Waar het die bloedlyn vloeke verdigsel ontstaan?

HOEKOM HET ISRAEL HIERDIE VALS LERING GEGLO?

Hoekom glo mense vandag steeds so maklik in bloedlyn vloeke?

Die antwoord op hierdie vraag is dieselfde vir alle mense van alle geslagte en ook alle mense van alle nasies. Ons lees dit in Hosea 4:6

My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis…

Daar is baie redes hoekom die Israeliete nie kennis van die woord van God gehad het nie. Eerstens was daar Israeliete wat nie net die woord van God verwerp het maar ook vir Hom. Omdat hulle die woord van God verwerp het, het hulle nie geweet wat in die woord van God geskryf staan nie. Dan was daar die vals profete en Godsmanne in die Ou Testament wat nie gebly het by die ware onvervalste woord van God nie. Hulle het hulle eie woord geskryf en hulle eie woord verkondig. Jesus het na hierdie woord verwys as die oorlewering van mense. Die fariseërs van die Nuwe Testament het voortgegaan om hierdie oorlewering van mense aan te hang, te verkondig en te verdedig net soos baie valse predikers dit vandag nog doen.

Almal in die Ou Testament het voortdurend die opdrag ontvang om God se woord te leer, dit te bepeins en daarvolgens te handel soos ons ook in Deut 5:1 sien:

En Moses het die hele Israel laat roep en vir hulle gesê: Hoor, Israel, die insettinge en die verordeninge wat ek vandag voor julle ore uitspreek; julle moet dit leer en sorgvuldig hou.

Uit bogenoemde versie sien ons baie duidelik dat nie net die Christene van die Nuwe Testament die woord moes leer en onderhou nie. Ook die Israelitiese volk van die Ou Testament moes dit doen. Ongelukkig is Israel se tragiese geskiedenis deurtrek met die ongehoorsaamheid van die volk. Hulle het dit nie gedoen het nie. Hulle het God se woord nie geleer nie en ook nie vir hulle kinders geleer nie. Hulle het dit nie bepeins en daarvolgens gehandel nie. As jy nie die woord van God leer en bepeins nie dan weet jy nie wat die woord van God is nie. As jy nie weet wat die woord van God is nie kan jy ook nie daarvolgens handel nie. Dan weet jy ook nie wat die wil van God is nie.

Hierdie mense het eerder die oorlewering van ongoddelike profete en priesters gevolg as die ware woord van God. Hulle het eerder na die fabels en stories van die heiden nasies binne die grense van Israel geluister. Hulle het eerder afgode gedien en betrokke geraak in baäl aanbidding en ander afgode diens.

Tog het hulle ‘n vae of ‘n gedeeltelike kennis van God se woord gehad. Hulle het geweet daar is iets iewers geskryf met betrekking tot die besoeking van sondes van die vaders aan die kinders. Hulle het egter nie die waarheid daaromtrent geken nie. Omdat hulle hulleself nie wou vergewis van die werklike feite nie het God hulle aan hulle lot oorgelaat. Selfs Paulus het dit in die Nuwe Testament ook gedoen:

1 Kor 14:38

Maar as iemand onkundig is, laat hom onkundig bly.

Die Israeliete het nie geweet hoe om die leuen van die waarheid te onderskei nie. Hulle kon nie want hulle het nie die ware woord van God geken nie. Hulle het gehoor dat God die misdade van die vaders besoek aan die kinders en daarom het hulle hulle eie idees daaromtrent gehad. Dit is hier waar die slagspreuk of die spreekwoord vandaan kom: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword”. As hulle sien dit gaan sleg met iemand dan verwys hulle hierna. Daar is altyd hierdie vermoede en natuurlik was dit ook ‘n blaam verskuiwing “skuiwergat” vir baie mense. Hulle kon hulleself verontskuldig en vir pa of vir oupa die skuld gee.

Mense sien dinge gebeur en wil dan weet hoekom dit gebeur. Omdat hulle nie die ware woord van God ken nie, het hulle nie die wysheid in pag om te weet hoekom sekere goed in mense se lewens en ook in hulle eie lewens gebeur nie. Daarom maak hulle aannames.

Dit is presies vir hierdie rede dat die mense vir Jesus gevra het: “Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is”? (Joh 9:2)

As hulle Esegiël 18 en nog ander Ou-Testamentiese Skrifte in hierdie verband geken het sou hulle geweet het dat niemand se sondes vir hierdie spesifieke siekte verantwoordelik was nie. Daarom het Jesus hulle in vers 3 geantwoord: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie…” Hierdie mense was óf bekend aan Jesus óf hy het ‘n woord van kennis ontvang óf Hy het geweet dat sondes van ouers nie na kinders oorgedra kan word nie. Hy het geweet dat dit regverdige ouers was en Hy kon hierdie stelling maak. Maar Jesus het ook geweet dat al was hierdie ouers onregverdige mense sou dit nie kon oordra na hierdie man toe sodat hy blind gebore moes word as gevolg van hulle sonde nie. Hoekom nie? Want God besoek nie die misdade van die vaders aan die kinders nie” Dit het Hy reeds in Esegiël 18 tydens die ballingskap periode van Israel aan hulle gewys. Ook sê Deut 24:16 reeds vroeg in die Ou Testament dieselfde ding.

Maar God het tog op ‘n stadium die misdade van die vaders aan die kinders besoek. Dit staan tog in Deuteronomium 5:9.

Kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat staan daar presies (Deut 5:7-10):

Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

  1. Hier sê die Here dat Hy die misdade van die vaders besoek van die wat Hom HAAT.

  2. Hy sê ook dat Hy dit besoek aan die kinders, en ook aan die derde en aan die vierde geslag.

  3. Hieruit kan ons aflei dat God wel die misdade van die vaders op die kinders gesit het maar net aan die wat Hom haat: Vers 10 sê baie duidelik dat Hy barmhartigheid bewys aan duisende geslagte van die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

Hier sien ons dan baie duidelik dat God nog nooit die regverdiges se misdade besoek het nie. Hoekom nie? Want hulle het sy gebooie onderhou. Dit beteken hulle het vergifnis van sonde geniet as gevolg van die offers wat hulle aan God gebring het. Moenie vergeet dat die hele Israel, elke man en elke vrou, God se gebooie moes uitvoer met betrekking tot die offers wat hulle moes bring tot vergewing van hulle sondes. Hierdie offers kon nie hulle sondes wegneem nie maar dit het hulle sondes bedek gehou tot op die dag toe Jesus Christus met sy bloed vir hulle sondes op die kruis betaal het. Op daardie dag is daardie bedekte sondes weggeneem net soos myne en joune. Ten minste was dit al die jare bedek gehou deur die bloed van diere, en kon hulle ook as regverdiges gereken word net soos ek en jy vandag. Hierdie mense was regverdiges en het onder genade gelewe. Daarom is hulle nooit gestraf nie. Daarom het God net barmhartigheid aan hulle bewys tot in die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet. Daar is Skrifgedeeltes wat bewys dat hulle sondes nie gestraf is nie. Ons kom daarby.

Wat van ‘n onregverdige mens iewers in hierdie duisend “regverdige” geslagte. Jammer om dit te sê maar daar was geen genade vir hom nie al was hy familie van soveel regverdige mense. Al sy voorouers was almal regverdiges en hy die enigste onregverdige. Tog sou dit hom niks baat nie. Elke siel wat sondig moet sterf. Elke siel wat regverdig wandel voor die aangesig van die Here sal lewe.

Wat van een enkele regverdige outjie tussen ‘n hele familie van duisende onregverdiges? Al sy voorouers was onregverdige mense. Hy is die enigste regverdige. Hy sal lewe want hy het die gebooie van God onderhou! Dit sal mos onregverdig wees om hom te straf vir die sondes van sy voorvaders. Onthou Esegiël 18:19

Hulle vra vir God: Waarom dra die seun nie saam die ongeregtigheid van die vader nie? God antwoord hulle dan in vers 19: “Maar die seun het reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou en dit volbring — hy sal sekerlik lewe”! Die regverdige God sê nou vir hulle. Maar dit sal onregverdig wees! Die seun het dan reg en geregtigheid gedoen en al my insettinge onderhou. Hoe kan ek Hom verantwoordelik hou vir sy vader of sy voorgeslagte se sondes? Hy was dan regverdig teenoor My. Ek moet regverdig teenoor hom ook wees! Hy sal sekerlik lewe!

Hier sien ons die hart van die regverdige God. Het Hy op ‘n stadium die ongeregtighede van die onregverdiges op die onregverdige kinders laat neerkom? Ja Hy het maar dit was onregverdige kinders. Hulle sondes was net so groot soos hulle vaders se sondes.

DIE STRAF VAN DIE VOLK ISRAEL

Die straf van die volk Israel moet nooit met bloedlyn vloeke verwar word nie. Hierdie is ‘n straf wat geen ander nasie te beurt geval het nie. Dit was uniek in die sin dat God Israel uitverkies het om Hom aan die wêreld bekend te stel. Die Ou Testament sê God wou gehad het dat die wêreld moet weet dat daar ‘n God in Israel is. Israel was die uitverkore volk van God en het wonderlike seëninge uit die hand van God geniet wat ander nasies nie gehad het het nie.

Israel sou egter in latere jare uitvind dat, omdat hulle God telkemale verwerp het, en uiteindelik die Seun van God verwerp het, hulle ‘n vreeslike oordeel oor hulle sou laat kom. Hierdie oordeel was verskriklik maar hulle het dit verdien. Israel kon die seën of die vloek kies. Die lewe of die dood. Ons weet dat hulle uiteindelik die dood en die vloek gekies het en hierdie straf self oor hulle laat kom het.

Kom ons lees ‘n bietjie Matt 23:1-39 om te sien wat hierdie straf werklik behels het. Onthou, hierdie gedeelte in Mattheus beskryf die kern van sonde. As jy jou rug op Jesus Christus draai deur sy bloed te verwerp of as jy soos die fariseërs ‘n geveinsde godsdiens van selfverheerliking en self regverdiging bedryf, dan het jy die oordeel van God op jouself geroep en op jouself laat neerkom. Dan is daar geen genade vir jou meer nie.

Jesus berispe die skrifgeleerdes en fariseërs:

  1. Toe het Jesus die skare en sy dissipels toegespreek

  2. en gesê: Die skrifgeleerdes en die fariseërs sit op die stoel van Moses.

  3. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.

  4. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.

  5. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot.

  6. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges

  7. en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!

  8. Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.

  9. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie,want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.

  10. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.

  11. Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees.

  12. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word.

  13. Maar wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie.

  14. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang.

  15. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julle self.

  16. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde.

  17. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig?

  18. En: Elkeen wat sweer by die altaar — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde.

  19. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig?

  20. Wie dan sweer by die altaar, sweer dáárby en by alles wat daarop is;

  21. en wie sweer by die tempel, sweer dáárby en by Hom wat daarin woon;

  22. en wie sweer by die hemel, sweer by die troon van God en by Hom wat daarop sit.

  23. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.

  24. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!

  25. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.

  26. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.

  27. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

  28. So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid.

  29. Wee julle, skrifgeleerdes en fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges;

  30. en julle sê: As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.

  31. Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het.

  32. Maak die maat van julle vaders dan vol!

  33. Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?

  34. Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg,

  35. sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar.

  36. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.

  37. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!

  38. Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!

  39. Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!

Hierdie oordeel oor die fariseërs was woes! Dit was woes ja maar dit was nodig. Eerstens was hulle onregverdiges. Tweedens het hulle vir Jesus Christus tydens hierdie voorval alreeds verwerp. Derdens was hulle die “lewende” ontvangers van die lank verwagte oordeel oor Israel wat God telkemale dwarsdeur die Ou Testament beloof het sou kom. Ons kan hier ‘n paar dingetjies agterkom aangaande God se oordeel:

  1. Ons kan sien dat dit nie sommer net alledaagse sondetjies was hierdie nie. Hierdie was in God se oë vreeslike sondes, daarom sê Jesus in vers 14: “Daarom sal julle ‘n swaarder oordeel ontvang”. Lyk dit hier of die misdade van die vaders aan die kinders besoek word? Nee, hierdie is nie die sondes van die fariseërs se familie nie. Hierdie was die sondes van die volk Israel en ook die Ou-Testamentiese leiers. Jesus sê in vers 34 en 35 die volgende: “Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar” Dit is dus al die geslagte van Israel se geskiedenis en nog voor dit. Abel was nie ‘n Israeliet nie want die Israelitiese volk het toe nog nie bestaan nie. In vers 31 sê Jesus vir hulle die volgende: Julle gee dus teen julself getuienis dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het. Die fariseërs is onregverdige “kinders” van onregverdige leiers. As onregverdiges sou ‘n mens kon sê dat hulle daarom aan die staf van Deut 5:9 onderworpe kon wees omdat hulle God haat. (…Ek, die Here jou God, is ’n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, en aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou). Tog weet ons dat Esegiël 18 duidelik verklaar dat niemand enige sonde van iemand anders kan dra nie. Hierdie oordeel oor die fariseërs en oor Israel het eerder alles te doen met die feit dat hulle die verkeerde keuse gemaak het. Hulle het die dood gekies en daarom die vloek. As volk het hulle nie die lewe en seëninge gekies nie.

  2. Het die fariseërs wat hierdie oordeel moes aanhoor terwyl hulle daar voor Jesus gestaan het hierdie misdade gepleeg? Het hulle vir Abel of vir Sagaria vermoor? Nee, maar hulle lewe voort in dieselfde ongeregtighede en boosheid van hulle vaders. Hulle het dit gesien en geweet dat dit gruwelik is in die oë van God maar tog het hulle daarmee voortgegaan. Hulle het die misdade van hulle vaders voortgesit en nog erger gemaak. Hulle het meer profete en Skrifgeleerdes van God doodgemaak as hulle vaders. Hulle sou selfs nie eens die Seun van God ontsien nie. Daarom sê Jesus in vers 32: “Maak die maat van julle vaders dan vol”. En dit is juis hieroor dat Hy sê dat vanaf die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaria sal op hulle neerkom. Hierdie is nie tipies aan die “drie geslagte” van besoeking van Exodus en Deuteronomium nie. Kinders, tweede geslag (klein kinders) en derde geslag (agter kleinkinders) was die drie geslagte wat deur God besoek was. Hierdie is egter sommer van Abel se tyd af. Hierdie oordeel was ook nie net oor die fariseërs nie maar ook oor die hele volk wat Christus Jesus verwerp en “vermoor” het.

    Selfs Johannes die doper het geweet van hierdie oordeel wat aanstons oor die fariseërs en oor Israel sou kom. Hoor wat sê hy vir hulle in Matt 3:7-12

    Maar toe hy baie van die fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?

    Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

    En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek.

    Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

    Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

    Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

  3. Ons moet baie mooi verstaan dat die oordeel wat Jesus gebring het nie net ‘n oordeel oor die fariseërs was nie. Hierdie was die finale oordeel oor die hele volk Israel. Die fariseërs en die skrifgeleerdes was die leiers van die volk Israel op die dag wat Jesus gekom het om sy oordeel oor Israel te kom voltrek. Dwarsdeur die Ou Testament het God Israel herhaaldelik gewaarsku dat hulle hulle moes bekeer en terugdraai van afgod aanbidding en hulle sondige leefwyses. Wanneer hulle dit gedoen het, het God hulle vergewe en sy verhouding met hulle herstel. Dit het egter net weer en weer gebeur en God was genoodsaak om hulle in ballingskap weg te voer soos Hy hulle beloof het. Eers Israel en later die stam Juda ook. Tog, selfs na ballingskap, het Israel maar voortgegaan om hardnekkig hulle eie weë te volg. In die Ou Testament is herhaaldelike verwysings na die Messias wat sou kom om die volk Israel sal kom verlos maar ook dat Hy sal kom om hulle te oordeel.

    Die oordeel van God het dan gekom soos dit voorspel is. Jesus het sy oordeel oor die fariseërs uitgespreek in vers 36-38: “Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!

    Hierdie voorspelling van Jesus Christus het dan ook binne net ‘n paar jaar gebeur: Soos wat Hy jare tevore die Assiriërs en Babiloniërs gebruik het om die volk Israel te straf deur hulle in ballingskap weg te voer, het Hy sy finale oordeel oor Israel deur die Romeine uitgevoer.

    Een van die redes hoekom die volk Israel Jesus Christus verwerp het is omdat Hy nie die Romeinse juk kom breek het soos hulle verwag het Hy sou doen nie. Hulle sou dit later self probeer, heeltemal onbewus van die feit dat dít die instrument sou wees wat God sou gebruik om sy oordeel oor hulle uit te voer. Die Jode was verantwoordelik vir bloedige opstande teen die Romeinse ryk in 66 NC, 115 NC en 132 NC. Die eerste groot opstand is in die dae van keiser Vespasian in 70 NC deur sy oudste seun, Titus, onder beheer gekry.

    In die proses is Jerusalem en die tempel van God vernietig, net soos Jesus dit voorspel het.

    Meer as ’n miljoen Jode is doodgemaak.

    Meer as een honderd duisend Jode is gevange geneem en regoor die ryk as slawe verkoop.

    Hierdie was die begin van die oordeel van God oor Israel omdat hulle sy Seun Jesus verwerp het en doodgemaak het. Die Joodse Christene het natuurlik hierdie oordeel oor Israel vrygespring omdat hulle deur die Heilige Gees op wonderbaarlike wyse uit die betrokke stede en streke verwyder is. Christene het profesieë ontvang en is deur die Heilige Gees gelei om die betrokke areas te verlaat voor die slagting sou plaasvind.

    In 115 NC het die Jode weer teen die Romeinse ryk in opstand gekom wat teen 117 NC in bedwang gebring is. Keiser Hadrian het Jerusalem ’n paar jaar later, in 130 NC, weer eens besoek en met die onderdrukking van hierdie Joodse opstand en ook tydens hierdie besoek het hy die volgende veranderings aangebring:

    Hy het Judea ’n Romeinse provinsie gemaak.

    Hy het Jerusalem se naam na “Alia Capitolina” verander.

    Hy het die stad aan die god Jupiter toegewy.

    Hy het ’n heidense tempel vir Jupiter in die plek van die Joodse tempel gebou.

    Hy het die besnyding van Joodse seuntjies heeltemal verbied.

    Die doel van God was ook om die Israeliete nie toe te laat om hulle uitgediende geloof te beoefen nie. Jesus het beloof dat “hulle huis vir hulle woes gelaat sou word”. Daarom moes die tempel afgebreek word. Dit is ook hoekom daar ‘n heidense tempel in die plek van die tempel gebou moes word en vandag nog staan. Hoekom? Sodat die Jode nie weer ‘n tempel kan bou en weer met diere offers kan begin nie. Jesus het die wet vervul en die geloof uit genade deur die verlossingswerk van Jesus het Judaïsme verewig vervang.

    Romeinse onderdrukking het die uitlewing van die Joodse geloof heeltemal vernietig. Die Jood kon nie meer op enige wyse sy Joodse tradisies en godsdienstige rituele beoefen nie. Dit het aanleiding gegee tot die uitbreek van die laaste Joodse opstand in 133 NC. Aanvanklik het die Jode sukses gehad maar mettertyd is hulle in bedwang gebring. Teen 135 NC was die oogmerk van die Romeinse ryk om die Jode nie net in bedwang te bring nie maar om hulle totaal uit te roei. Hulle het op hierdie stadium genoeg probleme van hierdie klein bevolkings groepie verduur. Dit terwyl Judea as ’n Romeinse provinsie nie juis ’n baie goeie aanwins vir die Romeinse ryk was nie. Met die vorige opstand het keiser Hadrian hulle geloof verban, met hierdie laaste slag wou hy nie net hulle geloof totaal vernietig nie maar Jerusalem en die Jode totaal van Joodse bodem afvee. Die Jode moes geen simpatie van die Romeinse ryk verwag nie en hulle het dit ook nie gekry nie. Die slagting wat gevolg het was ’n volslae oorwinning vir die Romeinse ryk en het katastrofiese gevolge vir die Jode gehad:

    Meer as ’n halfmiljoen Jode is hierdie keer doodgemaak.

    Nie een enkele Jood was toegelaat om in Alia Capitolina (Ou Jerusalem) agter te bly nie.

    Vir baie jare was Jode nie eens toegelaat om die stad te besoek nie.

    Jode is uit die provinsie uit verban en oor die hele Romeinse ryk verdryf en verstrooi.

    Judea se naam is na Palestina verander.

    Alia Capitolina is met Greco-Romeine bevolk. (Kan jy dit glo? Nie ‘n enkele Jood het in die ou stad oorgebly nie)

    Die Joodse geloof is weer eens in totaliteit verban insluitende die besnyding van babas.

    Enige Jood wat gevang word enige Joodse godsdienstige rituele beoefen sou onmiddellik doodgemaak word. Hierdie was ook deel van God se plan om die Joodse geloof te laat ophou. Jode kan vandag steeds nie diere offer nie omdat dit volgens die Ou-Testamentiese voorskrifte in die tempel gedoen moet word. Daar staan egter ‘n heidense tempel wat hulle nie kan afbreek nie. Dit was alles deel van God se plan om Judaisme met die Christelike geloof te vervang.

    Die gebruik van die Tora (Wet van Moses) is verbied en is deur Romeinse soldate op die Tempelberg aan die brand gesteek. Die verbranding van die Tora op die Tempelberg was ook simbolies. Dit was ‘n simboliese bevestiging dat die ou Joodse geloof van wetsonderhouding uitgedien en verby is.

    Keiser Hadrian het ’n einde gemaak aan die Joodse geloof en aan die Ou-Testamentiese Joodse nasie. Dit is om hierdie rede dat die Joodse gesegde “May his bones be crushed”, verwysend na keiser Hadrian, ontstaan het. Die Joodse staat en die Joodse nasie sou eers baie jare later, ongeveer 2000 jaar later, weer op die toneel van wêreldgeskiedenis verskyn. Dit het presies gebeur soos Jesus dit voorspel het. Dit is egter ook presies wat God verskeie keer in die Ou Testament gesê het sou gebeur as Israel nie getrou aan Hom bly nie.

    Kom ons lees ook Matt 3:11-12

    Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring in die skuur saambring, maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand.

    En dit is presies wat Jesus kom doen het. Hy het sy dorsvloer deur en deur kom skoonmaak. Die onregverdiges (kaf) wat Jesus Christus verwerp het is uit sy koninkryk verwyder en sy regverdiges (koring) is in sy koninkryk saamgebring.

    Om hierdie rede het die fariseërs en ook Jerusalem (Israel) ‘n groter oordeel ontvang. Die maat van hulle vaders het vol geword.

    Jesus het gekom en die Joodse geloof is vervang met die Christelike geloof. Die Joodse nasie was nie meer ‘n spesiale nasie nie. Vir God is alle mense nou gelyk. Kom ons lees dit:

    Rom 10:12

    Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.

    Gal 3:28

    Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

    Kol 3:11

    waar daar nie Griek en Jood, besnedene en onbesnedene, barbaar, Scith, slaaf, vryman is nie, maar Christus is alles en in almal.

    Hierdie Skrifgedeeltes beklemtoon dan baie duidelik dat Israel nie meer spesiale voorkeur by God geniet nie. In Christus het God alles en almal gelyk gemaak. Christus is alles in almal.

    Die Jode het eintlik maar net ontvang wat God hulle beloof het sou kom as hulle nie wegdraai van hulle verkeerde weë en hulle nie bekeer nie. Hulle het geweier om dit te doen en doen dit vandag nog. Hulle het afgod diens aangegryp, hulle het God se profete vermoor, hulle het Jesus Christus verwerp en ‘n geloof van self geregtigheid aan gehang, hulle het Jesus Christus vermoor en hulle verwerp Jesus Christus vandag nog.

  4. Selfs toe Israel, ongeveer 2000 jaar na hierdie oordeel (in die twintigste eeu na die tweede wêreldoorlog) weer terug gekeer het na Israel, kon hulle steeds nie die land heeltemal terugkry nie. Hulle kon steeds nie vrede vind nie. Hulle kon steeds nie beheer kry oor Jerusalem en die Tempelberg nie. Hulle kon nie eens helfte van die grond terugkry wat hulle gehad het nie. Dit het inteendeel nog nooit weer goed met Israel gegaan nadat hulle vir Jesus Christus verwerp het nie. Om nie eens te praat van die “Groot slagting” van die Jode tydens die tweede wêreldoorlog nie. Ongeveer 6 Miljoen Jode is deur Hitler doodgemaak. Israel het al hierdie jare heen die vloek deurgegaan presies soos God in Deut 28:58-68 beloof het oor hulle sou kom as hulle nie die wil van God doen nie. Hierdie was ‘n oordeel wat niks met ander nasies en ander mense te doen het nie. Dit was tussen God en Israel.

Hierdie gedeelte wou ek net inbring om te wys dat die oordeel oor die staat Israel en ook die leiers van Israel niks met bloedlyn vloeke te doen het nie. Israel het as ‘n nasie die vloek gekies en die vloek het oor hulle gekom. Hoe het hulle die vloek gekies? Hulle het God verwerp en afgode aanbid in die Ou Testament. Later in die Nuwe Testament het hulle Jesus Christus en sy bloed verwerp en eie geregtigheid omhels. Niks is so lelik en so verdoemend soos ‘n godsdiens van eie geregtigheid nie. Dit is nog erger as afgod diens. Onthou ook dat net die volk Israel die wet gehad het. Geen ander volk is ooit deur God beveel om sy wet te onderhou nie. Die Bybel sê ook baie duidelik dat die vloek deur die wet gekom het. Ander nasies het nie die wet gehad nie en daarom ook nie die vloek nie. Hierdie was dus ‘n “nasie” vloek en nie ‘n “familie” vloek nie. Ons moet die twee nie verwar nie.

HOE LANK HET GOD ONREGVERDIGE KINDERS GESTRAF VIR DIE VADERS SE SONDES?

As God dan tog iewers in die Ou Testament die misdade van die vaders besoek het aan die kinders en aan die derde en die vierde geslag van die wat Hom haat, met ander woorde die onregverdiges, het Hy daarmee gestaak of doen Hy dit vandag nog?

Ons kan tog duidelik in Esegiël 18 sien dat Hy wel gestaak het daarmee.

Nee, Hy doen dit nie meer vandag nie. Inteendeel Hy het vroeg in die Ou Testament al gestaak daarmee. Kom ons kyk eers hoekom God dit vir daardie kort rukkie in die Ou Testament gedoen het.

  1. Eerstens was hierdie drastiese stap gemik op die barbaarse volke van die Ou-Testamentiese wêreld. Daar was nooit in die geskiedenis van die mensdom tot vandag toe sulke slegte bloeddorstige duiwelse nasies soos wat daardie tyd geleef het nie. Daar was nie wette, reëls of regulasies van enige aard in plek nie. Mense het gemaak soos hulle wou. Moord, doodslag en verkragting het hoogty gevier soos wat dit nog nooit was of weer sal wees nie. Waar volke tog hulle eie wette gemaak het was dit onregverdige wette wat glad nie God se goedkeuring weggedra het nie. Israel sou deur hierdie nasies beïnvloed word en dieselfde ongoddelike praktyke sou ook in Israel posvat. God het dit geweet en daarom wou Hy dit teëstaan.

  2. Tweedens moes God aan Israel en ook aan die wêreld wys dat Hy ‘n God van liefde en ‘n God van vrede is. Hy moes sy wil aangaande aanvaarbare morele standaarde en lewens norme baie duidelik maak.

  3. God het periodiek sy straf en sy oordeel oor hierdie nasies, dorpe en mense laat neerkom. Hy moes dit doen anders sou die ellende wat uit hierdie sondige praktyke voortgespruit het die mense verswelg het. Dink aan Sodom en Gomorra en talle ander dorpe wat God se oordeel en straf op die hals gehaal het.

    Kom ons lees ‘n bietjie Gen 6:5-7 net om God se wil aangaande hierdie sondige nasies weer te gee:

    Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart. En die Here sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.

    vers 13

    En God sê vir Noag: Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.

    Gen 7:23

    So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af. En net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was.

    Hier kan ons duidelik sien dat God sonde straf. Sonde kan nie ongestraf bly nie. Na Noag het die aarde weer bevolk geraak en het die sondes maar net weer toegeneem totdat God dit nie meer kon verdra nie. Onthou God haat sonde en daarom straf Hy dit. Baie volke en stede in hierdie tyd is deur God “besoek” en uitgedelg of swaar gestraf as gevolg van hierdie gruwelike sondes wat hulle gedoen en bedryf het.

  4. Sonde moet gestraf word. God kon nie anders nie. Die onregverdige Jode sou dus ook soos die volke rondom hulle gestraf word indien hulle God en sy gebooie verwerp het. Daarom het God ook die sondes van onregverdige Jode besoek aan hulle kinders. Die regverdige Jode het egter straf vrygespring omdat hulle sondes deur die bloed van die lammers wat hulle geoffer het bedek was. Hulle was in die selfde bootjie as ons vandag. God het vir Christus Jesus in ons plek gestraf sodat ons nie gestraf hoef te word nie.

  5. Ook die volk Israel moes weet dat as hulle hierdie barbaarse duiwelse lewens standaarde van die heidense nasies aanhang dieselfde lot hulle sou tref. Daarom het Hy ‘n verbond met hulle gesluit. Deel van die verbond was dat die volk sy gebooie moes onderhou. Hy het dit dan ook in sy wette duidelik gemaak dat die onregverdige Jode (die wat Hom haat) soos die heidense nasies behandel sal word indien hulle dieselfde barbaarse duiwelse praktyke beoefen. Dit het dan ook so gebeur. Om hulle te wys hoe groot haat Hy in sonde het, veral sondes waarin ander mense verdruk en te na gekom word, het Hy belowe dat tot die kinders van so ‘n persoon gestraf sal word vir hierdie sondes. Vanweë die groot ongeregtigheid van hierdie mense en vanweë hulle barbaarsheid moes Hy deurdring tot hulle. Daarom hierdie drastiese houding teenoor sondes.

Die situasie het egter mettertyd verander. Hoewel Israel periodiek in afgod diens en in ongeregtigheid verval het, het hulle sondige aktiwiteite verander. Dit was nie meer sondes van bloeddorstige geweld en sondes in duiwelse barbaarsheid uitgevoer soos in die ou dae nie. Daarom het Hy die straf verander. Ons weet dat die Israeliete vroeg in die Ou Testament vir sekere sondes ter dood veroordeel en buite die stad gestenig moes word vir hierdie sondes. Later het God dit verander en is hulle vir die dieselfde oortreding nie meer gestenig nie maar is die straf baie ligter gemaak. So het dit dan ook gebeur dat Hy nie meer die sondes van die vaders aan die kinders besoek het nie. Dit was nie meer nodig nie.

Reeds vroeg in die Ou Testament sien ons Skrifgedeeltes wat daarop wys dat dit nie God se wil is dat onskuldige mense vir ander moet sterf nie of vir ander die straf moet dra nie:

Deut 24:16

Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word.

God gee hier aan die volk instruksie: “Wanneer iemand gevang word een of ander oortreding pleeg wat tot terdoodveroordeling lei, mag die vader nie vir sy seun instaan nie en die seun nie vir die vader nie. So ook mag die volk nie ‘n vader arresteer en in sy seun se plek ter dood veroordeel nie en andersom nie. Elkeen moet vir sy eie sonde gestraf word. Dit is vir God baie belangrik.

Gemeet aan die Skrifgedeeltes wat ons sover behandel het is ek baie seker oor die volgende:

  1. God het vir ‘n kort rukkie die sondes van die vaders besoek aan die kinders.

  2. Hierdie “besoeke” was net gedoen wanneer die betrokke mense onregverdige mense was. Dit was nooit gedoen met regverdige mense wat die gebooie van God onderhou het nie. Dit was gedoen met mense wat God gehaat het.

  3. Wat hierdie “besoeke” presies behels het, die weet ons nie. Die Bybel is oor die algemeen stil oor hoe God die onregverdiges se onregverdige kinders gestraf het.

  4. Ons weet dat die oomblik wat iemand tussen hierdie onregverdige mense hom bekeer het, dan het hy onmiddelik oorgegaan in die guns en seëninge van God. Daar was dan geen straf meer vir Hom nie want hy haat God nie meer nie en die bloed van die lammers wat elke jaar vir sy sondes geoffer is het sy sondes bedek. As hy hom nie bekeer het nie sou hy wel gestraf word vir sy vader, sy oupa en sy oupa-grootjie se sondes omdat hy daarmee volgehou het en dit baie keer vererger het. Hierdie wet van God was dus eintlik ‘n waarskuwing vir die kinders, kleinkinders en agter kleinkinders: God sê eintlik vir die kinders en die kleinkinders: “Jou familie lewe in die mees afskuwelike en mees gruwelike sondes; as jy nie hierdie leefwyse verander nie, gaan ek jou nog swaarder straf as vir hulle; jy sien hierdie gruwelike dade van jou voorouers en jy weet dat dit verkeerd is; stop dan hierdie wetteloosheid in jou geslag sodat jy kan lewe; verander dan die familie koers of familie neiging, kies die lewe sodat ek jou kan seën en jy my guns kan geniet. Nie net jy sal daardeur My guns en seëninge ontvang nie, maar tot duisend geslagte na jou omdat julle My dien, sê die Here”. Hierdie wet was dus uit en uit daarop gemik om die onregverdige kinders te motiveer om God te dien en om mooi en goeie leefwyses aan te kleef.

    Hier wil ek graag verwys na Dawid se loflied wat hieroor gaan:

    Psalm 31:

    Die seën van skuldvergifnis.

  1. ‘n PSALM van Dawid; ’n onderwysing.

  2. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.

  3. Welgeluksalig is die mens aan wie die Here die ongeregtigheid nie toereken nie en in wie se gees geen bedrog is nie.

  4. Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag;

  5. want u hand was dag en nag swaar op my; my murg het verander soos deur somergloed. Sela.

  6. My sonde het ek U bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe. Sela.

  7. Daarom sal elke vrome U aanbid in ’n tyd as U te vinde is; ja, by ’n oorstroming van groot waters sal hulle nie aan hom raak nie.

  8. U is ’n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid; U omring my met vrolike gesange van bevryding. Sela.

  9. Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.

  10. Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.

  11. Die goddelose het baie smarte, maar hy wat op die Here vertrou — met goedertierenheid sal Hy hom omring.

  12. Wees bly in die Here en juig, o regverdiges! En jubel, alle opregtes van hart!

Hier sien ons dat die persoon sy sonde bely het en daarom is al sy sondes vergewe. Sy ongeregtigheid word hom nie meer toegereken nie. Hy het sy sondes bely en is daarom nou vergewe. Kyk wat sê Dawid in vers 6: MY sonde het ek U bekend gemaak, en MY ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die Here MY oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van MY sonde vergewe. Nêrens bely Dawid die sondes van sy voorgeslagte nie. Daarom is hy nou ‘n “vrome” volgens vers 7 en kan niemand hom “aanraak” nie. Hy skuil by die Here en die Here bewaar hom volgens vers 8. Hy sing vrolike sange van bevryding. Wanneer die mens SY sondes bely dan is hy ‘n bevryde. Vers 11 sê dat die Here hom omring met goedertierenheid. Vers 12 sê Wees bly o regverdiges! Jubel opregtes van hart!

Mense, die mens wat hierbo beskryf word is ‘n regverdige. Hy jubel en hy juig in die Here want hy is bevry. Niemand kan hom oordeel nie want sy sondes is vergewe. Dawid noem so ‘n mens “welgeluksalig” in vers 2. Daar is niks tussen hom en sy God nie. Daar is vrede want hy het sý sondes en sý ongeregtighede aan sy God bekend gemaak en dit bely. Hy het hom bekeer en is nou met God versoen.

Hierdie is alles Ou-Testamentiese waarhede. Dit is wat in plek was en wat deur God ingestel is. Dawid het nie in oordeel gelewe nie. Hy het geweet dat hy ‘n regverdige is en hy het geweet dat hy volkome met God versoen is deur die bloed van die lammers. Hy het geweet dat sy sondes vergewe is, al is dit net bedek en nie heeltemal uitgewis nie. Hy het geweet dat God nie die sondes van sy voorouers teen hom gehou het nie. Hy het geweet dat hy net vir sy eie sondes verantwoordelik was. Hy het nie aan bloedlyn vloeke geglo en aan allerhande rituele deelgeneem om homself daarvan te probeer bevry nie. Hy het in oorwinning geleef want hy het geweet wie en wat hy in God is.

As jy meer wil weet oor hierdie onderwerp, kry sommer nou die boek, “Die waarheid omtrent bloedlynvloeke” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts