Die kerk staan op twee pilare

Twee belangrike fasette van Christenskap in die huiskerk

Die huiskerk gemeente is eintlik ’n huiskerk gemeenskap. Hulle is nie net op Sondag “kerk” nie. Hulle is die hele week kerk.

Daarom staan die gemeente aktiwiteite of belewenis op twee pilare:

Die gawes van die Gees tydens byeenkomste (Die almal deelnemende en funksionerende faset van Christenskap van die kinders van God as priesters en konings in sy koninkryk)

en

die gedeelde gemeenskapslewe buite die byeenkomste.

Bloot ‘n saamwees een of twee keer ‘n week wanneer ons bymekaarkom is nie genoeg nie. In die huiskerke kom ons gewoonlik net een keer ‘n week op ‘n Sondag bymekaar maar dan deel ons ook nog deur die week ons lewens met mekaar in ons daaglikse handel en wandel.

Ek wil net weer beklemtoon wat ons as gelowiges vir mekaar moet wees en vir mekaar moet doen:

(Wees hartlik teenoor mekaar) (Eer mekaar) (Wees nederig teenoor mekaar en wees eensgesind) (Wees lief vir mekaar) (Hê vrede met mekaar) (Stig mekaar) (Aanvaar mekaar) (Vermaan mekaar) (Wees vriendelik en gasvry met en teenoor mekaar) (Wees eensgesind met mekaar) (Hê medelye met mekaar) (Ontferm julle oor mekaar) (As die een lid huil, huil saam met hom; as een lid bly is, wees saam met hom bly) (Wees nederig teenoor mekaar) (Wees onderdanig teenoor mekaar) (Bemoedig mekaar) (Bou mekaar op) (Vermaan mekaar om die regte ding te doen) (Bemoedig mekaar om sterk te staan) (Ondersteun mekaar sodat julle staande kan bly) (Wees geduldig met mekaar) (Kuier by mekaar en maak bemoeienis met mekaar) (Wees lief vir mekaar in woord en in daad) (Wees eensgesind met mekaar) (Dissiplineer mekaar) (Los probleme self in die gemeente met mekaar op) (Wag vir mekaar en konsidereer mekaar) (Sorg vir mekaar) (Leer mekaar) (Bemoedig mekaar) (Wees ywerig om mekaar te bedien) (Motiveer mekaar om die werk van die Here getrou te doen) (Dien mekaar) (Dra mekaar se laste) (Verdra mekaar) (Wees vriendelik met mekaar) (Ontferm julle oor mekaar) (Vergewe mekaar) (Wees tevrede met wat julle het in mekaar) (Wees onderdanig aan mekaar) (Verdra mekaar) (vergewe mekaar) (Leer mekaar) (Vermaan mekaar) (Sing vir mekaar) (Vermaan mekaar om nie afvallig in sonde te word nie) (Gee ag op mekaar en motiveer mekaar tot liefde en goeie werke) (Motiveer mekaar om aktief te wees en die samekomste nie te verontagsaam nie) (Bely julle sondes aan mekaar) (Bid vir mekaar)

Bogenoemde instruksies is uit verskeie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament uitgehaal. Dit is vir my baie duidelik dat ons as medegelowiges baie meer bemoeienis met mekaar moet maak as wat ons dit huidiglik doen.

Kyk wat sê Handelinge 2:42, 44 en 46

En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede.

En almal wat gelowig geword het, was bymekaar en het alles gemeenskaplik besit.

En dag vir dag het hulle eendragtig volhard in die tempel en van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet.

Die “gemeenskap” wat ons in vers 42 sien is gemeenskap met mekaar. Kinders van God maak bemoeienis met mekaar deur die week. Hulle “fellowship”, hulle deel mekaar se laste, hulle vier saam fees, hulle lag saam en hulle huil saam.

Die familie van God nie die tipe lewenstyl handhaaf wat so maklik in die institusionele kerk gevolg word nie. Hulle lewe verwyderd van hulle geestelike familie en hulle probleme. Hulle help mekaar nie juis wanneer krisis situasies ontstaan nie. Hulle weet maar min van mekaar af. Daar is ’n roekelose onsimpatieke gesindheid tussen Christene.

Die gedeelde gemeenskapslewe word nie soseer bevorder nie en is nie ‘n prioriteit vir of op die agenda van die institusionele kerk nie. Gemeentelede wat nie aangespoor word of gewys word hoe om die gedeelde gemeenskapslewe te leef nie sal dit nie maklik doen nie. Hulle word ook nooit geleer wat die waarde daarvan is nie. Dit is natuurlik vir baie mense baie gemaklik en hulle is tevrede met hierdie stand van sake. Om passief te wees en geen verantwoordelikhede te hê nie werk vir baie mense. HULLE BESEF EGTER NIE WAT HULLE MIS NIE EN IS SALIG ONBEWUS VAN DIE FEIT DAT GEESTELIKE GROEI SY FONDASIE DIREK IN DIE GEDEELDE GEMEENSKAPSLEWE HET.

Om geestelik geïsoleerd te leef is nie hoe God ons gemaak het nie. Dit is nie volgens ons DNA nie. Ons het die DNA van God in ons. Ons is inherent soos Hy. Die vlees is heel tevrede met die stand van sake maar nie ons gees nie. Die gees weet dat ons nie op standaard lewe nie en daar is ’n gemis in ons lewens. Ons besef dit nie maar dit is daar. Diep binne ons weet ons iets is nie reg nie. Die vreugde van waarlik Goddelike familielewe ontbreek.

Baie min mense besef dat die familie van God eintlik werklik familie is en dat die ongeredde bloedfamilie eintlik nie meer familie is nie. Hoekom nie? Want julle is twee verskillende spesies. Die familie van God is uit Gees gebore; ’n nuwe spesie, en die ongeredde mens is uit stof gebore. Die een is die afstammelinge van die eerste Adam die ander die afstammelinge van die laaste Adam.

1 Kor. 15:44-50

n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ’n natuurlike liggaam, en daar is ’n geestelike liggaam. So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra. Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Ja, ons is nie van hierdie wêreld nie; ons is gestuurdes of ambassadeurs van die hemel. Die ongeredde mense is van hierdie wêreld. Hulle is uit vlees (aards) gebore. Daarom kan ons nie met hulle gemeenskap hê nie en daarom moet ons met ons Christelike broers en susters gemeenskap hê. Hierdie gemeenskap, soos duidelik al die Skrifgedeeltes bevestig, is nie opsioneel nie. Dit is ‘n opdrag van God. Ek sê hiermee glad nie dat jy jouself van jou vleeslike familie moet vervreem nie. God se opdrag is egter dat ons gemeenskap met ons geestelike familie moet hê en mekaar aanvaar soos ons is.

1 Kor. 12:12-27

Want net soos die liggaam een is en baie lede het, en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie, een liggaam is, so ook Christus. Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge. Want ook die liggaam is nie een lid nie, maar baie. As die voet sou sê: Omdat ek nie die hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê: Omdat ek nie die oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie — behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die hele liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As dit geheel en al gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God elkeen van die lede in die liggaam gestel soos Hy gewil het. As almal een lid was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie lede, maar net een liggaam. En die oog kan nie vir die hand sê: Ek het jou nie nodig nie; of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie. Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; en dié lede van die liggaam wat vir ons minder eerbaar lyk, beklee ons met oorvloediger eer, en so het ons onsierlike lede oorvloediger sierlikheid, terwyl ons sierlike lede dit nie nodig het nie; maar God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra. En as een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly. Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.

Hierdie hele Skrifgedeelte basuin die noodsaaklikheid van die funksie van elke lid uit. Dit is juis hierdie funksies wat die hele liggaam ondersteun en opbou. Ons kan nie net ons eie geïsoleerde lewe lei en dink dit sal goed gaan met ons en ons gemeente nie. Bogenoemde Skrif sê duidelik dat ons gelyke sorg vir mekaar moet dra.

‘n Wonderlike uitvloeisel van hierdie verantwoordelikheid is die onskatbare groot voordeel wat elkeen van ons in die proses ontvang: Ons stig, bemoedig en bou mekaar op maar in die proses word onsself gestig, bemoedig en opgebou. Die beeld en openbaring van Jesus word net groter in ons lewens en ons word net meer en meer vervuld. Hierdie is presies die teenoorgestelde van die passiwiteit van die gemeentelede in die institusionele kerk. Dit is juis daardie passiwiteit wat die Christus openbaring aan bande lê en geestelike groei erg belemmer.

Die gemeente is ook die liggaam van Christus

Ons het reeds 1 Kor. 12 gelees. Die kerk is die liggaam van Christus en dit is baie duidelik dat elkeen van ons ’n gelyke funksie in daardie liggaam het. Ons het mekaar almal nodig. Die fokus vir almal is om normaal te funksioneer deur presies daardie aktiwiteite uit te voer wat eie aan die lid is. Ons moet baie duidelik verstaan dat die liggaam net een Hoof het en dat daardie funksie net deur die waardige Hoof van die kerk uitgevoer kan word. Jesus is die Hoof van die liggaam en al die heiliges die liggaam. Die Hoof beheer die liggaam. In die natuurlike liggaam is die brein in die hoof geleë. Jou brein doen ’n groot werk; dit beheer elke liewe beweginkie en die werking van jou liggaam. Die hoof is die “beheersentrum” van die liggaam. Van jou brein af loop “boodskap drade” wat senuwees genoem word na elke deel van jou liggaam. Langs hierdie drade stuur jou brein opdragte uit en ontvang inligting. Net so kommunikeer Jesus direk met sy liggaam (die kerk) en ons met Hom. Ons kan sê dat die “geestelike boodskap drade” eintlik die werking van die Heilige Gees is.

Leierskap in die Nuwe Testament is net ‘n funksie. Die vyfvoudige bedienaars was of voltyds of deeltyds besig met die werk van God soos die Heilige Gees hulle toebedeel het. Hulle het orals op straat, op markpleine en waar hulle kon die woord van God verkondig en die mense aangaande die “weg” geleer. In die proses het die apostels gemeentes gestig en van tyd tot tyd weer besoek. Buite die gemeente was hy besig met sy funksie en wanneer hy ‘n gemeente besoek het, was hy maar net een van hulle op gelyke voet met al die ander lede van die gemeente.

Ook die ouderlinge het soos enige ander gemeentelid gefunksioneer. Almal op gelyke voet. Niemand is offisieel aangestel of georden nie. Almal sien maar net die verskillende gawes en bedieninge in mekaar funksioneer sonder dat enigiemand amptelik aangestel is. Jou funksie in die liggaam van Christus is eintlik ‘n saak tussen jou en die Hoof. Ander mense sien maar net wat jou funksie is en hulle dank God daarvoor omdat dit die liggaam saamvoeg, saambind en ondersteun.

Christene in die Nuwe Testament het wel na persone verwys as ‘n apostel of ‘n evangelis maar dit was bloot net ‘n erkenning van die funksie wat hulle in die persoon raaksien. As ‘n persoon soos Paulus na homself verwys as ‘n apostel was dit bloot ‘n verwysing na sy funksie. Hy kon net sowel na homself as ‘n “Christelike veldwerker” verwys het. Dit sou egter ‘n bietjie verwarrend gewees het omdat daar nog evangeliste, profete en leraars was wat almal ook “Christelike veldwerkers” was. Vra maar ‘n persoon wat al jare lank evangelisties bedien maar tog geen posisie by enige kerk beklee nie. As jy hom vra wat hy is dan antwoord hy: “Ek is ‘n evangelis” verwysend na sy funksie in die liggaam van Christus.

Jesus is soos die afrigter van ’n rugby span. Hy leer elkeen in die span om hulle eie rol of funksie suksesvol uit te voer of te vervul. Wanneer Hy hulle op die veld stuur dan weet elkeen wat om te doen en hoe om dit te doen. Hulle het nie ’n leier op die veld nodig nie. Hulle kan sonder ’n kaptein funksioneer. Alle strategieë is reeds deur die afrigter Jesus breedvoerig in hul binneste geplant. God wil glad nie hê dat ons funksies ons op ‘n platform plaas nie. Hy sê dat dit nie so onder ons moet wees nie. Die een moenie hoër as die ander een geag word nie. Behandel jou buurman met net soveel respek as vir die evangelis om die hoek.

Matt. 23:8

Maar julle, laat jul nie Rabbi noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders.

Let op die woorde “en julle is almal broeders” Hier is Jesus baie duidelik oor titels en Hy sê onomwonde dat almal gelyk is (broeders). Daar is net een leermeester; Jesus self. Moenie jou funksie ‘n posisie maak nie. Wees nederig.

As jy meer wil weet oor hoe gewone kinders van God in die huiskerk gemeente funksioneer, kry sommer nou die boek, “Bediening in die huiskerk gemeente”, op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuis blad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts