Kontroversiële stellings: kerkleierskap

Drie belangrike stellings met betrekking tot Nuwe-Testamentiese kerkleierskap

Die vyfvoudige bedienaars was rondtrekkende bedienaars en daarom nie deel van die gemeentes nie. Hulle het huiskerk gemeentes regoor die Romeinse ryk besoek om hulle toe te rus vir hulle dienswerk en ook om hulle te bemoedig.

Net die ouderlinge was deel van die gemeentes maar nie in ‘n leierskap posisie nie. Hulle bediening was bloot funksioneel. Hulle was posisioneel op dieselfde vlak as die res van die gemeente. Hulle het nie rondgetrek tussen gemeentes soos die vyfvoudige bedienaars nie.

Die vyfvoudige bedienaars was nie deel van die besluitneming proses van die gemeentes nie. Gemeentes het self kerksake bestuur deur middel van die besluitneming proses wat ons die “konsensus metode” van besluitneming noem. Ouderlinge was deel van hierdie besluitneming proses op dieselfde vlak as die res van die gemeentelede.

Tien baie belangrike punte wat bogenoemde stellings bewys

Nadat Paulus gemeentes regoor die Romeinse ryk geplant het, het hy later van hierdie gemeentes weer besoek. Wanneer hy hulle nie besoek het nie het hy briewe aan hulle gerig om hulle te bemoedig. In die briewe het hy die gemeentes gevra om die spesifieke vyfvoudige bedienaar wat gewoonlik die draer van die brief was, te ontvang sodat hy hulle verder kan leer en bemoedig. Paulus het hierdie vyfvoudige bedienaars aanbeveel by die gemeentes as iemand wat homself bewys het as ‘n betroubare medewerker in die koninkryk van God. Hy wou graag hê dat die gemeentes hierdie vyfvoudige bedienaars moes ontvang. Gemeentes kon hierdie vyfvoudige bedienaars weier as hulle wou.

Paulus was ‘n apostel wat spesifieke gemeentes geplant het. Gemeente planting is hoofsaaklik die grondliggende funksie van ‘n apostel. As ‘n reël stuur sodanige apostels later die res van die vyfvoudige bedienaars om verder te gaan bou op die fondasie wat hulle gelê het. So het Paulus dan verskeie vyfvoudige bedienaars na hierdie gemeentes toe gestuur. Kom ons kyk na ‘n paar Skrifgedeeltes wat dit bewys:

Titus 1:5

Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het

1 Korintiërs 4:17

Daarom het ek Timotheus, wat my geliefde en getroue seun in die Here is, na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer.

1 Korinthiërs 16:10

En as Timotheus kom, sorg dat hy sonder vrees by julle is, want hy doen die werk van die Here net soos ek

Handelinge 17:14

Die broeders het Paulus toe dadelik weggestuur om in die rigting van die see te gaan. Maar Silas en Timotheus het daar agtergebly

Handelinge 18:5

En toe Silas en Timotheus van Macedonia afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is

Handelinge 19:22

Daarop stuur hy twee van sy helpers, Timotheus en Erastus, na Macedonia, terwyl hyself nog ’n tyd lank in Asië gebly het

Handelinge 20:4

En tot in Asië het Sópater van Berea hom vergesel en van die Thessalonicense, Aristarchus en Secúndus en Gajus van Derbe en Timotheus en uit Asië Tíchikus en Trófimus.

Filippense 2:19

En ek hoop in die Here Jesus om Timotheus gou na julle te stuur

1 Thessalonicense 3:2

En ons het Timoteus, ons broeder en dienaar van God en ons medewerker in die evangelie van Christus, gestuur om julle te versterk en julle te bemoedig in die geloof.

2 Timotheus 4:9-12

Beywer jou om gou na my te kom. Want Demas het my verlaat, omdat hy die teenwoordige wêreld liefgekry het en het na Thessalonica vertrek, Crescens na Galasië, Titus na Dalmasië. Lukas is alleen by my. Markus moet jy gaan haal en saam met jou bring, want hy kan my baie tot diens wees. Tíchikus het ek na Efese gestuur. As jy kom, moet jy die reismantel bring…

Uit bogenoemde Skrifgedeeltes kan ons duidelik sien hoe Paulus die vyfvoudige bediening aangewend het om verder op die fondament te gaan bou wat hy gelê het. Hy gaan nie ander apostels stuur om weer die fondasie te gaan lê in hierdie gemeentes nie, dit was definitief leraars, profete en herders wat so deur Paulus gebruik is en uitgestuur is na die verskillende gemeentes toe. Van hierdie gemeentes het al jare lank bestaan toe Paulus sy medewerkers gestuur het. Inteendeel, die vyfvoudige bediening hou nooit op om gemeentes te besoek en te bedien nie ongeag hoe lank ’n gemeente al bestaan. Daar sal egter wel minder aandag nodig wees by volwasse gemeentes, veral as daar geen krisisse opduik nie.

Ons sien ook dat hy vir Timotheus na verskeie gemeentes regoor Asië gestuur het (Korinte, Thessalonica, Filipe, Efese, Macedonia, ens.). So het hy ook vir Titus en nog ander vyfvoudige bedienaars na verskeie gemeentes gestuur.

Hierdie is die bewys dat daar nie vyfvoudige bedienaars binne die gemeentes was nie. As daar was sou hulle nie Paulus se inmenging in gemeentesake geduld het nie.

Kyk wat doen Paulus met betrekking tot die funksionele aanstelling van ouderlinge in gemeentes wat hy al vyf jaar vantevore geplant het:

Paulus het vir Titus gevra om in gemeentes wat al baie jare bestaan, ouderlinge aan te stel.

Titus 1:5

Om hierdie rede het ek jou in Kreta agtergelaat, dat jy nog verder sou regmaak wat oorgebly het en van stad tot stad ouderlinge sou aanstel soos ek jou beveel het

Dit beklemtoon die feit dat daar geen vyfvoudige bediening in daardie gemeentes was nie. As daar was, sou dit eerstens beteken het dat Paulus die leiers in die gemeentes geïgnoreer het en ingemeng het in gemeente sake. Tweedens sou dit beteken het dat kerkleiers nie self ouderlinge kon aanstel nie. Hoekom nie? Omdat hulle aan die outoriteit van apostels onderdanig moes wees? Nee, definitief nie! Dit het bloot beteken dat die Nuwe-Testamenties kerk sonder kerkleierskap gefunksioneer het soos wat ons vandag sien nie. Die vyfvoudige bediening het buite die gemeente gestaan.

Posisionele aanstellings in gemeentes en in die kerk was deur Paulus en Johannes verbied. Hulle het gemeentes gewaarsku om nie toe te laat dat mense hulleself aanstel nie.

Paulus en Johannes het byvoorbeeld groot probleme met ‘n sekere Diótrefes gehad wat sy funksie as ouderling misbruik het. Hy het ál meer gesag begin uitoefen en het homself eventueel aangestel in ‘n leierskap posisie. ’n Ander moontlikheid is dat hy as ’n valse apostel van buiteaf ingekom het en die gemeente oorgevat het. Wat dit ook al was, dit het ernstige gevolge vir die gemeente gehad.

3 Johannes 1:9-11

Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente. Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goeddoen is uit God; maar hy wat kwaad doen het God nie gesien nie.

Hier beskryf Johannes vir ons ‘n man wat die besluitneming oorgeneem het en die gesag uitoefen in die gemeente. Hy het wederregtelik eienaarskap oor die gemeente geneem en opgetree asof dit aan hom behoort. Hy was in beheer en het gemaak soos hy wil. Dit is nie hoe Jesus en die apostels die fondament gelê het vir ‘n Bybel gefundeerde gemeente nie. Oorweeg die woorde van Johannes: “…wat onder hulle die eerste wil wees

Paulus het ook uitgevaar teen hierdie tipe godsdienstige leiers in 2 Korintiërs 11:1-33. Hy noem hulle valse apostels. Paulus was egter ook ontsteld oor die gemeente, by wie die besluitneming rus, dit toegelaat het dat so ‘n persoon inkom en alles oor vat. Hy vermaan hulle oor hierdie slapheid of laksheid.

2 Korintiërs 11:4,19 en 20

Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval (is julle sommer tevrede daarmee).

Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!

Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beet neem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.

Kyk in watse ernstige lig Paulus hierdie slapheid van die gemeente beskou. In vers 13 sê hy dat sulke mense valse apostels en bedrieglike arbeiders is. Die gemeente het nie oordeelkundig opgetree nie deur hierdie valse apostels toe te laat om hulleself oor hulle aan te stel en oor hulle te regeer nie. Paulus vat die gemeente aan omdat hulle toelaat dat iemand knegte van hulle maak. Hy was ook ongelukkig oor die gemeente hierdie fout nie regstel nie. Paulus en die ander apostels het verskeie kere die gemeentes gewaarsku teen sulke mense wat verskuilde agendas het.

Selfs Jesus, in sy brief aan die gemeente van Efese in Openbaring 2:2, het dit hoog op prys gestel dat die gemeente dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie. Die gemeente het hierdie apostels as leuenaars bevind en hulle nie toegelaat om in die gemeente te bedien nie of oor te vat nie. Dit spreek van ’n volwasse gemeente op hierdie gebied:

Openbaring 2:2

Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het.

Paulus, Johannes, Petrus, Jakobus en Judas het nie ‘n enkele sendbrief aan kerkleiers gerig nie.

Paulus het nege sendbriewe aan gemeentes in Asië geskryf. Al nege briewe is aan die broeders geskryf en aan hulle gerig. (Aan die Heiliges in…, Aan die broeders in…, Aan al die geliefdes van God…, Aan die gemeentes van…). Altyd aan die kerk of die gemeente. Hy het almal as ‘n geheel bemoedig, versterk, vermaan, geleer en bedien. Hy het nie ‘n enkele brief aan die ouderlinge of aan enige ander leier gerig nie. Hy het inteendeel nie ‘n enkele keer met die ouderlinge in die briewe gepraat nie. Net met een geleentheid het hy die ouderlinge vlugtig gegroet en nie eens persoonlik nie. Hy het die gemeente gevra om hulle namens hom te groet. Ons lees daarvan in Hebreërs 13:24:

Groet al julle voorgangers en al die heiliges…

Hierdie wys duidelik die posisie van ouderlinge en leiers in die kerk uit. Daar is nie posisionele leiers nie. Net funksionele leiers en boonop is hulle buite die gemeentes. Ook Jakobus, Petrus, Judas en Johannes het dieselfde gesindheid ingeneem met betrekking tot ouderlinge in die sendbriewe wat hulle uitgestuur het. Hulle het geen brief aan enige ouderling geadresseer nie of met hulle gepraat nie. Hulle het ook die hele gemeente aangespreek in hulle briewe. Selfs wanneer die apostels die gemeentes gemotiveer het om dissiplinêre stappe teen ongehoorsame broeders te neem, het hulle die gemeente aangespreek en nie die ouderlinge nie. Hoekom? Omdat die hele gemeente verantwoordelik was vir gemeente aktiwiteite en ook vir dissiplinêre aksie in die gemeente. Dit was nie ‘n funksie vir leiers soos ons vandag in die institusionele kerke sien nie. Gemeentes moes self deur middel van die “konsensus” metode dissiplinêre aksie teen broeders en susters neem wat uit lyn uit was. Vandag stuur die kerk ‘n konfidensiële brief aan die pastoor van ‘n gemeente waarin hy gevra word om dinge uit te sorteer wat nie reg is nie. Hoekom? Want die vyfvoudige bedienaars is vandag posisionele leiers wat in beheer van hulle gemeentes is.

Is daar ’n hiërargiese struktuur onder die vyfvoudige bedienaars?

Uit die bogenoemde Skrifgedeeltes kan dit voorkom asof Paulus as ’n apostel posisioneel oor sy medewerkers aangestel is en hulle rond stuur en bevele gee soos hy wil. Dit is egter baie ver van die waarheid af. Hy was miskien die mees ervare onder hulle. Barnabas het vir Paulus geleer en Paulus het baie ander vyfvoudige bedienaars geleer. Dit is hoekom hulle altyd twee-twee beweeg het. Behalwe die fisiese bystand en morele ondersteuning het dit ook ten doel gehad dat die ervare een die ander een moes touwys maak. Paulus het die res van die apostels en die res van die vyfvoudige bedienaars wat saam met hom gearbei het as medewerkers op gelyke voet saam met hom gesien. Dit is dan wat Jesus hulle beveel het. “Moenie soos die wêreld wees nie maar wees almal dienaars, ag die een die ander hoër as jouself, moenie jouself leermeester noem nie, want julle is almal broeders”. Vir Jesus bestaan daar net een posisie: broeders, waarvan Hy die eerste is, die ander is almal gelyk.

Ons kan sien dat die vyfvoudige bedienaars hom partykeer geweier het en dat hulle, wanneer hulle sy begeertes uitgevoer het, hulle dit uit ywer en eerbied gedoen het. Hulle was as medewerkers in eenheid mekaar vrywillig onderdanig:

1 Korintiërs 16:12

Met betrekking tot die broeder Apollos, by hom het ek sterk aangedring om saam met die broeders na die julle te gaan; maar hy was heeltemal onwillig om nou te gaan; hy sal egter gaan wanneer die tyd vir hom geleë is

2 Korintiërs 8:16-17

Maar God sy dank, wat dieselfde ywer vir julle in die hart van Titus gegee het; want hy het my aansporing wel ontvang, maar omdat hy baie ywerig was, het hy uit eie beweging na julle toe vertrek

Apollos het dus vir Paulus gesê hy sal gaan wanneer hy voel die tyd reg is daarvoor. Paulus het Titus “aangespoor” om te gaan en nie beveel om te gaan nie. Titus het gegaan omdat hy self graag wou gaan.

Van hierdie vyfvoudige bedienaars het selfs ook vir Paulus teengegaan:

Handelinge 19:30

En toe Paulus onder die volk wou ingaan, het die dissipels hom dit nie toegelaat nie

Hieruit kan ons duidelik sien dat nie net Paulus nie maar al die ander vyfvoudige bedienaars geen posisionele aanstelling oor enigiemand anders gehad het nie.

Vir hierdie rede sou ander vyfvoudige bedienaars dit nie toegelaat het dat Paulus na baie jare sommer ‘n outjie met die naam Silas stuur om hier in “óns” gemeente ouderlinge te kom aanstel nie. Nee, die werklikheid is dat die kerk van God veronderstel is om deur die Heilige Gees gelei te word en nie deur vyfvoudige bedienaars nie. Ons is nooit oor God se mense en God se gemeentes aangestel nie. God is die enigste posisionele hoof van die gemeente. Ons almal besoek die gemeentes maar net tydelik om hulle te bemoedig en verder toe te rus vir húlle dienswerk. Ons is eintlik deur God gestuur om die gemeentes te dien:

Die vyfvoudige bediening laat geen steen onaangeraak om die gemeente te bevoordeel, op te bou en te dien nie. Hulle word nie deur die gemeente bedien nie. Hulle rig hulle lewens totaal in om die gemeentes te bevoordeel. Hulle maak die een opoffering na die ander. Hulle ontsê hulleself die een gerief of voordeel na die ander. Paulus het op verskeie plekke in die Skrif dit baie duidelik beklemtoon:

1 Korintiërs 4:9-13

Want dit lyk vir my dat God ons apostels die laaste plek as tot die dood veroordeel; want ons het ’n skouspel geword vir die wêreld, vir die engele sowel as vir die mense. Ons is dwaas terwille van Christus, maar julle is verstandig in Christus. Ons is swak, maar julle sterk. Julle is in aansien, maar ons in oneer. Tot op hierdie uur lei ons honger en dors, is ons naak en word ons geslaan en swerwe ons rond en swoeg ons deur met ons eie hande te werk. Word ons uitgeskel, ons seën; word ons vervolg, ons verdra dit; word ons belaster, ons troos; soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal tot nou toe.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese leierskap, kry die boek, “Bybel gefundeerde leierskap” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts