Vyfvoudige bedienaars: Geestelike termometers

Kyk net na die foto van hierdie mooi huis hierbo! Wat sien ons onmiddelik as ons daarna kyk?

Ons sien ‘n mooi en ‘n skoon huis wat heiligmaking simboliseer. Ons sien oop en skoon vensters wat vredevolle en eerlike uitreiking na buite simboliseer. Hier is geen sprake van ‘n verskuilde agenda nie. Ons sien lig wat verlossing simboliseer. Ons sien ‘n huis wat omring is met bome en groen gras. Dit simboliseer mense en dit simboliseer vrede en voorspoed.

Dit is hoe elke Gees vervulde gemeente van God moet lyk. Dit is altyd die mikpunt of aspirasie van elke goeie en getroue vyfvoudige bedienaar van God. As vyfvoudige bedienaars is hulle almal besig om huise (gemeentes) te bou. Partykeer bou hulle sommer so saam aan dieselfde huis. Hulle maak reg wat stukkend is. Hulle sny die gras. Hulle verf die huis weer oor wanneer dit nodig is. Hulle herstel daklekke. Hulle inspekteur en hulle maak reg.

Dit is baie belangrik om hier te noem dat dit die vyfvoudige bediening se werk is om huis gemeentes te besoek en hulle te help om deur al die groei fases te kom. Hulle is geestelike termometers. Hulle bedieningswerk in die liggaam van Christus is om die gemeentes te besoek en die geestelike kondisie van die gemeentes te meet. Hulle vat ast’ware die gemeente se temperatuur en identifiseer afwykings of substandaard kondisies. Hulle monitor situasies en help die gemeente herstel as hulle ‘n bietjie olik of siek is. Hulle help om probleme te identifiseer, hulle gee advies, hulle rus die gemeentes toe om te herstel van probleme wat in die verskillende groei fases opgedoen is. Hulle leer die gemeentes hoe om te ontwikkel en hoe om mekaar te ondersteun om geestelike groei te bevorder.

Dit is juis waarom die vyfvoudige bediening se funksie so belangrik is. Die kerk kan nie sonder hulle nie. Hulle is deur God gegee om deur die krag en die openbaring van die Heilige Gees hierdie observasies te maak en te help om dit reg stel.

Hulle help, hulle stig, hulle bemoedig, hulle gee baie belangrike insettinge maar uiteindelik hang dit af hoe die gemeente hulle advies toepas en elke situasie hanteer. Die vyfvoudige bedienaar is net ‘n raadgewer. Hy neem nie besluite of beheer oor nie. Tydens die besluitneming proses van die gemeente staan hy eenkant. Hy neem nie saam deel aan die lokale gemeente se besluitneming proses nie. Hy mag dalk teenwoordig wees en raad gee tydens ‘n besluitneming vergadering maar dit is so ver as wat sy insettinge gaan.

Wat kan verkeerd loop in ‘n huiskerk gemeente?

‘n Huiskerk gemeente kan die pad heeltemal byster raak. Hulle kan baie maklik en baie gou heeltemal afwyk van die ware aard van ‘n outentieke huiskerk. Hierdie afwykings neem hulle mettertyd al hoe verder van die wil van God af en die uiteinde van die gemeente is dan gewoonlik disintegrasie of kerkskeuring.

Van die belangrikste redes vir afwykings is onkunde: Gemeentelede weet nie wat die aard en dinamiek van die ware outentieke Bybel gefundeerde huiskerk is nie. Dit is juis om hierdie rede dat die Huiskerk handleiding deeglik deurgewerk moet word voordat die gemeente begin funksioneer as ‘n nuutgebore gemeenskap van heiliges. Almal moet vertroud wees met die beginsels wat die Nuwe-Testamentiese huiskerk beheer. As almal weet waaroor dit gaan skakel dit baie frustrasie en probleme uit. Nuwe lidmate moet ook op hoogte gebring word met hierdie Bybelse beginsels wat die fondasie uitmaak van gesonde huiskerk gemeentes. Die huiskerk handleiding of CD’s moet aan hulle gegee of geleen word sodat hulle dit kan deurwerk indien moontlik. As die groep egter op Jesus gefokus is dan het hulle alles wat hulle nodig het om suksesvol te bly staan deur al die beproewings heen. Niks sal hulle onder kry nie.

Dit gesê, moet ons aanvaar dat ons in die wêreld baie uitdagings die hoof moet bied. Ons moet die wêreld oorwin. Daar is magte teen ons, nie almal boos nie maar net so genadeloos. Die “eie ek” en die “eie wil” byvoorbeeld. Ons moet waak teen ons vyande in ons geloof wandel. Die Engelse spreekwoord is hier ook baie waar: “Prevention is better than cure”. Die alternatief is om probleme so gou moontlik te identifiseer en reg te maak voordat skade aangerig word. Daarom is gereelde besoeke deur al vyf die vyfvoudige bedienaars baie noodsaaklik. Elkeen het sy funksie in die liggaam van Christus en elkeen fokus op sy funksie.

Die herder is gefokus op afwykings met betrekking tot herderskap in die gemeente. Hy sal op die ouderlinge fokus en op die welstand van die gemeente. Hy is besorg oor welstand en verhoudings. Die Heilige Gees sal hom lei om in hierdie areas te bedien. Hy sal openbarings deur die Heilige Gees in hierdie areas ontvang en aanspreek.

Die gemeente se aandag en ywer is onder andere dalk te veel gefokus op “fellowship”. Moenie ‘n fout maak nie, “fellowship” is die fondasie waarop die pilaar van die gedeelde gemeenskapslewe staan en is baie belangrik. Die gemeente kan egter te veel “fellowship” en ‘n wanbalans in gesindhede openbaar. Daar is gewoonlik tekens daarvan soos ‘n kondisie van te veel sorg en fokus op ons as groep en niks en niemand anders buite ons groep nie. Die Engelse spreekwoord noem dit: “Us four and no-more”. So ‘n groep kry gewoonlik nie mense by nie.

Mense word genooi en hulle besoek wel die gemeente. Hulle skakel egter nie in nie, want hulle tel ‘n “vibe” op. Die “vibe” sê julle is welkom om te besoek maar moenie inskakel nie. Ons is ‘n oulike groepie en alles is “hunky-dory” hier by ons. As julle inskakel kan dit dalk die harmonie kom verstoor. So ‘n groepie reik dan ook nie uit na buite nie. Hulle weet nie van ander mense se ellende, pyn en verdriet nie en is net op hulle eie probleme gefokus. Hulle is naderhand werklik glad nie bekommerd oor ander mense nie.

Die herder behoort hierdie afwyking baie vinnig te identifiseer en moet dit dan aanspreek. Hy moet die gemeente op ‘n baie diplomatiese manier in kennis stel wat hy observeer of wat die Heilige Gees op sy hart lê. Hy moet hulle vertel van die gevolge van so ‘n gesindheid. Hulle is soos ‘n dam wat geen uitvloei het nie. Daar is ‘n invloei maar hulle gee niks uit nie. So ‘n gemeente is nie soos ‘n sprankelende rivier wat lewe gee nie. Dit is soos ‘n vuil dam wat vir hulleself opgaar. Hulle kan die seëninge egter nie alles self gebruik nie en dit begin verrot en dryf in die water rond. Hulle is eintlik besig om hulleself te isoleer. Die opbouende hupstoot wat hulle moes kry elke keer wanneer nuwe mense inskakel het nie gebeur nie en nou pluk hulle die wrang vrugte daarvan. Nuwe mense bring nuwe dimensies en nuwe groei geleenthede in die gemeente in.

So ‘n gemeente begin mettertyd stagneer en die isolasie begin sy tol eis. As hierdie kondisie nie reggestel word nie sal die gemeente uiteindelik disintegreer of opbreek. Hulle moet tot die besef kom dat hulleself belangriker geword het as Jesus. Hul verhouding met Hom, as gemeente, is nie meer gesond nie.

Wanneer ‘n leraar die gemeente besoek raak hy byvoorbeeld bewus van ‘n kondisie wat hy identifiseer as kortsigtigheid met betrekking tot leerstellings. Die groep is byvoorbeeld behep met ‘n spesifieke onderwerp of leerstelling en dit is al waaroor hulle kan praat of gefokus is. Hulle is byvoorbeeld behep met die eindtyd leerstellings of Goddelike genesing. Daar is nie ‘n balans met betrekking tot hulle fokus nie. Hulle is so behep met “hulle” leerstelling dat hulle die groter prentjie totaal verloor het. Alles draai om hierdie leerstelling. Wanneer nuwe mense inkom word hulle dadelik gepols om hulle standpunt of opinie aangaande hierdie leerstelling vas te stel. Dit sal dan ook bepaal hoe hulle in die groep aanvaar gaan word.

Dit is hier waar die leraar die groep met positiewe lering moet wys daarop dat geen leerstelling vir Jesus Christus kan vervang nie. Jesus behoort eintlik die fokuspunt van ons almal te wees. Daar waar almal om Hom vergader en Hom altyd die middelpunt van hul aandag en fokus maak, daar sal balans, vrede en oorwinning wees. Jesus maak onmiddellik die groter prentjie duidelik. Hy openbaar sy globale wil omtrent alles. Hy bring ons op hoogte met sy prioriteite en dit wat vir hom belangrik is. Hy wys ons wat ons ewigheid doel is en Hy bring Goddelike doelgerigtheid in ons lewens. Fokus op Jesus en alles val in plek.

Soek eers die koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir jou bygevoeg word. Hier sien ons dat ons fokus nie op die bymekaarmaak van aardse besittings moet wees nie.

Ons moet weet wat sy koninkryk beginsels is. Ons moet uitvind watter wette beheer sy koninkryk. Ons moet weet hoe ons moet optree en watter handelings is nie volgens God se koninkryk beginsels nie. Een beginsel sê “reik uit na ander”. ‘n Ander beginsel sê “gee om vir mekaar en sorg vir mekaar”. ‘n Ander beginsel sê “saai en jy sal maai”.

Die leraar moet rigting aanwys met betrekking tot God se koninkryk beginsels. Dan sal geestelike groei plaasvind en die gemeente kan volwasse status bereik. Die apostel of die leraar identifiseer byvoorbeeld ‘n kondisie van geestelike hongersnood. Die gemeente het net nie genoeg openbarings woord in hulle nie. Die tekens daarvan is duidelik sigbaar: Net ‘n paar mense neem aktief deel in die byeenkomste. Die meerderheid is passief en totaal van hierdie klein groepie binne die groot groep afhanklik. Daar is nie geestelike diepte in die byeenkomste nie. Alle besprekings en aktiwiteite is oppervlakkig. ‘n Mens kan duidelik sien die groepie leef op melk en nie vaste spys nie. Hulle is geestelik ondervoed.

Hulle praat nie oor Jesus buite die byeenkomste nie en dit is duidelik dat hulle nie juis weet waarheen hulle op pad is nie. Hierdie kondisie kan baie maklik reggestel word. Die gemeente het net ‘n goeie dosis geestelike voedsel nodig. Die apostel of die leraar moet dit onmiddellik vir hulle gee. Ek stel voor dat spesiale lering sessies gereël word. Elke gemeente moet die regte geestelike voedsel eet, hulle moet ‘n gebalanseerde maaltyd geniet en hulle moet leer hoe om hierdie voedsel met ander te deel.

Op dieselfde wyse sal die profeet ook kondisies in die groep identifiseer. Hy sal observeer of deur Gees openbaring weet of die groep visieloos is of ‘n verwronge visie vir die groep het. Hy sal profeties bedien en rigting aanwys. Die profeet bring weereens gebalanseerdheid met betrekking tot die visie van die groep. Die visie is weereens nie iets nie maar die persoon Jesus Christus. Hy moet meer word en hulle minder. Hy moet die fokuspunt in alles en almal wees.

Hy sal God se wil vir die spesifieke groep en vir spesifieke individue in die groep aanwakker. Hy sal weet waar die aanpassings gemaak moet word. Hy sal God se wil aan hulle bekend maak. Hy sal so ’n vlugtige lig skyn op die geestelike pad wat hulle moet loop. Hy sal hulle stig en bemoedig en deur handoplegging die geestelike gawes en die doping in die Heilige Gees in hulle aanwakker.

So ook die apostel of enige ander vyfvoudige bedienaar wat in hierdie area ‘n salwing het. ‘n Gemeente wat nie die doping in die Heilige Gees deelagtig is nie sal nêrens kom nie. Hulle het reeds gefaal nog voor hulle begin het.

Die vyfvoudige bediening mag dalk ook ‘n kondisie van “verslawing aan Gees gawes” by ‘n groep onderskei. Maak weereens geen fout nie, die Gees gawes is die fondasie van “geestelike bediening” in die huiskerk gemeente. ‘n Mens of ‘n groep kan egter ook hier uit balans raak. Ons herken hierdie toestand wanneer mense absoluut gefokus is op die Gees gawes. Dit is al waarvoor hulle lewe. Hulle jaag net wonders en tekens agterna. Hulle wil ten alle koste ervarings beleef deur die Heilige Gees in aksie te sien en te voel. As hulle niks sien of voel nie is hulle diep teleurgesteld. Vir hulle draai alles om tekens, wonders, profesieë, tale, sensasie en gevoel. Hulle wil God ten alle koste met hulle fisiese sintuie ervaar.

Mense met hierdie gesindheid is ook maar geestelik nog onvolwasse. Dit is werklik nie al waaroor dit gaan nie. Daar is ander dimensies van God wat niks met die gawes van die Gees te doen het nie. Ons dink aan die vrugte van die Gees soos liefde. Dan is daar goed soos aanvaarding, stil wees en geloof. Partykeer is dit juis ons geestelike volwassenheid wat vir Jesus en die Heilige Gees die vrymoedigheid gee om sommer net saggies met ons in ons gees te werk. Daar is geen gevoel of gebeurtenis nie maar Hy het sy doel in ons bereik soos Hy wou. Partykeer móét God se werk in geloof geskied en nie in krag nie omdat dit juis ons geloof versterk.

Partykeer moet ons behoeftes nie in kragtige Gees werking voorsien word nie maar in die outomatiese resultaat van gehoorsaamheid. Partykeer moet ons die stryd aansê en nie net van God verwag om ons probleme met ‘n “towerstokkie” op te los nie. Ons kan nie net “partytjie” hou nie en ons kan nie net Gees werking geniet nie. Ja, word dronk in die Gees maar onthou, die fokus moet altyd op Jesus wees. Die liedjie sê: “We seek the Giver, not the gifts”.

Jesus is die enigste Persoon of rede waaroor ons absoluut behep mag raak. Moenie terughou nie. Jy hoef geen balans te hou wanneer dit by Hom kom nie. Raak tot jou ore toe verlief op Hom en word ‘n “Jesus freak”. Aanbid Hom, geniet Hom, baljaar in sy teenwoordigheid soveel as wat jy wil. Hy is die Bruidegom en Hy verdien dit!

Die vyfvoudige bedienaars moet dan hierdie en soortgelyke kondisies in die gemeente identifiseer en saam met die gemeentes moet dit reggestel word. Net in ‘n goed gebalanseerde gemeente, waar die fokus Jesus is en al die ander goed in ‘n mooi balans teenoor mekaar lê, sal geestelike groei dinamies wees.

Jesus is altyd die oplossing vir al ons probleme

Ek het laat deurskemer dat die vyfvoudige bediening altyd, in alle omstandighede, die fokus weer op Jesus plaas om die probleme in die gemeentes op te los. Hoekom volg hulle altyd hierdie beginsel?

Die apostels het ‘n openbaring van ‘n asemrowende, majestueuse Jesus gehad. Dink ‘n bietjie daaraan: Jesus het vir veertig dae lank aan hulle verskyn ín sy verheerlikte liggaam. Hy het hulle geleer en intens insae in hul lewens gemaak tydens daardie tyd. Hulle het belewenisse ervaar in daardie tyd wat hulle nooit sou vergeet nie. Dit was soos om in die Hemel te wees. Hulle het Jesus geken en Hy het ‘n groot indruk op hulle gemaak. Hulle was deurweek met Hom en sy Gees.

Hulle het dit egter nodig gehad want om die koninkryk van God te vestig op aarde in die vyandige omgewing waarin die apostels en die vroeë kerk hulle bevind het, sou nie maklik wees nie. Die apostels het twee groot probleme in die gesig gestaar: Die Jode en die Romeine.

Die Jode se aanslag was tweërlei van aard. Eerstens was daar die Joodse geloof met sy leiers wat Jesus verwerp het. Hulle godsdiens is ontmasker en hulle posisies as selfaangestelde leiers is bevraagteken (Onthou, God het nooit die Fariseërs en die Sadduseërs aangestel nie – die bestaan van hierdie leiers was ’n menslike instelling). Hulle hele geloof, waardesisteem, beginsels en die relevansie van hulle verhouding met God is bevraagteken en aan die kaak gestel. Jesus het hulle blootgestel. Hy het duidelik kom uitwys dat wat hulle gedink het van God is, eintlik maar net menslike tradisie en oorlewering was. Hulle het Jesus gehaat en later die apostels gehaat en sou nie rus tot almal uitgewis was nie.

Dan was daar nog die jaloesie oor die Christelike geloof so vinnig toegeneem het. Die boek Handelinge sê dat die Here daagliks bygevoeg het by die gemeente en dat die Christene guns geniet het in die oë van die hele volk. Die Jode was dan ook, as gevolg van jaloesie, verantwoordelik vir genadelose vervolging en die Christene het swaar gekry onder hulle. Die Christene was uiteindelik heeltemal uitmekaar gedryf namate meer en meer van hulle gestenig is en doodgemaak is.

Tweedens was daar die Joodse Christene. Hulle het Jesus aangeneem maar wou net nie hulle Joodse tradisies en heilige koeie opgee nie. Hulle was vir Paulus ‘n groot frustrasie. Oral waar hy gemeentes gestig het en die volkome verlossingswerk van Jesus geleer het (die genade daad van Jesus waar menslike werke geen rol speel nie maar alles uit genade ontvang word), het hierdie “valse” apostels knaend die “heidense” Christelike gemeentes besoek en hierdie wettiese verordeninge kom leer. Hulle was soos skelm wolwe wat die skape in die nag infiltreer en hulle geloof kom besoedel het met Joodse tradisies.

Om hierdie bedreiging die hoof te bied was juis een van die redes hoekom Paulus die sendbriewe moes skryf. Hy moes gedurig probeer red wat te red is en vals leringe regstel met die onvervalste woord van God. Hierdie “wolwe” was ‘n bedreiging vir die huiskerk gemeentes en vir baie lank ‘n groot frustrasie in die koninkryk van God. Hulle het alles probeer afbreek wat die apostels gebou het en het dit baie keer reggekry. Hoekom het Paulus hulle optrede in so ‘n ernstig lig beskou? Omdat ‘n “genade geloof” die fondament is waarop die kerk gebou word. ’n “Werke geloof” bring self geregtigheid wat eintlik die verlossingswerk van Jesus verwerp. ’n “Werke” geloof is niks anders as ’n dooie godsdiens nie. Die “werke geloof” lyk goed maar die uiteinde daarvan is die dood. Paulus het die gemeentes knaend gewaarsku met die volgende woorde: “As iemand enige ander geloof as net Jesus Christus verkondig, vervloek is hy”, “moenie so ’n persoon by julle ontvang nie”.

Vandag in die huiskerk gemeenskap het ons nie meer hierdie Joodse bedreiging wat oor ons koppe hang nie. Daar is tog steeds mense wat soortgelyke leringe en byvoegsels promoveer. Hulle probeer altyd die “genade” werk van Jesus Christus met ‘n Jesus plus geloof vervang. Jesus is nie genoeg nie. Daar moet altyd iets bygevoeg word. Dit is ’n groot gevaar vir huiskerke. Dan is daar ook Christene wat allerhande Joodse tradisies in die kerk probeer invoer: “raak nie aan nie”, “smaak nie”, “Joodse vakansiedae en Oud Testamentiese Joodse feeste”, “die blaas van sofars”, “die waai van baniere”, “Joodse gebed tjalies”, ander kledingstukke, artikels en so meer.

Dan was daar die Romeinse ryk om mee rekening te hou. Die hele ryk was deurweek met heidense gelowe. Een van die redes wat hierdie afgode diens so aangehelp het, was die vrede wat daar in die ryk geheers het. Die lande wat in die Romeinse ryk opgeneem is kon effektief met mekaar handel dryf omdat baie gunstige omstandighede hiervoor geheers het. Daar was hoofpaaie wat regdeur die ryk al die vername stede aanmekaar gekoppel het en almal kon vrylik rondbeweeg en dit het die ekonomiese kondisie van die hele Romeinse ryk positief beïnvloed. Hierdie gunstige omstandighede het natuurlik ook die Christelike geloof gepas.

Die lande wat in die Romeinse ryk opgeneem was, was oor die algemeen tevrede om deel van die ryk te wees as gevolg van die voordele wat dit ingehou het. Israel was egter nie tevrede daarmee nie. Die heidense gelowe en gebruike het hom dwars in die krop gesteek en die beloftes van God in die Ou Testament dat hulle nooit oorheers sou word nie, het dit vir hulle ondraaglik gemaak in die ryk. Die Jode het natuurlik vergeet dat God se beloftes kondisies gehad het waaraan hulle nie voldoen het nie. Een van hierdie heidense gelowe in die Romeinse ryk was mense aanbidding. Sommige van die Romeinse keisers het van die mense verwag om hulle te aanbid. Mense wat geweier het om dit te doen is baie keer wreed gemartel en dood gemaak.

Ons kan ons indink dat die Jode en die Christene swaar gelei het onder hierdie omstandighede. Keiser Nero in 54-68 NC en Keiser Domitian in 81-96 NC het baie Christene maar ook Jode wreed gemartel en vermoor. Nero het Christene in olie geweek en hulle dan lewendig saans in sy tuin aan die brand gesteek om as straatlampe te dien. Domitian was nog erger in sy vervolging van Christene. Toe hy aan bewind was, het hy die Keiser aanbidding tot die uiterste gedryf. Die ergste en wreedste vervolging van Christene was egter tydens die heerskappy van Diocletian in 286-305 NC en Galerius in 305-311 NC. Baie kinders van God het in dié tyd as martelare gesterf. Daar is nooit amptelik rekord gehou van die aantal martelare wat tydens die Romeinse periode gesterf het nie, maar ‘n skatting van tussen 1 en 3 miljoen oor ‘n tydperk van 250 jaar word algemeen aanvaar. Dit was donker tye in die geskiedenis van die kerk maar tog het die Christelike geloof steeds baie vinnig gegroei.

Dit was in hierdie tye wat Christus sy koninkryk kom vestig het. Die apostels en die kerk het regtig groot uitdagings gehad maar het regtig iets gehad wat hulle bonatuurlik versterk het om staande te bly en die oorwinning te behaal. Wat was dit?

Hulle het ‘n Jesus geken wat jou laat snak na jou asem. Hulle was deurweek met Hom. Hy was so groot ín hulle dat geen uitdaging, probleem, situasie of kondisie enigsins ‘n kwessie was nie. Dit is hoekom hulle bly staan het en dit is hoekom hulle oorwinning gehad het in alle omstandighede.

Dit was die fondasie waarop die apostels gestaan het. Dit was ook die fondasie waarop die vroeë gemeentes gestaan het. Hoe kon die vroeë gemeentes ook op hierdie selfde fondasie gestaan het? Hulle het nie dieselfde ervarings met Jesus gehad as wat die apostels gehad het nie of hoe? Hy het mos nie vir veertig dae aan elke gemeente verskyn nie, of het Hy?

Die antwoord is voor die hand liggend. In die vroeë kerk het die apostels en die res van die vyfvoudige bediening hierdie fondasie in die huis gemeentes ingebou. Dit was dié fondament wat hulle gelê het. Daar was geen reëls, regulasies en konstitusies in werking gestel om hulle te beheer nie. Niks het die gemeente beheer of gemeentelede se gedrag gereguleer nie behalwe Jesus, die Persoon. Die antwoord vir elke probleem was altyd net Jesus. Omdat die apostels so met Jesus deurweek en begeester was, het hulle geweet dat Hy al is wat die gemeentes nodig het. Niks anders was gekonsidereer nie. Ons lees daarvan in 1 Kor. 3:11-12:

Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus. En as iemand op dié fondament bou goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi, stoppels – elkeen se werk sal aan die lig kom…

Jesus is die fondasie. Hy is ook die goud, die silwer en die kosbare stene. Die plus en allerhande leerstellings, bedienings, idees, opinies, konstitusies, agendas en geestelike belangstellings is die hout, die hooi en die stoppels. Paulus sê ’n bietjie verder aan dat die dag sal kom dat dit deur vuur openbaar gemaak gaan word. Die vuur gaan die hout en die hooi en die stoppels verbrand. Daar sal daarvan niks oorbly nie, want die wind sal tot die as wegwaai. Daarom sê hy dat ons versigtig moet wees hoe ons op hierdie fondasie bou.

In elke huiskerk planter se lewe kom daar altyd die versoeking om iets anders te bou. Ons moet ons egter daarvan weerhou. Paulus het vir ons die voorbeeld kom stel. Hy het geweet wat is die Goddelike oplossing vir elke situasie. Kom ons kyk ‘n bietjie met watse probleme Paulus gekonfronteer was:

1 Kor. 1:10-13

Maar ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening. Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop?

1 Kor. 3:2-4

Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie? Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos — is julle nie vleeslik nie?

1 Kor. 5:1-3

n MENS hoor waarlik van hoerery onder julle, en hoerery van so ’n aard as wat selfs onder die heidene nie bekend is nie: dat iemand die vrou van sy vader het. En tog is julle opgeblase in plaas dat julle liewer getreur het, sodat hy wat hierdie daad gedoen het, kan verwyder word onder julle uit…

1 Kor. 6:1-11

Durf iemand van julle wat ’n saak teen ’n ander het, gaan reg soek voor die onregverdiges en nie voor die heiliges nie? Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge? As julle dan alledaagse regsake het, moet julle dié persone daaroor laat sit wat in die gemeente die minste geag word. Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie? Maar gaan die een broeder met die ander na die regbank, en dit voor ongelowiges? Dan is dit al werklik ’n gebrek onder julle, dat julle regsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie? Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders. Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.

Hierdie is probleme wat Paulus met die gemeentes in Korinte gehad het. Ons praat nie eens van die ander gemeentes in ander stede of dorpe nie. Net in Korinte was dit al klaar erg genoeg. Kyk waarmee hy gesit het; ernstige goed soos kerkskeuring, tweedrag, twiste, jaloersheid, vleeslikheid, dwaling, hoerery, ander sondige optrede, wêreldse gedrag en so meer. Ek wonder hoe sou die kerk vandag sulke probleme in gemeentes opgelos het?

Paulus het hom weerhou daarvan om allerhande planne, idees en maatreëls in plek te stel. Hy het hom daarvan weerhou om beheer te neem. Hy het hom weerhou daarvan om ‘n deksel op die vry deelnemende aard van die gelowiges se byeenkomste en leefwyse te plaas. Nee, hy gaan hulle nie beperk nie. Hy het geweet dat die gemeente hulle fokus van Jesus afgehaal het. Hy het geweet die gemeente het net weer ‘n konfrontasie met daardie asemrowende majestueuse Jesus nodig. Hy het geweet Jesus is die antwoord. Hy het geweet dat as Sy liefde en sy Gees weer die gemeente deurweek, dan sal sý wil en sý liefde weer seëvier en hierdie vleeslikheid onder hulle verwyder. Paulus se rede en prediking was nooit in wysheid nie maar in Gees. Ons weet ook dat die Gees altyd die fokus op Jesus plaas. Kyk hoe konfronteer Paulus die Korintiërs hier nadat hy van die lelike goed onder hulle geledere gehoor het:

1 Kor. 2:2-5

want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde. Ek was ook by julle in swakheid en in vrees en in veel bewing; en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God.

1 Kor. 3:23

maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

1 Kor. 1:23

maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, ’n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke…

1 Kor. 1:30-31

Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

Ons moet nooit in die versoeking kom om beheer oor te neem wanneer ons afwykings en probleme in die huiskerk gemeente ervaar nie. Ons moet op God en sy wil vertrou. Al is ons nie in beheer nie; Hy is nog steeds in beheer en Hy is in staat om enige situasie in die gemeente te herstel. Moenie inmeng nie. Moenie die situasie in jou eie hande neem en probeer manipuleer nie. Bring net die fokus terug na Jesus. Gee vir hulle Jesus en jy gee vir hulle die oplossing. Moenie teen die probleem vaskyk nie. Moenie die intellek inspan nie. Moenie redes soek en die waaroms probeer beantwoord nie. Moenie vergaderings hou en die probleem probeer ontleed nie. Kry net die hele gemeente se oë weer gefokus op hierdie asemrowende majestueuse Jesus. Dit maak dit nie net maklik nie maar dit draai die situasie onmiddellik om.

As ons hierdie fondasie van Jesus Christus reggelê het, dan ervaar die gemeente dieselfde belewenis met Jesus as wat die eerste apostels gehad het. Hy verskyn nou nie vir veertig dae lank aan hulle nie maar deur die Gees word Hy, elke keer as die gemeente bymekaarkom, daar in hul midde deur openbarings bediening teenwoordig gemaak. Hulle sien Hom soos Hy is. Hulle ervaar Hom soos Hy is en hulle ken Hom. Hulle ken sy stem en hulle word net so deurweek met sy persoon en sy Gees soos wat die eerste dissipels was. Dit is die belofte van God aan hulle wat op hierdie manier bymekaarkom en lewe.

Hoekom hulle (wat so bymekaarkom) en nie almal nie? Twee redes: Want hulle kom bymekaar op God se manier, die manier wat God self teenwoordig maak in hul byeenkomste; deur middel van die gawes van die Gees (Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, dan het elkeen van julle ’n psalm of ’n lering of ’n taal of ’n openbaring of ’n uitlegging —laat alles tot stigting geskied) en nie op die manier wat mense teenwoordig maak nie (Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, laat die voorsang leier die gemeente in lofprysing en aanbidding lei, laat die herder afkondigings maak, laat die herder bid, laat die herder preek, laat die herder die mense deur gebed bedien, laat die gemeente al hulle aandag op die herder rig, laat die gemeente stil wees — laat alles tot stigting geskied).

Tweedens lewe hulle ook op die manier wat God beveel het, die gedeelde gemeenskapslewe van die gelowiges en nie die geïsoleerde lewe van die institusionele kerk nie. Daarom is die Jesus van die huiskerk anders as die Jesus van die institusionele kerk. Dieselfde Jesus, maar ‘n heeltemal anderse ervaring en belewenis van Hom. Die een groep ken Hom en hulle is deurtrek met sy Gees en sy Persoon. Die ander het meer ‘n intellektuele kennis van Hom en weet nie regtig wie Hy is nie, al dink hulle so. Hulle weet nie van beter nie. Hulle weet nie dat daar meer is as wat hulle ervaring van Hom is nie. Hulle weet nie dat Hy baie groter is as dit wat hulle van Hom sien nie.

Die vyfvoudige bedienaars is mense wat Jesus ken en sy woord ken. Hulle het ‘n baie intense en diepe verhouding met Hom. Hulle fokus is Jesus. Vir hulle is die Woord en die woord dieselfde ding want Jesus ís die Woord van God. Inteendeel, Hy het die woord ten volle oopgemaak vir hulle omdat hulle ervaring, die gedeelde gemeenskapslewe en die gawes van die Gees, die woord relevant gemaak het. Nou eers verstaan hulle die woord. Nou eers val die legkaart in plek. Nou eers verstaan hulle die vier evangelies en die sendbriewe van die apostels ten volle. Dit het werklik die regte leefwyse nodig om ten volle tot verwerkliking te kom.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry sommer nou die boek, “Bybel gefundeerde leierskap”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts