Die gesindheid van leierskap in huiskerke

‘n Nuwe geslag bedienaars

Jannie van Zyl se skrywes oor die nuwe geslag bedienaars wat God nou opwek is vol kosbare waarhede wat my geestelike lewe wonderlik verryk het. Besoek gerus sy webblad vir studiemateriaal wat gratis afgelaai kan word:

Jannie van Zyl

Die Here sê in 1 Samuel 2:35 die volgende:

En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is. En Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my gesalfde kan wandel.

Hierdie priester was Samuel. Hy is ook ‘n tipe van Jesus wat ons Hoëpriester geword het. Jesus het God ook behaag deur ‘n getroue Hoëpriester te wees wat gehandel het net soos dit in Vader se hart en siel was. Hy het net gedoen en gesê wat Hy die Vader sien doen het en wat Hy by die Vader gehoor het.

Voor Samuel was Eli die priester in Israel. Eli het egter nie voor God gehandel en gedoen soos dit God behaag het nie. Om hierdie rede het God ‘n oordeel oor Eli en sy huis gebring. Hy het ook dan vir Eli met Samuel vervang toe Hy die oordeel oor hom voltrek het. God vervang altyd die oue met die nuwe, die onvolmaakte met die volmaakte, die vlees met die Gees, die kennis met die openbaring, die sweet en vlees reuk van die godsdiens met die seëninge en guns van ware aanbidding, ’n welriekend geur vir Vader.

Samuel is ‘n tipe van die nuwe geslag bedienaars wat God nou opwek. Hierdie bedienaars onderwerp hulle totaal aan die wil van God. Hulle het werklik die eie ek gekruisig. By hulle is daar geen ambisie om ‘n groot naam in die liggaam van Christus te word nie. Vir hulle is daar niks belangriker as om net God te behaag nie. Hulle ag geensins die eer van mense nie. Hulle lewe grootliks ‘n onbekende of obskure lewe. Hulle is nie televisie predikers nie en poog glad nie om op die voorgrond te wees nie. By hierdie nuwe geslag bedienaars is die hart en siel van God die belangrikste fokus in hul lewens. Daar is trouens ‘n heel ander gesindheid, ‘n ander fokus en ‘n ander motivering in hul harte as by die “Eli” bedienaars. Hulle skep groot behae daarin om altyd voor die aangesig van die Gesalfde (Jesus) van die Here te wandel. Hulle wil gehoorsaam wees, hulle wil dien.

Samuel was getrou aan God tot met sy dood. Hy het nooit afgedwaal van hierdie pad van oorgawe, gehoorsaamheid en geregtigheid wat hy met God geloop het nie. Hy het soos Paulus die pad getrou gewandel en soos Paulus sal hy ook die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang wanneer die Opperherder verskyn.

Ons lees ook in Hand 13:22 van die gesindheid van Dawid:

En nadat Hy hom (Saul) afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.

Wat het Samuel en Dawid en Paulus anders gemaak as die Eli bedienaars? Dit was ‘n gesindheid. Trouens, dieselfde gesindheid wat Jesus gehad het, was ook in hulle. Hulle het in hul diepste wese daardie honger en dors en brandende begeerte gehad om God te behaag. Dit was ‘n harts bediening, nie ‘n verstand bediening nie. So is daardie selfde gesindheid ook vandag in die harte van die nuwe geslag bedienaars. Hulle sien die posisies die eer en die glorie van die Eli bediening. Hulle neem kennis daarvan maar dit trek hulle nie.

Wie kan die eer en glorie weerstaan wat met ‘n groot bediening gepaard gaan? Daar is behalwe die geestelike seëninge ook die ander voordele wat ons eer en ons ego streel. Laasgenoemde ‘n gevolg van die institusionele kerk instellings. Soos in geskiedkundige oorloë deel die kerk ook “medaljes” uit vir uitstaande optrede en dapperheid aan sy “generaals”. Soos in dié oorloë draai alles ook om die strategie en visie van die senior offisiere in beheer van die weermagte. Hulle word vereer, bewonder en amper verafgood. Hierdie tipe eer het vir die nuwe geslag bedienaar geen waarde nie.

Hulle sien die glorie maar sien ook die prys wat daarvoor betaal word. Hulle sien die vlees, hulle sien die mensehand in die godsdienstige aktiwiteite. Hulle sien die produk van die siel en hulle herken dit as nié van die Gees nie. Hulle wil daarmee niks te doen hê nie.

In elkeen van hul lewens het daar ‘n dag aangebreek toe hulle deur dit kon sien. Die georganiseerde godsdiens met sy glorie het vir hulle sy glans verloor. Agter alles, vaag en versluier het hulle ‘n beeld van Goddelike openbaring gesien. Deur die waas van godsdiens het hulle ‘n lewende Wese gesien wat wag om Homself volkome aan sy kinders te openbaar soos Hy werklik is. Met die tyd, soos hul meer openbarings ontvang het, het sy heerlikheid in hulle toegeneem. Hulle het egter geweet dat daar nog meer is. Hulle het geweet die tyd het aangebreek dat hulle nuwe dimensies van openbarings kennis gaan beleef en ’n voller oorwinningslewe gaan ervaar. Hulle het geweet dat die leemte in hul harte wat die godsdiens agtergelaat het, gevul gaan word. Waarmee word hulle harte gevul? Met Jesus Christus. Ons noem dit die openbaring van Jesus Christus in sy liggaam. Ons noem dit die “volheid lewe”. Ons noem dit die “Jesus lewe” in en deur sy liggaam, die kerk van God. Die kerk word deur Jesus bevrug. Hy groei in die kerk op en leef uiteindelik in sy volheid in en deur die kerk.

Dit is presies hoekom die glorie van beroemd wees, bekwaam wees en dinamies wees nie vir hulle belangrik is nie. Hulle sterf eerder in hulself as hulle maar net die Een Opperwese van glorie en majesteit in sy volle heerlikheid in sy kerk kan aanskou. As hulle Hom net kan behaag en Hom sien en voel en ervaar in hul binneste op ‘n vlak van heerlikheid wat hulle nog nooit ervaar het nie. Hierdie gesindheid maak hulle gehoorsame instrumente in die hand van God. Hulle voer net uit wat in sý hart en in sý siel is.

Meer en meer nuwe geslag bedienaars meld by die Koning aan vir diens. Hulle begeer meer van Hom. Vir hulle is dit voor die hand liggend dat hierdie openbaring en ervaring nie in die institusionele kerk lê nie. Hulle hoor sy stem, hulle ken sy hart en hulle weet hulle het genoeg gesien en genoeg gehoor om nie dié leuen verder te glo nie.

Daarom is hulle bereid om die onbekende in te beweeg. Hulle is bereid om die vreemde te trotseer en Hom te volg op die water. Hulle verlang met ‘n ongekende dors en ‘n honger na die wil, heerlikheid en glorie van Christus soos net Hy Homself kan openbaar en net Hy kan verklaar. Hulle is bedienaars so reg ná die hart van God wat al sy welbehae sal doen. Hulle word nooit teleurgestel nie. Hulle ervaar ‘n Jesus wat hulle absoluut verbyster en bedwelm! Die ontmoetings met Hom en hul interaksie met Hom laat hulle sprakeloos en oorweldig!

Hulle was bereid om ambisies neer te lê en alles wat hulle ontneem van hierdie heerlikheid waarna hulle gesmag het. Hulle was bereid om hierdie “dienskneg” God te volg deur self ‘n dienskneg te word. Vir hulle is die handdoek en die skottel nie ‘n verleentheid nie. Posisie beteken vir hulle niks nie. Om die minste te wees laat ‘n soet smaak in die mond. Soos Jesus leiding geneem het in hierdie “dien” tipe gesindheid, so doen hulle ook. Hulle verstaan nou dat om anders te wees as die heersers van die wêreld ‘n baie praktiese konnotasie het. Jy lei deur te dien, jy lei deur te doen, jy lei deur te wys hoe, jy lei deur dit self te doen en dan ander te motiveer om dieselfde te doen.

Jy besef dat die res van die liggaam niks anders doen as jy nie. Jy wys en jy doen en hulle doen dieselfde. Hulle doen nie iets anders as wat jy doen nie. Almal is broeders, almal is gelyk en almal het dieselfde werkbeskrywing. Verskillende gawes en funksies ja, maar almal het dieselfde werkbeskrywing. Die Nuwe-Testamentiese leierskap is dus nie gebou op wêreldse leierskap-sisteme nie maar op die priesterskap van alle gelowiges en op die gawes van die Heilige Gees. Die Heilige Gees maak almal bedienaars en almal priesters. Hý is die bekwaam maker. Hý werk deur almal.

Ons lees in 1 Pet. 2:9 die volgende:

Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig.

Jesus sê dat Hy ons konings en priesters gemaak het vir sy Vader. Aan ons het Hy mag gegee om die wêreld te oorwin en op die aarde te heers. Ons sal priesters van die Here genoem word; aan ons sal gesê word: “Dienaars van onse God!”

Ons het ‘n nuwe geslag bedienaars geword omdat ons almal ‘n nuwe “spesie” geword het wat deur die Heilige Gees bewoon word. Anders as die gewone mense in die Ou-Testament het ons die Heilige Gees ontvang. In die Ou Testament was die Heilige Gees net “op” mense maar ook net op die leiers van die tyd; die priesters, die profete en sommige konings soos Dawid. Die gewone mens het nie die Gees van God gehad nie. Vandag is ons almal “leiers” want ons word almal vervul met die Heilige Gees. Hoor wat sê Jesus in Matt 20:25-28

Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos wat die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

In die ware kerk van God is nie groot manne nie. Leiers voer gesag uit in die institusionele kerk deur húlle opinies te laat geld, húlle geloof uit te lewe, húlle visie te propageer en húlle voorkeure tydens besluitneming hoër te ag as die van ander. Hierdie gesindheid loop dikwels oor tot onregverdige onderhandelings en selfs outokratiese besluitneming, gewoonlik as die kwessie vir die betrokke leier belangrik genoeg is. Van hulle praat selfs van sý gemeente en sý preekstoel. Die meeste van hulle doen dit in ‘n baie mooi gees en gesindheid maar dit maak nie die sisteem reg nie. Almal se opinies behoort ewe veel waarde te hê en ewe veel gewig te dra. Almal moet hul geloof kan uitleef en tydens besluitneming tel elkeen se oogpunt ewe veel. Dit is juis hoekom besluitneming in die vroeë kerk so effektief was.

Die institusionele kerk het in die loop van die jare gewoond geword aan ’n outokratiese tipe besluitneming en bestuurstyl sonder om dit te veel te bevraagteken. Die familie interaksie op gelyke voet is verander in ‘n bevel-styl verhouding soos werknemers in ‘n maatskappy. Hierdie selfde voornemens en gesindhede word die meeste van die tyd nooit uitgespreek nie maar dit is daar: “My posisie gee my die outoriteit om my beginsels en oortuigings op julle af te dwing as dit moet”. “Ek doen dit in ‘n sagte gees en ’n mooi gesindheid maar as ek teëstand kry sal ek my voet dwars neersit”.

In die institusionele kerk word grootheid gemeet aan aanhangers getalle, prominensie, eksterne krag, mag en politieke invloed. Kerkleiers misbruik hulle posisies dikwels. Hulle mag lê eerder in status, titel en posisie. Hierdie posisionele aanstellings het baie keer ook politieke oorwegings as grondslag. Ek dink Hos. 8:4 kan hier baie goed van toepassing gemaak word:

Hulle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder My wete…

Kyk waar het die besluitnemings proses in die institusionele kerk ons al gebring: Dominees trou paartjies van dieselfde geslag, homoseksuele predikante word op preekstoele toegelaat, leierskap word beskerm wanneer hulle uitgevang word vir kinder molestering en korrupsie (om natuurlik die denominasie se goeie naam te beskerm), die maagd geboorte van Jesus Christus en daarmee sy aanspraak as Seun van God word nie erken nie, morele standaarde van kerk lidmate word nie aangespreek nie, mense word in posisies aangestel wat geen sin maak nie, gemeentes word familie besighede wanneer al die pastoor se kinders voltydse aanstellings kry en nog baie meer wêreldse en selfs sondige aktiwiteite word deur die kerk toegelaat en goedgekeur. Die groot leemte hier is dat ‘n baie klein groepie mense deur middel van wêreldse metodes besluite neem. Die wêreldse metodes het groot skuiwergate en leemtes wat veroorsaak dat besluite geneem word wat nooit geneem moes word nie. Besluite word as gevolg van tegniese redes deurgevoer wat nie moes nie. Partykeer maak net een stem die verskil. Klink na politiek nè.

Hierdie “gesag uitoefen” van party kerkleiers wissel van geen druk op die gewone gemeente lidmate tot ‘n druk wat grens aan die druk wat werknemers by hul werk van hul werkgewers ervaar. Hierdie stelling is geensins oordryf nie. Hoe mooi of hoe diplomaties kerkleiers dit ook al doen, die gesag wat hulle uitoefen het ‘n dodelike effek. Dit beweeg die gemeente tot passiwiteit en afhanklikheid met betrekking tot bediening en onderwerping met betrekking tot besluitneming. Dit lei ook tot die neem van besluite wat nie binne die wil van God is nie.

Besluite word doodeenvoudig deur 0,01% van die gemeente geneem en hierdie besluite word op die meerderheid afgedwing. Dit is vanselfsprekend so en almal aanvaar dit so. Dit verskil egter niks van die wêreld nie.

Inteendeel die industriële of sake wêreld poog nog om die werkmag meer aktief betrokke te maak met besluitneming. Daar word allerhande werkswinkels gehou om die werksmag toe te rus en te motiveer om meer betrokke te wees met besluitneming.

Geskiedenis het egter bewys dat dit vir die institusionele kerk nog altyd ‘n probleem was. Kerkleiers wou nog altyd beheer gehad het om die institusie of die struktuur effektief te beskerm. Sodra dit voel asof situasies en omstandighede ontstaan wat die gesag uit hulle hand neem of blootstelling veroorsaak, het kerkleiers nog altyd vinnig oorgegaan tot aksie. In die naam van “Om die kerk te beskerm” of “Om die wil van God te laat geskied” of “Die beste vir die gemeente” of wat ook al, is daar al menige besluite geneem wat eintlik teen die wil van God is.

Vir God is sy bruid binne die institusionele kerk na aan sy hart en vir Hom die prioriteit. Vir die kerkleier kom die struktuur eerste want dit is essensieel vir sy voortbestaan. Die “struktuur” skryf ast’ware voor wat gevolg moet word, toegelaat moet word, nagejaag moet word en nie toegelaat moet word nie. Die “struktuur” is in werklikheid in beheer en die leierskap in die struktuur is sy slaaf. Hulle is die pionne van die “magte” in beheer van hulle eie skeppingswerk.

Hierdie is alles areas en sisteme waaraan die nuwe geslag bedienaar nie vasklou nie. Hy het daardie juk van sy nek afgewerp. Die bande is losgesny en die kettings gebreek. Hy begin asemhaal en hy begin lewe. Hy is vry om sy God in gees en waarheid te dien sonder gebondenheid en sonder die dooie atmosfeer en die dooie gees van die godsdiens. Hy hoor die kerkklok lui op ‘n Sondagoggend en dit bring altyd gemengde gevoelens; ‘n ongekende vreugde wetende hy is verlos van die godsdiens, maar ook ‘n weemoed wetend dat so baie nog vasgevang is in sy greep. Vasgevang as gevolg van die werking van magte lank voor sy bestaan wat hom nou nog kniehalter, belas, belemmer en beroof.

Die nuwe geslag bedienaar weet dat al is hy self nie in beheer nie, God is nóg in beheer. Hy weet hy hoef niks en niemand te beskerm nie. God het ons nie nodig om sy kerk of sy gemeente of sy kinders te beskerm nie. Niemand het ons aangestel om dit te doen nie. Gaan lees maar die Bybel en jy sal sien dat niemand ooit aangestel is om God se handewerk te beskerm nie. Hy is die Hoof van die gemeente en in beheer. Die nuwe geslag bedienaar het nie net homself nie maar alles, insluitend die beheer van mense, aan God oorgegee. Hy vertrou God dat sy wil sal geskied.

Dit is juis hierdie gesindheid van aanvaarding, oorgawe en gehoorsaamheid wat hom ‘n volmaakte instrument in die hand van God maak. Hy doen net wat in die hart en siel van God is. Hy voer sy welbehae uit. Hy het nie nodig om enigiets anders te doen nie want daar is niks wat enigiets anders voorskryf nie. Daar is ook niemand wat enigiets anders voorskryf of eis nie. Hy hoor net die Stem van God in elke situasie. Hy hoef niks en niemand in ag te neem nie. Hy neem net in ag wat God wil uitvoer. Hy vra nie vrae nie en hy neem nie beheer nie. Hy voer net uit in eerbied, gehoorsaamheid, agting en liefde. Die opgestane Jesus leef in hom. Hy bedien net Jesus en niks anders nie. Jesus bedien in hom en deur hom.

Hierdie gesindheid maak ‘n baie groot verskil. Kom ons beskryf, ontleed en vergelyk ‘n bietjie die werk van die nuwe geslag bedienaar met die van die institusionele kerk met behulp van ‘n illustrasie:

Funksie van die tipiese institusionele kerk bedienaar:

Hy staan voor ‘n groot gehoor. Almal sit in rye met hulle oë op hom gerig. Langs sy “preekstoel” het hy ‘n groot verhoog met ‘n hele klomp houtwerk masjinerie. Dit staan netjies gepak in rye. By elke masjien is ‘n plakkaat met tegniese inligting oor die kenmerke van elke masjien. Daar kan jy lees wat elke masjien kan doen en uit watse onderdele dit bestaan. Geen masjien is in die elektriese stroombaan gekoppel nie. Daar is glad nie hout, skroewe, houtlym of enige ander materiaal op die verhoog nie.

Die bedienaar het op die kateder voor hom ‘n netjiese teoretiese handleiding met al die inligting wat jy nodig het om jou redelik goed in te lig oor “hoe om houtmeubels te maak”.

Hy werk baie behendig deur die handleidings en ander inligtingsbronne. Die gehoor konsentreer baie goed, hulle maak aantekeninge en word goed vertroud met die teoretiese inligting van die meubel bedryf. Die naakte waarheid is egter dat hulle totaal passief is. Hulle neem inligting in maar hulle leer geen vaardigheid aan nie. Niemand maak meubels nie. Nie die leier of instrukteur nie en ook nie die gehoor nie.

Die teoretiese lesse word oor ‘n baie lang tydperk gegee. Inteendeel, dit hou nooit op nie. Jare gaan verby en niemand maak meubels nie. So hier en daar daag iemand op met ‘n stoeltjie of ‘n juweelkissie wat hy by die huis aanmekaar geslaan het. Die oorgrote meerderheid van die toeskouers het egter nog nooit ‘n meubelstuk van enige aard gemaak nie.

Funksie van die tipiese nuwe geslag bedienaar

Jy kry hom op straat, op die markplein, op die sportveld en in huise in sy omgewing. Hy beweeg van huis tot huis, van straathoek tot straathoek, van die markplein tot die sportveld. Orals waar hy gaan is houtwerk masjiene aan die werk. Op stoepe, in motorhuise, onder afdakke, langs die hoofweg, op die sportveld, op die markplein.

Die nuwe geslag bedienaar help hier en daar. Hy gee hout aan. Hy hou ‘n stuk hout vas wat iemand besig is om te saag. Hy smeer vir iemand houtlym aan op die gemerkte areas. Hy dra skuurpapier aan. Dan staan hy ‘n bietjie rond en bekyk die gewerskaf hier om hom. Hy is lus om sy eie tafel aan mekaar te slaan. Hy het gister die stoele klaargemaak.

Maar dan sien hy iemand ‘n bietjie onbehendig worstel met sy skaafmasjien. Hy vra hom of hy hom ‘n bietjie kan wys hoe die masjien werk. Hy vroetel aan die apparaat se verstel knoppies, kry die regte sny diepte en draai die slinger vas. Hy wys sy kollega hoe om die hout vas te hou. Gee ‘n bietjie advies met betrekking tot veiligheid. Vertel hom sommer hoe om kwaliteit hout materiaal uit te soek en waar om dit aan te koop. Hy gee die stuk hout terug en staan eenkant en toekyk.

Hy sien hoe sy jong kollega die hout nou behendiger oor die skaafmasjien skuif. Die reuk van hout was nog altyd vir hom ‘n lekker reuk. Hy geniet dit om die tevrede glimlag op sy nuwe broer se gesig te sien. Ja-nee hy kan sommer sien die knaap gaan ‘n meubelmaker van formaat wees.

Met ‘n selfvoldane glimlag stap die nuwe geslag bedienaar terug na sy eie toerusting. Hy wil die tafel vandag klaarmaak (In God se wêreld is niemand passief nie).

Toerusting is nie teoretiese skoling nie

Vir dienswerk moet ‘n mens toegerus word. Jesus het gesalfde gawes aan die kerk geskenk of gegee om die heiliges toe te rus vir dienswerk. Hierdie gawes volgens Ef. 4:8,11 en 13 het ons reeds bespreek. (Apostels, profete…). Hy het ook die gawes van die Gees gegee (Woord van kennis, tale…) om Homself aan die heiliges te openbaar. Beide hierdie groepe gawes het net een oogmerk ten doel: Om die heiliges te onderrig in Christus. Dit gaan dus alles oor Christus die persoon. Die toerusting van die heiliges het dus niks te doen met die skoling in Bybel onderwerpe nie en die bediening is nie die uitdra van Skrif kennis of Skrif vertolking nie. Om hierdie rede is die hele georganiseerde godsdiens ‘n siel produk.

Ware bediening is die interaksie met Jesus die Persoon in die lewens van die nuwe geslag bedienaars. Hulle leef Jesus, hulle praat Jesus, hulle openbaar Jesus, Hy praat met hulle, Hy openbaar Homself aan hulle, Hy leef deur hulle, hulle leer om deur die inwonende Christus te leef. Dit is ‘n driehoek verhouding (Ek , jy en God) wat alle aspekte en dimensies van menswees, kind wees, bruid wees, broer wees, suster wees, pa wees, ma wees en familie wees insluit. Dit is ‘n daaglikse interaksie wat regdeur die week nooit ophou nie. Op ‘n Sondagoggend kom die vrug van Goddelike openbarings en Goddelike verhoudings in die gemeente byeenkoms tot uiting en ervaar ons die lewende Jesus in ons midde. Deur die week was daar interaksie waartydens die gemeente “Jesus” vir mekaar uitgeleef het en in die byeenkoms neem almal deel tot stigting. Bediening is dus die manifestasie van die Christus lewe. Hy werk in ons en deur ons. Daar is geen verstandelike skoling, Bybel onderwerp studie, programme of rituele betrokke nie.

Paul had enough faith in the work of the Holy Spirit and understood his own position in the Great Commission. The Apostles merely laid the foundation on which new believers could build their relationships with God. They knew that the new-found joy in Jesus would be enough to encourage them to congregate regularly. It would be the platform from which they would develop accountability and responsibility towards one another. These converts were now the agents ministering to the needs of their own communities. They did so within the context of their own abilities, resources and spirituality.

– Johan Carstens

Wie maak dit alles moontlik? Hoe is dit moontlik dat sulke wonderwerke deur sulke ongeskoolde vissermanne kan plaasvind? Hoe is dit dat hulle met soveel wysheid praat? Is dit dan nie Estelle en Frans wat hier voor ons oë grootgeword het nie?

Dit is alles die werk van die Heilige Gees wat van gewone mense besondere mense maak. God is nie ‘n aannemer van die persoon nie. God soek nie slim mense nie. God soek gewone mense en Hý rus hulle toe om sy bedienaars te wees. Almal van hulle. Niemand is uitgesluit nie. Die Heilige Gees rus ons almal toe vir dienswerk. Nie ‘n enkele persoon in die kerk van God is nie ‘n bedienaar van God nie!

Saad gedagtes uit “’n Nuwe geslag bedienaars” van Jannie van Zyl

God is tans besig om deur sy Gees vir Hom konings en priesters op te wek. Hierdie konings en priesters volg nie hulle eie godsdienstige programme nie. Hulle het net ‘n hart vir dit wat in God se hart is. Ambisie speel by hulle geen rol nie. Hulle is deurwas met hemelse visie. Hierdie priesters en konings is oorwinnaars. Hulle is oorwinnaars omdat hulle net ore het vir die Heilige Gees en nie vir die wel gedefinieerde teologie van ons tyd nie. Slegs oorwinnaars deel die troon en die heerskappy met Jesus. Hulle regeer op aarde saam met Christus. Elke ware weergebore kán opgroei tot ‘n volwasse seun van God. Deur volwasse seuns van God vloei die Gods lewe na ‘n behoeftige en sterwende wêreld. Hulle stel geensins in bediening belang nie. Hulle fokus is op Jesus en sy beeltenis neem in hulle vorm aan. Hulle weet dat ware bediening die vrystelling van die inwonende Christus is. Hulle leef in ‘n nuwe Gees dimensie en het waarlik ‘n diepe verhouding met die Here. Hulle leef nie deur oortuigings of metodiek nie. Hulle leef deur die gemeenskap met die hemelse Bruidegom. Die nuwe geslag bedienaar het die volheid lewe gevind en ingegaan.

– Jannie van Zyl

Omdat hulle die Goddelike gesmaak het; die Gees salwing op verhoudings inplaas van godsdiens, is die volgende kenmerke en kwaliteite vir hulle mooi en na aan die hart: Spesiale agting en respek vir ander kinders van God, die minste wees in alles, menslikheid en beskeidenheid, bereidheid om te dien, sagmoedigheid en nederigheid, hoë agting vir ander, bereidheid om te werk in die koninkryk van God (Wanneer hy nie fasiliteer of “on-the-job-training” gee nie, dan maak hy self ook “meubels”). Sy werk is egter Gees aktiwiteite en nie vlees aktiwiteite nie.

Ware geestelike leiers is betroubare karakters, nie dinamies begaafd nie, hulle is getroue broers en susters, nie deeglike administrateurs nie, hulle is goeie voorbeelde, nie heersers nie, hulle is goeie vaders en moeders, nie despote nie, hulle is oorreders van die waarheid, nie outokrate nie, hulle is leidende knegte, nie slawedrywers nie, hulle is gewone Christene, nie intelligente reuse nie, hulle is fasiliteerders, nie tiranne nie, hulle is diensknegte, nie aristokrate nie, hulle is versorgers, nie intimideerders nie, hulle is net gewone godvresende mense, nie geestelike spesialiste nie, hulle is geestelike toesighouers, nie professionele predikers nie, hulle soek die koninkryk van God, hulle manipuleer of beheer nie die kinders van God nie, hulle erken die behoeftes van ander meer as hul eie, hulle werk nie vir geld nie, hulle is nie huurlinge nie, hulle meld aan vir diens sonder om oor vergoeding te onderhandel. Hulle is waarlik uitverkoop aan God en sy ewigheid doel.

Wat is die praktiese gevolge van hierdie gesindheid wat Jesus kom demonstreer het?

In die kerk van God werk almal en die “leiers” hou toesig oor die werk. Ek plaas die woord “leiers” tussen aanhalingstekens want dit dui steeds daarop dat Nuwe-Testamentiese leiers nie ‘n posisie is nie maar net ‘n funksie. ‘n Funksie wat maklik misbruik kan word. Hulle toesig bestaan geheel en al net uit ‘n “wys hoe” of demonstrasie. Hulle motiveer ander om dieselfde te doen. Hulle kyk uit vir gevare en afwykings en hulle bring dit aan die lig. Hulle gee raad en advies en hulle fasiliteer. Die res laat hulle aan God en aan die gemeente oor. Hulle dwing niks af nie en hulle neem geen aksies nie. Hulle vermaan, hulle versoek en hulle probeer oorreed maar dit is hoe ver hulle gaan. Hulle neem geen beheer nie. Hulle vertrou God en die sisteem wat Hy in plek gesit het.

Hulle besef dat leierskap volgens wêreldse metodes die “almal is priesters” sisteem van die kerk benadeel en beperk. Dit skaad die familie beeld van die kerk. Dit onderdruk vrye deelname en vrye funksionering. Dit hou die gelowige priester in sy kinderskoene. Hy kan nie ontwikkel nie. Hulle groei nooit op nie. Hulle bly swak in die Gees en onseker van hulleself. Hulle word teoreties “vet” gevoer maar gaan nooit oor tot aksie nie.

Daar bly vir die informasie geskoolde kind van God net een van twee opsie oor: Verlaat die institusionele kerk of kry jou diploma en leer ander mense wat jy die afgelope twintig jaar geleer is. Die bose kringloop gaan net aan en aan. Selfs die institusionele kerkleiers erken dat hulle diep teleurgesteld is in die vordering en geestelike groei onder hulle lidmate. Dit kan ook nie anders nie. Die struktuur en sisteme wat in plek is kan nie geestelike groei bevorder nie. Die struktuur moet vaarwel toegeroep word, uitmekaar gehaal word en as skroot verkoop word. Die lewende organisme in die institusionele kerk moet vrygelaat word om te lewe.

Daar kom ‘n dag dat hierdie stap nie langer uitgestel sal kan word nie. Kerkleiers gaan eventueel gedwing word om dit te doen. Kerklidmate gaan die institusionele kerk verlaat en daar gaan niemand oorbly nie. Die bittereinders gaan eventueel ‘n dooie godsdiens bedryf en van geestelike honger en dors omkom. Ek het geen idee wanneer dit gaan gebeur nie maar ek weet dit kom.

Kyk ‘n bietjie wat gebeur as die dominee of pastoor skielik bedank en daar is vir ‘n maand of twee geen plaasvervanger nie.

Vir ‘n paar dae gaan daar niks aan nie. Niemand weet wat om te doen nie. Wie gaan preek? Wie gaan vir die siekes bid? Wie gaan die hospitale besoek? Wie gaan die finansiële kerksake hanteer? Wie gaan die berading doen? Wie gaan die nuwe fondsinsameling projek hanteer? Wie gaan die Bybelstudie klas hanteer? Hoekom het hy so skielik bedank en ons in hierdie benarde posisie gelos?

Almal is verstom. Hulle sit passief in die banke en kyk na die leë preekstoel. Hulle weet nie wat om te doen nie. Hy het self nie “meubels” gemaak nie, hy het hulle nooit gewys hoe om “meubels” te maak nie maar nou kan hulle selfs nie eens dit doen wat hulle hom so getrou jaar na jaar sien doen het nie (ander vertel hoe om meubels te maak). Ons moet baie dringend ‘n dominee beroep!

Kom ons kyk ‘n bietjie wat sê die Bybel van die funksies en karaktereienskappe van die nuwe geslag bedienaar:

1 Pet. 5:1-3

Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ‘n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ‘n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid; ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde.

Hier sien ons God se wil met betrekking tot leierskap duidelik uitgespel. God wil hê ons moet lei deur voorbeeld en nie deur gesag of heerskappy nie.

1 Pet. 5:5

Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed met onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die ootmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

Hier sien ons dat Paulus sê dat die jongeres aan die oueres onderdanig moet wees net soos wat hulle ook almal mekaar onderdanig moet wees. In die koninkryk van God ag almal mekaar hoër as hulself en is almal onderdanig aan mekaar. Selfs die oueres is onderdanig teenoor die jongeres (want die oudste onder julle moet wees soos die jongste – Luk. 22:26).

Daar is tog ‘n versoek spesifiek aan die jongeres gerig: Die oueres het al ‘n pad gestap en uit sy of haar lewenservaring kan hulle jou baie leer en baie goeie raad gee. Wees dus bereid om deur hulle oorreed te word vir jou eie beswil.

Wat is ons dan as ouderlinge? Die Bybel sê tog ons is aangestel om toesig te hou oor die kudde?

Die woord “ouderling” in die Grieks is “presbuteros” wat “’n ouer man” beteken. Dit verwys na ‘n “ervare” of ‘n “konfyte” man. Iemand wat die pad geloop het en weet waaroor dit gaan. Daarom kan ‘n vrou ook ‘n ouderling wees. Ervaring het hulle toegerus vir hulle dienswerk. Daarom kan hulle toesig hou, daarom kan hulle ‘n voorbeeld wees vir ander. Hulle ken die pad, hulle weet wat werk en wat werk nie. Hy kan vir ander manne die pad wys. Sy kan vir ander vroue die pad wys. Hy of sy bly egter nog steeds net mens en is nie ‘n “superman” of ’n “supervrou” nie. Hulle kan ook verkeerd wees en foute maak. Daarom moet hulle ook nederig wees en altyd ‘n leersame gees hê.

Omdat hulle ervare is, het God hulle ‘n toesighouer funksie gegee: “Terwyl julle die pad stap, kyk tog ‘n bietjie uit na die jongeres en die onervare manne en vroue. Wees daar vir hulle as hulle jou nodig het. Help hulle en wys hulle. Moenie oor hulle heers nie. Wys hulle net in liefde en ootmoedigheid. Sonder dwang maar met bereidwilligheid. Moenie hulle misbruik of verskuilde agendas hê nie. Moenie dit doen vir vuil gewin nie.

Die Bybel gefundeerde ouderling funksie was eintlik baie meer passief as wat ons dink. Hulle het eintlik in die lokale huiskerk gemeente ‘n baie lae profiel gehou. ‘n Buitestander sal byvoorbeeld ‘n hele paar keer besoek, hetsy tydens die byeenkomste of tydens die weeklikse interaksie en glad nie weet wie die ouderlinge in die gemeente is nie.

In this way, the role of the elders can be likened to the human liver. The liver works invisibly, filtering out poisons and other toxic substances. It resists infections by producing immune factors and removing bacteria from the bloodstream. The liver organically detoxifies the human body, causing it to function properly. But it does so in a quiet, hidden way. In a similar fashion, the elders detoxify the church behind the scenes so that the body can function without hindrances.

– Frank Viola

Hulle hou net ‘n ogie. Hulle kyk wie kry swaar en wie het hulp nodig. Hulle weet van almal se pyn en verdriet. Hulle moedig hier ‘n bietjie aan en gee daar ‘n bietjie advies. Hulle hou ‘n ogie oor die welstand van die gemeente lede. Die gemeente doen die werk saam met hom. Hulle doen dieselfde ding. Hulle kyk maar net ‘n bietjie uit sonder om krities te wees, beterweterig te wees of opdringerig te wees.

Terwyl sy hande op die skaafmasjien is kyk hy ‘n bietjie rond. Hy herken ‘n “wolf” die oomblik wat hy hom sien. Hy herken valse profete die oomblik wat hy met hulle te doen kry. Sy weet onmiddellik wanneer iets of iemand die lokale gemeente probeer insluip om skade aan te rig. Hulle weet dat God in beheer is en daarom oorreageer hulle nie. Tog waarsku hulle almal getrou en laat dit aan God en die gemeente oor om die regte besluite te neem en die regte optrede uit te voer. Hy oorreed, maar dwing nie af nie. Dit is nie sy gemeente of sy kudde nie. Dit behoort aan die Opperherder wat getrou sy werk in die gemeente sal doen.

Hierdie funksies word alles agter die skerms uitgevoer. Die gemeente is nie eens bewus daarvan nie. Hulle doen dit in restaurante wanneer hy of sy met ‘n broer of suster oor ‘n koppie koffie gesels, hulle doen dit telefonies of so terloops wanneer hulle mekaar in die dorp raakloop en so meer. Partykeer stel hy proaktiewe aksie voor soos om vir ‘n arm gesin vir die maand van kos te voorsien. Hy stel voor dat iemand bemoedig moet word. Hy gaan bid vir die siekes. Hy doen dit egter deur mense saam te nooi om hulle te leer en te wys hoe om gehoorsaam aan God “die werke by die geloof” te sit. Hy doen dit ook in die Gees. Hy is nie besig met sy eie programme en metodes nie. As die Heilige Gees nie lei nie dan doen hy niks.

Konings en priesters na God se hart

Ons het almal posisionele aanstellings in die kerk van God deelagtig geword toe ons gelowig geword het. Christus het ons almal gemaak konings en priesters vir sy Vader. Ons sit in hemelse plekke saam met Jesus op sy troon. Ons heers reeds nou saam met Hom. Hy het ons bekwaam gemaak om te regeer as konings en priesters. Daar ís dus posisionele aanstellings in die kerk en dit is vir almal in die koninkryk van God. Niemand is uitgesluit nie. God het nie nodig om leiers oor sy konings en priesters aan te stel nie. Hy het net ‘n bietjie toesighouding nodig. Iemand om net ‘n ogie te hou.

Om dit te illustreer wil ek die volgende voorbeeld gebruik:

‘n Dinamiese, vindingryke Boer het ‘n groot prys vir n vrugteplaas betaal met baie vrugte boorde, plaasimplemente, ‘n inleg fabriek, ‘n vars vrugte verpakkingsafdeling, ‘n droëvrugte fabriek en so meer. Hy het die afgelope tyd met tussenposes en tydens verskillende periodes ‘n klomp deskundiges op die plaas gehad om die werkers toe te rus vir hul dienswerk. Nadat die deskundiges weg is het hy niemand in beheer geplaas van die verskillende seksies en areas van verantwoordelikheid nie. Hy het die werkers net so leierloos gelos.

Hy het genoeg vertroue in die werkers gehad om self al die funksies uit te voer. Hulle is spesiaal uitgesoek vir hierdie doel. Dit is ‘n nuwe stelsel wat nog nooit so gefunksioneer het in die geskiedenis van die mens nie. Die Boer het baie tyd met elke werker bestee en iets van Homself, ‘n stukkie van sy Visie en Persoonlikheid vir elkeen gegee. Soveel tyd het Hy met elkeen bestee dat hulle baie verknog en afhanklik van Hom geword het. Hulle ken Hom baie goed en weet presies wat Hom gelukkig maak.

Hy het besluit om op ‘n lang vakansie oorsee te gaan en die plaas net so in beheer van die plaaswerkers en fabriekswerkers te los. Hy het egter net voor sy vertrek vier van die arbeiders wat al lank vir Hom werk eenkant toe geroep. Met die volgende woorde het Hy hulle totsiens gesê terwyl Hy vertrek:

“Hou ‘n bietjie ogie oor die werk ouens. Moenie oorneem nie maar gee net so bietjie raad as dit nodig is. Ek wil hê dat die manne self moet ontwikkel en hulle gaan dit nooit doen as julle te veel inmeng en hulle voorskryf nie. As dinge tóg handuit ruk, praat maar mooi met hulle. As hulle moedeloos word bemoedig hulle maar ‘n bietjie maar dit is baie belangrik dat hulle self die mas opkom. Dit gaan partymaal ‘n bietjie uitdagend vir hulle wees maar as hulle van die begin af op hulle eie voete staan sal hulle oorwin. Hulle moenie eens agterkom julle hou ‘n ogie vir my nie kêrels. Sterkte manne”

Hierdie is dan die funksie van die ouderlinge in die gemeente. As hulle getrou aan hierdie beginsels bly gaan hulle Goddelike Bybel gefundeerde toesig oor die kudde van God uitoefen. Die gemeente en die koninkryk van God gaan baie baat daarby. Daar gaan dae wees wat hulle lus gaan voel om beheer te vat en die skape te kasty, te bepreek, hulle misnoeë te wys, hulle teleurstelling te wys, hulle te beveel en hulle te dwing. God sê egter dat hulle nie so mag optree nie. Dit val buite die riglyne van hulle funksie. Hulle het geen reg, outoriteit of mandaat om so op te tree nie. Hulle het nét die volgende gereedskap in hul hande: bemoediging, stigting, lering, oorreding, vermaning, advies, gebed, hulp, voorbeeld wees, en motivering. Niks anders nie.

Die mag van besluitneming of gesag lê in die hande van die hele gemeente. Daarom lê ook die dissiplinering van onordelike gemeentelede in die hande van die gemeente. Dit kan nie in die hande van ouderlinge en die vyfvoudige bedienaars lê nie. Dit sou ongetwyfeld die hiërargiese sisteem van die wêreld op die gemeente afgedwing het. Al die konings en priesters van God besluit almal saam oor gemeente aktiwiteite en kerksake.

Paulus en Johannes het groot probleme met ‘n sekere Diótrefes gehad wat sy funksie as ouderling misbruik het. Hy het ál meer gesag begin uitoefen en het homself eventueel aangestel in ‘n leierskap posisie. ’n Ander moontlikheid is dat hy as ’n valse apostel van buiteaf ingekom het en die gemeente oorgevat het. Wat dit ook al was, dit het ernstige gevolge vir die gemeente gehad.

3 Joh. 1:9-11

Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie. Daarom, as ek kom, sal ek hom herinner aan die werke wat hy doen deur met slegte woorde teen ons uit te vaar; en hiermee nie tevrede nie, ontvang hy nie alleen self die broeders nie gasvry nie, maar verhinder ook die wat dit wil doen en werp hulle uit die gemeente. Geliefde, moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goeddoen is uit God; maar hy wat kwaad doen het God nie gesien nie.

Hier beskryf Johannes vir ons ‘n man wat die besluitneming oorgeneem het en die gesag uitoefen in die gemeente. Hy het wederregtelik eienaarskap oor die gemeente geneem en opgetree asof dit aan hom behoort. Hy was in beheer en het gemaak soos hy wil. Dit is nie hoe Jesus en die apostels die fondament gelê het vir ‘n Bybel gefundeerde gemeente nie. Oorweeg die woorde van Johannes: “…wat onder hulle die eerste wil wees

Paulus het ook uitgevaar teen hierdie tipe godsdienstige leiers in 2 Kor. 11:1-33. Hy noem hulle valse apostels. Paulus was egter ook ontsteld oor die gemeente, by wie die besluitneming rus, dit toegelaat het dat so ‘n persoon inkom en alles oorvat. Hy vermaan hulle oor hierdie slapheid of laksheid.

2 Kor. 11:4,19 en 20

Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval (is julle sommer tevrede daarmee).

Want julle verdra graag die dwase, omdat julle so verstandig is!

Julle verdra dit mos as iemand knegte van julle maak, as iemand julle opeet, as iemand julle beet neem, as iemand hom aanstel, as iemand julle in die gesig slaan.

Kyk in watse ernstige lig Paulus hierdie slapheid van die gemeente beskou. In vers 13 sê hy dat sulke mense valse apostels en bedrieglike arbeiders is. Die gemeente het nie oordeelkundig opgetree nie deur hierdie valse apostels toe te laat om hulleself oor hulle aan te stel en oor hulle te regeer nie. Paulus vat die gemeente aan omdat hulle toelaat dat iemand knegte van hulle maak. Hy was ook ongelukkig oor die gemeente hierdie fout nie regstel nie. Paulus en die ander apostels het verskeie kere die gemeentes gewaarsku teen sulke mense wat verskuilde agendas het.

Selfs Jesus, in sy brief aan die gemeente van Efese in Op. 2:2, het dit hoog op prys gestel dat die gemeente dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie. Die gemeente het hierdie apostels as leuenaars bevind en hulle nie toegelaat om in die gemeente te bedien nie of oor te vat nie. Dit spreek van ’n volwasse gemeente op hierdie gebied:

Op. 2:2

Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het.

Vergoeding vir ouderlinge

Die ouderlinge het nie soos die vyfvoudige bediening aanspraak gemaak op finansiële hulp van die gemeentes nie. Hulle was gewone mense met gewone sekulêre beroepe en selfversorgend. Petrus en Paulus het egter hierdie funksie van die ouderlinge hoog op prys gestel. Dit is ‘n belangrike funksie en die ouderlinge verdien ‘n dubbele eer daarvoor. Ons lees in 1 Pet. 5:4 die volgende:

En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.

Paulus sê in 1 Tim 5:17-18 die volgende:

Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer. Want die Skrif sê: Jy mag ‘n os wat graan dors, nie muilband nie; en: die arbeider is sy loon werd.

Die Griekse woord vir eer in hierdie versie is “time” (Uitspraak: tie-mê) wat “respek” of letterlik “eer” beteken. Die normale Nuwe-Testamentiese woorde vir “finansiële vergoeding” of “salaris” of ”loon” naamlik (misthos of opsonion) kom nie in hierdie vers voor nie. ‘n Dubbele eer is dan werklik ‘n dubbele respek en ‘n dubbele eer en nie finansiële vergoeding nie. Daar was egter wel ouderlinge wat ook in die vyfvoudige bediening as leraars gefunksioneer het, wat nie net eer en respek nie maar ook finansiële vergoeding ontvang het. Hulle het tussen huiskerk gemeentes beweeg en die mense die woord geleer.

Paulus het nege sendbriewe aan gemeentes in Asië geskryf. Al nege briewe is aan die broeders geskryf en aan hulle gerig. (Aan die Heiliges in…, Aan die broeders in…, Aan al die geliefdes van God…, Aan die gemeentes van…). Altyd aan die kerk of die gemeente. Hy het almal as ‘n geheel bemoedig, versterk, vermaan, geleer en bedien. Hy het nie ‘n enkele brief aan die ouderlinge of aan enige ander leier gerig nie. Hy het inteendeel nie ‘n enkele keer met die ouderlinge in die briewe gepraat nie. Net met een geleentheid het hy die ouderlinge vlugtig gegroet en nie eens persoonlik nie. Hy het die gemeente gevra om hulle namens hom te groet. Ons lees daarvan in Heb. 13:24:

Groet al julle voorgangers en al die heiliges…

Hierdie wys duidelik die posisie van ouderlinge en leiers in die kerk uit. Daar is nie posisionele leiers nie. Net funksionele leiers. Ook Jakobus, Petrus, Judas en Johannes het dieselfde gesindheid ingeneem met betrekking tot ouderlinge in die sendbriewe wat hulle uitgestuur het. Hulle het geen brief aan enige ouderling geadresseer nie of met hulle gepraat nie. Hulle het ook die hele gemeente aangespreek in hulle briewe. Selfs wanneer die apostels die gemeentes gemotiveer het om dissiplinêre stappe teen ongehoorsame broeders te neem, het hulle die gemeente aangespreek en nie die ouderlinge nie. Hoekom? Omdat die hele gemeente verantwoordelik was vir gemeente aktiwiteite en ook vir dissiplinêre aksie in die gemeente. Dit was nie ‘n funksie van leiers soos ons vandag in die institusionele kerke sien nie.

As jy meer wil lees oor Nuwe-Testamentiese kerkleierskap, kry sommer nou die boek, “Bybel gefundeerde leierskap” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts