Die geestelike koninkryk van God

Die gebou hier bo is nie die ware tempel van God nie. Dit is nie eens deel van die koninkryk van God nie. Die ware koninkryk van God is geestelik van aard net soos die tempel van God ook ‘n geestelike tempel is.

Die Koning van die hemelse koninkryk konsidereer nie aardse konings of aardse koninkryke nie

Toe die lang verwagte Messias uiteindelik sy opwagting gemaak het in die geskiedenis van Israel het Hy verrassend anders opgetree as wat verwag is. Die Jode het ’n militaristiese leier verwag wat die juk van Romeinse oorheersing sou kom afgooi. Hy sou hulle kom verlos het van hierdie irritasie en verleentheid. Hy sou weer die heidense volke om hulle in bedwang gebring het.

Hy sou finansiële voorspoed en vrede gebring het. Hy sou beheer oor Judea kom neem het en op die troon van Dawid kom regeer het. Dit sou ’n wonderlike tyd vir die Jode gewees het. Die Messias sou weer aansien en prestige vir die Joodse volk gebring het en sy posisie as die volk van God kom herstel het.

Die Jode was egter diep teleurgesteld toe dit nie gebeur het nie. Teen die verwagting in het Jesus die Romeinse oorheersing totaal geïgnoreer. Hy het die lokale Romeinse regering en die Joodse verteenwoordigers in hierdie lokale regering geïgnoreer. Die Joodse verteenwoordigers in die lokale regering was godsdienstige leiers. Hy het hierdie leiers en die godsdienstige oortuigings van hierdie leiers nie net geïgnoreer nie maar ook verwerp. Inteendeel, sy leefwyse en sy leringe was radikaal en teenstrydig met die norm en algemene aanvaarde oortuigings van die hele Joodse bevolking.

Die Jode het mettertyd agtergekom dat Jesus Christus op ’n ander missie was. Hulle het sy optrede begin bevraagteken. Hulle het sy motiewe bevraagteken. Hulle het Hom bevraagteken. Selfs Johannes die doper het van sy dissipels na Hom gestuur om bevestiging van Hom af te kry dat Hy wel die Een is wat sou kom. Is Hy werklik die Messias? was die vraag wat gevra is. Die Joodse leiers het meer en meer vyandiggesind teenoor Hom geword. Al het Hy goedgedoen, al het Hy mense genees en verlos van die bose, het hulle geen simpatie met Hom en dit wat Hy gedoen het gehad nie.

Jesus was egter hier om die wil van sy Vader te doen. Hy was beslis nie hier om ’n aardse koninkryk vir die Joodse nasie te kom vestig nie. Hy was besig om ’n hemelse koninkryk te vestig.

Mattheus 4:17

Van toe af het Jesus begin om te preek en sê: Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby gekom.

Jesus en die apostels het op verskeie kere verwys na die koninkryk van die hemele. Hulle verwys verskeie keer na die koninkryk van God. Hierdie koninkryk is ’n geestelike koninkryk. Dit behoort aan God. Die koninkryk van God is deur Hom gevestig. Hy het dit tot stand gebring. Hy het die wette, bepalings en geestelike beginsels in plek gesit wat hierdie koninkryk beheer. Ons noem dit soms “koninkryk beginsels”. Ons is goed vertroud met Isaac Newton se swaartekrag wet. Hierdie wet is altyd van krag. Dit werk op enige plek en dit werk altyd. Ons is ook vertroud met ons landswette. Dit is wette wat die funksionering van die regering en die staat beheer. Dit werk ook altyd vir al die burgers van die land tot dit amptelik gewysig of afgeskaf word. So ook die geestelike beginsels wat die koninkryk van God beheer. Hierdie beginsels was reeds vasgestel nog voor Jesus sy opwagting in die geskiedenis van die mensdom gemaak het. God het alles reeds bepaal voor Hy sy Seun gestuur het om die mensdom te red en in sy koninkryk op te neem. Die mens was glad nie betrokke by die vasstelling van die koninkryk beginsels van God nie.

Die mens is gees en het as geestelike wese deel van hierdie geestelike koninkryk van God geword. Almal in die koninkryk van God is gees. God is Gees en Hy is die Hoof van hierdie koninkryk. Die hemelse wesens en die aardse wesens wat almal in hierdie koninkryk opgeneem is, is almal gees. Hoekom? Want God is Gees en sy koninkryk ’n geestelike koninkryk. Dit kan nie met die fisiese of natuurlike oog waargeneem word nie behalwe net vir die mense. Ja, net die kinders van God se fisiese liggame kan met ons natuurlike oë waargeneem word. Hulle is eintlik die geestelike tempel van God. Hulle is die geestelike liggaam van Christus. Hulle is die geestelike bruid van Christus. Behalwe vir die mense kan niks in hierdie koninkryk gesien word nie. As ons met ons geestelike oë kon sien sou ons die werklike koninkryk van God in al sy glorie en heerlikheid kon aanskou. Dit is meer werklik as hierdie natuurlike wêreld waarin ons lewe. Dit is egter nie van hierdie wêreld nie; dit is ’n Goddelike koninkryk en dit word deur Jesus Christus beheer.

Johannes 18:36-37

Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as My koninkryk van hierdie wêreld was, sou My dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is My koninkryk nie van hier nie. Pilatus sê toe vir Hom: Is u dan tog ’n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom

Die kerk van God is deel van die koninkryk van God. Die kerk is ’n geestelike wese in die geestelike koninkryk van God. Die kerk behoort aan Jesus Christus soos wat die koninkryk van God aan Jesus behoort. Daar is eintlik geen ander koninkryk as net die koninkryk van God nie. Aardse koninkryke is net tydelike koninkryke en altyd onderworpe aan die koninkryk van God. Die beeld van Nebukadnésar is deur die klip wat uit die hemel uit losgeraak het fyn gestamp en die wind het die stof weggewaai. Dit impliseer dat Jesus geen ander koning en geen ander koninkryk konsidereer nie. Selfs toe Herodes Hom wou doodmaak het Hy hom bloot geïgnoreer.

Luk. 13:31-32

En op dieselfde dag het sommige van die fariseërs na Hom gekom en vir Hom gesê: Gaan weg en vertrek hiervandaan, want Herodes wil U om die lewe bring. En Hy het vir hulle gesê: Gaan vertel daardie jakkals: Kyk, Ek dryf duiwels uit en maak gesond, vandag en môre en op die derde dag is Ek klaar.

Jesus het nooit op enige stadium van Herodes af gevlug nie. Hy het Hom nie aan Herodes gesteur nie. Hy het nie met Hom samesprekings gehou of met hom ’n ooreenkoms gemaak nie. Jesus was en is steeds absoluut in beheer van sy geestelike kerk. Hy beheer egter nie die institusie nie. Mense beheer dit want dit behoort aan die mense. Dit is ’n aardse koninkryk. Die Hoof van die koninkryk van God konsidereer geen mens, koning, regering of aardse koninkryk nie. Hy regeer sy koninkryk volgens geestelike beginsels wat deur God self vasgestel is en alle ander koninkryke is aan Hom onderworpe.

Baie kinders van die Here is onder die indruk dat amptelike konstitusies en die amptelike organisering van kerk strukture, kerk beleid en selfs leierskap in kerke die instelling “wettig” maak. ’n Kerk wat aan al hierdie vereistes voldoen is “wettig” en het daarom bestaansreg. Vir mense is so ’n kerk “veilig” en hulle is onder die indruk dat dit die kerk daarom ook God se goedkeuring wegdra. In werklikheid voldoen die kerk maar net aan die “besigheid beginsels” of die “belasting wette” wat deur die staat vereis word. God se kerk is in werklikheid ’n geestelike wese wat niks met wette en die staat te doen het nie. Ja, dit word van kinders van God verwag om die landswette te gehoorsaam maar dit is net hier waar dit stop. Omdat die kerk as ‘n “instelling” soos ‘n besigheid funksioneer, is dit dan ook ‘n wettige vereiste dat denominasies as ‘n “non profit company” moet registreer. Daar moet ook aan ander besigheid vereistes voldoen word, spesifiek met betrekking tot belasting. Al hierdie vereistes gee dan ook aan die denominasie bestaansreg. Mense beskou hierdie wettige bestaansreg as ‘n wettige fondasie en wettige outoriteit om die woord van God te verkondig en as ‘n gemeente te funksioneer. Vir God beteken hierdie “aards goedgekeurde” bestaansreg van die kerk egter absoluut niks nie. Die kerk van God is ‘n geestelike koninkryk wat absoluut niks met die staat en besigheid regulasies te doen het nie. Kinders van God is soos enige ander landsburger verantwoordelik vir persoonlike belasting en is ook as individue onderworpe aan die wette van ons land. Die geestelike kerk van God is egter glad nie verantwoordelik aan of onderworpe aan enige outoriteit behalwe God nie.

Mense beskou kinders van die Here wat op informele vlak bymekaarkom as “onwettig” terwyl die teenoorgestelde in werklikheid waar is. Die kerk behoort aan God en daarom is Hy die enigste Persoon wat wettigheid daaraan gee. ‘n Registrasie sertifikaat, kerk konstitusies, missie verklarings en dergelike beleidsdokumente gee nie bestaansreg aan die kerk nie. Mens ingestelde denominasies is eintlik deel van wêreldse sisteme.

Die beeld volgens Daniël 2:34-35 het die koninkryke van die aarde voor die koms van Jesus Christus verteenwoordig. Die bene van yster met die voete van klei gemeng met yster was die Romeinse ryk. Die Romeinse ryk het alle volke wat teen hom opgestaan het oorwin en alle koninkryke verslaan. Dit het die hele wêreld van die Bybel met ’n yster hand regeer. Rome het voor die koms van Christus reeds stelselmatig opgestaan as ’n wêreld moondheid. Die Romeinse ryk het groter en sterker geword. Hierdie magtige ryk het die hele wêreld op alle gebiede van die samelewing beïnvloed. Hierdie invloed is tot vandag toe steeds met ons. Die Romeinse ryk het eventueel amper 1500 jaar oud geword. Geen ander koninkryk sal dit sommer kan nadoen nie. As ons dit met die VSA vergelyk is dit net so goed ons vergelyk ’n reus met ’n muggie. Die VSA is nog nie eens 250 jaar oud nie en dit het nie die globale impak en invloed in die wêreld soos wat die Romeinse ryk gehad het nie. Dit was waarlik ’n magtige ryk.

Jesus Christus het selfs hierdie magtige aardse koninkryk geïgnoreer. Toe die Romeinse keisers en staatsamptenare egter die kinders van God wreed begin vervolg het, het die Koning van konings dit nie net aanvaar of net sommer verdra nie. Hy het op ’n dag ook vir Paulus gevra: “Hoekom vervolg jy My?” want wanneer die kerk van God vervolg word dan word Jesus vervolg want die kerk is sy liggaam. Wat toe gebeur het wil ek in ’n paar sinnetjies weergee: Jesus Christus het hierdie magtige koninkryk se ondergang vinnig bewerkstellig. Hy het die keisers en mense wat verantwoordelik was vir hierdie vervolging nie ongestraf gelaat nie. Behalwe allerhande ellende wat oor hulle gekom het, het Hy elkeen tot ’n val gebring. Hy het ook die mense van hierdie ryk van binne af stelselmatig in sy koninkryk opgeneem. Miljoene Romeinse burgers het hulle tot die Christelike geloof bekeer. Selfs keisers en mense van alle vlakke van die samelewing. Uiteindelik het Hy die hele ryk tot ’n val gebring. Hy het egter op geen stadium met hierdie magtige moondheid kompromieë aangegaan nie. Die Rots van God het hierdie koninkryk fyn gestamp.

Niks en niemand kan teen die koninkryk van God standhou nie. Sy koninkryk is ’n ewige koninkryk. Niks en niemand kan teen die Seun van God opstaan nie. Hy regeer sy koninkryk volgens die raadsplanne van God en volgens die geestelike beginsels wat God vasgestel het. Hy is altyd in beheer.

Efesiërs 1:22-23 (ABA vertaling)

God het Christus laat wen teen al sy vyande. Hy het vir Christus die Hoof gemaak van alles. God het dit gedoen sodat dit goed sal gaan met die kerk. Die kerk is die liggaam van Christus. Hý alleen laat die kerk waarlik lewe, Hy laat alles lewe.

Die koninkryk van God word deur geestelike beginsels beheer

Jesus Christus beheer sy geestelike koninkryk deur Gees werking. Voor Hy opgevaar het na die Hemel het Hy belowe dat die Heilige Gees sou kom om ons te kom help. Hy is ons Trooster en ons Helper. Hy sal ons aan alles herinner wat Jesus ons geleer het en vir ons kom sê het. Hy sal by ons staan en Hy sal ons lei. Die geestelike kerk van God onderwerp haar nie aan mense nie. Sy kyk op na haar Bruidegom. Hy is die Hoof van die kerk. Sy onderwerp haar aan God. Sy word deur die Heilige Gees gelei. Dit sluit almal in. Van die vyfvoudige bedienaars tot al die lede van die lokale gemeente. Daar is geen verskil in hulle leefwyses as Gees vervulde kinders van God nie. Daar is geen verskil in hulle belewenis van hul hemelse Bruidegom nie. Hulle almal leef deur die inwonende Christus. Hulle almal leef deur die inwonende Gees van God. Hulle almal word deur die Heilige Gees gelei. Daar hoef nooit enige tussenganger tussen God en sy kinders te staan nie. Dit maak ons kinders van God.

Romeine 8:14

Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.

God het in die Ou Testament gewys dat Hy baie duidelike instruksies het met betrekking tot die leefwyse van die Joodse volk. Hulle was uitverkies om die ander volke te wys dat daar ’n God in Israel was. Hulle kon nie lewe soos hulle wou nie. God het wette en reëls vir hulle neergelê. Gaan lees maar die eerste vyf boeke van die Bybel. Daar sal jy sien dat dit vir Hom baie belangrik was hoe die volk Israel gelewe het. Hy het ons ook nie in die duister gelaat met betrekking tot die koninkryk beginsels vir sy kerk nie. Lees die vier evangelies en die sendbriewe van die apostels. God wil hê dat ons reg moet leef. Hy wil hê dat ons gehoorsaam moet wees en Hy wil hê dat ons volgens sy woord moet leef. Hy het duidelike riglyne vir ons neergelê en Hy wil bemoeienis met ons maak. Ons weet presies wat sy wil is met betrekking tot ons verhouding met Hom, ons verhouding met ander Christene en ons verhouding met ons vyande.

Hy lei ons deur sy woord. Hy lei ons deur sy Gees. Hy praat met ons deur sy Gees. Hy deel met ons deur sy Gees. Hy maak bemoeienis met ons deur sy Gees. Ons het ’n lewende liefdesverhouding met die lewende God. Inteendeel, elke geestelike wese in hierdie koninkryk is in ’n persoonlike verhouding met die hemelse Bruidegom. Daar is geen verwydering van enige aard nie. Almal aanbid Hom. Almal bid tot Hom. Almal dien Hom. In sy koninkryk is daar nie ’n substandaard geestelike wese nie. Almal is gelyk. Almal is vervul met die Gees van God en almal het die Goddelike natuur deelagtig geword. Die institusionele kerk het ’n groep mense geskep wat deur die leiers van die kerk as substandaard beskou word. Ek glo nie dit was opsetlik so beplan nie maar dit is ongelukkig een van die gevolge van die georganiseerde kerk. Hierdie siening het die gewone mens prakties substandaard gemaak. Dit was onoorkombaar.

Dit is nie hoe God sy geestelike kerk sien nie. Hy sien almal op gelyke vlak as volwaardige priesters en konings in sy geestelike koninkryk. In die geestelike kerk van God is daar ’n liefdesverhouding en onderlinge interaksie op gelyke vlak. Ons is almal broeders. Die amptelike kommunikasie middel of taal van hierdie geestelike wesens is Gees taal. Hoekom? Want die kerk van God is gees. Almal is uit God gebore. Almal is uit die Gees van God gebore. Jesus het ook op ’n plek gesê dat die woorde wat Hy spreek gees en lewe is. In die vroeë kerk het God self sy kerk beheer. Hy het sy koninkryk self regeer.

Die kerk het kompromieë aangegaan

Ongelukkig het daar in die geskiedenis van die kerk ’n dag aangebreek waar daar met aardse koninkryke beraadslaag is. Ooreenkomste is bereik en kompromieë is aangegaan. Dit het in ’n tyd gebeur toe daar ’n tydperk van vrede vir die kerk aangebreek het. Die wrede vervolging van Christene deur die Romeinse keisers en staatsamptenare is deur Konstantyn onwettig verklaar. Die Christelike geloof is nie net wettig verklaar nie maar het ook die amptelike godsdiens van die hele Romeinse ryk geword. Christene het begin om vooraanstaande posisies in die samelewing te beklee. Die kerk het nou met die regering van die Romeinse ryk begin saamwerk. Stelselmatig is al meer kompromieë aangegaan en het die Christelike kerk van God al meer toegelaat dat ’n aardse koning wat heers oor ’n aardse koninkryk beheer van die geestelike koninkryk van God oorneem. Die kompromieë is op baie belangrike areas aangegaan; beheer, leierskap en invloed. Dit het noodwendig beteken dat die Heilige Gees leiding ernstig in gevaar gestel is. Die Engelsman sê dat “The leading of the Holy Spirit was seriously compromised”. Dit het ook beteken dat die leefwyse van die kinders van God deur die inwonende Jesus ernstig in gevaar gestel is. Hoe laat jy Jesus Christus toe om in jou en deur jou te leef as die reëls en regulasies van die instansie ander aktiwiteite vereis?

Die kerk het die staat en vooraanstaande leiers in die staat toegelaat om hulle geloof te verander deur dit in ’n amptelike instelling te verander. Die geestelike het ’n natuurlike identiteit aangeneem. Dit het die geestelike beginsels wat dit beheer het vervang met menslike of natuurlike reëls en regulasies. Die kerk het ’n godsdienstige orde, net soos baie ander godsdienstige ordes, binne die samelewing geword wat deur die reëls van die samelewing beheer word. Wanneer dit toegelaat word dan breek die natuurlike die geestelike af. Dit verwring en verdraai die geestelike. Die institusionele kerk dra vandag nog steeds die las van hierdie betreurenswaardige gebeurtenis. Die gevolge daarvan is duidelik in die geskiedenis van elke denominasie wat daaruit voortgekom het ingegraveer.

Church as an institution of society is, regrettably, built on the same governing building blocks of the world it wants to reach. The same rivalry that is out there, and the same yardstick for success and relevance, now applies to the running of churches. Little wonder denominations spend millions trying to outwit their rivals and if need be they will eliminate them – literally and figuratively. It was the same when the institutionalized Roman Church murdered fellow Christians called Reformers. The latter also became a ‘church’ and massacred fellow believers called the Anna-Baptists. And so today this still goes on. Every time a movement of obedient people becomes a religious institution, it happens – albeit today in a more disguised and sophisticated way. This cannot but happen, because the spirit of the world we need to reach, is now ruling in and through the Church.

– Johan Carstens

Waar Jesus Christus eers in beheer van die kerk was het mense nou hierdie rol oorgeneem. Iemand anders was nou in beheer van kerksake. Die rol van die vyfvoudige bediening en die ouderlinge is drasties verander. Hulle is deur ’n leier van ’n aardse koninkryk, die keiser van die Romeinse ryk (Konstantyn), in posisionele leierskap posisies aangestel. Hulle is selfs staat salarisse betaal vir hierdie diens wat hulle gelewer het. Hierdie “diens” is nie net aan die kerk gelewer nie maar in ’n mate ook aan die keiser. Selfs die funksies van die vyfvoudige bediening is drasties verander. Die funksies van die kinders van God is uit hulle hande geneem en in die hande van hierdie posisionele leiers gesit. Hierdie funksies wat eers ’n leefwyse was; die almal deelnemende en almal funksionerende leefwyse van die kinders van God deur die inwonende Christus, is verander in ’n professionele beroep. Invloedryke mense het nou begin om die Godgegewe geestelike beginsels wat die koninkryk van God beheer te vervang met menslike reëls en wette. Die organisasie het die werk van die Heilige Gees begin oorneem. Vergadering is gehou, besluite is geneem, leerstellings en dogmas is bepaal en vasgestel en in die “koninkryk” van God geïmplementeer.

Hierdie stellings klink erg maar dit is presies wat gebeur het. Die blote bestaan van die institusionele kerk bewys dit. Ek wil graag ’n paar feite rondom die geskiedenis van die institusionele kerk uitlig:

Vir net oor die 300 jaar was die kerk ’n geestelike koninkryk soos Jesus dit op die aarde kom vestig het. Daar was net een kerk en net een liggaam van Christus. Almal het in eenheid op gelyke vlak die Here Jesus Christus in gees en in waarheid gedien as die Hoof van die kerk.

In 313 NC het Konstantyn die kerk wettiglik met die “Edict of Milan” as die amptelike godsdiens van die Romeinse ryk verklaar. Dit was nou ’n staatsgodsdiens wat as die Rooms-Katolieke kerk bekend geword het. Allerhande veranderings is ingestel en aangebring op alle gebiede van kerk lewe.

In 431 NC met die “Council of Ephesus” het ’n klein groepie mense van die Katolieke kerk afgesplinter en die Assiriese kerk gestig.

In 451 NC met die “Council of Chalcedon” het nog ’n klein groepie mense van die Katolieke kerk afgesplinter en die Oosterse-Ortodokse kerk gestig.

In die 11de eeu het ’n groot kerkskeuring plaasgevind toe die Katolieke kerk (Westelike kerk) en die Griekse Ortodokse kerk (Oostelike kerk) van mekaar afgesplinter het. Daar was nou twee hoofstrome in die institusionele kerk.

In die 16de eeu het vier verskillende denominasies van die Katolieke kerk afgesplinter: Die Protestante, die Anabaptiste, die Anglikane en die Restoureerders.

Hierdie proses het homself voortdurend deur die geskiedenis van die institusionele kerk herhaal. Teen die 1900’s was daar reeds net onder die 2000 denominasies in die institusionele kerk.

Vanaf die jaar 1900 het hierdie syfer drasties gegroei. Tydens ’n opname in 2001 het die “World Christian Encyclopedia” reeds 33,830 Christelike denominasies getel. Tans is daar meer as 43,000 Christelike denominasies in die wêreld volgens die “Center for the study of Global Christianity”.

Die Christelike geloof kan geskiedkundig in die volgende takke verdeel word: Restoureerders, Anabaptiste, Protestante, Anglikane, Rooms Katolieke, Grieks-Ortodokse, Oostelike en Oosterse Ortodokse, Assiriese, Pinkster, Charismaties en Neo Charismaties.

Hierdie vertakkings word verder verdeel in ongeveer 40 sub vertakkings.

Uit hierdie sub vertakkings kom die ongeveer 43,000 denominasies wat ook almal verdere sub vertakkings is.

Uit die aard van die saak is daar ’n magdom verskillende sienings omtrent elke onderwerp van Christenskap in hierdie denominasies, verskillende leerstellings omtrent verskillende Bybelse onderwerpe is legio, daar is vyandskap tussen die verskillende denominasies, agterdog teenoor mekaar seëvier konstant, party denominasies sien neer op ander, daar is onverdraagsaamheid teenoor mekaar, daar was en is steeds vervolging en so gaan die lys aan.

Hierdie feite rondom die institusionele kerk bring baie vrae:

Watter denominasie uit die 43,000 is reg?

Watter van die 43,000 is deur God ingestel?

Watter leiers is deur God aangestel?

Wie van hulle is die amptelike spreekbuise van God?

Wie van hulle tree op en funksioneer in die wil van God?

Watter denominasies het werklik bestaansreg?

Watter denominasies funksioneer in die outoriteit van God?

Aan wie van hulle moet jy as kind van God jou onderwerp?

Kan jy glo wat hierdie leiers vir jou sê?

Hoe weet jy watter een ken werklik die woord van God en die wil van God aangesien daar so baie variëteite in sienings en geloofsoortuigings is?

As almal dan kleim dat hulle deur die Gees van God gelei word, hoekom lei Hy hulle dan in 43,000 verskillende rigtings?

Is die denominasie waar jy aanbid reg?

Wat maak jou denominasie anders as ander denominasies?

Hoe neem leiers van denominasies besluite?

Hoekom is daar so baie variëteite met die neem van besluite aangaande dieselfde kwessies?

Die pad na restourasie

Ek is oortuig daarvan dat volkome restourasie nie in die institusionele kerk lê nie. Daar is nie ’n manier hoe hierdie mengelmoes van chaos binne die institusionele kerk weer herstel kan word nie. Dit was ’n menslike uitvindsel. Dit was deur die mens aanmekaargesit met “materiaal” van hierdie wêreld. Dit is ’n aardse koninkryk. Dit is gebou met hooi, stoppels en hout. Dit is nie die geestelike kerk van God nie.

God bring stelselmatig restourasie in die geestelike kerk wat binne die institusionele kerk vasgevang is. Eventueel sal die institusie uitmekaargehaal moet word. Uiteindelik sal die menslike struktuur plek moet maak vir die oorspronklike geestelike kerkstruktuur wat Christus kom vestig het. Dit is net ’n kwessie van tyd. God gebruik steeds die institusionele kerk. Hy het nie sy rug op die institusie gedraai nie. Tot die geestelike kerk weer volgens die geestelike beginsels funksioneer wat God vasgestel het sal Hy die institusionele kerk in standhou. Wanneer dit gebeur het glo ek sal Hy sy geestelike bruid uit die institusionele kerk bevry.

Die pad van restourasie is ’n pad na ware ongekompliseerde geestelike aanbidding. Dit is ’n pad na ’n liefdesverhouding met ons hemelse Bruidegom. Dit is ’n pad na ’n familie liefdesverhouding met ons geestelike boeties en sussies. Dit is ’n pad na die ware familie leefwyse van die familie van God. Dit is God se wil met betrekking tot ons leefwyse en met betrekking tot ware aanbidding. Met ware geestelike aanbidding bedoel ons ’n geestelike leefwyse en nie die beoefening van ’n godsdiens nie. Dit is ’n pad na die “Jesus lewe” soos Hy dit kom demonstreer het toe Hy die aarde bewandel het.

Die vroeë kerk was waarlik deur die Heilige Gees gelei. Jesus Christus het waarlik as Hoof van die kerk deur middel van die “Jesus Lewe” in elke kind van God die kerk van binne af beheer. Daar was nie die reëls en regulasies wat die kerk van buiteaf beheer het nie soos ons vandag sien nie. As ons die vraag sou vra: Is daar dan enige Heilige Gees leiding in die institusionele kerk? Dan sou die antwoord wees: Ja maar daar is vreeslik baie beperkings in hierdie opsig. As ons die mensgemaakte struktuur, die leierskap sisteem, die besluitneming proses, kerk konstitusies en die algemene aktiwiteite van die institusionele kerk vergelyk met die vroeë kerk dan dink ek ons is redelik akkuraat as ons die volgende stelling maak: Persentasie gewys wissel die Heilige Gees leiding in die institusionele kerk vanaf 0% (in sommige denominasies) tot ongeveer 20% (in die mees gehoorsame denominasies). Dit is net ’n skatting maar ek sal nie verbaas wees as die syfer te hooggeskat is nie. Kerk aktiwiteite in die institusionele kerk is hoofsaaklik die uitlewing van die betrokke denominasie se reëls, gebruike, rituele en konstitusie. Om hierdie rede is kerk aktiwiteite in die institusionele kerk hoofsaaklik ’n siel produk of ’n vlees produk.

Die mensgemaakte struktuur in die institusionele kerk is ’n struktuur wat beheer. Die Nuwe-Testamentiese kerk was deur die inwonende Christus ín die kerk beheer. Daarom was dit ’n leefwyse. Die Jesus lewe. Die hiërargiese leierskap struktuur van die institusionele kerk het Gees leiding vervang. Dit het Heilige Gees geïnspireerde besluitneming oorgeneem. Dit het sover gegaan deur selfs hierdie besluite nie net in die kerk in te stel nie maar dit rigied te verewig deur dit te konstitueer. Hierdie stappe het Gees geleide interaksie tussen die kinders van God maar ook tussen hulle en God erg aan bande gelê.

Ons as die kerk van God moet nie aan die spreekwoordelike “denial” sindroom ly met betrekking tot hierdie gebeure in die geskiedenis van die kerk nie. Ons moet ook nie die gevolge van hierdie gebeure probeer weg wens of ontken nie. Ons moet maar die feite onder die oë sien. Met die regte gesindheid het ons reeds die eerste veldslag gewen. Dit gaan ons niks baat deur die waarheid te ignoreer of te ontken nie. God is nou besig om sy kerk te herstel. Ek wil graag deel wees daarvan en het reeds kant gekies vir ’n dinamiese liefdesverhouding met God. Wanneer ons in ’n intieme liefdesverhouding met ons Hemelse Bruidegom wil lewe, dan moet ons ons rûe op die godsdiens draai. Ons kan nie al twee omhels nie. Ek het die saak reeds uitgemaak in my persoonlike lewe. Ek en my huis wil niks meer met godsdiens te doen hê nie. Ons wil deel wees van die geestelike kerk van God.

Ek weet die inhoud van hierdie joernaal inskrywing was nie maklik om te verorber vir baie mense nie. Dit was harde woorde vir baie. Ek verkies egter om die waarheid te hoor sodat ek goed ingelig kan wees. Ek was nog nooit bang vir die waarheid nie. Die waarheid mag dalk seermaak maar die waarheid bring altyd bevryding. Ons moet nooit wegskram daarvan nie.

As jy meer wil weet aangaande die veranderings wat in die institusionele kerk aangebring is, kry sommer nou die boek, “Huiskerke: Hoe? Hoekom?” op die “Hulpmiddels” bladsy.

Terug na die Tuisblad

Alle plaaslike hulpmiddels op hierdie webblad is gratis. Help ons asseblief deur dit met jou vriende te deel deur middel van die sosiale netwerke. Sosiale netwerke skakels beskikbaar onder aan bladsye

Interesting Posts