Geestelike groei en ontwikkeling in huiskerke

Dit is belangrik dat ons sekere vrae rondom die groei stadium van die huiskerk moet vra. Wat laat ‘n gemeente groei? Hoekom breek party gemeentes op? Watse fases of groei stadiums gaan ‘n gemeente deur voor dit volwassenheid bereik? Wat hou alles in plek? Wat maak ‘n gemeente sterk?

Die institusionele kerk het sekere strukture in plek om dit in stand te hou. Wat hou die huiskerk in stand? Die huiskerk word uit die Gees gebore en deur die Gees in standgehou. Daar is geen menslike struktuur of ondersteunings sisteme hiervoor nie. Die lewende inwonende Jesus, met ander woorde, Jesus ín ons beheer die kerk en hou die kerk in stand. Hy beheer ons van binne af, Hy hou ons in stand van binne af. Namate ons onsself vernuwe deur vlees werking in ons lede dood te maak kan Jesus Christus in ons opgroei en Gees werking moontlik maak. Ons onderwerp die vlees en ons onderwerp die siel deur die vernuwing van ons gemoed. Ons kruisig ons ou self sodat Jesus in ons kan leef en kan heers. Ons doen dit saam as die korporatiewe liggaam van Christus.

Kol 1:27 en 28

Aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel.

Ons opgroei het eintlik te doen met die Christus beeltenis in ons. Ons opgroei in Christus word bepaal deur die mate waarin ons Hom toelaat om in ons te leef. Ons begin almal as babatjies in Christus. Soos wat ‘n babatjie stadig maar seker opgroei tree daar voortdurend veranderings in met betrekking tot sy vermoë, sy funksionering, sy grootte, wysheid, vaardighede, kapasiteit, kennis, ervaring, verwysingsraamwerk, beeld en nog ‘n klomp ander goed. ‘n Mens kan voor jou oë sien hoe die klein mensie groei en ontwikkel. Goedjies wat ‘n maand gelede vir hom moeilik was word nou redelik maklik bemeester. Hy geniet die nuwe dingetjies en elke dag bring vir hom nuwe geleenthede vir nuwe ervarings en nuwe uitdagings om onder die knie te kry. Hy word by die dag groter en sterker. Hy absorbeer al hierdie goed wat om hom gebeur en dit laat hom vinnig ontwikkel.

In die huis gemeente vind groei geestelik presies dieselfde plaas. Die kerk is ’n lewende wese en daarom groei sy. Geestelike groei word moontlik gemaak deur die Gees werkinge in die lewe van die individu en die gemeente. Die Gees gebruik ons interaksie met mekaar, persoonlike omstandighede en die gawes van die Gees as boustene.

Hierdie groei fases in die huiskerk is werklik uniek. Omdat die huiskerk gemeente soos ‘n jong boompie in ‘n geestelike “Utopia” geplant is waar al die verskillende elemente, grondstowwe, voedsel, stikstof, water, son en lig perfek gebalanseerd en beskikbaar is, vind daar dinamiese groei en ontwikkeling plaas.

Wat is hierdie spesifieke grondstowwe wat die gemeente nodig het en wat is ‘n geestelike “Utopia”? Die woordeboek sê dat ‘n “Utopia” ‘n plek is waar perfekte sosiale en politieke sisteme is. Dit is ‘n perfekte plek, staat of balans van wat nodig is om die organisme te voed en positief te beïnvloed. Die volmaakte politieke omstandighede is die afwesigheid van die posisionele leierskap strukture van die georganiseerde kerk. Die volmaakte sosiale omstandighede is die teenwoordigheid van die gedeelde gemeenskapslewe en die almal funksionerende en deelnemende sisteme van die organiese kerk. Die almal neem deel, almal bedien, almal funksioneer, almal kommunikeer, almal help, almal dra by, almal sorg en almal ondersteun is alles essensiële dimensies van familielewe en van kardinale belang in die kerk van God. Almal op gelyke vlak is juis dit wat ‘n funksionerende kind van God nodig het om groei te verseker. Daar is geen beperkings nie, daar is geen bande of knie halters of jukke of tooms of toue of kettings nie. Almal is vry, almal haal asem en almal lewe.

Dit kan weereens glad nie met die institusionele kerk vergelyk word nie. Waar die geestelike “mensie” of gemeente in die institusionele kerk konstant aan wanvoeding, ongunstige omstandighede en droogte blootgestel is kan geestelike groei net nie normaal plaasvind nie. As ons die toestand van die geestelike kerk binne die georganiseerde godsdiens werklik moet sien sal dit vir ons ‘n skok wees. Ek is seker daarvan dat hierdie wese ‘n maer, uitgeteerde, krom, uitgehongerde, bleek, kreupele of invalide moet wees. Daar is nie ‘n manier dat sy ‘n gesonde gebalanseerde wese is nie. Menslike instellings is steeds besig om haar te versmoor en dood te druk. Sy smag na geestelike stikstof, water, grondstowwe, lig en plantvoeding.

Die frustrasie van pastore en dominees in die institusionele kerk is die bewys daarvan. Opnames en steekproewe in die loop van die jare het dit oor en oor bewys dat geestelike groei in die georganiseerde kerk bitter stadig of glad nie plaasvind nie. Jaar na jaar sit die mense passief in die banke en stagneer. Hulle word nie uitgedaag nie, hulle word nie opgekommandeer vir diens nie, hulle word nie gebruik nie, hulle word nie uitgestuur nie, hulle doen nie veel nie, hulle weet nie hoe nie en daar word nie veel van hulle verwag nie. Dit is hoe die struktuur dit voorskryf.

Ek wil graag ’n voorbeeld noem: Ek het op ’n tyd ’n sekere gemeente gereeld besoek. In die gemeente het ek die vernietigende gevolge van die institusionele struktuur eerstehands aanskou. Op ’n sekere dag het ’n persoon net voor die pastoor sy preek sou begin opgestaan om ’n getuienis te deel. Nog voor hy sy mond kon oopmaak het die pastoor met ’n streng stemtoon gesê: “Please sit down sir”. Die persoon het daarop gevra of hy nie net ’n kort getuienis kon deel nie. Die pastoor het gereageer deur sy bevel te herhaal: “Please sit down sir”. Die voorval was onmiddellik ’n verleentheid vir almal. Nie net vir die persoon wat sy getuienis wou deel nie maar vir baie wat daarna moes luister. Wat het hier gebeur? Hierdie was die resultaat van die ondermynende invloede van die institusionele kerk in aksie. Die formele aard van die byeenkoms asook die geesteshouding van die leierskap van die institusionele kerk druk die almal funksionerende funksie van die familie van God dood. Niemand in daardie gemeente het werklik die vrymoedigheid om die 1 Korintiërs 14:26 bediening in die byeenkomste uit te leef nie. Dit word nie gepromoveer nie en aksies soos hierdie keer dit. Wat is die gevolge daarvan? Passiewe gemeentelede wat nooit die kans gegun word om te bedien en geestelik te groei nie. Dit is werklik baie ongunstige omstandighede vir die kerk van God.

Mense in die institusionele kerk wat wel geestelike groei toon doen dit meer uit persoonlike ontwikkeling as met die hulp van die “kerk”. Pogings om hierdie kondisies te verander en die probleem die hoof te bied werp weinig vrugte af omdat die struktuur in elk geval nie die almal deelnemende en funksionerende model van die huiskerk kan akkommodeer nie. Dit is soos om naaldwerk met ’n koevoet te probeer doen.

Die meganiese na-aap metodes van die institusionele kerk om “organiese” metodes te implementeer slaag nie daarin nie omdat, wat hulle ook al doen, die kettings wat die struktuur in plek gesit het nooit afgeskud kan word nie. Dit is altyd daar. Baie leiers sien die tekortkominge in hulle struktuur en weet wat nodig is vir die gemeente. Sy pogings om dit binne die struktuur vir die gemeente beskikbaar te maak werk egter nie en dit wat hy poog “ontplof” gewoonlik in sy gesig. Ons verwys hier na sel kerke of selgroepe en dies meer. Gene Edwards, ’n baie bekende Amerikaanse skrywer wat aktief met die planting van huiskerke besig was, vertel dat hy eenkeer deur institusionele kerkleiers genader is om hulle te leer hoe om huiskerke te plant. Dit sou ’n seminaar wees met die betrokke denominasies se leiers wat almal sou inkom vir opleiding. Hulle wou egter dat Gene hulle die versekering gee dat die denominasie steeds beheer oor hierdie huiskerke sou behou. Hulle wou by Gene weet watse kontrole maatreëls hulle kan inbou om steeds beheer te behou. Hierdie kondisie of vereiste was vir hierdie kerkleiers baie belangrik maar dit het vir Gene in sy spore gestop. Hy was verplig om die uitnodiging van die hand te wys. Die hele oefening sou ’n vermorsing van tyd gewees het. Al sou die planting van hierdie huiskerke volgens Bybel gefundeerde beginsels uitgevoer word sou die beheer meganismes van die betrokke denominasie dit aan bande gelê het en doodgedruk het.

Die organiese kerk het nie hierdie negatiewe meganismes en strukture wat die institusionele kerk so genadeloos ondermyn nie. Daarom is geestelike groei dinamies. Mense wat die georganiseerde kerk verlaat het om deel te word van ‘n huiskerk gemeente kan nie uitgepraat raak hieroor nie. Daar is inteendeel nie ‘n manier dat geestelike groei nie plaasvind nie omdat al die omstandighede so gunstig daarvoor is. Dit kan nie gekeer word nie. Dit vind outomaties plaas net soos wat ’n plant outomaties groei. Ons plant die saadjie en ’n paar dae later sien ons dat dit oornag opgekom het en dit groei onverpoos voort tot ’n groot boom. Hoekom werk dit so? Want net soos in die natuur kan geestelike groei ook nie gekeer word wanneer al die grondstowwe volmaak beskikbaar is nie.

Die Skrif is baie duidelik oor presies watse elemente in die kerk van God nodig is om geestelike groei te bevorder. Nee, dit is nie prediking nie. Ek het reeds iewers genoem dat die preek die mees oorskatte handeling in die institusionele kerk is. Dit het nie naastenby die geestelike waarde as wat die kinders van God in die loop van die jare daaraan geheg het nie. Ja, dit is mooi en dit roer ons binneste en ons is mal daaroor. Die preek het sy “wow” oomblikke. Die werklikheid is egter dat die preek “roomys” en allerhande “lekkernye” op die Christen se bord van geestelike voedsel is. Die inherente probleem met die tradisionele institusionele “preek” is die volgende: Dit roep die kind van God op tot aksie, dit breek sekere waarhede oop, dit verduidelik simboliek in die Bybel, dit probeer die kinders van God mobiliseer, dit por aan, dit probeer motiveer, dit bring egter ook ’n gevoel van “ek moet perform” en baie keer skuldgevoelens, “ek sit op my louere maar daar is werk om te doen”, “ek moet opstaan en doen”, “sonder die werke is die geloof dood”. Dit klink alles goed maar dit werk nie in praktyk nie. Dit bring bloot verstand kennis en bring siel reaksies voort. Na die “wow” gaan almal huis toe en môre is alles vergeet.

Deur middel van die preek gee die institusionele kerk aan die kinders van God opdrag maar drie baie belangrike elemente is afwesig: Dit wys nie vir die heiliges wat om te doen nie. Dit wys nie vir die heiliges hoe dit gedoen moet word nie en dit het ook nie die strukture in plek om hierdie “opdragte” prakties uit te voer nie.

Twee alternatiewe en baie belangrike elemente is baie noodsaaklik: Praktiese opleiding en die geleentheid om dit wat jy geleer het toe te pas. Die gevolge van die institusionele kerk se metode van toerusting (die preek) kan steeds met die woorde van Hosea 4:6 beskryf word; hoewel die kinders van God die kerkbanke warm sit en vol teoretiese kennis geprop word, gaan hulle steeds ten gronde as gevolg van ’n gebrek aan kennis. Hoekom? Omdat ware toerusting nie teoretiese skoling is nie. Die kind van God word nie praktiese vaardigheid geleer nie. Om korrek toegerus te word moet die kind van God saam met sy broers en susters in die voetspore van Jesus volg. Dit is die “oë gefokus op Jesus” met die handdoek en skottel in die hand. Dit is ’n leefwyse wat aangeleer word, nie ’n vyf punt metode of aksieplan nie.

As die preek dan nie geestelike groei bevorder nie, wat bevorder dit dan? Die Skrif is baie duidelik hieroor. Dit is iets met oneindig baie meer waarde as preke; dit is die Godgegewe metode van geestelike opvoeding in die kerk: (Efesiërs 4:16)

Uit wie die hele liggaam – goed saamgevoeg en saam verbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate – die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde

Hier sien ons wit op swart dat die hele liggaam die groei van die liggaam bevorder. Hoe? Deur die ondersteuning wat elke lid gee deur middel van die werking van elke afsonderlike deel in sy mate. Hoe? Deur middel van die almal funksionerende en deelnemende aard van die dele of lede van die liggaam. Deur middel van die almal funksionerende leefwyse van die kinders van God; tydens die byeenkomste en in die daaglikse gedeelde gemeenskapslewe. Dit wat elke lid deur die werking van die Heilige Gees doen, dit bevorder groei in die liggaam van Christus. Dit wat elke lid doen ondersteun die liggaam. Dit is so in die liggaam ingebou. Die fisiese liggaam groei eintlik volgens die instruksies in die DNA van die liggaam wat sel groei beheer. Elke liggaamsdeel funksioneer volgens hierdie DNA instruksies. Dit is so in die selle van die liggaam ingebou. Dit is hoe God ook die liggaam van Christus aanmekaargesit het. Net soos ’n natuurlike liggaam gesond en sterk word wanneer al die liggaamsdele funksioneer, net so vind gesonde geestelike groei plaas in die gemeente wanneer al die gemeentelede funksioneer.

Om die gedeelde gemeenskapslewe en die almal funksionerende dienswerk van die heiliges (gemeente) te vervang met die diens wat die pastoor lewer (preek en ander bediening) is om die liggaam se slukderm af te sny, die linkerbeen te amputeer en al twee arms te verwyder. Watse kans het so ’n liggaam om gesond en sterk op te groei?

In die huiskerk funksioneer die liggaam normaal. Al die lede van die liggaam funksioneer en die liggaam is in ’n baie gesonde toestand. Daarom is gesonde geestelike groei ’n uitgemaakte saak. Dit gesê, moet ‘n mens nie aanneem dat daar nie probleme in huiskerke is nie. Nee, daar is definitief groei probleme in die huiskerk wat geïdentifiseer en opgelos moet word om groei konstant te verseker.

Watse groei probleme ondervind die huiskerk gemeente?

Om hierdie vraag te beantwoord moet ons eers weet wat “geestelike groei” regtig is. Wat beteken dit om ’n volgroeide volwasse kind van God te wees? Wat bedoel Paulus as hy sê ons moet kom tot die volle gestalte van Christus?

Om hierdie vrae te beantwoord moet ons vanselfsprekend na Jesus kyk. Wie en wat is Jesus?

Jesus was absoluut gefokus daarop om heiligmaking na te streef.

Hy was gehoorsaam in alles wat Vader van Hom verlang het.

Hy het ’n gesindheid van ’n dienskneg aangeneem.

Hy het net gesê en gedoen wat Hy die Vader sien doen het en Hy die Vader hoor sê het.

Hy het ’n gesindheid gehad van die minste te wees en het Homself nooit verdedig nie.

Sy vertroue was absoluut in die Vader en Hy het op niks en niemand staatgemaak behalwe die Vader alleen.

Hy het ’n sterk geloof in die almag en krag van Vader gehad.

Hy het geweet dat Vader is en dat Vader ’n beloner is van die wat Hom soek.

Hy het ’n sterk geloof in die liefde van Vader gehad.

Hy het geweet wie en wat Hy in God was.

Hy het geweet dat Hy in volmaakte geregtigheid voor God gestaan het.

Hy het geweet dat oorwinning op alle vlakke van sy lewe gewaarborg is.

Jesus het geweet dat Hy tot alles in staat is deur die Vader wat Hom krag gee.

Hy het geweet dat dit belangriker is om die natuur van Vader uit te leef en te demonstreer as wat dit is om die krag van God te demonstreer. Die vrug van die Gees was in Hom en Hy het dit altyd in sy handel en wandel gedemonstreer. Hy het toegelaat dat Vader in Hom en deur Hom lewe.

Hy het mense bemoedig, vir hulle gebid, hulle geleer, bystand verleen waar nodig, hulle genees, duiwels uitgedryf, hulle gevoed, bemoeienis met hulle gemaak, gevangenis vrygelaat, blindes laat sien.

Jesus moes nes ons hierdie goed alles onder die knie kry. Hy was nie God op aarde nie maar mens. Die goed was nie maar net volmaak in Hom nie. Nee, Jesus moes ook geestelik groei en beter en sterker word daarin. Lukas 2:52 bevestig dit:

En Jesus het toegeneem in wysheid en grootte en in genade by God en die mense.

Die kind van God moet ook tot die besef kom dat al hierdie goed ook op hom van toepassing is as hy geestelik wil groei:

Ons moet ook fokus daarop om heiligmaking na te streef.

Ons moet gehoorsaam wees aan alles wat God van ons verlang.

Ons moet ’n gesindheid van ’n dienskneg aanneem.

Ons moet net sê en doen wat Jesus gesê en doen het.

Ons moet altyd die minste wees en onsself nooit verdedig nie.

Ons vertroue moet absoluut in God wees en op niks en niemand staatmaak behalwe Hom alleen nie.

Ons moet ’n sterk geloof in die almag en krag van God hê.

Ons moet weet dat God is en dat Hy ’n beloner is van die wat Hom soek.

Ons moet ’n sterk geloof in die liefde van God hê. Ons moet weet dat Vader ons net so lief het as wat Hy vir Jesus lief het.

Ons moet weet wie en wat ons in God is.

Ons moet weet dat ons net so volmaak in geregtigheid voor God staan as wat Jesus voor Hom staan.

Ons moet weet dat oorwinning op alle vlakke van ons lewens gewaarborg is.

Ons moet weet dat ons tot alles in staat is deur Christus wat ons krag gee.

Ons moet weet dat dit belangriker is om die natuur van God uit te leef en te demonstreer as wat dit is om die krag van God te demonstreer. Die vrug van die Gees is in ons en ons moet dit altyd in ons handel en wandel demonstreer.

Ons moet mense bemoedig, vir hulle bid, hulle leer, bystand verleen waar nodig, hulle genees, duiwels uitdryf, mense voed, bemoeienis met hulle maak, gevangenis vrylaat, blindes laat sien.

Ons moet die familie eienskappe van God in ons geestelike familie demonstreer.

Bogenoemde lysie kan egter in een sinnetjie saamgevat word: Die beeltenis van Jesus Christus word in ons gevestig. Geestelike groei in ons het dus alles te make met die opgroei van die Christus beeltenis in ons. Hy word meer en ons word minder. Dit is ware geestelike groei. Dit is ware almal deelnemende en almal funksionerende bediening.

Die dag wat die kerk ten volle besef dat hulle in dieselfde salwing, krag en geregtigheid van Jesus staan, daardie dag sal die seuns van God in oorwinning kom. Geestelike groei is om soos Jesus te wees. Inteendeel, dit is om Jesus toe te laat om in ons en deur ons te lewe. Dit is nie net moontlik nie, nie net bekombaar nie maar vanselfsprekend as ons net doen wat ons móét doen. Dit vat net gehoorsaamheid, toewyding en ywer. God sal nooit van ons iets verwag wat nie gedoen kan word nie. Ons besit die DNA van God in ons, ons besit die natuur van God in ons en ons is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee.

Ons kan egter nie soos Christus hierdie pad alleen stap nie. Ons het die ondersteuning en hulp van ons boeties en sussies in Christus nodig en saam kan ons dit vermag. Dit is dán ’n uitgemaakte saak. Die oorwinning is verseker, gewaarborg en al klaar opgeskryf in die rekordboeke van die hemel!

Saam kan ons opgroei tot ’n volwasse seun in Christus. Saam kan ons mekaar ondersteun, motiveer, help, bemoedig, aanmoedig en leer totdat ons almal kom tot die volle gestalte van Christus soos Efesiërs 4:13 dit bevestig.

Groei stadiums

Daar is hoofsaaklik vier stadiums van ontwikkeling wat ‘n huiskerk gemeente moet deurgaan voor die gemeente volwassenheid bereik. Die bereidwilligheid van elke lid om te verander en die Heilige Gees toe te laat om hom of haar te verander speel ‘n belangrike rol in hierdie verband. Hoe vinniger elkeen in homself sterf en hoe vinniger die gemeente saam as ‘n korporatiewe bruid in eenheid die beeltenis van Jesus Christus soek en vind, hoe vinniger “groei” hulle deur hierdie stadiums.

Die Wittebrood fase

Die eerste stadium is gewoonlik die wittebrood fase. Tydens hierdie fase is alles “hunky-dory” in Utopia. Alles is net fantasties. Almal is lief vir mekaar en alles loop net reg. Daar is ‘n wonderlike eenheid en ‘n soete en ryke ondervinding met Jesus en met mekaar. Veral die ouer Christene wat die institusionele kerk verlaat het is baie opgewonde en verras oor die vryheid wat hulle in Christus ervaar. Hulle word weer verlief op Hom soos hulle was toe hulle Hom die eerste keer ontmoet het. Almal geniet die wonderlike fase van groei en ontwikkeling en hulle kan nie gelukkiger wees nie. Dit is asof daar geen einde aan die vreugdevolle samesyn en seëninge van God is nie.

Die Beproewings fase

En dan, van iewers uit die niet is daar skielik probleme in Utopia. Niemand het dit verwag nie en niemand het dit sien kom nie. Hierdie toets of beproewing gooi die jong gemeente onmiddellik in ‘n paniek en hulle ervaar ‘n vuurdoop van intense emosionele wroeging. Die beproewings fase het aangebreek. Gewoonlik wissel die toets of beproewing van lig tot ernstig. Dit kan baie traumaties wees en selfs in ‘n “bloedige oorlog” ontaard. Daar kan baie redes en oorsake vir so ‘n beproewing wees. Dit gáán kom en móét kom in alle huis gemeentes. Sonder hierdie toetse kan die gemeente nie groei nie. Dit is die boustene vir karakterbou in die individu sowel as in die gemeente self.

Dit kan vergelyk word met ’n huwelik. Die man en vrou besef skielik dat hulle ’n klomp “issues” het om deur te werk. Allerhande gebeure en trauma in elkeen se verlede asook vlees werkinge en wie weet wat alles in elke gemeentelid se lewe word skielik in sy binneste wakker gemaak en hy of sy moet deel daarmee. Net so is dit ook in die huiskerk gemeente. Partykeer is daar misverstande of insidente wat mense se geestelike volwassenheid ’n bietjie toets. Toe ons Jesus aangeneem het, het ons die Goddelike natuur ontvang. Ons het sy vermoë deelagtig geword. Ons kan soos God wees want sy bloed (DNA) vloei in ons are. Ons het egter hierdie krisisse in ons lewens nodig sodat sy natuur in ons, deur kennis, selfbeheersing, lydsaamheid en broederliefde in ons kan ontwikkel. 2 Pet. 1:4-7 sê dit so duidelik:

…sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur…En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug en by die deug die kennis en by die kennis die selfbeheersing en by die selfbeheersing die lydsaamheid en by die lydsaamheid die godsvrug en by die godsvrug die broederliefde en by die broederliefde die naasteliefde. Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.

In die midde van die stryd is hierdie toetse en beproewings alles behalwe lekker. Dit het die potensiaal om die jong gemeente te laat disintegreer. In so geval is die meer ernstige gevolge dat daar gewoonlik maar ‘n paar mense is wat “seerkry” in die proses en nie langer kans sien vir huiskerke nie. Dit is hier waar die koring van die kaf geskei word.

God gebruik hierdie tipe beproewing om die pêrels van die klip te skei. Hy openbaar ook in die proses wat binne-in jou is. As dié tipe beproewing nie kom nie gaan jy nooit weet van die “vlees” in jou wat “uitgewas” moet word nie. God wil elkeen van ons in ons geloof en in ons verhouding met Hom en met ander mense suiwer. Hy wil ons maak soos Hy is. Hierdie beproewing is die oond van suiwering. Dit brand al die onsuiwere metale uit ons uit tot net die goud oorbly.

Die goud van die Gees, ware geloof en die Goddelike natuur is natuurlik in dié wat hulleself onderwerp aan hierdie suiwerings proses deur in hulself te sterf. Dit is hulle wat aanvaar en toegee en skik en vrede maak. Die eise wat jou broers en jou susters somtyds stel moet hanteer word. Hoe gaan jy dit hanteer? Hierdie “gesuiwerde” kinders van God kry glad nie seer in die proses nie. Hulle oorleef dit sonder om emosionele skade op te doen. Onderwerping aan God en sy wil bring altyd heling, berusting, vrede en oorwinning. Al voel dit nie so te midde van die stryd nie.

Seerkry, as dit ontleed word, is natuurlik ‘n teken van geestelike onvolwassenheid. Dit is jammer as mense seerkry maar as hulle dit verniet deurgegaan het, is dit nog ‘n groter verdriet. Ek glo dat as jy totaal in jouself gesterf het en in die geloof lewe is dit onmoontlik om seer te kry.

Wat is seerkry presies? Hoe kry ‘n mens seer in ‘n gemeente? Iemand het iets gedoen of gesê wat jy nie van hou nie. Iemand het van jou geskinder en jou beledig. Jy het nie jou sin gekry nie. Wat dit ook al is. Jy was onskuldig en is te nagekom. “So what?” “Get over it”! Die Skrif sê mos baie duidelik dat ons 70 maal 7 keer moet vergewe.

In die huiskerk gemeente kan so-iets maklik gebeur. Alles en nog baie erger as wat ek hier genoem het, het met Jesus gebeur. Hy is belaster, gevloek, beskinder, beledig, geslaan, as demonies besete toegesnou. Wat was altyd sy gesindheid wanneer Hy te nagekom is? “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie” Ons kan presies dieselfde van Stephanus sê. Hy het dieselfde woorde geuiter terwyl hy met klippe doodgegooi is. Dit is een van die grootste tekens van geestelike volwassenheid. As ons soos Stephanus kan optree, “we are getting over it while it is happening”, nie eers jare later nie.

Wanneer daar in ‘n krisis fase gemeente breek plaasvind kry jy altyd na die tyd twee groepe mense. Die een groep wat eenkant lê en wonde lek. Hulle is totaal ontnugter en tot in hul diepste wese geskok en gekrenk. Hulle is kwaad vir God en almal om hulle. Hulle wil niks met die kerk te doen hê nie en val gewoonlik terug in hul geloof. Party vat letterlik jare om weer hul vertroue in die kerk en in God terug te kry. Party maak dit nooit weer nie. Hulle is klaar met kerk. Dit is werklik geestelike onvolwasse mense wat so optree.

Die ander groep is ‘n bietjie hartseer oor die ongewenste gebeurtenis maar begin reeds met mekaar praat om weer met ‘n nuwe groep te begin. Hopelik werk dit dié keer mooi uit. Hulle vertroue in God, sy kinders en sy gemeente is nie geskaad nie. Hulle weet waar die blaam werklik lê: In die vlees. Hulle weet nou wat kan gebeur as die vlees nie gekruisig word nie. Hulle het so pas die vernietigende gevolge van die “eie ek” gesien. Hulle plaas die blaam waar dit hoort en hulle bekeer hulleself as hulle besef dat deel van die probleem die vlees in húlle was. Hulle kyk nie net vas in die vlees in hulle broeders en susters nie. Dit maak hulle ook nie moedeloos nie. Hulle weet dat daar vir hulle ‘n onverwelklike kroon wag as hulle standvastig in die geloof voort beur deur al die storms en teenslae heen. Inteendeel, hulle is sterker nou as wat hulle was toe hulle begin het. Die stryd was nie verniet nie.

Daar is natuurlik gemeentes wat glad nie ‘n wittebrood beleef nie. Hulle is sommer onmiddellik in ‘n vuurdoop fase. Hoe dit ook al sy, as die gemeente hierdie vuurdoop suksesvol oorleef dan gaan die gemeente oor na die volgende groei fase, die kruisiging fase.

Die “Opneem van die kruis” fase

In die beproewings fase het die gemeente besef dat hulle nie daar kan vassteek nie. Hulle het dit oorleef deur in hulle self te sterf met betrekking tot die spesifieke beproewing wat hulle deurgegaan het. Hulle het egter in die proses besef dat daar ‘n baie belangrike fase in die kind van God se lewe is waarvan hulle nie langer kan wegskram nie. Ons noem dit die “kruis opneem fase”. Die gemeente kies nou vrywilliglik om die dinamiek van die beproewings fase permanent hulle eie te maak. Hulle besef dat om jouself daarvan te probeer weerhou is net so goed as om te besluit om nie verder te groei nie.

Luk. 9:23

En Hy sê vir almal: As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en my volg.

Luk. 14:27

En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aankom nie, kan my dissipel nie wees nie.

Om Jesus in sy opstanding en in sy oorwinning te volg, moet jy Hom eers volg na die kruis. Die gemeente moet eers leer om saam die kruis van Jesus te ervaar. Saam sterf hulle elke dag in hulself. Die vlees, die eie ek, fisiese gemak, eie voorkeure, en ‘n magdom menslike eienskappe, karaktertrekke en kwaliteite moet daagliks gekruisig word. Elkeen byt op sy tande en laat gaan al hierdie goed wat hulle beroof van ‘n oorwinnende, Gees vervulde, Goddelike lewe saam as individue maar ook saam as familie van God. Hulle weet dat as hulle wil oorwin en saam met Jesus wil deel aan die oorwinning van sy opstanding, dan is dit nodig.

Hiermee sê ek nie dat almal in armoede moet leef en hulleself allerhande dinge moet ontsê nie. Nee, ons is koningskinders, ons lewe in oorwinning want ons God sorg vir ons. Ons kan Hom vertrou vir fisiese voorsiening. Die Skrif sê mos dat ons oor niks besorg moet wees nie. Vra en jy sal ontvang. Werp al jou sorge op Jesus want Hy sorg vir jou. In Hom kom ons niks kort nie want Hy voorsien in al ons behoeftes. Nee, ek praat van jou mede gelowiges te aanvaar, te dien en lief te hê soos Jesus dit gedoen het. Ek praat van die opoffering van eie begeertes, opinies en gemak wanneer jou medegelowiges dit vereis of wanneer omstandighede daarvoor vra.

Plaas alles op die altaar wat nie van God af is nie. Dit is veral in die gedeelde gemeenskapslewe waar al hierdie dinge ontbloot en uitgesuiwer word. Elkeen leer sy lesse. Elkeen erken die vlees en kruisig dit. Die een “stamp” per ongeluk aan die ander en die vlees spring uit. Die een sê iets van die ander en die vlees spring uit. Die een vergeet per ongeluk van die ander en die vlees spring uit. Dit is juis hierdie gedeelde gemeenskapslewe wat die boustene van geestelike groei is. Daarsonder kan ons maar vergeet om geestelik te groei.

Dit is in hierdie fase wat die vrae telkemale opkom. As jy die ontbloting van die vlees aanskou of bewus word daarvan dan vra jy jouself elke keer: Is ek bereid om dit op te gee? Is ek bereid om te verloor? Is ek bereid om in myself sterf? Is ek bereid om die minste te wees?

“Gaan ek baklei daarvoor?” is natuurlik nie die oplossing nie. Al is jy reg. En so verwag God van ons om alles aan die kruis vas te spyker; ons opinies, ons idees, ons temperament, ons bedienings, ons gawes, ons agendas en uiteindelik onsself. As almal in die groep dit nie doen, sal hulle nie almal in die groep oorlewe nie. Met hierdie fase is die fokus op die belange van die groep en nie die van individue nie.

Die gedeelde gemeenskapslewe kan net werk as die gemeente soos ‘n familie saamlewe. Hulle deel mekaar se lewens deur die week. Die goeie en die slegte. Hulle is bly saam met mekaar en hulle ween saam met mekaar. Die een ly as die ander een ly want hulle maak hulleself verantwoordelik vir mekaar se probleme. Hulle vier egter ook fees saam met mekaar want hulle deel in mekaar se vreugde. Mense, glo my vry, daar is nie ‘n ander manier vir die ware aanbiddings lewe nie.

Die werk van die kruis is absoluut noodsaaklik om die groep sowel as die individu na geestelike hoogtes te neem wat hulle nog nooit ervaar het nie. Dit is juis hierdie fase wat die groep na die volgende fase lanseer soos ‘n ruimtetuig die kajuit die hemelruim in lanseer en indryf.

Die Oorwinnings fase

Ons noem die volgende fase die “Heerlikheid van Jesus” fase of die “Oorwinnings” fase. Dit is hier waar die groep leer om deur die inwonende Jesus te leef. Jesus leef in ons en deur ons en ons stel Hom vry in hierdie wêreld sodat elke oog Hom in ons sien. Die gemeente het in gehoorsaamheid deur “vuur” gewerk en nou sien hulle die Godsvrug. Hulle bou ryk verhoudings met mekaar en hulle sal hulle lewens vir mekaar gee. Jesus openbaar Homself aan hulle soos hulle nog nooit in hul lewens ervaar het nie. God is met hulle en almal sien dit, weet dit en ervaar dit.

Daar is ‘n salwing op hul byeenkomste en die wêreld sien die liefde wat hulle vir mekaar het. Net Jesus word opgelig in hul teenwoordigheid. Niks en niemand anders nie. Hulle het diepe verhoudings en daar is geen plek vir godsdiens nie. Konflik kom en gaan, krisis situasies word hanteer, mense sterf in hulself, mense word gehoorsaam aan al die eise wat van hulle gevra word, Jesus se karakter word stewig in hulle ingebou en hulle geloof het waarlik in alle lydsaamheid standvastigheid bereik. Hulle is volwasse seuns van God en hulle heers saam met Christus. Wanneer mense na hulle kyk sien hulle net Jesus. Die vlees is dood.

Die gemeente bly nie konstant in hierdie fase nie. Hulle gaan oor in ‘n aanhoudende siklus weer deur al die fases, behalwe die wittebrood fase. Hierdie keer is hulle egter ‘n volwasse gemeente wat weet wat om te verwag in elke fase. Hulle word in die proses net ‘n sterker en hegter eenheid. Hulle het daarin geslaag om God op ‘n dinamiese wyse af te bring na die mense van hierdie verlore gaande wêreld. Waarheid, vrede, vryheid, genesing, verlossing, hoop, geloof en liefde is in hul midde en in hul hande.

Daar vind geestelike groei gedurende al die fases plaas. Dit is net op verskillende vlakke en dimensies en dit voel nie altyd so nie. Party groei fases is lekker en ander alles behalwe lekker. Wat getalle groei betref is daar ook ‘n definitiewe tendens. Tydens die lekker fases, die wittebrood en die oorwinnings fases, kom daar altyd mense by. Gedurende beproewings, krisisse en die kruisiging fases verloor die gemeente lidmate. Dit is nou maar in die meeste gevalle so.

In die institusionele kerk is daar nie groei fases nie, want die georganiseerde kerk is nie ‘n lewende organisme nie. Dit is ‘n meganiese vervaardigde produk wat is en bly soos die vervaardiger dit aanmekaargesit het. Die institusionele organisatoriese strukture hou alles in stand en daar vind baie min verandering plaas. Dit kan nie juis verander nie. Die vervaardiger mag dalk so dan en wan ‘n verbetering aanbring aan een van die meganismes maar dit is omtrent al. Die mense binne in hierdie “produk” gaan wel deur groei stadiums maar baie stadig. Soos ek gesê het: Hulle ís “geplant” in ‘n donker plek met min “water, stikstof en voeding”.

Multiplisering van huiskerk gemeentes

Ek gaan nie veel sê aangaande hierdie aspek van groei in die huiskerk gemeente nie. Dit is nie so belangrik nie omdat die fokus op geestelike groei val eerder as numeriese groei. Dit kan gebeur dat ’n huiskerk so groot word dat selfs die grootste vertrek in die gemeente se grootste huis nie meer groot genoeg is om die gemeentelede gemaklik te akkommodeer nie. In so geval moet daar seker maar multiplisering plaasvind maar dit moet solank as moontlik uitgestel word. Solank al die lede van die gemeente nog aktief kan deelneem en aktief kan funksioneer in die gemeente is so ’n stap glad nie nodig nie. Dit behoort letterlik jare te neem voor só iets gebeur. Die fondasie van die tweede groep wat afstig moet reg wees daarvoor en dit moenie as ’n metode van evangelisering gebruik word nie.

Apostels en evangeliste plant eerder ’n nuwe gemeente as om die getal lidmate van bestaande huiskerke te veel aan te vul met nuwe lidmate tensy die betrokke gemeente baie klein is. Dit is eerder die gemeentelede self wat nuwe lidmate by hul gemeente byvoeg. Die leiding van die Heilige Gees met betrekking tot multiplisering is baie belangrik. Ons moet dit nie sommer net doen voor die tyd reg is daarvoor nie.

Geestelike seisoene in die huiskerk

Die gemeente moet deur al vier die seisoene gaan. Ons kan nie net lekker somermaande beleef waartydens alles maklik en lekker is nie. As ons nooit die winter beleef nie sal ons nooit weet waartoe ons in staat is en hoe God ons uit situasies red en deur beproewinge dra nie. Hoe sal ons ooit die waarde van ons geloof en geestelike oorwinnings kan waardeer en meet as ons nie ‘n paar nederlae en ongunstige omstandighede getrotseer het nie? Ons het herfs ook nodig om ‘n bietjie met betrekking tot ons geestelike aktiwiteite af te skaal. Herfs is ‘n seisoen van gereedmaking vir geestelike en fisiese rus. Dit is nie so koud en lelik soos die winter nie maar tog ervaar ons binne ons ‘n gevoel van kompensasie. Ons moet stok vat. Ons moet evalueer waarheen ons op pad is en wat ons hier maak. Waarmee is ons besig? Is ons nog op die regte pad? Moet ons verstellings maak? God wil nie hê dat ons altyd voortsnel en nooit ’n bietjie rustig wees nie. Dit is juis baie nodig in ons lewens.

Die somer met al sy aktiwiteite put ‘n mens uit. Die lente bring ‘n bietjie kleur en varsheid in ons midde. Dit maak ons opgewonde om uit te sien na meer in Jesus. Mense is bang vir verandering en hulle hou nie daarvan nie. Dit haal ons egter uit ons gemak sones uit. Daarom moet die winter ook kom. Dit is nie lekker nie maar ons móét winter maande beleef. Daar moet variëteite wees. Dit bring nuwe dimensies in ons verhoudings. Dit haal goed uit ons uit wat moet uit en sit goed binne-in ons wat in ons moet wees. Dit is presies wat die seisoene doen.

Seisoene is natuurlik totaal onvoorspelbaar. Ons weet nie wanneer dit kom nie en ons weet nie wat kom nie tot dit ons getref het nie. En as dit ons getref het dan moet ons maar daarmee deel. Dit gaan nie help ons huil daaroor nie.

Die winter seisoene is tye wanneer niks wil uitwerk nie. Ons voel ons is nêrens op pad nie en ons trotseer die een krisis na die ander. Mense verlaat die gemeente en ons word minder. Daar is geen opwindende vooruitsigte nie en almal voel lus om handdoek in te gooi. Ja, daar moet sulke tye wees. Dit is hier waar die getrouheid, lydsaamheid, lankmoedigheid en selfbeheersing getoets word. Dit is hier waar motiewe getoets word, met oppervlakkigheid gedeel word en geloof soos goud gesuiwer word.

Kyk watse emosies Paulus partykeer moes ervaar. Ons lees daarvan in 2 Korintiërs 1:8:

Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het.

Dit was vir Paulus en sy metgeselle so swaar dat dit bo hul vermoë gevoel het. Hulle het ook in ’n stadium geen hoop om te oorleef gehad nie.

Dit is hier waar elkeen maar net vasbyt en aangaan. Ons klou net aan Jesus vas, ons onderwerp onsself aan God, ons weerstaan die vyand en ons sterf in onsself. Ons word gesif en ons word geweeg: “Gaan ons val?” is die vraag wat deur jou gedagtes flits. “Gaan ons te lig gevind word?” Jy sien hoe mense, van wie jy dit nie verwag het nie, tou opgooi en druipstert hulleself uit die voete maak. Dít is die pad van geloof in die huiskerk. Dinamies, vullend, uitdagend, emosievol, lekker, opwindend, hard, soet, bitter, absoluut ‘n moet as jy ’n oorwinnaarslewe wil lei en baie na aan jou God wil leef.

O, die somer is lekker! Daar kom knaend nuwe lede by, dinge loop klopdisselboom, almal groei en almal voel uitbundig van vreugde. Wie sou ooit kon dink dat dit so Goddelik kan wees? Dit is juis hiervoor dat ons vasgebyt het. Nou pluk ons die vrugte van ons arbeid en ons swaarkry. God is goed en Hy is getrou. Ons leef in soveel dankbaarheid en vreugde dat dit vir ons voel asof ons binneste gaan oopbreek!

Dit is dan wanneer ons besef dat die winter hierdie ware feite omtrent onsself, ons motiewe en die tekortkominge van ons eie vermoëns kom bevraagteken en bevestig het. Dit bring onsself net weer tot die besef wie en wat ons in Christus is:

2 Korintiërs 4:7

Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

Ja, die winter het ons ontbloot, ons aan die kaak kom stel, maar nie sonder om ons te beloon met sulke wonderlike geestelike seëninge soos om hierdie versie jou eie te maak nie.

Daar is ook droë seisoene, woestyn ervarings, wind, stofstorms en sand in ons oë en in ons hare en wie weet waar nog? Ons lippe is gebars en ons dors na water. Daar is omtrent geen Gees werkinge in die byeenkomste nie. Mense getuig maar dit raak ons nie juis nie. Daar is nie diepte nie en ons hoor God omtrent glad nie. Ja, dit kan ook gebeur maar weereens moet ons net deur die stofstorms beur. God is getrou. Vra net die regte vrae en jy sal die regte antwoorde kry. Die droë seisoen sal opklaar. Dit kom, net soos al die ander seisoene, van God af. Hý bring dit en Hý vat dit weg. Dit is daar vir ‘n rede. Ons gaan nie verniet daardeur nie. Alles werk altyd ten goede mee vir ons. Ons sal dit weereens oorleef en ons sal die vrugte daarvan pluk. Die oorwinning breek altyd deur. Dit is hoe God werk.

Die nat seisoen is die wonderlikste van al die seisoene. Daar is ‘n Gees werking in ons byeenkomste soos nog nooit vantevore nie. Mense word gesond. God praat met ons duideliker as ooit. Ons kan nie regop staan in sy teenwoordigheid nie. Dit is asof ons ‘n herlewing ervaar. Niemand wil huis toe gaan nie en ons baai in ons liefde vir Hom en vir mekaar. Ons word gevul met sý onvoorwaardelike, nimmereindigende liefde.

Wees gemotiveerd ondanks uitdagings

Soos jy kan sien is daar werklik wonderlike tye maar ook moeiliker tye in die groei fases van die huiskerk gemeente. Dit is hoe dit moet wees. Dit is hoe God dit ontwerp het want dit is hoe Hy sy wil, karakter en Godgegewe eienskappe in ons inbou. Moenie wegskram daarvan nie. Moenie huiwer of bang wees daarvoor nie. Glo my, die resultate van God geordineerde geestelike familielewe maak dit ‘n duisend maal die moeite werd. Jy sal tot in jou diepste wese só dankbaar en só vervuld wees.

Jou liefde en jou honger vir Jesus Christus gaan net meer en meer en groter en groter word. Die godsdiens met sy slaggate sal juis in hierdie groei prosesse uit jou sisteem verwyder word. Jou uitkyk op die lewe, jou opinie omtrent mense, jou hele waarde sisteem gaan drasties verander. Jou gedagtes en die manier hoe jy dink gaan verander. Jy gaan vir die eerste keer in jou lewe ‘n normale mens wees wat funksioneer en leef soos God dit verordineer het.

Dit is hier waar jy gaan besef watse invloed die institusionele kerk werklik op jou lewe gehad het. Jy gaan ‘n liefde vir mense ontwikkel wat jy nie geweet het moontlik is nie. Jy gaan ware “agape” liefde ervaar. Die Skrif gaan vir jou skielik baie sin maak want jy gaan die beginsels wat jy lees duidelik in jou lewe en in die kerk sien. Jy gaan weet, sonder twyfel, dat dit wat jy ervaar die werklike toepassing van die Skrif is. Al die dele van die legkaart gaan voor jou oë presies in plek val en dit gaan só bevrydend wees.

Jy gaan definitief nie meer ‘n gevangene van menslike metodiek, voorskrifte en tradisies wees nie. Nee, jy gaan vry wees. Jy sal die waarheid ken en die waarheid sal jou vrymaak. Die informele leefwyse van die huis gemeente gaan jou soos ‘n handskoen pas want dit is hoe God sy kinders bedraad het. Eenvoud, openheid, onskuld en ongesofistikeerdheid is Goddelike eienskappe. Dit is hoe God is en dit is hoe ons is. Jy gaan baie meer vreugde en genot in jou geloof wandel beleef. Die huis gemeente lewenstyl is lekker. Geen kettings, bande of enige gebondenheid sal in jou lewe meer wees nie. Dit is presies wat God vir jou in gedagte gehad het.

Dit is egter belangrik dat jy weet hoe en wat die huiskerk familielewe is en wat dit behels. Moenie te veel te gou verwag nie. Daar gaan teleurstellings ook wees. Mense gaan jou partykeer faal en jy gaan ongewenste onderonsies met mense beleef. Dit is die toetse wat jy moet deurgaan. Iemand gaan jou moontlik kritiseer sonder om ‘n beter voorstel as jy aan te bied en jy kan dalk dieselfde met hulle doen.

Moenie bang wees om die pad te stap nie. Wees dapper, dit is ‘n Godgegewe lewens tog. Moenie bang wees vir mislukking nie. Dit gaan gebeur en jy gaan daaruit leer. Moenie bang wees om jouself bloot te stel voor jou broers en susters nie. Dit is oorgawe. Dit is die pad na geestelike oorwinning. Moenie wetties wees nie. Wees geduldig, wees oop vir verandering, wees bereid om oorreed te word. Wees bereid om vreemde goed te aanvaar. Moenie al jou idees, voorkeure en oortuigings op die groep af forseer nie. Moenie nee sê vir alles nie. Doen dit net wanneer die voorstel absoluut teen die grein van jou oortuiging insny.

As jy ‘n voorstel doen, moet jy bereid wees om verantwoordelikheid daarvoor te neem en dit deeglik uit te voer. Moenie bang wees om kreatief te wees en ‘n bietjie te waag nie.

Moenie bang wees om meer te praat en deel te neem as jy ‘n introvert is nie. Inteendeel, sterf in jouself deur juis dit te doen. Wees bereid om minder te praat en deel te neem as jy ‘n ekstrovert is. Onthou introverte wil eintlik deelneem maar moet aangemoedig word. Ekstroverte moet introverte ’n kans gee. Maak ‘n punt daarvan om hulle opinies te vra. Dit sal hulle help om deel te neem. Maak ‘n punt daarvan om op ‘n mooi manier ekstroverte ‘n bietjie stil te kry sodat introverte ook ‘n kans kan kry.

Moenie fanaties oor ‘n sekere onderwerp wees nie. Dit is gewoonlik ‘n teken dat dit hopeloos te belangrik vir jou is. Daar moet altyd ‘n balans met alles wees. Onthou, die weeklikse byeenkoms behoort aan Jesus en die Heilige Gees. Dit is nie daar om aan ons behoeftes te voorsien nie. Ons byeenkomste is nie soos die van sorg groepe wat so ’n paar jaar gelede die kop uitgesteek het nie. As dit die geval was, sou dit ’n vleeslike bediening gewees het en nie van veel waarde gewees het nie. Leer om ontvanklik vir die Gees werking in die byeenkomste te wees. Dit is nie jou byeenkoms nie. Die Gees wil deur almal werk. Los jou spesiale leerstellings, belangstellings en geestelike stokperdjies by die huis. Ek dink veral aan die eindtyd leerstellings en dergelike leerstellings. Daar is baie belangriker dinge om met mekaar te deel as dit.

Die manifestering van die Gees gawes

Die Gees gawes kan nooit geforseer word nie. Die Heilige Gees is in beheer daarvan en ons moet gehoorsaam wees. Ja, ons moet ons beywer vir die gawes maar ons moet ook gehoorsaam wees deur in die Gees te vloei. Ja, ons moet ook uitstap in die geloof wanneer dit by die gawes van die Gees kom. Dit is juis met betrekking tot die Gees gawes waarna Paulus verwys waar hy sê dat God ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee het nie maar van liefde, krag en selfbeheersing.

Jy moet jouself tog asseblief nooit veroordeel en martel as jy ‘n fout met betrekking tot die gawes van die Gees gemaak het nie. Sê jammer Here, kom daaroor en gaan aan daarmee. Dit is soos om te leer fietsry. Jy gaan tog nie aspris met die fiets val nie of hoe? Jy gaan ook nie ophou as jy eenkeer geval het nie? Hoe gaan jy anders ooit leer?

Wanneer ‘n gemeente jonk is, is die gawes van die Gees nog onder ontwikkeld en moet ons die leemte ‘n bietjie vul met ander aktiwiteite. Frank Viola maak min of meer die volgende voorstel:

Begin altyd met sang aanbidding. Dit skep altyd ’n gewyde atmosfeer.

Die periodes waarna ek nou gaan verwys se tydsduur hang af van die aantal lidmate van die gemeente. Hoe groter die gemeente hoe langer sal elke periode neem.

Eerste periode: Luister elke week na die Huiskerk CD’s om vertroud met die beginsels te word. Almal word so op hoogte gebring en weet waaroor alles gaan. Die CD’s is op die “huiskerk” webwerf beskikbaar: www.huiskerk.co.za (Alternatiewelik kan uit die Handleiding gelees word – Dit kan gratis afgelaai word op dieselfde webwerf)

Tweede periode: Gee elkeen ‘n kans om sy bekerings getuienis te vertel tot almal ‘n kans gehad het. Laat net een persoon by geleentheid toe om dit te deel. Elkeen behoort so ’n week voor die tyd te weet wanneer dit sy beurt is sodat hy of sy ’n bietjie kan voorberei daarvoor. Vra ’n bietjie uit daaroor. Dit moenie sommer net so ’n kort getuienis wees nie. Leer die persoon so ’n bietjie beter ken in die proses en bepaal wat belangrik vir hom of haar is, wat is hul stokperdjies en droom vir die lewe en so meer. Sodoende begin ons familie bande smee en bevorder ons die gedeelde gemeenskapslewe. Dit is baie belangriker om die eerste jaar ’n familie te word as om allerhande gemeente aktiwiteite na te jaag.

Derde periode: Gee twee persone by geleentheid kans om hulle gunsteling geestelike liedjie te sing, CD te speel of saam met die gemeente te sing. Hulle moet sê hoekom dit vir hulle spesiaal is. Hierdie aktiwiteit berei almal voor om mekaar met hulle talente en gawes te dien en is baie belangrik.

Vierde periode: Gee een of twee persone by geleentheid kans om hul gunsteling Skrifgedeelte te lees en te bespreek. Doen ‘n groepbespreking. Doen dit tot almal ‘n kans gehad het. Hierdie aktiwiteit is ook noodsaaklik om die gemeentelede te leer om in die Gees te vloei deur middel van die gawes van lering, bemoediging en stigting.

Vyfde periode: Gee een of twee persone by geleentheid kans om hulle aspirasies vir hul lewens te deel. Wat hulle graag wil doen of word. Al was dit reeds in die eerste sessie gedoen behoort dit herhaal te word. Sodoende leer ons mekaar se aspirasies en weet waarvoor om vir mekaar te bid en waarvoor ons mekaar moet aanmoedig.

As almal al hierdie sessies deurgegaan het, is die groep al goed vertroud met mekaar en kan die Gees gawes al beoefen word.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese leierskap asook die almal deelnemende aard van huiskerk gemeentes, kry sommer nou die boek, “Huiskerke: Hoe? Hoekom?” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts