Hoe word die Ekklesia toegerus?

Bediening is nie net vir party mense nie. Bediening is nie net vir mense wat in die vyfvoudige bediening staan nie. Bediening is nie net vir mense wat die gawes van die Gees in hul lewens deelagtig is nie. Bediening is nie net vir die ouderlinge nie. Bediening is nie net vir mense wat in die Heilige Gees gedoop is nie. Nee, bediening is vir elke gelowige kind van God. Die Bybel sê dat ons dissipels van alle mense moet maak, hulle moet doop en hulle moet leer om alles te onderhou wat Jesus sy dissipels geleer het. Ons moet mekaar voorgaan in al hierdie gemeente aktiwiteite. Ons moet mekaar leer.

With dramatic clarity, all of these “one-another” exhortations incarnate the fact that every member of the church is to share the responsibility for pastoral care. Leadership is a corporate affair, not a solo one. It’s to be shouldered by the entire body.

– Frank Viola

Die ouderlinge (maar tog ook almal in die gemeente) se funksie, as ‘n enkele woord beskrywing, word die beste in Heb. 13:24 weergegee:

Groet al julle voorgangers

Hoekom noem Paulus die ouderlinge “voorgangers”? Die klem lê natuurlik op die woord “voorganger”. ‘n Voorganger is iemand wat ander mense wys hoe dinge gedoen word. Hy loop voor en hy demonstreer hoe dit gedoen moet word. Enigiemand kan ‘n voorganger wees, nie net die ouderlinge nie. Hulle besoek die siekes, hulle vat kos weg vir die hongeriges, hulle leer die jonges, hulle help die behoeftiges in die gemeente. Onthou die gemeente is maar klein. Gewoonlik so 5 tot 30 mense. Die ander gemeentelede sien dit en begin dit self ook te doen. Deur die self doen, wys ons ander en in die proses motiveer ons ander deur ‘n goeie voorbeeld te wees.

2 Thess. 3:7-9

Want julle weet self hoe julle ons moet navolg, want ons het ons nie onordelik onder julle gedra nie; ook het ons nie brood by iemand kosteloos geëet nie; maar ons het met arbeid en inspanning nag en dag gewerk om nie iemand van julle tot las te wees nie. Nie dat ons nie die reg het nie, maar om onsself vir julle as ‘n voorbeeld te stel, dat julle ons kan navolg.

Paulus doen en hy wys ander hoe.

The five steps of equipping people:

You do, you do with someone who watches you, you allow someone to do while you watch, someone else do, someone else do with someone else.

– John Maxwell

Basies sê John Maxwell dat mense toegerus word of geleer word deur die volgende prosesse te volg:

Jy doen eers die taak self. As jy die taak nie self kan doen nie kan jy nie ander leer om dit te doen nie.

Dan doen jy die taak voor iemand sodat hy kan sien hoe dit gedoen word.

Die volgende stap is om daardie persoon toe te laat om nou die taak te doen terwyl jy toekyk.

Daardie persoon gaan nou uit en hy doen self die taak.

Die persoon doen nou die taak voor iemand anders sodat ‘n derde persoon kan sien hoe hy dit doen.

Dit is waarlike “toerusting” soos wat Jesus dit gedoen het. Jesus het nie net teoretiese instruksies gegee nie maar Hy het dit wat Hy gesê het self gedoen sodat mense kon sien hoe dit gedoen moet word.

As al vyf hierdie stappe uitgevoer word dan vind gesonde “toerusting” van mense plaas. Die siklus is heeltemal voltooi want elke persoon wat geleer is, leer ook nou ander.

Ons praat nie van ‘n groot las op die gemeentelede se skouers nie. Onthou huiskerk gemeentes is maar klein. Iemand se motor het gebreek en iemand gaan help hom om dit reg te maak. Iemand is siek en almal of party gaan bid vir hom. Iemand het nie kos in die huis nie en die ander maak ‘n bietjie kos bymekaar vir hulle. Iemand is ‘n bietjie terneergedruk en die ander bemoedig hom ‘n bietjie. Iemand verjaar en die ander gaan kuier ‘n bietjie vir hom. Almal maak bemoeienis met almal. Almal maak die werk ligter want daar is soveel minder mense om na om te sien en soveel meer mense om dit te doen.

Almal het gawes

In die gemeente het almal ‘n gawe, almal is bedienaars en almal is verantwoordelik vir mekaar (Rom 12:6, 1 Kor. 12:1, Ef. 4:7, 1 Pet. 4:10). Die idee dat die ouderlinge of die herder van die gemeente soos in die institusionele kerk verantwoordelik is vir hierdie gemeente take is glad nie Skriftuurlik nie. Dit is hoekom daar eintlik niks aangaan in die kerk nie. Die Herders in baie gemeentes voer nie werklik hierdie take uit nie en die gemeentelede nog minder. Almal is passief. Daar word gepreek en geluister en dit is omtrent al. Dit is nie waarvoor ons geroep is nie. Ons is nie geroep om te preek en te luister nie. Jesus het ons persoonlik gewys wat ons moet doen deur vir ons ’n leefwyse van die “Jesus bediening” te demonstreer. Hy het ons presies gewys wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen. Lees weer 2 Thes. 3:7-9. Is dit wat die leiers van vandag doen of nie? As ons almal moet doen wat die vyfvoudige bedienaars vandag doen dan gaan ons almal preek. Daar gaan egter niemand op die kerkbanke sit vir wie ons kan preek nie.

Dit is nie preke wat geestelike groei bevorder nie. Preke doen bitter min vir ‘n mens. Kyk maar hoe lyk mense se lewens wat vir jare lank 10 preke ‘n maand aangehoor het. Die Bybel sê uitdruklik wat werklik geestelik groei bevorder. Dit staan in Efesiërs 4:15-16

maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.

Elke lid ondersteun die liggaam deur dit goed saam te bind en saam te voeg deur die werking van elke lid in sy mate en daardeur die groei van die liggaam bevorder.

Dit is dus in werklikheid die almal deelnemende en almal funksionerende bediening van die liggaam se verskillende dele wat geestelike groei verseker.

Die alledaagse gemeenskapslewe is in werklikheid kerklewe

Iemand in die institusionele kerk het eenkeer die volgende gesê: “We equipped people for our world, the church world, and not for their world, the everyday life”. Hierdie stelling is heeltemal waar maar daar is tog ook iets wat nie sin maak in hierdie stelling nie: Die kerk wêreld is veronderstel om presies dit te wees: “the everyday life”!

Die kerklewe het geword “die plek tussen die vier mure van die kerkgebou”. Die wêreld daar buite is in werklikheid vir die institusionele kerk ‘n onbekende plek. Hoekom? Want hulle ken nie die gedeelde gemeenskapslewe van die familie van God nie. Dit is vir hulle totaal vreemd.

The devil is so happy when believers don’t come out of the four walls of the church. He revels in the fact that most of us don’t yet know who we are… People have said, “Come to church with us”, but that builds the wrong image. We are not going to church. We are the church!… We have brought people to the church building to get everything: to get saved, to get healed, and so forth. But the kingdom is in us to take salvation, healing, and every heavenly provision to the world. We don’t have to bring the people to the church building.

– Bill Winston

Ons gaan nooit leer wie ons is tussen die vier mure van die kerkgebou nie. Ons gaan nooit leer wie ons is terwyl ons deur strukture vasgedruk word nie. Ons moet uitbreek!

Die Nuwe-Testamentiese kerk was in die hande van die mense, die broeders en die susters. Daar was nie die georganiseerde herder geleide strukture wat ons vandag ken nie.

Die hoofrede hiervoor is dat die kerk of die gemeente eintlik ‘n familie is. Die interaksie tussen die gemeentelede is familie interaksie. Daar is nie die styfheid van half vreemde of totaal vreemde mense nie. Almal ken mekaar en hulle ken mekaar goed. Daar word hegte familie bande gesmee en almal word baie lief vir mekaar. Dit is baie maklik wanneer die gemeente klein en intiem is. Groot kerke kan dit maar vergeet. Hierdie aspek van Christen wees is egter van uiterste belang.

Christian community is indispensable for proper spiritual formation and development. The church that’s living as family will produce transformation in its members. The church that isn’t won’t.

– Frank Viola

Familie tipe gemeenskapslewe is dus nie opsioneel nie. Dit is ‘n opdrag.

Gal 6:10

Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goeddoen, maar die meeste aan die huisgenote (familie) van die geloof.

Rom 8:29

Want die wat Hy vantevore geken het, die het Hy ook vantevore geordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.

Ef. 2:19

So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote (familie) van God.

1 Tim 5:1-2

‘n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.

Die hele Nuwe Testament is deurweek met terme soos familie, kinders van God, broeders, susters, vaders, nuwe geboorte, seuns van God en huisgenote. Die lokale gemeente is die familie van God. Die huis gemeentes in die dorp is die familie van God. Die kinders van God binne die institusionele kerk is die familie van God. Maar ons moet lewe soos ‘n familie. Nie soos ‘n klomp werkers in ‘n groot korporasie nie.

In ‘n groot korporasie lewe elkeen maar vir homself. Dit werk nie so in God se familie nie. Daar sorg hulle vir mekaar. Hulle spandeer tyd met mekaar, hulle groei saam en word saam groot, hulle deel verantwoordelikheid in die “huis”, hulle betoon liefde en toewyding aan mekaar, net soos in ‘n natuurlike familie.

Hulle leef presies soos ‘n natuurlike familie al lewe hulle in verskillende huise. Soos die natuurlike familie mekaar help en ondersteun, net so doen die geestelike familie ook. Omdat hulle tyd met mekaar spandeer weet hulle van probleme, gebeurtenisse en omstandighede in mekaar se lewens. Dit is ’n gesindheid. As hulle dit nie doen nie en bymekaar verby lewe, nie weet wat aangaan in mekaar se lewens nie, mekaar se kinders nie soos hulle eie aanvaar en beskou nie, watse familie is dit dan?

Jak 2:14-17

Wat baat dit, my broeders, as iemand sê dat hy die geloof het, maar hy het nie die werke nie? Dié geloof kan hom tog nie red nie? As daar nou ‘n broeder of suster naak is en aan die daaglikse voedsel gebrek het, en een uit julle sou vir hulle sê: Gaan heen in vrede, word warm, word versadig, maar julle gee hulle nie wat vir die liggaam nodig is nie – wat baat dit? Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.

Hierdie geloof in aksie noem Jakobus ware geloof. Geloof is ‘n leefwyse van omgee. Jy voorsien in jou eie behoeftes maar ook in ander se behoeftes. Ander voorsien ook in jou behoeftes. Dit is die gesindheid en aksies van wedersydse versorging. Ons verkoop nou wel nie al ons eiendom en besittings soos die Nuwe-Testamentiese kerk gemaak het nie maar ons sorg wel vir mekaar.

Fil. 2:4

Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.

Let op die belangrike woordjie: Elkeen ook die ander s’n. Die welstand van jou geestelike broers en susters is jou probleem ook. Nie net hulle s’n nie. Dit is ware “agape” liefde in aksie.

Dissipline in die familie

Uit die aard van die saak word mense wie se optrede uit lyn is ook soos in die natuurlike familie hanteer. In die natuurlike familie sien die broers en susters onvanpaste gedrag of optrede, dit wek kommer of verdriet by hulle en hul spreek dit aan. Net soos dit nie in die natuurlike familie geduld kan word nie kan dit ook nie in die geestelike familie geduld word nie. Net soos daar in die natuurlike familie die regte metode aangewend moet word om die probleem aan te spreek, net so ook in die geestelike familie.

Daar word nie op mekaar geskreeu en verwyte toegesnou nie. Nee, die probleem word rustig en ordelik hanteer sodat daar nie kwaai gevoelens later en onnodige seerkry betrokke is nie. Almal is betrokke met die dissiplinering van broeders en susters in die huiskerk, nie net party mense of net die ouderlinge nie. In 1 Kor. 5:1-7 lees ons hoe die kerk die onordelikes moet aanspreek wanneer hulle uit lyn raak. Dit moenie geïgnoreer word of net oorgesien word nie. Dit moet aangespreek word.

Hierdie dan mense is die dienswerk van die heiliges. Die vyfvoudige bediening rus die heiliges toe vir hulle dienswerk. Ef. 4:11-13 is baie duidelik hieroor:

En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus…

Wie word toegerus? Wie moet werk? Wie het dienswerk? Die antwoord is baie duidelik: Die heiliges, en die vyfvoudige bediening moet hulle toerus om dit te doen. Die institusionele kerk het dit heeltemal verkeerdom: Die vyfvoudige bediening werk, hoewel nie in die korrekte opset nie en hoewel hulle ook nie die regte werk doen nie. Die werklikheid is onteenseglik dat dit eintlik húlle is wat werk en die heiliges is totaal passief. Dit is nie God se ewigheid plan vir die heiliges nie. Jesus het gekom om die koninkryk van God te kom vestig op aarde. Hy het elke mens nodig daarvoor. Hy het ook elke mens wat Jesus volg oorgebring vanuit die koninkryk van duisternis en in die koninkryk van die Seun van sy liefde oorgeplaas.

Ons is konings en priesters in die koninkryk van God. Ons is verordineer om in sy koninkryk te heers. Ons moet alles in die natuurlike wêreld onderwerp aan die geestelike koninkryk van God en oor die handewerk van God heers. Ons moet die verlossingswerk van Christus voortsit in hierdie koninkryk. Ons moet sy koninkryk uitbrei en die koninkryk van die duisternis verdryf totdat die heerlikheid van God die aarde vul. Die kerk is die lig wat duisternis verdryf omdat die lig van Jesus in ons skyn. Jesus sit sy verlossingswerk in ons voort. Hy verlos deur ons, Hy red deur ons, Hy genees deur ons, Hy maak vry deur ons. Ons moet sy koninkryk beginsels leer en uitvoer. Hierdie koninkryk is egter ’n familie koninkryk. Dit is die enigste koninkryk in die geskiedenis van die mensdom waarvan die hele bevolking van die koninkryk familie is. Dit is ook die enigste koninkryk waarin almal presies dieselfde in alles is. Niemand is hoër of beter as ander nie. Almal het dieselfde genade, voorregte en toegang tot die hulpbronne en voordele in die koninkryk.

Daar is nie slawe in die koninkryk van God nie. Almal is konings en priesters van God. Die speelveld is absoluut gelyk vir almal. In hierdie koninkryk word dit van almal verwag om te werk. ’n Mooier woord natuurlik is om mekaar te “dien”. Net soos Jesus moet elkeen die “dienskneg” gesindheid van ons Heer en Meester navolg. Hierdie gesindheid maak dit moontlik vir God om nie net die karakter en natuur van God in ons te ontwikkel nie maar ook om die wonderwerkende krag van God in ons te ontwikkel. Paulus sê totdat ons almal kom tot die mate van die volle grootte van Christus. Ons groei dus saam op totdat ons almal kom tot ’n volwasse man. Jesus was ons “default” voorbeeld. Ons moet doen wat Hy gedoen het. Inteendeel Hy self sê dat ons moet doen wat Hy gedoen het. Dit is die kerk se dienswerk. Dit is die heiliges se dienswerk! Tog moet ons dit reg verstaan. Dit is in werklikheid Jesus Christus wat in ons opgroei tot ’n volwasse man namate ons Hom toelaat om in ons te leef en in ons te heers.

Die heiliges se dienswerk is om ’n gedeelde gemeenskapslewe saam met hulle broers en susters in die Here te lewe net soos wat Jesus dit gedoen het. Jesus het met die dissipels saamgeleef soos met ’n familie want hulle is sy familie. Toe die skare vir Hom sê dat sy ma en broers buitekant op hom wag, toe antwoord Hy: (Matt. 12:48-49)

Maar Hy antwoord en sê vir die een wat Hom dit vertel het: Wie is my moeder? En wie is my broers? En Hy steek sy hand oor sy dissipels uit sê: Dáár is my moeder en my broers.

Jesus het die gedeelde gemeenskapslewe saam met sy dissipels gelewe en dit is die eerste en fundamentele dienswerk van die heiliges in die kerk wat hy ons gewys of geleer het. Dit is een van die twee pilare waarop die kerk gegrondves is.

Jesus het deur die land gegaan, daar in die dorp waar Hy was, in die gemeenskap, op straat, op die markplein, op die sportveld, op die hoof roetes, in huise, op see, in ’n boot, in die veld, ja orals waar Hy en sy “familie” gewandel en hulle hul bevind het, daar was sy dienswerk genesing, aanvaarding, bemoediging, hulp, sorg, bemoeienis, verlossing van demone, verlossing van tradisies, verlossing van godsdiens, vrylating van gevangenis, goeie nuus, kos gee, versorging, aankondiging van die aangename jaar van die Here en die proklamasie van die koninkryk van God hier op aarde. Hy wil dit steeds in en deur ons doen.

Hy het die koninkryk van God verkondig in Gees en in krag. Hy het dit prakties gedemonstreer. Hy het ons gewys wat ons moet doen en hoe ons dit moet doen. Hy verlang nie van ons om enigiets anders te doen as juis dit wat Hy gedoen het nie. Sy opdrag aan ons is dan ook om dieselfde te doen. “Die werke wat Ek doen, sal julle ook doen”. Inteendeel; “julle sal groter werke as Ek doen omdat Ek na die Vader gaan. Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle ook. Julle sal siekes genees, duiwels uitdryf, dooies opwek, My Naam proklameer en verklaar aan die ongelowiges, julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee”. Waar? Op straat, op markpleine, in huise, op die hoof roetes, op die sportveld, op die skoolterrein, in die winkel, orals waar julle gaan. Dit is julle dienswerk. Julle doen dit deur in My gawes te funksioneer (Die gawes van die Gees). Moet dit nie uit julleself doen nie want dan sal dit geen krag hê nie.

Dit is waarvoor die gawes van die Gees gegee is. Hierdie “dienswerk van die heiliges” is die “verlossingswerk van Jesus” wat Hy deur sy kinders uitvoer. Hiervoor het ons die doping in die Gees nodig, hiervoor moet ons in die gawes van die Gees funksioneer en hiervoor moet ons die vrugte van die Gees openbaar in ons alledaagse lewenswandel. Hierdie drie “elemente” verklaar die lewende God se bestaan, karakter en wil.

Hiervoor het ons die regte toerusting nodig. Ons het die regte milieu nodig. Ons het die regte atmosfeer nodig. Soos klein plantjies en soos klein babatjies het ons blootstelling aan die regte voedsel, grondstowwe, sonlig, interaksie, water, bemesting en al die ander elemente nodig om te groei. Ons noem dit geestelike groei maar ons groei eintlik in Christus wanneer Hy in ons groei. Daarsonder sal ons nooit tot volwassenheid kom nie. Sonder Christus ín ons ly die koninkryk van God skade en sukkel ons om die koninkryk van duisternis totaal uit ons samelewing te verdryf.

Jesus was nie ’n professionele prediker nie. Inteendeel, Hy het baie min “gepreek”. Preek verander nie lewens nie. Preek is verstand kennis. Preek is die letter en preek is dood. Nee, as jy wil leer fietsry, dan ry jy fiets. Jy val maar jy staan op en probeer weer. As jy heen-en-weer oor die pad slinger dan byt jy vas. Jy pas die beginsels en reëls van die natuurlike wette wat balans beheer toe en jy druk deur tot jy dit regkry. Leer om net Jesus te bedien. Laat Jesus toe om in jou en deur jou te bedien. Laat Hom toe om vanuit jou te vloei na ’n verlore en behoeftige mensdom. Jy woon nie ’n teoretiese konferensie by nie. Dit is net verstand kennis en as jy jou hele lewe daar sit gaan jy graf toe sonder om fiets te ry. Dit is so eenvoudig soos dit. Ons “dienswerk” is nie om na preke te luister nie en die vyfvoudige bediening se “funksie” is nie om te preek nie. Ons moet almal, vyfvoudige bedienaars én die heiliges, presies dieselfde doen, net soos wat Jesus gedoen het, as ons geestelik wil opgroei tot die volle gestalte van Christus: Verkoop die geboue of breek dit af. Laat Jesus ín jou toe om die heiliges te wys hoe om te bedien.

Ons heers in die koninkryk van God en die koninkryk van God heers in die wêreld

In die droom van Nebukadnésar het ons gesien dat die koninkryk van God sonder die toedoen van ’n mensehand uit die Hemel afgekom het, alle ander koninkryke vernietig het en groter en groter geword het totdat dit die hele aarde gevul het. Kyk ’n bietjie wat sê Dan 2:44 en vers 35:

Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aanmaak, maar self sal dit vir ewig bestaan.

…maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.

Dit is nou God se doel en sy plan vir ons. Hy wil nou die aarde ín ons vul. Hy het ons nou nodig om hierdie profesie in totale vervulling te bring. Ja, daardie fisiese koninkryke waarna die boek Daniël verwys is reeds verslaan (Babilonië, Medië, Persië, Griekeland en die Romeinse ryk). Hulle was egter ook ’n tipe van die koninkryk van duisternis wat ook verslaan is maar die fisiese realisering daarvan in die natuurlike wêreld moet deur die kerk teweeggebring word. Daarvoor het hy volwasse seuns van God nodig. Babatjies en kindertjies kan dit nie volbring nie. Diensknegte kan dit nie volbring nie. Paulus het pertinent genoem dat die hele skepping met reikhalsende verlange wag vir die openbaarmaking van die seuns van God (Rom 8:19). Die woordjie “kinders” van God in die oorspronklike Grieks in hierdie vers is “uióς” (uitspraak “hwee-os”) wat eintlik volwasse “seuns” van God beteken en nie “kinders” nie. Die oorwinning wat die Seun in die gees wêreld behaal het, moet nou deur die seuns in die natuurlike wêreld materialiseer. Ons moet kom tot die volle gestalte van Christus om hierdie taak te volbring. Daar kom ’n dag wanneer die natuurlike wêreld in die koninkryk van God opgeneem word. Daar kom ’n dag wanneer nie net lokale munisipaliteite nie maar staats regerings bloed gewaste kinders van God gaan wees en die wêreld volgens God se koninkryk beginsels regeer gaan word. God se koninkryk moet heers in hierdie wêreld. Dit is wat die boek Daniël voorspel het. Jesus Christus gaan die hele wêreld in en deur die seuns van God regeer voor Hy weer kom.

Die kerk moet eers oorwin voor Jesus weer kom. Wanneer die wêreld hierdie familie koninkryk van God in sy volle glorie in liefde sien funksioneer, sal hulle “getrek” word daarna en deel word daarvan. Die kerk moet eers in ’n liefdes verhouding en in ’n familie opset funksioneer voor dit sal gebeur. Die godsdiens van die georganiseerde kerk is dood en is glad nie aantreklik nie. Dit trek mense nie. Dit stoot mense af. Die heiliges moet eers ’n familie word. ’n Familie spreek van eenheid, liefde en informele, vrolike, feesvierende, intieme interaksie. ’n Familie spreek ook van aanvaarding, veiligheid, simpatie en saamstaan. Dit is die gedeelde gemeenskapslewe van die familie van God.

Dit is nie professionele predikers nie maar elke funksionerende lid van die liggaam van Christus, wat geestelike groei bevorder. Daar is Skrif daarvoor: Efesiërs 4:15-16  –  Die liggaam is goed saamgevoeg en goed saamgebind deur die ondersteuning wat elke lid gee wat die groei van die liggaam bevorder. Mense was al die jare onder die indruk dat preke geestelike groei bevorder terwyl dit eintlik net goed is vir evangelisasie, lering en bemoediging. Gaan kyk maar weer hoe lyk kinders van God wat 50 jaar lank sit en preke luister. Hulle bly babatjies en geestelik onvolwasse. Ek sal jou wys hoe lyk ‘n kind van God wat prakties opgebou word deur die gawes van die Gees en die ondersteuning van die almal funksionerende en almal deelnemende bediening van die heiliges. Dit is hulle dienswerk!

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts