Verskillende funksies in huiskerke

Ek dink ons het nou al ’n baie duideliker prentjie van hoe die kerk van die Nuwe Testament daar uitgesien het. Ons het ook ‘n baie duideliker prentjie van hoe leierskap in die kerk funksioneer. Die Skrifgedeeltes wat ons so goed ken maak ook nou vir ons baie meer sin. As dit in die regte konteks toegepas word dan word dit relevant, prakties en sinvol. Ek wil net in hierdie joernaal inskrywing ’n bietjie tyd bestee aan ’n vergelyking tussen die gemeente se funksies en die vyfvoudige bedienaars se funksies.

Die vyfvoudige bedienaars is werkers in die liggaam van Christus. Die werk van die apostoliese bedienaars is om die liggaam (heiliges) toe te rus vir húlle dienswerk. Die heiliges (die kerk of die gemeentes) se dienswerk is eintlik ’n leefwyse naamlik die uitdrukking van die inwonende Christus.

Die vyfvoudige bedienaars het hoofsaaklik 3 hooftake wat hulle as ’n span uitvoer:

Hulle verkondig die evangelie van Jesus Christus.

Nie net die evangelis of die apostel voer hierdie funksie uit nie. Die herder, profeet en leraar verkondig ook die evangelie van Jesus Christus orals waar hulle rondbeweeg. Dit is hulle primêre boodskap. Hulle verkondig die wonderlike nuus van Christus aan almal wat bereid is om te luister. Hoewel almal hierby betrokke is is dit veral die Apostel en die evangelis wat hierop fokus.

Hulle plant nuwe huis gemeentes en gemeenskappe.

Die apostoliese bedienaars gaan twee-twee uit om nuwe bekeerlinge te maak en hulle dan verder te dien in Christus. Sulke uitreikings lei altyd tot die planting van nuwe gemeentes. Gewoonlik gaan apostels en evangeliste vooruit om die gemeentes te plant en toe te rus. Later volg die res van die vyfvoudige bedienaars span sporadies op deur op hierdie fondasie verder te bou deur die gemeentes te dien en verder toe te rus.

Hulle help huis gemeentes om geestelik te ontwikkel en te groei.

Gemeentes ondervind baie keer probleme wanneer hulle deur al die groei fases gaan. Die vyfvoudige bedienaars se funksie is ook om die gemeentes deur hierdie fases te help. Hoe help hulle die gemeentes? Hulle spoor gemeentes aan om intieme liefdesverhoudings met Jesus Christus en met mekaar te hê. Hulle ontwikkel geestelike gawes in die gemeentes. Hulle verwyder alles wat nie Christus is nie. Hulle verwyder sonde bewustheid. Hulle tree op as voorbeelde vir die gemeentes. Hulle werk stagnasie teë. Hulle gee raad, hulle bemoedig en hulle stig die gemeentes. Let wel; die vyfvoudige bedienaars bedien nie die gemeentes pastoraal nie. Hulle leer hulle hoe om dit te doen ja maar hulle voer dit nie self uit nie. Dit is die “dienswerk” van die heiliges.

Die gemeente se fokus is heeltemal anders:

Die fokus is ‘n leefwyse van die inwonende Christus Jesus deur middel van die gedeelde gemeenskapslewe en die almal deelnemende en almal funksionerende fasette van die Ekklesia. Die vyfvoudige bediening is nie werklik deel van die gemeente nie en net sporadies hiermee betrokke wanneer hulle gemeentes plant en mense toerus vir hulle dienswerk.

Gemeentelede vermaan, stig, leer, bemoedig en help mekaar om hulle geloofswandel in Christus te ontwikkel. Hulle help mekaar om geestelik te groei. Die vyfvoudige bediening is net sporadies hiermee betrokke wanneer hulle gemeentes plant en mense toerus vir hulle dienswerk.

Gemeentelede is deel van die lokale gemeente maar die gemeente behoort ook aan hulle. Die gemeente behoort nie aan die vyfvoudige bediening nie.

Gemeentelede organiseer kerksake onder leiding van Christus Jesus en die heilige Gees. Hulle neem self besluite ten opsigte van gemeente sake. Die vyfvoudige bediening is nie hiermee betrokke nie.

Hulle fokus op Christus Jesus as die enigste bron van lewe met betrekking tot hul interaksie met mekaar.

Hulle bedien mekaar pastoraal. Elke lid het die taak om na die ander om te sien en mekaar te help.

Dit maak meer sin as ons na ’n paar Skrifgedeeltes verwys en ’n paar beginsels in die Bybel uitlig. Eerstens word na die werk van die vyfvoudige bediening in Skrifgedeeltes verwys as “die werk”. Tweedens word na die vyfvoudige bedienaars verwys as “arbeiders” of “medewerkers” (Hand 13:2, Hand 15:8, Kol 4:11, 2 Kor. 6:1 2 Kor. 11:13, Matt. 9:37-38, Matt. 20:1-2, Luk. 10:2 en 7, 1 Kor. 3:9).

Hand 13:2

En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Barnabas en Saulus vir my af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.

Kol 4:11

Ook Jesus wat Justus genoem….Hulle alleen is my medewerkers vir die koninkryk van God en hulle was ’n troos vir my

Luk. 10:2

Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot maar die arbeiders min…

Uit verskeie Skrifgedeeltes kan baie duidelik afgelei word dat hierdie bedienaars almal gestuur is om die gemeentes te besoek om hulle toe te rus, te bemoedig en te stig. Daarom is al vyf die vyfvoudige bedienaars apostoliese bedienaars (gestuurdes). Hulle is deur God gestuur maar ook vanuit ’n huiskerk gemeenskap uitgestuur waar hulle geestelik ontwikkel het. Apostoliese werkers stuur mekaar ook om gemeentes te bemoedig en toe te rus soos Paulus en ook ander vyfvoudige bedienaars gedoen het. Gewoonlik stuur ’n meer ervare mentor sy leerlinge om gemeentes te besoek. Hulle opereer nie heeltemal onafhanklik van die huiskerk gemeenskap nie. Hulle is deel van die gemeenskap van die heiliges en deel van ’n groep mense. Omdat hulle gestuurdes is, is hulle nie permanent deel van die lokale gemeente nie. Net die ouderlinge is permanent deel van die lokale gemeente soos ons dit reeds op ‘n ander plek genoem het. Paulus het op ’n stadium vir Titus gevra om ouderlinge aan te stel in sekere gemeentes wanneer hy weer daar arriveer. Hoekom? Die betrokke gemeentes het reeds vyf jaar lank bestaan en van die vrouens en die mans was reeds lank op die geloofspad. Hierdie senior mense het nou opgegroei tot geestelike volwassenes en kon nou die funksie van geestelike opsieners uitvoer. Moenie vergeet nie, hulle funksie as opsieners was bloot deur Paulus en Titus erken en dit was nie posisionele aanstellings nie.

Dit bring ons dan ook by die vraag, hoekom het Paulus vir Titus gestuur om dit te doen? Hoekom was dit nodig om iemand te stuur om dit te doen? Want die gemeentes het op hulle eie gefunksioneer. Daar was nie vyfvoudige bedienaars in die gemeentes wat self ouderlinge kon aanstel nie. Paulus moes die vyfvoudige bedienaars sporadies stuur om die gemeentes te gaan bemoedig, veral wanneer hy gehoor het van probleme en krisisse in die betrokke gemeentes. Net soos vir Titus en Timotheus het Paulus nog ’n klomp ander vyfvoudige bedienaars gestuur (Hand 16:1-4, 9-10, Hand 17:15, Hand 19:21-22, Hand 20:3-5, 13-15, 1 Kor. 4:17, 2 Kor. 8:18-23, Ef. 6:21-22, Fil. 2:19, 23, 25, 28, Kol 4:8-9, 2 Tim 4:9-13, 20-22, Tit. 1:5, Tit. 3:12-13). Onthou, Paulus het as apostel die gemeentes gestig en die apostoliese fondament gelê. Nou moes die res van die vyfvoudige bediening daarop bou. In die proses, wat letterlik jare duur, het die ouderlinge ontwikkel en kon, na die insette van die vyfvoudige bediening uiteindelik as ouderlinge in die gemeente funksioneer.

Hier volg ’n paar Skrifgedeeltes om hierdie stellings te bevestig:

Tit. 1:5

Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het

1 Kor. 4:17

Daarom het ek Timotheus, wat my geliefde en getroue seun in die Here is, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer.

1 Kor. 16:10

En as Timotheus kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek

Hand 17:14

Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan. Maar Silas en Timotheus het daar agtergebly

Hand 18:5

En toe Silas en Timotheus van Macedonia afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is

Hand 19:22

Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timotheus en Erastus, na Macedonia, terwyl hyself nog ’n tyd lank in Asië gebly het

Hand 20:4

En tot in Asië het Sópater van Berea hom vergesel en van die Thessalonicense, Aristarchus en Secúndus en Gajus van Derbe en Timotheus en uit Asië Tíchikus en Trófimus.

Fil. 2:19

En ek hoop in die Here Jesus om Timotheus gou na julle te stuur

1 Thess. 3:2

En ons het Timoteus, ons broeder en dienaar van God en ons medewerker in die evangelie van Christus, gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in die geloof.

2 Tim 4:9-12

Beywer jou om gou na my te kom. Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het en het na Thessalonica vertrek, Crescens na Galasië, Titus na Dalmasië. Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees. Tíchikus het ek na Efese gestuur. As jy kom, moet jy die reismantel bring…

Uit bogenoemde Skrifgedeeltes kan ons duidelik sien hoe Paulus die vyfvoudige bediening aangewend het om verder op die fondament te gaan bou wat hy gelê het. Hy gaan nie ander apostels stuur om weer die fondasie te gaan lê in hierdie gemeentes nie, dit was definitief leraars, profete en herders. Van hierdie gemeentes het al jare lank bestaan toe Paulus sy medewerkers gestuur het. Inteendeel, die vyfvoudige bediening hou nooit op om gemeentes te besoek en te bedien nie ongeag hoe lank ’n gemeente al bestaan. Daar sal egter wel minder aandag nodig wees by volwasse gemeentes, veral as daar geen krisisse opduik nie.

Ons sien ook dat hy vir Timotheus na verskeie gemeentes regoor Asië gestuur het (Korinte, Thessalonica, Filipe, Efese, Macedonia, ens.). So het hy ook vir Titus en nog ander vyfvoudige bedienaars na verskeie gemeentes gestuur. Tog het hy vir Titus gevra om in gemeentes wat al baie jare bestaan, ouderlinge aan te stel. Dit beklemtoon die feit dat daar geen vyfvoudige bediening in daardie gemeentes was nie. As daar was, sou dit beteken Paulus ignoreer die leiers in die gemeentes en meng hom nou in gemeente sake in. Selfs die “inmenging” met betrekking tot die “aanstelling” van ouderlinge in elke gemeente is net die erkenning van die funksie van die reeds ontwikkelde ouer garde in die gemeentes. Daarmee sê Paulus nie dat die ouderlinge nou gevolg moet word soos ons dit vandag in die institusionele kerk sien nie.

Is daar ’n hiërargiese struktuur onder die vyfvoudige bedienaars?

Uit die bogenoemde Skrifgedeeltes kan dit ook bleik dat Paulus as ’n apostel posisioneel oor sy medewerkers aangestel is en hulle rond stuur en bevele gee soos hy wil. Dit is egter baie ver van die waarheid af. Hy was miskien die mees ervare onder hulle. Barnabas het vir Paulus geleer en Paulus het baie ander vyfvoudige bedienaars geleer. Dit is hoekom hulle altyd twee-twee beweeg het. Behalwe die fisiese bystand en morele ondersteuning het dit ook ten doel gehad dat die ervare een die ander een moes touwys maak. Paulus het die res van die apostels en die res van die vyfvoudige bedienaars wat saam met hom gearbei het as medewerkers op gelyke voet saam met hom gesien. Dit is dan wat Jesus hulle beveel het. “Moenie soos die wêreld wees nie maar wees almal dienaars, ag die een die ander hoër as jouself, moenie jouself leermeester noem nie, want julle is almal broeders”. Vir Jesus bestaan daar net een posisie: broeders, waarvan Hy die eerste is, die ander is almal gelyk.

Ons kan sien dat die vyfvoudige bedienaars hom partykeer geweier het en dat hulle, wanneer hulle sy begeertes uitgevoer het, hulle dit uit ywer en eerbied gedoen het. Hulle was as medewerkers in eenheid mekaar vrywillig onderdanig:

1 Kor. 16:12

Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na die julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is

2 Kor. 8:16-17

Maar God sy dank, wat dieselfde ywer vir julle in die hart van Titus gegee het; want hy het my aansporing wel ontvang, maar omdat hy baie ywerig was, het hy uit eie beweging na julle toe vertrek

Apollos het dus vir Paulus gesê hy sal gaan wanneer hy voel die tyd reg is daarvoor. Paulus het Titus “aangespoor” om te gaan en nie beveel om te gaan nie. Titus het gegaan omdat hy self graag wou gaan.

Van hierdie vyfvoudige bedienaars het selfs ook vir Paulus teengegaan:

Hand 19:30

En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie

Hieruit kan ons duidelik sien dat nie net Paulus nie maar al die ander vyfvoudige bedienaars geen posisionele aanstelling oor enigiemand anders gehad het nie.

Verskille in fokus

Hoewel die gemeente en die vyfvoudige bedienaars dieselfde leefwyse demonstreer is die fokus inderdaad, soos die tabel duidelik weergee, uiteenlopend van aard. Die gemeente fokus nie op die vyfvoudige bediening nie. Hulle fokus is op Jesus, die Hoof van die gemeente. Inteendeel, die hele gemeente leef, praat, slaap en eet net Jesus Christus en Jesus Christus alleen. Hulle doen dit korporatief as die bruid en as die liggaam van Christus en saam word hulle totaal deur Hom deurweek. Hulle bemoedig mekaar, hulle stig mekaar, hulle motiveer mekaar, hulle dra mekaar en saam word hulle vervul met die grootste behoefte en sinrykheid wat die mens ooit kan hê; ’n verhouding met Jesus Christus. En dit is dan ook presies waaroor alles gaan. Dit gaan alles oor die gemeente. Dit is per slot van rekening die fokuspunt van alle “geestelike werk” en alle “geestelike doelstellings” in die handel en wandel van die heiliges.

Daarom is selfs die vyfvoudige bediening ook gefokus op die gemeente. Die vyfvoudige bediening bestaan vir die gemeente. Die gemeente bestaan nie vir die vyfvoudige bediening nie. Die kerk (gemeente) is belangriker as die vyfvoudige bediening. Daarom word na die vyfvoudige bedienaars verwys as “arbeiders” en “werkers”. Hulle dien die gemeente.

Die gemeente fokus op Jesus Christus ons Heer en Meester en op die gemeente. Die vyfvoudige bedienaars fokus ook op die gemeente. Natuurlik is hulle fokus ook op Jesus maar in die praktiese sy van hulle bediening is hulle fokus om die gemeente te dien. Die vyfvoudige bediening laat geen steen onaangeraak om die gemeente te bevoordeel, op te bou en te dien nie. Hulle word nie deur die gemeente bedien nie. Hulle rig hulle lewens totaal in om die gemeentes te bevoordeel. Hulle maak die een opoffering na die ander. Hulle ontsê hulleself die een gerief of voordeel na die ander. Paulus het op verskeie plekke in die Skrif dit baie duidelik beklemtoon:

1 Kor. 4:9-13

Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek as tot die dood veroordeel; want ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense. Ons is dwaas terwille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer. Tot op hierdie uur lei ons honger en dors, is ons naak en word ons geslaan en swerwe ons rond en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.

Hier sien ons twee beginsels baie duidelik na vore kom: Paulus praat met die gemeente en eerstens suggereer hy definitief twee verskillende groeperinge: Die vyfvoudige bediening aan die eenkant en die gemeentes aan die ander kant. Hoewel hulle parallel bestaan en funksioneer maak hulle tog een liggaam uit, die kerk van God. Tweedens beskryf Paulus baie duidelik die verskil tussen die twee groeperinge. Die een kry swaar, is arm, maak baie opofferings en ervaar daagliks beproewinge en is swak vir Christus. Die ander is ryk en sterk in Christus.

1 Thess. 2:6

Ook het ons nie eer van mense, óf van julle óf van ander gesoek nie, al kan ons as apostels van Christus met gesag optree

Nie net die apostels nie maar ook die res van die vyfvoudige bediening het min of meer dieselfde leefwyse en ervarings deurgegaan as wat die apostels deurgegaan het. Hulle was deel van die apostoliese bediening net soos die apostels (almal gestuurdes). Hulle is ook vervolg en het ook hulle opofferings gemaak vir Christus en vir die gemeentes wat hulle moes bedien. Paulus verwys definitief ook na ander apostels, maar ook na ander vyfvoudige bedienaars soos Timotheus. Hulle het ook gely terwille van die evangelie, nes hy (2 Tim 3:10).

Die funksies van die vyfvoudige bedienaars in die Nuwe Testament was werklik eerbare onbaatsugtige bedienings wat uit die hart gekom het en wat baie opofferings geverg het. Paulus het seker die meeste opofferings gemaak en wou geen las op die gemeentes plaas nie. Hy het baie min geld van hulle aanvaar hoewel hy eintlik die reg gehad het om dit te doen. Hy het in elk geval nooit geld aanvaar van gemeentes waar hy bedien het nie. Hoekom nie? Hy wou hulle bedien in eerbaarheid sonder om vir hulle ’n las te wees. Hy wou hulle net seën, bemoedig en stig soos ’n goeie vader vir sy kinders sal doen. Hy wou nie ’n situasie toelaat waar die gemeente kon voel dat hy hulle iets skuld nie. Nee, hulle het hóm iets geskuld en daarom kon hy in groot vrymoedigheid werk sonder om ooit beskuldig te kon word dat hy verskuilde agendas en motiewe het nie. Sy hele wese was totaal daarop gefokus om die gemeentes te bevoordeel en te dien want dit wás en ís steeds vandag die spil waarom vyfvoudige bediening draai.

In 1 Kor. 9:13 sê Paulus hy wil geen hindernis in die evangelie van Christus veroorsaak nie. In vers 19 sê hy dat hoewel hy van almal vry is het hy hom aan almal diensbaar gemaak om soveel as moontlik te win. In vers 23 sê hy dat hy dit terwille van die evangelie doen sodat hy ’n deelgenoot daarvan kan word. In vers 27 sê hy dat hy sy liggaam kasty en dit diensbaar maak. Dit alles vir Christus, vir die evangelie en vir die gemeente. Wat ’n tentoonstelling van diensbaarheid met seker die suiwerste motiewe deur enige mens wat ek ken. Paulus het nie oor ’n salaris en ander voordele onderhandel nie. Hy het nie gekyk wat hy uit die “deal” kan kry nie. Hy wou die evangelie kosteloos bring om diegene vir wie hy dit doen te bevoordeel. Hy het die instruksies van Jesus letterlik uitgevoer. Hy het geword soos een wat dien. Hy het die minste geword en hy het dit gedoen tot op die dag wat hy vir Christus, vir die evangelie en vir die gemeentes sy lewe neergelê het. Paulus is tot die dood veroordeel en het as ’n martelaar gesterf. Soos Jesus het hy kom dien en het hy ook sy lewe vir die kerk neergelê. Hy het vir Jesus werklik letterlik gevolg in alle gehoorsaamheid en gaan eendag, of het alreeds, die loon vir sy onbaatsugtige diens ontvang. Die onverwelklike kroon wat hy so begeer het is syne en hy verdien dit.

Dit is presies hierdie gesindheid wat elke vyfvoudige bedienaar in die kerk moet openbaar. Ek sê nie dat almal presies soos Paulus moet opereer nie. Hy sê self dat hy sekere voorregte, waarop hy aanspraak kon gemaak het, terwille van sy eie voorkeure nagelaat het. Paulus is uniek wat dit betref. Hy was ’n unieke persoon geroep vir ’n unieke werk in ’n unieke tyd: Om die kerk van Christus in ’n goddelose wêreld vol afgodery te gaan vestig. Ons kan onsself nooit met Paulus vergelyk wat hierdie aspek betref nie. Paulus sê nie dat ons dieselfde as hy moet doen nie, inteendeel daar was reeds in Paulus se tyd ander apostels en vyfvoudige bedienaars wat nie hierdie pad geloop het nie. Paulus was spesiaal geroep daarvoor. Kyk wat sê Paulus in 2 Tim. 2:4

Niemand wat ’n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat Hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het.

Paulus sê dat as ons werk vir inkomste maar tog in die bediening is, probeer ons die een behaag vir wie ons werk en dit moenie so wees nie. Ons moet God vertrou vir ons inkomste wanneer ons voltyds in die bediening is. Ons lewe in ’n heeltemal ander tyd en omstandighede as die vroeë kerk. Tog was Paulus definitief ’n baie goeie model vir ons. Die beginsels bly dieselfde. Ons moet dieselfde gesindheid openbaar as ons Jesus wil volg. Ons moet, as medewerkers in die liggaam van Christus, opofferings maak om ander te bevoordeel. Dit beteken nie ons gaan krepeer van die ellende en armlastiges wees nie. Dit beteken ons leef in geloof en God het mag om ons ryklik te seën en ons hoef in niks kort te kom nie. Hy voorsien in al ons behoeftes na sy rykdom en heerlikheid deur Christus Jesus.

Die fokus is dus ten alle tye die gemeente. Dit was die “werk” van die vyfvoudige bediening, om die gemeente te dien. Niks anders was vir hulle belangrik nie. Hulle motiewe was suiwer. Hulle het nie vir persoonlike voordeel met die woord handel gedryf nie:

2 Kor. 2:17

Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus

Hulle was bloot beskeie diensknegte:

1 Thess. 2:5-10

Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, of van julle of van ander gesoek nie…. Maar ons was vriendelik onder julle…was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het. Julle onthou tog broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo

Kom ons ontleed ’n bietjie Paulus en sy medewerkers se gesindheid teenoor die gemeente na aanleiding van bogenoemde Skrifgedeelte: Hulle het nooit aansien en populariteit gesoek met mooipraatjies en vleitaal nie. Hulle was nie geldgierig nie. Hulle het nie die eer van mense gesoek nie, insluitende die van die gemeente. Hulle was vriendelik en beleefd teenoor die huisgenote van God. Hulle het dit geniet om die evangelie aan hulle te bring. Hulle het dit geniet om hul eie lewe vir hulle te gee. Die huisgenote van God was vir hulle dierbaar. Hulle het die gemeente getrou gedien deur baie arbeid en inspanning. Hulle het hulle dag en nag afgesloof vir hulle sodat hulle die gemeente nie met enigiets beswaar het nie. Hulle was heilig teenoor hulle. Hulle was regverdig teenoor hulle. Hulle het hulle onberispelik voor hulle gedra. Mense, hierdie is dienskneg wees in sy suiwerste graad! Hierdie is nie heers oor hulle nie!

Jesus cleansed more than Peter’s heart – He also washed his feet. In doing so Jesus illustrated and modeled His own leadership style for us to follow. We are called to serve in this world, not to play lord over the new converts. In His Kingdom titles only indicate how and where you serve. Being an apostle, prophet or pastor was and is not a title; it is a Holy Spirit-ordained function. It is not a position to strive for, but a service we yearn to provide to His ecclesia. Apostles like Peter, Paul and Barnabas made themselves available to serve and empower the growing community of followers. They established support structures, which later were referred to as the fivefold ministries. Importantly, those ministering did not belong to a local congregating ecclesia, they were itinerant. They belonged to and served the discipleship at large

– Johan Carstens

Paulus het dit baie duidelik gemaak dat die vyfvoudige bediening medewerkers aan hulle geloof en saligheid is en dat hulle nie oor hulle heers nie:

2 Kor. 1:24

Nie dat ons heers oor julle geloof nie, maar ons is medewerkers aan julle blydskap; want in die geloof staan julle vas.

Dit mag dalk voorkom asof Paulus ’n baie sterk outokratiese bevels taal gebruik wanneer hy versoeke, nie net aan sy medewerkers nie, maar ook aan gemeentes rig. Dit wil voorkom asof hy die kerk en sy medewerkers domineer. Dit is egter ver van die waarheid. Dit wat soos opdragte klink is in werklikheid versoeke. Frank Viola werp ’n bietjie lig hierop:

Paul regarded his authority as functional and relational – not official or sacral. For Paul, spiritual authority was rooted in the Lord’s approval, not in some formal office. This explains why Paul virtually always sought to persuade the churches concerning God’s mind rather than issuing imperial commands. In fact, Paul’s two favorite words for addressing the saints are “parakalein” and “erotao”. Parakalein means an appeal. Erotao means a request made between equals…Paul refrained from issuing the the very strong word “epitage” (commandment) to charge obedience to himself…When Paul called the believers to action or attitude, we find him “urging”, “beseeching”, “pleading”, “appealing”, and “asking” rather than issuing authoritarian decrees…All of these facts embody the following sound insight: The source of spiritual authority is Christ. The means of spiritual authority is the Word of God. The exercise of spiritual authority is brokenness and servant hood. And the goal of spiritual authority is edification.

– Frank Viola

Vir Paulus lê die outoriteit dus in die Woord van God, Christus Jesus. As dit Jesus se bevele is dan dra dit outoriteit, maak nie saak wie dit versoek nie. Gehoorsaamheid aan sulke bevele is nie gehoorsaamheid aan die een wat dit versoek nie maar aan Jesus Christus. Hierdie woorde moet oorgedra word in alle nederigheid en diensbaarheid om ander mee te stig, te bemoedig en op te lig in die gees. Daarom is almal gehoorsaam aan almal. Die outoriteit is in die woord wat gespreek word, want die woord is gees en is lewe en nie in die persoon wat die woord spreek nie. So het Paulus vir Petrus, die prominentste apostel van al die apostels, voor die hele gemeente, streng gekonfronteer omdat hy gehuigel het deur aanvanklik saam met die heidene te eet, maar hom onmiddellik daarvan weerhou het toe die ander “gesiene” Jode uit Jerusalem gearriveer het. Dit was verkeerd en Paulus het dit aangespreek. Hy was nie oor Petrus aangestel nie net soos Petrus ook oor niemand aangestel is nie. Tog kon hulle die vrymoedigheid neem om mekaar nie net te leer en te bemoedig nie maar ook om mekaar te vermaan as dit nodig was.

Outoriteit lê in die salwing op jou lewe. Die vyfvoudige bedienaars is altyd deur God aan die gemeente gegee. Geen mens kan jou aanstel nie en jy kan nie jouself aanstel nie. Daarom het God aangestelde bedienaars salwing op hul lewens. Wanneer mense egter deur mense aangestel is in ’n posisie is hulle sekuriteit en hulle outoriteit die mense wat hulle aangestel het. Sulke bedienaars het nie salwing op hulle lewens nie. Hulle oefen gewoonlik gesag uit oor mense om hulle posisie te vestig. Jannie van Zyl sê dit baie duidelik in sy boek, “Isébel jag profete”:

Die sekuriteit van gesag deur aanstelling is altyd mense. Mense is die hoop op heerlikheid vir godsdienstige leiers. Aangestelde gesag se totale sekuriteit is in óf posisie, titel óf amp. Aanstelling in ’n posisie het altyd ’n titel wat daarmee saamgaan en ’n taak omskrywing. Aangestelde gesag beklee ’n amp. Verval die aanstelling of word hy van sy titel of amp ontneem, verval sy gesag. Gevolglik verval sy sekuriteit. Die hele wêreldse sisteem funksioneer volgens hierdie metode. Ons het wêreldse beginsels in die kerk van Jesus Christus ingebring. Mense self is die krag agter aangestelde gesag. Kom ons kyk na die beroep van ’n predikant. Hy het die guns van mense nodig om die beroep te kry. Hy word tot ’n spesifieke posisie beroep. Mense is die magsbasis vir sy gesag. Hulle het hom aangestel. Sy sekuriteit is mense. Aangestelde gesag het altyd die guns van mense nodig om bestaande posisie te handhaaf.

Die sekuriteit van gesag deur salwing is altyd Christus. Hy is God se hoop tot heerlikheid in ware gesalfde bedienaars. God self is die basis vir hierdie sekuriteit. Hy bly in beheer deur die inwonende Christus en nie deur reëls, regulasies of wette nie. Gesag deur salwing funksioneer dus innerlik en nie uiterlik nie. God self is die krag agter gesag deur salwing. Gesalfde bedienaars funksioneer dus nooit deur regulasies nie maar altyd deur lewe. Ware geestelike gesag, die noodwendige gevolg van salwing, het altyd die guns van God nodig om effektief te bly…Ware salwing beteken dat Christus in jou en deur jou lewe.

– Jannie van Zyl

Paulus was deur Christus geroep vir die werk wat hy gedoen het. Daarom was hy gesalf en daarom het hy outoriteit gehad. Paulus, ’n nederige apostel in die kerk van God het egter geweet dat Christus ín hom die ware gesag in die kerk is. Daarom het hy nooit sy funksionele posisie misbruik nie. Hy het nooit gesag oor mense uitgeoefen nie.

As ons na die funksies van die gemeentelede kyk is daar ook ’n paar verassings. Nie net is hulle deur die werking van die Heilige Gees en deur die inwonende krag van Jesus Christus heeltemal in staat om hulle “dienswerk” suksesvol uit te voer nie, maar produseer hulle ook nuwe vyfvoudige bedienaars. Hierdie bedienaars, wanneer die “roeping” van God deur die Heilige Gees bevestig word, word dan deur die gemeentes uitgestuur as ’n “arbeider” in die liggaam van Christus. Hy word dan ’n streek bedienaar of ’n rondtrekkende bedienaar om ander heiliges te gaan toerus vir hulle dienswerk. Die twee vennote, die Gemeente (kerk) en die werkers (vyfvoudige bedienaars) opereer afsonderlik en in ’n mate onafhanklik van mekaar. Die gemeentelede is verantwoordelik vir mekaar en vir gemeente sake. Die vyfvoudige bedienaars is verantwoordelik vir hulle eie streek bediening.

Daar is nie ’n vermenging van die twee funksies nie. Daar word nie van gemeentelede verwag om apostoliese funksies uit te voer nie en ook nie van vyfvoudige bedienaars verwag om gemeente aktiwiteite uit te voer nie. Die gemeente moenie ander gemeentes produseer nie, dit is nie hulle funksie nie. So ook verlaat die apostel die gemeente wanneer die planting en toerusting proses afgehandel is. Hy bly nie in die gemeente nie, hy beheer die gemeente nie, hy bestuur die gemeente nie van ’n ander area af nie en die gemeente kan ook nie van hom verwag om hulle te beheer nie. Inteendeel, die gemeente word al meer afhanklik van Jesus Christus en hulle afhanklikheid van die apostoliese bedienaars raak al hoe minder. Die gemeente is dus in die hande van die gemeente en die vyfvoudige bedieningswerk is in die hande van die apostoliese bedienaars. Daar is geen grys areas en geen uitsonderings nie.

SLOTGEDAGTES

Tot sover is al ‘n mondvol gesê. Wat ons gelees het word nie aldag verkondig nie. Dit was vir sommige mense nogal moeilik om te verteer. Dit was uitdagend. Tog maak dit vir baie mense nou vir die eerste keer sin. Baie mense verstaan ware Bybel gefundeerde leierskap nou vir die eerste keer. Die werklike groot uitdaging lê egter in die volgende vraag opgesluit: “Man/vrou van God, kan jy?”

Die koninkryk van God word deur God self gebou. Hy hou alles in stand. Hy is die fondasie van hierdie koninkryk. Hy is die Gees wat alles aanmekaar hou. Christus is die hoeksteen wat die bouers verwerp het. Hy is die Hoof van hierdie koninkryk. Hy is die Hoof van die kerk. Hy is in beheer.

Tog kan Christus ook niks doen sonder ons nie. Dit is ‘n Bybelse beginsel wat nooit weggepraat of weggeredeneer kan word nie. Hy bou sy koninkryk deur sy dienaars. Ons word in die Skrif genoem “Dienaars van onse God”. God soek vandag vyfvoudige bedienaars wat voldoen aan die vereistes wat in hierdie boek uiteengesit is. Die vraag is; het jy dit?

Nuwe geslag bedienaars moet gefokus wees. Gefokus op wat? Gefokus op Jesus Christus. Hulle het ‘n diepe liefdesverhouding met Hom. Hulle is gewilliglik so deur Hom as Persoon oorweldig dat hulle sprakeloos is. Hulle ken Hom baie, baie, baie diep. Hulle het ontmoetings met Hom en ondervindings met Hom wat waarlik asemrowend is. Dit kan nie aan mense verduidelik word nie. Dit kan nie oorvertel word nie. Hulle is begeesterd. Hulle is so deur sy liefde deurdronge dat niks behalwe Jesus Christus self meer vir hulle prioriteite is nie. Hulle ken die diepte, die breedte, die hoogte en die lengte van sy liefde. Christus is nie meer vir hulle verborge nie. Hulle ervaar Hom intens. Hy is ‘n dinamiese werklikheid in hulle harte en in hulle lewens.

Weet jy wat dit kos om in die diens van God te wees? Weet jy waaraan jy moet voldoen om ‘n nuwe geslag bedienaar te wees in sy geestelike kerk? Ons praat glad nie van die institusionele kerk nie. Ons praat van die ware geestelike kerk van God. Ons praat van die Nuwe-Testamentiese Ekklesia. Ons praat van moed en dapperheid. Ons praat van die onbekende. Ons praat van opoffering.

Ons praat ook van vreugde en bevryding. Ons praat van volkome vervulling. Ons praat van heelheid en ons praat van die ewigheid doel van God vir sy kinders.

Man van God, het jy dit? Sien jy kans daarvoor? Kan jy jou medegelowiges help om hulle verhouding met ons hemelse Bruidegom so te verdiep dat hulle net so deur Hom geraak word? Kan jy vir hulle die pad na God se hart wys? Jy sal dit nie kan doen nie as jyself nie die pad na sy hart ken nie. Is jy goed vertroud met hierdie Nuwe-Testamentiese interaksie met ons hemelse Bruidegom? Staan jy sprakeloos voor sy aangesig? Verlustig jy jou in Hom? Wat het jy om vir hulle te gee? As jy nie die Persoon Jesus Christus het om vir hulle te gee nie dan het jy niks om vir hulle te gee nie.

Jy kan nie sommer net ‘n huiskerk gemeente begin nie. Die Ekklesia is ‘n lewende organisme wat gebore word. Jy as mens kan nie geboorte daaraan skenk nie. Jy kan dit nie sommer net begin nie want ‘n gemeente wat net begin word is dood. Wanneer dit nie lewe nie is dit mens gemaak. Net wat God geboorte aan gee kan lewe. Kan jy die geestelike gawes en geestelike bediening in ‘n gemeente aanwakker? Jy sal dit nie kan doen as jy nie die gewer van die geestelike gawes baie diep ken nie. Ken jy Hom? Het Hy jou gestuur om huiskerk gemeentes te plant? As Hy jou gestuur het dan sal Hy ook geboorte daaraan skenk.

Het jy dit wat nodig is om in diens van die almagtige God te staan? In die geestelike kerk van God kan jy op niks staat maak behalwe op Christus Jesus alleen nie. Niks anders gaan daar werk nie. Die institusionele kerk het baie alternatiewe metodes en meganismes om op terug te val. Daar is altyd goedjies wat jy kan instel en gebruik om dit wat jy begin het se voortbestaan te verseker. As jy gelukkig is kan hierdie goedjies vir jou werk.

In die geestelike kerk van God beteken hierdie goedjies egter niks nie. Daar is dit alles of niks. Daar staan jy met leë hande voor jou Skepper. Al wat jy Hom kan gee is jouself nes jy is. “Hier is ek Here. Vorm my en maak my net soos U wil. U die pottebakker en ek die klei. Word meer in my sodat U die werk in my en deur my kan doen. Ek het niks om U te bied nie behalwe myself en my bereidwilligheid om ‘n instrument in U hand te wees. Vandag gee ek oor aan U. Bevry my van die godsdiens. Brand alles uit my uit wat nie van U is nie. Ek wil nie met hooi en stoppels bou nie. Ek wil met goud en silwer bou”.

Om ‘n liefdes slaaf van Jesus Christus te wees is seker een van die wonderlikste voorregte wat daar is. Ons liefde vir Jesus oorheers alle ander begeertes. Ons het net ‘n begeerte om meer en meer van Hom in ons harte en in ons lewens te hê. Hoe dieper ons verhouding met Hom hoe meer besef ons dat ons nie sonder Hom kan bestaan nie.

Hy is werklik die asem wat ons inadem. Hy is die rots waarop ons staan. Hy is die anker wat ons vashou. Deur die jare het ons in Hom vasgegroei. Die genade en die liefde wat ons in sy teenwoordigheid ervaar maak van ons liefdes slawe. Ons wil sy slaaf wees. Ons wil aan Hom behoort. Ons wil vir Hom doen wat Hy verlang. Ons wil Hom behaag in alles wat ons doen.

Daarom is dit vir ons nie moeilik om nie na posisie, eer en erkenning te hunker nie. Daarom wil ons nie oor ander heers nie. Daarom is dit vir ons maklik om ander te dien. Ons gee nie om om onsself af te sloof vir die evangelie van Christus nie. Ons hardloop nie weg van die handdoek en die skottel nie. Ons vermy nie die werk van die Here nie.

Tog doen ons dit met grasie. Ons doen dit as konings en as priesters in die koninkryk van God. Ons is kosbaar vir Christus. Sy liefde vir ons ken geen perke en geen einde nie. Hy het sy lewe vir ons afgelê. Hy het vir ons met sy bloed betaal. Ons kan nie anders as om hierdie liefde te beantwoord met liefde, waardering en respek nie. Ons sal liefdes slawe vir Hom wees tot in ewigheid.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry sommer nou die boek, “Bybel gefundeerde leierskap”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts