dit is ‘n saad wat die hemel van seëninge vir jou oopmaak. Jy sal barmhartigheid bewys word omdat jý barmhartigheid bewys aan ander.

Getrouheid – Ek maak jou getrou sodat jy My getrouheid aan jou ook aan ander kan demonstreer.

Sagmoedigheid – Omdat jy sagmoedig is, sal jy die aarde beërwe. Ander sal jou dalk probeer oorheers of oordonder maar ek sal jou beskerm en jou ryklik beloon.

Selfbeheersing – Omdat jy selfbeheersd is, sal jy nooit beskaamd staan of in die moeilikheid kom nie. Jy sal altyd in beheer wees.

Woord van wysheid – Jy sal weet wat om in allerhande moeilike situasies te doen want Ek sal jou lei. Ek sal jou die pad van die lewe bekend maak. Jy sal My wysheid aan ander bekend maak.

Woord van kennis – Jy sal weet wat die werklike waarheid is in situasies want Ek sal dit aan jou bekend maak. Jy sal nie in die donker gehou word nie. Jy sal baie mense op hoogte bring met kennis wat Ek deur jou aan hulle gee.

Geloof – Wanneer daar “geloof in aksie” nodig is in jou lewe, sal Ek dit vir jou gee. Dit kom deur My woord maar Ek gee dit ook as ‘n gawe om jou kragtig te ondersteun. Jy sal ander met daardie selfde geloof-gawe dien en wonderwerke in hul lewens doen.

Genadegawes van gesondmaking – As jy siek is, sal Ek jou genees. Jy sal uitgaan en ellendiges in My Naam genees en verlos van die bande wat die vyand hulle opgelê het.

Werkinge van kragte – Wanneer groot wonderwerke in jou lewe nodig is hoef jy nie te vrees nie. Ek sal daar wees om dit tot uitvoer te bring. Ek sal jou ook gebruik om kragtige dade in mense se lewens en situasies te doen.

Profesie – Ek sal met jou praat en die woorde in jou bevestig wat Ek met jou gespreek het. As jy nie vertroud is met My wil nie sal Ek met jou praat om jou te leer en te lei. Ek sal jou ook gebruik om dieselfde vir ander te doen.

Onderskeiding van die geeste – Ek sal jou waarsku teen vals mense en jy sal weet met wie en wat jy te doen het.

Allerhande tale – My tale gee ek jou om met jou te spreek en my wil en kennis aan jou bekend te maak.

Uitleg van tale – Ek sal My Gees taal aan jou openbaar sodat jy dit aan ander kan verkondig.

Wisselwerking:

Het jy ooit daaraan gedink dat die nege Gees gawes en die nege vrugte van die Gees in een bak is. Dit is God se bak van geestelike voedsel en geestelike drank wat die mens absoluut versadig en sy dors absoluut les. Hoe voel jy daaroor?

Is dit regverdig van God om net dié kinders toe te rus met ‘n spesiale salwing vir wonder werkende interaksie met ander mense wat dit begeer of moes Hy dit eerder sommer vir almal gegee het? Hoe voel jy daaroor?

Hoekom, sal jy sê, wil mense in die Gees van God gedoop word?

Hoekom is daar by party mense ‘n vurige hunkering daarna en by ander geen behoefte daarna nie?

Jesus het vir sy dissipels gesê dat hulle moet wag voor hulle die evangelie gaan verkondig. Hoekom wag vir die Heilige Gees as hulle dan al klaar die Heilige Gees ontvang het?

Stelling: Die een faset van die Heilige Gees is inwonende “fellowship” en die ander faset is onderwerping in totale oorgawe en gehoorsaamheid aan die kragtige, wonder werkende, skeppende Gees van God. Hoe sien jy dit?

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis bladsy

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment