Bruidskap in die huiskerk gemeente

‘n Diepe liefdesverhouding met Jesus Christus bevorder die bruidskap dimensie in die gemeente.

Wie en wat is die kerk? Bruidskap is seker die mooiste en kosbaarste belewenis van die kerk. Daar is iets omtrent haar wat julle nie sal glo nie.

As jy ‘n bietjie met jou geestesoog kyk sal jy 4 persone op die “hoogste” punt van die heelal se horison sien staan. In die asemrowendste, majestueuse heerlikheid en volheid staan hulle daar in ‘n band en ‘n eenheid van ewige lig, liefde en harmonie. God die Vader, God die Seun, God die Heilige Gees en die bruid van Christus. Sy is die mooiste bruid wat jy nog ooit gesien het. Daar bestáán nie ‘n mooier bruid as sy nie. Haar skoonheid kom van die lig en die heerlikheid wat uit Jesus uitstraal en op haar skyn.

Jy sien die liefde in Jesus se oë as Hy na haar kyk. Jy sien dat Hy nie sy oë van haar kan afhou nie. Hy moet dit van haar wegskeer elke keer as sy aandag iewers anders nodig is. En jy besef dat Hy absoluut verlief op haar is en jy sien dieselfde by haar. Maar dan merk jy ‘n ander belangrike ding op. Die God deur wie en tot wie en vir wie alle dinge gemaak is, deel met sy bruid in haar geheel. Jy sien sy is ‘n korporatiewe wese. Haar liggaam bestaan uit baie lede. Sy is baie maar tog is sy een, ‘n unieke wese. Die enigste lewende organisme in die heelal wat so uniek saamgestel is. Al die lede, al die lewende, Gees vervulde, asemhalende “eenhede” of “selle”, ek en jy en almal wat Christus het natuurlik, is uniek in liefde saamgebind en ondersteun mekaar op ‘n unieke wyse om hier lewensgroot voor haar bruidegom te staan.

En by Hom merk jy dat, hoewel sy liefde vir elke individuele lid duidelik sigbaar is, sy hele wese op haar as geheel, die enkele, korporatiewe persoon gefokus is. God is nie ‘n mens nie. Dit is heel gepas en niks minder as reg dat niks minder as Sy bruid in haar totaliteit waardig is om voor Hom te staan nie. Geen individu kan in haar plek voor Hom gaan staan nie. Geen individu kan haar kom verteenwoordig nie.

Kyk en sien hoe “dans” hulle die dans van die lewe. Sy linkerarm om haar middel en haar hand in sy regterhand. Haar linkerhand om sy nek. Kyk hoe grasieus dans hulle terwyl hulle in mekaar se oë kyk. Hulle liefde vir mekaar ‘n ewige vuur wat in hul oë vir mekaar brand. Vlae van liefde, respek en bewondering beweeg van die een na die ander. Daar is ‘n Goddelike “meedeling” van sy diepste “God wees” wat op ‘n Goddelike wyse in haar gedeponeer word. Van Gees na gees. Hy druk haar styf teen Hom vas en jy besef sy is vir Hom gebore. Die eerste Adam is uit stof geskep. Maar dit is nie wat jy hier voor jou sien nie. Die tweede Adam en sy bruid is uit Gees gebore.

Joh. 3:3-8

Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ’n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ’n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie. Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.

‘n Nuwe spesie

2 Kor. 5:17

Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het nuut geword, kyk, dit het alles nuut geword)

Sy interaksie met haar word nie deur ‘n persoon gekanaliseer nie. Inteendeel, die uitdrukking van Homself aan haar is nie ‘n orale boodskap of orale kommunikasie nie, want dit vind nie in die siel dimensie van verstandelike kennis plaas nie. Dit is ‘n openbaring in die Gees op gees vlak. Mense bedien die letter, en hulle bedien kennis, wat niks anders is as ‘n dooie godsdiens nie. Net die Gees kan gees en lewe bedien. Net die Gees kan Jesus openbaar. Daarom is dit net Gees werking wat Hom kan openbaar.

Vind ons die volgende vers in die Bybel?

Hoe staan die saak dan, broeders? Wanneer julle saamkom, laat die voorsang leier die gemeente in lofprysing en aanbidding lei, laat die herder bid, laat die herder preek en laat hy die afkondigings maak, laat hy die mense deur gebed bedien, laat die gemeente al hulle aandag op die herder rig, laat die gemeente stil wees — laat alles tot stigting geskied.

Uit bogenoemde is dit duidelik dat by God die woord “individualisme” ten opsigte van sy kerk en sy bruid nie bestaan nie. God het die gemeenskap wat in die Godheid bestaan uitgebrei na sy kerk. Daarom is die volgende terme uit God gebore: Gemeenskap, familie, gesin, ondersteuning, saam wees, help mekaar, interaksie, ens.

Wisselwerking:

  1. Hoe voel jy oor die stelling “Die bruid staan voor Jesus en nie ‘n individu nie”?

  2. Jesus openbaar Homself deur Gees werking aan Sy bruid deur elkeen wat beskikbaar is en nie deur een persoon nie. Ook nie deur middel van teoretiese kennis nie. Hoe voel jy oor dié stelling?

Vir meer informasie oor huiskerke, kry die boek, Huiskerke, Hoe? Hoekom? op die “Hulpmiddels”bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Leave a Comment