Wie neem die besluite in huiskerke?

Inleiding tot die Bybelgefundeerde proses van besluitneming

Ons het reeds Jesus, wat die Hoof van die kerk is, se standpunt oor leierskap in die kerk behandel. Let op die volgende woorde in Matt. 20:25-28

Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

Let op die woorde “heers”, “gesag uitoefen”, “só moet dit onder julle nie wees nie” maar eerder “dienaar wees”, “dienskneg wees” en “dien”.

Lukas 22:25-26

En Hy het vir hulle gesê: Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; maar die oudste onder julle moet word soos die jongste, en wie ’n leier is, soos een wat dien.

Wat die Bybel hier bedoel is nie dat as jy ‘n dienaar is, jy later ‘n leier sal word nie. Dit beteken ook nie dat as jy ‘n dienskneg word jy later ‘n heer of ‘n meester word nie. Dit beteken by God is jy eerste of is jy groot omdat jy ander met jou bediening of gawes gedien het op aarde. Jy is groot want jy het nooit posisie aangehang nie maar die lewe van ‘n dienskneg aangeneem. Jy sal jou beloning of jou kroon ontvang wanneer jy voor die troon van God verskyn. Dit is wanneer Hy jou sal bedank omdat jy getrou was oor min en dan gaan Hy vir jou sê: “Oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou Heer”.

Wat Jesus eintlik hier sê is dat daar nie leiers in die kerk moet wees nie. Hy sê ‘n leier moet wees soos een wat dien want in die kerk van God dien die broeders mekaar. Weereens, leierskap is net funksioneel; dit is nie ‘n posisie nie.

Almal is op gelyke vlak en almal het dieselfde seggenskap oor kerksake. Niemand moet enige besluite op ander mense afdwing soos die wêreld dit doen nie.

Vir baie mense klink hierdie stellings net ‘n bietjie te vergesog. Die rede hiervoor is dat ons al die jare anders geleer is in die kerk en in die wêreld. Dit is al wat ons ken. Hoe dan anders?

Tog is dit nie hoe dit in die Nuwe-Testamentiese kerk en die vroeë kerk was nie. Inteendeel, daar is genoeg Skrif wat bewys dat besluitneming deur middel van konsensus gedoen is. Konsensus beteken die hele gemeente neem almal saam die besluit deur eendragtig saam te stem oor ‘n saak. Jy mag dalk vra of dit werklik moontlik is om so besluite te neem en ook hoe gaan dit prakties uitgevoer word? Die antwoord is dat die Bybel bewys dat dit nie net moontlik is nie maar wel so uitgevoer is in die Nuwe-Testamentiese kerk.

Miljoene huiskerke wêreldwyd volg vandag nog steeds hierdie metode suksesvol uit. Ek wil net noem dat die huiskerk “beweging” die grootste Christelike “beweging” in die wêreld is. Statistieke bewys dat die aantal lidmate in huiskerke wêreldwyd ’n geruime tyd reeds die institusionele kerk verbygegaan het. Dit net vir interessantheid. Ons in die westerse samelewing is geneig om te dink dat huiskerke ‘n nuutjie is of nie baie populêr is nie. Inteendeel, hoewel huiskerke die afgelope vyftig tot honderd jaar fenomenaal toegeneem het, het dit nooit werklik opgehou bestaan vanaf die Nuwe-Testamentiese tyd nie. Deur al die jare heen was daar altyd mense wat vasgehou het aan die leer van die apostels.

Soos u reeds afgelei het rus besluitneming in die kerk in die hande van al die lidmate. So was dit dan ook in die vroeë kerk:

Hand 15:22

Toe het die apostels en die ouderlinge saam met die hele gemeente besluit om manne uit hulle te kies en na Antiochië te stuur saam met Paulus en Bárnabas…

Hand 15:25

het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Bárnabas en Paulus.

In die vroeë kerk was die klem op eenheid en gelykheid:

Ef. 4:3

en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.

2 Kor. 13:11

Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.

1 Kor. 1:10

Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.

In hierdie versie sien ons duidelik die “konsensus” metode vir besluitneming uitgespel. Konsensus is niks anders as eenstemmig wees, eenparig te besluit, verenig te wees, dieselfde mening te hê en dieselfde gesindheid te hê nie.

Rom 15:5-6

En mag die God van lydsaamheid en bemoediging aan julle gee om eensgesind onder mekaar te wees ooreenkomstig die wil van Christus Jesus. Sodat julle die God en vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

Hierdie versies bring iets baie belangrik na vore: Dit beklemtoon die krag van eenheid, om een van hart te wees, om saam te stem oor ‘n saak, om een klank te maak soos wat ‘n simfonieorkes almal, in tyd, harmonieus saamspeel. Dit is eenheid en dit is die teëvoeter vir baie probleme en ellende. Dit beklemtoon ook dat ons eensgesind volgens die wil van Christus moet wees.

Matt 18:19 sê die volgende:

Weer sê ek vir julle: As twee van julle saamstem op die aarde oor enige saak wat hulle mag vra, dit sal hulle ten deel val van my Vader wat in die hemele is.

Konsensus is veilig want besluitneming lê nie in die hande van ‘n paar mense nie maar in die hande van almal. Jy kan vir jouself dink dat as 0,01% van die gemeente besluite neem is die kanse vir die neem van verkeerde opsies soveel groter. Dit dalk die rede waarom die kerk so baie sukkel om die uitdagings van gemeente lewe die hoof te bied en leerstellige vraagstukke te hanteer. Die geskiedenis van die institusionele kerk lê gesaai met verkeerde besluite.

Ons sien selfs in die Ou Testament wat gebeur wanneer die staat Israel eendragtig is oor besluite, wat eintlik beteken hulle het konsensus bereik oor ‘n saak. Dit is ‘n baie kragtige beginsel in die gees wêreld.

1 Kron. 12:38

Al hierdie krygsmanne het, in slagorde aaneengesluit, met ‘n onverdeelde hart na Hebron gekom om Dawid koning te maak oor die hele Israel; en ook al die orige Israeliete was een van hart om Dawid koning te maak.

Hier sien ons dat net soos die hele vergadering en die hele volk een van hart was om Dawid koning te maak, net so moet ons ook een van hart, ‘n onverdeelde hart, Jesus Christus koning oor ons gemeente maak. Sien Rom 15:6

Sodat julle die God en vader van onse Here Jesus Christus eendragtiglik uit een mond kan verheerlik.

1 Kron. 13:1-4

En Dawid het raad gehou met die owerstes oor duisend en oor honderd, met elke bevelhebber; en Dawid het aan die hele vergadering van Israel gesê: As julle dit goedvind en dit van die Here onse God is, laat ons ons versprei en na ons broers stuur wat nog oor is in al die landstreke van Israel, en saam met hulle na die priesters en die Leviete in die stede waar hulle weiveld het, dat hulle by ons bymekaar moet kom. En laat ons die ark van onse God na ons toe oorbring, want in die dae van Saul het ons daarna nie gevra nie. Toe sê die hele vergadering dat hulle so moes doen want die saak was reg in die oë van die hele volk.

Dawid was ‘n goeie en ‘n regverdige koning. Hier raadpleeg hy nie net die owerstes nie maar ook die hele vergadering en die hele volk van Israel. Hy doen hier iets wat vandag se regerings versuim om te doen. Hy neem nie ‘n besluit wat teenstrydig met die volk se mening is nie. Al is regerings demokraties verkose sal hulle steeds wederregtelik besluite neem wat nie in lyn is met die wil of mening van hulle kiesers nie. Dit is myns insiens oneties!

2 Kron. 30:4

En die saak was reg in die oë van die koning en in die oë van die hele vergadering.

Hier sien ons dat Hiskia, wat ook ‘n Godvresende koning was saam met die hele vergadering konsensus bereik.

Die konsensus metode spreek nie net van eensgesindheid, eenheid en verenig wees nie, maar ook van gelykheid.

Rom 12:3-5

Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het. Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar.

Jesus het op ‘n plek gesê moenie jouself verhef nie, want julle is almal broeders. Daar is net twee posisies in die kerk: Een is die Hoof van die kerk, Jesus Christus, en die ander is broeders. Die een is die Kop of die Hoof van die liggaam en die ander is die verskillende lede van die liggaam. Daar bestaan geen ander posisie nie.

1 Kor. 12:23-25

En dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierliker lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra.

Hier sien ons die funksie van die lede van die liggaam uitgespel: Elke lid moet gelyke sorg vir die ander lede dra.

Ef. 4:16

Uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

Hier sien ons dat elke lid die liggaam moet ondersteun op sý manier. Elkeen het sý funksie, sý plek, sý deel, sý doel. Niemand het dit gekies nie. God het dit aan elkeen toebedeel soos Hy wou. Daar is dus geen plek vir ydele roem in die liggaam van Christus nie. Niemand verdien enigiets in die liggaam van Christus nie want ons het alles deur genade ontvang. Alles werk deur die Gees van God in almal. Vir God is elke handeling wat die vrugte van die Gees openbaar dieselfde. Vir God is elke handeling wat die gawes van die Gees openbaar dieselfde. Die vrugte van die Gees en die gawes van die Gees werk deur almal. Wat maak ons dan verskillend wat posisie betref? Niks! Wat maak ons verskillend wat die vrugte betref? Niks! Wat maak ons verskillend wat die gawes betref? Niks!

Die enigste verskil tussen kinders van God is dat daar verskillende grade van bediening en salwinge van bediening is. Daar is baie redes hiervoor. Party mense het Jesus vroeër in hul lewens aangeneem as ander. Party mense is meer gehoorsaam as ander. Party is langer op die pad as ander. Opvoeding speel ‘n rol, blootstelling speel ‘n rol, kanse gebruik en kanse verspeel speel ‘n rol, omstandighede in verskillende huise verskil, omstandighede met betrekking tot verskillende loopbane verskil. Persoonlike ywer speel ’n rol. Daar is letterlik ‘n magdom faktore wat die intensiteit en die effektiwiteit van verskillende mense se bedienings en werk in die liggaam van Christus beïnvloed. Almal het doodeenvoudig nie dieselfde voorregte en geleenthede in die lewe nie. Natuurlik is dit ‘n baie goeie rede om niemand te veroordeel nie en ook nie te veel van jouself te dink nie soos Rom 12:3 sê.

Ons sien ook in 1 Kor. 12:25 dat God opsetlik die hele liggaam in posisie gelykgemaak het. Ek glo dit is onder andere ook omdat Hy géén verdeeldheid in sy liggaam wou hê nie. Hy het tot die uiterste toe gegaan om te verseker dat almal op dieselfde vlak in die liggaam van Christus is. Almal het dieselfde regte, dieselfde seëninge, dieselfde verwagtinge en ook dieselfde seggenskap in die liggaam van Christus. Niemand is oor niemand aangestel nie. Soos wat Adam en Eva in die tuin aangestel is om oor alles te heers, so ook ons. Adam en Eva is nie aangestel om oor mense te heers nie maar oor die handewerk van God.

God het gesê dat hulle die aarde moes onderwerp en oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip moes heers. Die mens moes oor die skepping heers, nie oor ander mense nie. As die sondeval nie plaasgevind het nie sou daar geen regering of wêreldse sisteme van oorheersing gewees het nie. Dit was deel van die vloek van die sondeval. Jesus het egter die vloek van die sondeval omgekeer. Hy het die mens weer as heerser van die skepping herstel. Ons is nou weer konings! Ons staat van heerskappy in die skepping van God is herstel. Dit behoort aan die kinders van God; aan die kerk. Niemand is veronderstel om oor ons te heers nie, veral nie in die kerk nie.

Met konsensus het God weereens dit wat ín die Godheid is, in sy kerk ingebou. In die Godheid is daar nie demokrasie of outokrasie nie. Selfs in die Godheid heers daar ‘n staat van konsensus.

When the church is in sympathetic harmony, God will act. In this connection, consensus mirrors the decision-making activity within the triune God, whose nature we were created to reflect. God acts when Father, Son and Spirit agree. Decision-making in the Godhead is communal and marked by mutual submission. In other words, it is consensual.

– Frank Viola

Die Godheid is waarlik een van hart, een in Gees, een in mening en een van sin. Die Vader is in ons en Jesus is in ons. Omdat ons ook die natuur van God in ons het en die Gees van God in ons het, is ons almal heeltemal in staat om presies dieselfde eenheid en gesindheid van God ook in die gemeente te openbaar. Ons is uit God gebore en het dieselfde DNA in ons as wat Hy in Hom het. Ons kan óók gesamentlik besluite in die gemeente neem omdat ons deel van die familie van God is.

As iemand in die huiskerk op sy eie besluite neem sonder dat hy die ander betrek, dan dwing hy sy wil af op die res. Ons noem dit outokrasie. Dit breuk die eenheid in die gemeente. Daar sal in so ‘n geval altyd ontevredenheid in die gemeente wees en dit sal eventueel lei tot kerkskeuring. Ook wanneer ‘n klein groepie in die huiskerk besluitneming op hierdie manier toepas sal dit dieselfde gevolg hê.

Aan die ander kant, wanneer ‘n demokratiese metode van besluitneming gebruik word sal daar altyd ‘n groep ontevrede mense in die gemeente wees. Die meerderheid (50% + 1) is tevrede en gelukkig met die besluit maar die res van die groep nie. Hoekom nie? Want die wil van die groter groep word op die kleiner groep afgedwing. Die verloorders moet maar aanvaar dat hulle die onderspit gedelf het. Hulle moet dit aanvaar omdat dit ‘n demokratiese beginsel is. Dit is die lewe. So werk dit.

Dit is egter nooit ‘n uitgemaakte saak dat die meerderheid die regte besluit neem nie; selfs al wen hulle met 95% van die stemme. Dit is dan die rede hoekom demokrasie nie in die kerk hoort nie. God het ‘n volmaakte manier van besluitneming wat almal tevrede stel in sy kerk ingebou; konsensus. Vanselfsprekend sal konsensus nie in die institusionele kerk werk nie. Hierdie metode van besluitneming werk nie in ‘n organisasie nie. Dit is te groot en te lomp en besluitneming word deur institusionele vereistes aan bande gelê.

Die werklikheid is dat besluite in die kerk geneem móét word. Alle metodes van besluitneming het sy voordele en sy nadele. Konsensus is egter die veiligste manier van besluitneming want die minste verkeerde besluite of foute word deur middel van konsensus gemaak. Konsensus is ook die Bybel gefundeerde metode van besluitneming. Die Nuwe-Testamentiese kerk en die vroeë kerk het nie van hierdie metode afgewyk nie. Hulle het gebly by die leer van die apostels. Daar is geen teken van outokrasie in die Nuwe-Testamentiese kerk met betrekking tot besluitneming nie. Daar is ook geen teken van demokrasie nie. Daar is egter verskeie verwysings na konsensus as die Godgegewe metode van besluitneming.

Gesamentlike onderwerping aan die sin van Jesus

In die kerk is die enigste ware veiligheidsnet met betrekking tot besluite om die sin van Jesus te vind. Ons moet elkeen individueel die sin van Jesus vind vir ons lewens en ook as ‘n gemeente. Jesus is ‘n God van liefde en ‘n God wat bemoeienis maak met sy kinders en met sy kerk. Die kerk is sy liggaam en Hy is die Hoof van sy liggaam. Hy het ‘n wil met betrekking tot alles wat binne sy liggaam gebeur. Natuurlik is daar kleinigheidjies en amper onbenullige besluite wat geneem moet word wat niemand kopsere oor het nie. Of dit nou links of regs moet wees maak amper nie saak nie.

Dan is daar belangriker besluite en selfs uiters belangrike besluite wat geneem moet word in die gemeente. Jesus het ‘n wil en ‘n opinie met betrekking tot al daardie besluite. Sy opinie en sy wil is die antwoord! Dit is die regte besluit! Ons as gemeente moet nou net die sin van Jesus vind elke keer as ‘n besluit geneem moet word! Dit is so maklik soos dit. Inteendeel, wanneer Jesus Christus in ons en deur ons leef, dan beheer Hy ons deur middel van sy inwonende lewe. As ons die sin van Jesus lééf, dan word besluitneming baie makliker.

Hoe vind ‘n mens die sin van Jesus? Party besluite word vergemaklik omdat die Bybel baie duidelik is oor sekere aspekte van Christenskap. Die sin van Jesus is ast’ware uitgespel vir ons. Dan is daar ander aspekte wat ‘n bietjie moeiliker is om in die Bybel raak te sien. Dit is hier waar daar ‘n bietjie meer besprekings en motiverings in die gemeentevergadering gaan wees. Dan is daar regtig moeilike besluite wat geneem moet word omdat dit baie moeilik uit die woord van God toegelig word. Dit is hier waar ons as ’n gemeente saam moet poog om die sin van Jesus te vind.

Daar is drie baie belangrike vrae wat beantwoord moet word wanneer ons gemeente besluite moet neem:

Soos jy kan sien met betrekking tot my verwysing na die Skrif is die eerste vraag die volgende: “Is die oplossing Skriftuurlik?” Dit is van die uiterste belang vir die gemeente. Daar moet geen kompromieë aangegaan word in hierdie verband nie.

Die tweede vraag is die volgende: “Is dit in harmonie met die organiese struktuur van die huiskerk?” Weereens is dit van die uiterste belang vir die gemeente. As gemeentelede weer gebruike van die institusionele kerk in die huiskerk inbou is dit gewoonlik die begin van die einde. Weereens moet geen kompromieë aangegaan word nie. Die lewende organisme kan weer met reëls en regulasies, wat ons menslike instellings noem, doodgedruk word en net ‘n dooie menslike struktuur gaan oorbly.

Die derde vraag wat ons onsself moet afvra is of die oplossing ’n resultaat van die Christus lewe ín ons is? Neem ons hierdie besluit vanuit ’n “organisasie” perspektief? Weereens moet geen kompromieë aangegaan word nie. Alle aksies moet Gees werking wees en nie vlees werking nie. Menslike beheer moet nooit die oorweging vir besluite wees nie. Besluite net om te beheer, te kontroleer en te organiseer is vlees besluite.

Sterf in jouself is ‘n definitiewe vereiste vir effektiewe besluitneming

‘n Baie belangrike les wat almal moet leer in die kerk van God is dat die kerk van God groter en belangriker is as ons almal. Elkeen van ons is net ‘n lid van die liggaam van Christus. Ons is elkeen ‘n klein deeltjie van ‘n veel groter prent. Ons is nie die legkaart nie maar net een deeltjie van ‘n baie groot legkaart.

Baie keer moet ons die eie ek kruisig en bereid wees om die minste te wees in sekere situasies. Dit is waarom Paulus die broeders van al die gemeentes meer as een keer vermaan het om een van gees en een van gemoed te wees. Dit is ‘n besluit wat ons neem. Daar mag dalk verskillende opinies wees oor ‘n sekere saak maar Jesus sê: “Ek het die oplossing. Soek My en julle sal My vind. As julle My vind dan het julle die oplossing vir die probleem”.

As iemand dan wysheid kortkom moet hy dit van God bid wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt. Die gemeente moet leer hoe om die sin van Jesus korporatief as ‘n gemeente te vind. Dit is hoe God gevind wil word. Jesus werk altyd met die gemeente; die broeders en die susters. Hy is nie ‘n God van individue nie. Hy is ‘n God van ‘n familie, sý familie. Soos jy reeds gesien het, is daar weinig plek vir individualisme in die kerk van God; die liggaam van Christus is ‘n korporatiewe liggaam waardeur Hy Homself aan die verlore wêreld openbaar, die kerk is die korporatiewe tempel van God waarin Vader Hom tuis gemaak het, en die kerk is die korporatiewe bruid wat die vrou van die Lam is.

Ons as individue moet altyd die res van die liggaam, die res van die tempel en die res van die bruid akkomodeer en met deurnis en respek behandel. Ons moet altyd ons mede boeties en sussies konsidereer. Hulle is die heiliges van die Allerhoogste God. Ons moet laaste wees en nie eerste nie, ons moet dien en nie bedien word nie, ons moet die minste wees en nie die meeste nie, ons moet onsself verneder en nie verhoog nie, ons moet agter wees en nie voor nie, ons moet nederig wees en die een moet die ander hoër ag as homself. Dit is die gesindheid van Jesus en ons moet daardie selfde gesindheid openbaar. Dit is die kern van die huiskerk gemeente. Dit is ook die fondament waarop besluitneming in die huiskerk gemeente gebou is.

Nie net wanneer besluite geneem moet word nie maar elke dag met ons interaksie met mekaar is hierdie een van die belangrikste lesse wat ons moet leer. Dit is presies wat Jesus in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat ons elke dag ons kruis moet opneem. Hy kon net sowel gesê het dat ons mekaar moet verdra, lief moet hê en geduldig met mekaar moet wees. Dit is juis hierdie interaksie wat die karakter van Jesus in ons inbou.

Sonder hierdie tipe interaksie vind daar maar weinig geestelike groei of karakterbou plaas. Dit is die grootste rede hoekom senior mense van vyftig jaar en ouer nog steeds babatjies in die Here is. Hulle het nooit geestelik opgegroei nie. Dit is hier waar die gedeelde gemeenskapslewe van die huiskerk gemeente van onskatbare waarde is. Dit is dan ook waarom God die klein en intieme familie gemeente op aarde kom vestig het en nie mega gemeentes nie.

Omdat eensgesindheid en vrede vir God so baie belangrik is, is dit vanselfsprekend dat daar altyd mense gaan wees wat tydens besluitneming sessies sal moet sterf in hulleself en toegee tot die standpunt van ander. Partykeer moet jy maar die minste wees. Paulus het op verskeie plekke vir die gemeentes gesê om onderdanig teenoor mekaar te wees. Hy sê eintlik vir hulle die volgende: “Laat ander toe om jou te oorreed”. “Wees inskiklik”. “Wanneer iemand jou advies gee, wees oorreedbaar”.

Konsensus of eensgesindheid kan nie bereik word as Paulus se raad nie gevolg word nie. Gewoonlik is ouderlinge se raad goed en kan die jonges in die Here net veilig optree deur oorreedbaar te wees. Aan die ander kant is dit nie ‘n uitgemaakte saak dat die ouderlinge se advies korrek is nie. Dit is juis om hierdie rede dat ouderlinge nie die reg het om hulle wil op die res van die gemeente af te dwing nie. Hulle moet óók oorreedbaar wees. Daar moet konsensus bereik word deur almal in die gemeente. Niemand mag uitgeskakel word nie.

Wat maak ons as konsensus nie bereik word nie?

In so ‘n geval moet die “status quo” gehandhaaf word tot konsensus bereik word. Die verandering mag nie deurgevoer word nie. As dit gaan oor die implementering van ’n nuwe kwessie of aspek dan mag dit nie geïmplementeer word tot konsensus bereik is nie. As dit gaan oor die verandering of staking van ’n ou kwessie of aspek dan mag dit nie gestaak of verander word tot konsensus bereik is nie. Die vergadering moet maar verskeie kere verdaag tot konsensus bereik word. Gewoonlik kan tyd ‘n hulpmiddel wees om uiteindelik konsensus moontlik te maak.

In so ‘n geval word die gemeente se gesindheid en geestelike volwassenheid tot die uiterste getoets. Dit is hier waar God eintlik vir ons wys wat in ons is. Hier kom dan goedjies na vore wat ons nie geweet het in ons is nie. Hierdie is ook goeie teelaarde vir karakterbou wat ons nie by ons verby moet laat gaan nie. En as ons bereid is om in hierdie omstandighede te weier dat leerstellige verskille ons uitmekaardryf, dan kan God ons as ‘n eenheid so aanmekaar weef dat niks ons sal kan skei nie.

As die gemeente hier vasskop en die gesindheid van Jesus openbaar en elke gemeentelid bereid is om in homself te sterf sal die volgende ‘n werklikheid word:

Die gemeente sál en gáán altyd konsensus bereik.

Almal sal tevrede wees oor die besluite wat geneem is al is dit nie wat almal aanvanklik wou gehad het nie. Uit die aard van die saak gaan party lede meer entoesiasties wees as ander maar tog sal daar wel ’n gesindheid van tevredenheid wees.

Die gemeente gaan geestelik verryk en sterker daaraan toe wees as toe hulle begin het.

Die gemeente gaan ‘n hegter eenheid wees.

Dit sal ‘n korporatiewe besluit wees omdat konsensus bereik is. Om hierdie rede sal almal eienaarskap en verantwoordelikheid aanvaar vir die gevolge van die besluit. Daar sal nie murmurering of suur druiwe wees nie, want die hele gemeente besit die besluit wat geneem is.

Daar sal ‘n gevoel van vervulling wees omdat die gemeente die sin van Jesus gesoek het en gevind het. God sal hulle beslis bekend maak dat hierdie oorwinning Hom behaag het. Nie net oor die regte besluit geneem is nie maar ook oor hoe die besluit geneem is. Eenheid, gemeenskap, liefde, aanvaarding en deelname is in die Christelike gemeenskap selfs belangriker as die besluite wat geneem moet word. Vir God is dit eintlik belangriker in watse gesindheid die besluitneming proses uitgevoer is as die besluit self!

Konsensus is nie altyd maklik nie

Niemand kan ontken dat konsensus nie altyd die maklikste pad is nie. Dit kos altyd ‘n prys om die wil van God uit te voer. Dit is egter sonder twyfel die regte pad:

Die verantwoordelikheid rus op elke gemeentelid om die sin van Jesus te soek.

Elke gelowige moet leer om geduldig met mekaar in liefde te stoei totdat die sin van Jesus korporatief gevind word. Hoe stoei ons in liefde? Saggies maar ferm. Ons maak mekaar nie seer nie.

Dit bou die gemeente.

Dit kweek geduld.

Dit kweek wedersydse liefde en respek.

Dit beperk die vlees en self vergelding.

Dit bevorder die opneem van die kruis van Christus.

Dit bevorder die “sterf in jouself” wat eie wil en agendas betref.

Dit is absoluut die prys werd.

Dit gee God die geleentheid om met ons te werk.

Verkeerde besluite word baie effektief uitgeskakel as gevolg van die dinamiek en die aard van konsensus (Besluite word uitgestel totdat konsensus bereik word).

Dit vereis sterk verhoudings.

Dit vereis wedersydse liefde.

Dit vereis toewyding tot ander meer as die begeerte om hulle te oorreed of te ontspoor.

Konsensus erken dat liefde, eenheid, verhoudings, kommunikasie en deelname belangriker is as vinnige besluite.

Konsensus kweek ‘n gesindheid van saamhorigheid.

Dit bevorder die sin van gemeenskap en saamklewing.

As ‘n gemeente eventueel nie konsensus kán bereik nie, kan hulle die saak na een of twee van die vyfvoudige bedienaars verwys wat hulle kan help om konsensus te bereik. Dit moet egter net gedoen word as daar geen hoop meer is om konsensus te bereik nie. Dit is eintlik ‘n teken van die geestelike onvolwassenheid van die betrokke gemeente en die vyfvoudige bedienaars sal ongelukkig moet help in so ‘n geval.

Ek wil net ‘n paar laaste woorde sê oor konsensus, of miskien moet ek liewer dat die Skrif self praat oor die wysheid wat in God is en wat Hy vrylik aan ons beskikbaar gemaak het deur sy Gees, sy woord en sy Seun:

1 Kor. 2:9-16

maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet. Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Dissipline in die huiskerk

Die hele gemeente is verantwoordelik vir die handhawing van dissipline in die huiskerk. Net soos wat daar informele interaksie plaasvind in die natuurlike gesin vind dit ook in die geestelike “gesin” plaas. Dit is amper vanselfsprekend dat iemand iewers gaan oortree en ook vanselfsprekend dat daar met oortredings gedeel moet word. Oortredings kan nie oorgesien word nie omdat dit tot verdere probleme en ontevredenheid kan lei. Interaksie in die familie van God is altyd informeel van aard en daarom moet dissipline ook informeel hanteer word. Dit moet nooit ’n uitgerekte traumatiese en formele ondervinding vir enigiemand wees nie. Die doel van dissiplinêre aksie is om eensgesindheid en vrede in die gemeente te bewerkstellig:

1 Kor. 1:10

Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees en dat daar geen skeuring onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.

Die hele boek van Korintiërs is ’n “pleidooi” van Paulus waarin hy die gemeente van Korinte aanspoor en motiveer om self dissipline in die gemeente te handhaaf en dissiplinêre aksie toe te pas. In die boek gee hy duidelike leiding oor korrekte optrede en korrekte dissiplinêre aksie. Volgens 1 Kor. 6:1-11 mag broers in die gemeente nie mekaar na howe of regbanke toe vat nie. Paulus beskou dit as ’n skande en dat ons liewer maar skade moet ly terwille van die Naam van die Here. Wanneer iemand teen ’n enkele gemeentelid oortree het pas ons die Bybel gefundeerde metode toe om die geskil op te los. Jesus het vir ons volgens Matt. 18:15-17 voorgeskryf hoe ons ons broeders in die gemeente moet behandel:

En as jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broer gewin; maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat dit in die mond van twee of drie getuies elke woord kan vasstaan. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.

Hier is dit baie duidelik uiteengesit vir die gemeentelid in die gemeente. Hy moet sy broer verleentheid spaar deur die saak privaat te hanteer. As sy broer nie wil luister nie is daar vir hom geen ander opsie as om dit bekend te maak nie. Word die saak of kwessie nie opgelos nie wat doen ons dan? Die man het nie na die gemeente geluister nie en “ek” behandel hom nou soos ’n ongeredde mens. Die probleem bly egter onopgelos. Hoe nou gemaak? Jesus is baie duidelik hieroor toe Hy vir Petrus ’n paar versies verder aan antwoord (vers 22): “Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe…” Verder bly net vergifnis. Geen verdere aksies en oordeel nie.

Wat van boeties en sussies wat besig is met ernstige sondige aktiwiteite? Hoe hanteer ons hulle? Paulus verwys in 1 Kor. 5:1 na ’n man wat besig is met hoerery. Dit is ’n ernstige oortreding veral omdat die vrou wat saam met hom bly die vrou van sy vader is. Dit kan nie in die gemeente toegelaat word nie. Daar móét aksie geneem word. Paulus is baie duidelik daaroor in 1 Kor. 5: 5-7

Om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ‘n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus.

Dit klink erg maar Paulus se oordeel in hierdie verband maak sin. As die gemeente hierdie tipe leefstyl toelaat sal dit uiteindelik tot die ondergang van die hele gemeente lei. Volgens vers 8 moet ons as gemeente feesvier met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid. In vers 9 tot 12 sê Paulus dat ons nie met hoereerders kan omgaan nie, al staan so ’n persoon bekend as ’n “broeder” van die gemeente. Nie net hoereerders nie, hy noem ’n hele lysie van sondes wat onaanvaarbaar is. Volgens Paulus moet ons as die gemeente, volgens vers 12, die mense wat binne die gemeente is oordeel. Paulus se laaste aanbeveling is baie duidelik (vers 13): “Verwyder tog dié slegte mense onder julle uit

Dit staan buite alle twyfel wat die gemeente se verantwoordelikheid is. As ambassadeurs van die Allerhoogste God moet ons onberispelik wees in ons optrede en in ons handel en wandel. Wanneer sulke gedrag kop uitsteek moet ons die hele gemeente saamroep vir ’n vergadering en ’n besluit neem met betrekking tot die dissiplinêre aksie wat geneem moet word en dit uitvoer. Dit moet in ’n baie mooi gesindheid gedoen word maar daar moet ferm en daadwerklik opgetree word. Ons kan nie onverantwoordelik daarmee deel nie. Dissipline is belangrik maar die wyse hoe ons dit toepas ook. Ons kan nie dinge net oorsien nie maar ons moet dit ook op ‘n volwasse en ’n verantwoordelike wyse uitvoer.

’n Belangrike faktor wat altyd in berekening geneem moet word, is die herhaling en aard van die sondige aktiwiteit. Is dit ’n leefwyse by die betrokke persoon of is dit die resultaat van ’n persoon wat nog nie ver gevorder het in sy heiligmaking proses nie? Ons het wysheid nodig om hierdie kwessies korrek te hanteer en daarom moet ons die sin van Jesus soek en daarom moet ons as ’n gemeente saam bid vir wysheid. Moenie vergeet nie; soos met alle gemeente kwessies moet ons ook met dissiplinêre aksie konsensus bereik voor ons die besluit kan deurvoer.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry sommer nou die boek, “Bybel gefundeerde leierskap”, op die “Hulpmiddels” bladsy.  

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts